-‘n Storie oor die 2007-vloede in Mosambiek-
Die woedende waters van Afrika het verskeie van haar kinders in die hoogste takke van die Maroelaboom ingedryf. Twee slange, ‘n bedremmelde blou-aap en die vrou. Indien die groepie drenkelinge bewus was van mekaar, het die voortdurende ontsetting van dreigende verlies die aard van hul karakters verdoesel.
Sy was twee dae in die boom toe die kontraksies begin. Die kolkende waters het om die Maroela se stam bly dein en hyg en sy het geweet die boom gaan haar kind se eerste asemplek wees.  Sy het met elke golf pyn haar naels deur die bas getrek en met haar bene, wat aan weerskante van die dik tak afgeswaai het,  deur die steeds stygende water geroei soos ‘n ding wat nie kon wegkom nie.
Sy het in die genadetye aan die suur geel van die ryp vruggies gesuig, totdat die gestroopte pit slymerig in haar keel afgeglip het as die pyn tref.  Toe die dogtertjiekind uit haar lyf skeur het die Maroelaboom se bas deur haar vel gebreek en ‘n oerkreet het uit die boom se takke geruk, sodat die blou-aap verbouereerd van tak verander het.
Die perfekte lyfie het met die eerste asem van die nat tak afgeglip en nie eens ‘n rimpel op die vloedwater gekring nie.
Die volgende dag was die rooikruisman trots dat hy nog ‘n vrou uit ‘n boom vol giftige slange gered het en hy het Nul Verliese in sy boek gelog.
-Sureta Strydom von Holtzhausen-