Wolfgang is sy vriend vir om en by 13 jaar nou.

Sy oë is die kleur van liefde en sy swart hare die tekstuur van gerusstelling. Wanneer die drie van hulle saans winter hou voor ‘n kaggel of die somer vier met ‘n wandeling deur   skoon donderstormstrate, is Wolfgang daar.

Die drie van hulle is natuurlik die vriendelike man, die mooi vrou en Wolfgang. So saam-saam maak hulle bymekaarwees die musiek wat families maak en dit voel reg so.

Wanneer hy, na ‘n lang dag die brood wat hy verdien huis toe dra, wag Wolfgang by die hek met ‘n onbevangenheid van gees. Hy verstom hom telkens daarvoor. Daar is nooit woede nie, nooit ‘n louheid van emosie nie, nooit veroordeling nie. Daar is altyd die suiwer blydskap om weer sy vriend te sien en nooit word die blydskap gedemp of beìnvloed deur die vriendelike man se reaksie op Wolfgang se uitgelate groet nie. Want al is die vriendskap wederkerig en die blydskap om Wolfgang te sien altyd ‘n gegewe, laat die dag soms sy letsels op die gees en is die vriendelike man se groet afwesig, sy uitvra na Wolfgang se welstand afsydig. Dit demp nooit Wolfgang se uitgelatenheid nie.

En so het die drie van hulle ‘n dag tot dag bestaan gevoer en het hulle op hulle lekkerste gesels in volslae stilte.

Wolfgang is al gevorderd in jare en die mooi vrou het altyd gesorg dat sy kos bietjie sagter is en die plek waar hy slaap bietjie warmer. Hulle het geweet hy eet genadebrood, maar dit het aan hulle saamwees ‘n  helderheid en  ‘n bedagsaamheid en ‘n bedag wees op verleen; bedag op hoe kosbaar die kuiers saam is. Die mooi vrou lé altyd haar koel hande vertroostend op Wolfgang as hy skrik vir ‘n harde geluid en gesels sag met hom. Hy kan nie meer mooi sien nie en skrik altyd bietjie groter as ander vir ‘n skielike geraas. Sy verbouereerdheid bedaar gelukkig vinnig terwyl sy sag en onderhoudend met hom bly gesels.

Wolfgang het nie die afskeid sien kom nie.  Sy troppie van twee het tasse gepak en hom lank en vriendelik gegroet en hom toe by ‘n vreemde gelos.  Hy staan effe oorbluf langs die vreemde vrou en weet eers nie presies wat hy nou moet doen nie, voordat daar ‘n gelatenheid oor hom kom en hy iewers in ‘n sonkol in die vreemde vrou se huis vir die vriendelike man en die mooi vrou gaan wag. Hulle kom altyd weer terug.

Die vriendelike man en die mooi vrou is in die buiteland met vakansie en met sulke geleenthede is hulle altyd bietjie bekommerd oor Wolfgang en hulle mis hom, maar die vrou wat na hom kyk is familie en hulle weet Wolfgang is in goeie hande. Op sy ouderdom is warm slaap en dagdroom al wat hy werklik benodig en daarvan kan selfs hulle familie vir hom oorgenoeg bied totdat hulle terug is.

Wolfgang voel partymaal aan dat die vreemde vrou sy lomp, blinde gang deur haar huis miskien irriterend vind en sy morsige eet ietwat onwillig opruim, maar hy weet die vriendelike man en mooi vrou sal weer kom en dan versink hy maar weer in die gelatenheid van ‘n kind wat sy ouers se onkunde moet verduur.

Die harde knal van die eerste klapper bars deur sy kop sodat hy fisies daarvan terugdeins. Die vreemde vrou en haar man is heelaand al baie vrolik en lag baie en toe die klappers skiet vang Wolfgang se bevange verbouereerdheid hulle onkant. Hulle paai en praat met hom en probeer hom in ‘n kamer van die huis kry waar die Nuwejaarsklappers nie so hoorbaar is nie, maar Wolfgang is buite homself van louter vrees.

Sy sinne swymel. Hy kan nie mooi sien waar hy moet gaan nie en in die vreemde huis laat die verbouereerdheid van sy angs hom in objekte vasskrik wat hy moes onthou het waar hulle staan.  Sy hart jaag en klop in sy kop en met elke knal stoot nuwe paniek deur elke sel in sy lyf.

Teen oggendlig roer die vrees en verbouereerdheid steeds in sy lyf soos iets wat lewe en dit laat hom bewend en steunend in die hoeke van die vreemde vrou se huis skuil. Die vriendelike man en mooi vrou sal kom. Hy weet.

Die vreemde vrou is ongeduldig met hom en haar stem rasper deur sy kop. Hy verstaan haar nie meer nie. Hy begryp niks meer nie.  Hy weet nie hoe hy onder ligte so helder soos sonne gekom het nie en hy weet nie wie die man in die wit jas is nie. Toe die naald deur sy spiere breek weet hy net dat die vriendelike man en die mooi vrou sal kom.

***

Die vriendelike man en die mooi vrou is terug van hulle vakansie.  Sy sit in die motor en kyk hoe haar man met ligte tred na haar familie se voordeur stap om Wolfgang op te laai. Sy frons toe die voordeur oopgaan en Wolfgang nie soos gewoonlik stertswaaiend en blaffend by die deur uitbondel nie. Sy raak bekommerd toe die gespek lank raak en sy haar man se stem deur die laatmiddag hoor sny.

Die pyn van verlies ruk deur haar hart sodat sy met gesperde oë kyk hoe haar man op sy hakke omdraai en sonder Wolfgang met geklemde kake terugstap kar toe.

“Sy het hom laat uitsit”, sis hy deur sy selfbeheersing heen, “oor hy te bang was, sê sy.”

Hulle ry met die leë agtersitplek terug huis toe en in die stilte het hul woede soos ‘n vals noot deur die dag vibreer.

Sedert daardie oomblik kon hulle Wolfgang se musiek slegs in hul harte hoor.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

-Geskryf in opdrag van ‘n vriend tydens ‘n skryfskool, wie se hond, Wolfgang, op hierdie wyse en sonder toestemming deur ‘n familielid uitgesit is.-