Kerrievis

Sy kom op my afgestap terwyl ek verbete aan die boks wat bo-op my trollie balanseer, klou. Sy stap reg in die pad van die trollie se momentum in en ek keer vinnig: “Dankie-man, maar ek is soort van op spoed hier.”

Sy stap nietemin saam; val langs my in.

Dis nog vroeg. Die dag sleep die herfskwasse oor die berg en my lyf en die son het geen meningsverskil nie. Iets aan die dag en haar teenwoordigheid terwyl ek die plastieksak en die boks in die kattebak begin laai, maak my inskiklik; sonder die gewone skuldige saaklikheid waarmee mens die karwagte soms afweer.

“Hulle sê hierdie Weskus-kerrievis is lekker, Mevrou.”

“Dit ìs baie lekker.”

“Hoeveel het Mevrou betaal?”

Die gevoel van skuld.

“R84. Dis maar vrek duur. Kos is besig om onbetaalbaar te raak. Veral vis. Maar nou ja, hulle sê kinders moet omega-3 inkry vir hulle brein-ontwikkeling. En dies meer,” eindig ek flouerig.

Sy luister stil na my verweer.

“Mevrou moet vir hulle pampoenskille voer.”

“My kinders?”

“Dit het alles in wat vleis in het, Mevrou!”, amper gebelg oor my gebrekkige kennis van die nutriëntwaarde van pampoenskil. “Mevrou haal nou die pampoen uit, en dan sny jy daai skil in blokkies. Dan kook jy hom met bietjie sout sag. En dan sit jy nou jou artappel en uie by. Jy sal nie die verskil ken tussen dit en boontjies nie, Mevrou.”

“Enige pampoen?”

“Mevrou weet, daardie donkergroene met die rimpels op die vel. Mevrou sal nie spyt wees nie. Mevrou sal terugkom en vir my sê dit was heerlik.”

Ek kom nie tot verhaal nie. Luister met volle aandag.

“So, jy kook hom soos groenboontjies?”

“Ja, Mevrou. Die blare ook. Voor die pampoene reg is vir pluk, eet ons die blare. Daai blare is kragtiger as spinasie of enige ander groente. My kinders is nooit siek nie.”

“Is dit nie bitter nie?”

“Nooit, Mevrou! Jy vryf die blaar tussen jou hande onder ‘n kraan. Hy het mos sulke haartjies op. Dan kook jy hom en kook jy hom weer. Braai bietjie uie en ook met artappel of met tamatie en spek by en mmmmmm. Hey, Mamma! Hy’s lekker!”

“Ek het een aand die pastoor oorgekry vir ete”, gaan sy voort. ”Nou weet ek nie wat om te maak nie. Toe vat ek maar ‘n klein pakkie mince en meng dit met soja. Mevrou, weet mos. Daardie boksies.”

Ek knik.

“Jy sif net die poeier uit die soja. Dan meng jy die soja, wat mos nou in die sif agterbly, met die mince. Maak jy bolletjies, nê?”, haar hande maak en rol die klein frikkadelletjies saam soos sy beduie.

“Ek is met jou.”

“Nou-ja, dan meng jy die poeier wat jy nou uitgesif het met bietjie water en gooi hom oor vir ‘n sousie. En toe maak ek pampoenskil daarby met uie en artappel; bietjie sout en witpeper. Daai pastoor het gesê hy het nog nooit sulke lekker groenboontjies geëet nie.”

Ons lag vir mekaar en vir daai pastoor tussen die karre op Jasmyn se parkeerterrein.

“Toe ek hom sê dis pampoenskil toe vra hy die resep. Mevrou sal terugkom. Mevrou sal sien.”

“Jy sal maak dat ek begin pampoene plant.”

“Die stingel ook, Mevrou. Vir gewigverlies.”

“Ja?”

“Kyk hier.”

Sy draai om en lig haar baadjie op. Die gebleikte denim hang los om haar lyf.

“Pampoenstingels, Mevrou. Ek is in twee weke af van ‘n saaiz forty two na ‘n thirty four. Jy kou dit rou deur die dag.”

“Jy het my oortuig. Ek gaan plant.”

Ek begin half traag in my beursie grawe agter geld aan. Ek gee vir haar twee twee rande.

“Askies, ek betaal altyd met ‘n kaart.”

Sy neem dit stadig. Oordenkend. Sy lyk ook jammer dat dit, die kwessie van bedelgeld, tussen ons moes kom: die oomblik van gelykheid versteur het. Sy sê skrams dankie en gaan dan voort met haar vertelling.

“Mevrou weet, ek is eintlik ‘n baie sieklike mens, sê hulle. Ek het mos bloedarmoede.”

“Ag nee. Dis jammer. Ek beter ry.”

“Toe ek vir die een dokter sê ek het nie geld vir ‘n bloedoortapping elke maand nie, toe sê hy ek moet lewer eet. Nou eet ek hom rou die dag as ek begin menstrueer.”

“Ag nee, man. Rou?”

“Ja, Mevrou! Met lekker baie sout en peper! Jy kan hom natuurlik net skrikmaak op die plaat as jy wil, maar die bloed moet nog loop as jy hom eet. Dis mos nou die bloed wat jy terugsit in jou lyf. Ek sê vir mevrou, vandat ek daai rou lewer een maal per maand eet, is ek nooit meer duiselig nie! ‘n Ander vrou hier het teruggekom en vir my kom dankie sê. Ek deel maar so raad uit deur die dag.”

Sy sê die laaste sin sagter, maar haar blou oë kyk in myne in, asof sy wil seker maak ek verstaan dat sy ook iets het wat mense nodig het. Wat hulle by haar kan kom kry om nuttig te kan gebruik.

“Waar kom jy vandaan? Is jy in hierdie wêreld gebore?”

“Nee, Mevrou. My ouers het my weggegooi toe ek drie was. Ek het in die weeshuis grootgeword in Natal.”

“Waar?”

“In Utrecht. Maar ek is nie spyt nie, Mevrou. Die weeshuis het my baie geleer.”

“Soos?”

‘n Man stap verby sonder om oogkontak te maak.

“Hulle het ons geleer om te survive. Mevrou weet, sê nou maar Span 1 is vanoggend by die eiers en die koeie melk, dan is Span 2 besig om ‘n skuur te help bou. Ons het ‘n hele skuur gebou, Mevrou. Ek kan water lê. Ek kan krag lê. Alles.”

“Sjoe. So, daar is net 2 spanne?”, probeer ek haar op koers hou. My karsleutels swaai nie meer haastig aan my vingers rond nie. Ek het my arms gevou en ek hang gemaklik aan myself daar onder die lou son.

“En Span 3,” asof ek nie gepraat het nie, “maak dan die botter en room en goete van die eerste span se melk en eiers. Ja, mevrou, hulle’t ons baie geleer. Ek is nie spyt nie,” asof sy nou meer met haarself praat. Haarself herinner aan hoekom swaarkry vir haar goed was.

“En met die pampoenplantery? Bly julle dan op ‘n plot?”

“Ja, mevrou. Daardie pampoene staan sò, na ‘n week”, en sy wys met haar plat hand hier by haar knie rond. “Jy kan nie glo hoe ver daardie goed rank nie. Ek het seker al amper 400 pampoene wat al só groot is,” en sy bak haar hande in twee halfsirkels teen mekaar.

“Jy kan al amper hier aan Jasmyn begin lewer.”

“Nooit gesien nie! Ek en my kinders eet dit op. Dis ons kos daai. Ek het beet ook ingesit en uie en spinasie en salotte vir sop. Ons eet solank die pampoenblare terwyl ons wag vir die pampoene. Mmmm, mevrou hoe water my mond nou vir daardie blare! Met tamatie en uie! Hey, Mamma!”

Ek lag. Omdat ek kan sien die weeshuis het haar goed geleer. Sy oorleef. As jy hulle leer ken begin jy jou bekommer oor hulle. Oor honger en koue. Maar sy stel my gerus oor haar. Sy oortuig my van die wonderwerke van pampoenskil en pampoenblaar en pampoenstingels. Sy laat my glo sy is skatryk. Want sy ken meer geheime van ‘n pampoen as ek. Ek, met die groot kar en die duur kerrievis. Ek maak my groot kar se deur oop om in te klim. Draai nie my rug op haar nie.

“En mevrou, beetsop!” Desperaat.

“Jy rasper hom en dan kook jy hom fyn-fyn. Met bietjie sout en room! Die kinders eet hulle vingers af!”

“Jy maak my nou lus vir warm groentesop. Was so lekker om met jou te gesels.”

“Mevrou sal nie spyt wees oor daardie pampoenskil nie. Mevrou sal terugkom.”

Ek glimlag vir haar en sy sê ek moet ‘n lekker dag hê. In my tru-spieëltjie sien ek hoe sy stadig by die ander op die muurtjie gaan sit.

Toe ek baie later by die huis die boeke uit die Jasmyn-sak haal wat ek ook gekoop het, val die gratis kalendertjie uit wat die kassiere in my sak gedruk het. Ek raap hom op saam met die kasregisterstrokie, oppad asblik toe en my oog vang die sierskrifwoorde voorop: God se ontferming is elke oggend nuut- Klaagliedere 3:23. Een van die lewe se ironieë: klaagliedere.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

2017-12-08T14:08:20+00:00April 12th, 2016|Kruispad|0 Kommentaar

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!