Bulletjierugby

– Vir Lamont en Vian –

Helgaard met Lamont en Vian heel regs.

Om in die mildheid van vroegwinter langs ‘n rugbyveld te staan, opgedeel in 4 bulletjierugbyvelde, is eintlik op geen vlak ‘n ontbering nie. Al voel dit so as die selfoonwekker vroeg op ‘n Saterdag skree.

Op Laerskool Kameeldrift se velde loop al wat kaalvoettjokkertjie is, daardie skuins loop op die kant van die voetjies wat jy net loop op ‘n duwweltjieveld.

Ouma’s en Oupa’s sit reeds diep weggesink op seilkampstoele oral langs die afgemerkte bane, hande gekrom om ‘n beker koffie.  Ma’s probeer om seuntjies afgemete uit hul warm truie te wurm, sodat hulle hul skool se rugbytrui kan aankry en hulle dan omgord kan word met die allerbelangrike. . . rips! Die meeste pa’s is die afrigters van hul skool se spannetjie en die ander is daar in ‘n raadgewende hoedanigheid, soos my twee bulletjies se pa: ‘n bietjie soos die ekspert-getuie in ‘n hofgeding.

Bulletjies speel net van Graad R tot Graad 2. ‘n Bulletjieveld is heelwat kleiner as ‘n gewone laerskoolrugbyveld. Party skole het sulke draagbare, mini rugbypale om die spelertjies ‘n gevoel van oorwinning te gee as hulle Die Drie druk; so ‘n Springbok-proetjie as jy, met albei rips in plek, oor die lyn duik.

Afrikaanse musiek speel oor die luidsprekers en die gebruiklike blou of groen gazebo’s is reeds in die een hoek van die veld opgeslaan; die tuisskool se ouers druk besig om pannekoeke, koffie en tee te verkoop.

“Dis net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen en ‘n plaas wat ek afbetaal. Na alles wat ek aan jou gedoen het, . . .” dans twee peuters uitgelate met swaaiende Avent-bottels in die hand.

Eenkant, op die verste deel van die B-veld is daar ‘n ongewone roesemoes om ‘n Venter-sleepwa. Die klap is opgeslaan en kinders en ouers en selfs ‘n lid van die noodhulpspan hang halflyf binnetoe om iets in die bak van die Venter te bekyk. Menige ouer loop daar weg met ‘n remmende kleintjie aan die hand; al skreeuend of smekend, en ek weet sommer: ek moet my drie by daardie Venter weghou. Wat ookal daarbinne is voorspel niks goeds vir ‘n ma van drie kinders, twee honde, ‘n pratende budjie en ‘n mak rooikophoutkapper nie.

Ons sien ons afrigter met ons klomp seuntjies in die Broedie-hoek van die veld. Ons skooltjie, Laerskool Broederstroom, lê aan die Gautengkant van Hartbeespoort en gevolglik speel ons Broedies alle sport teen die Weste: die weste van Pretoria.

Broedies het nog asbesgeboue, al bestaan hy sedert 1881. Die asbes flap effe in die wind as die westebries hier in die Moot afjaag, wat gelukkig min gebeur.  ‘n Baie onpretensieuse plekkie vir ‘n skool wat die Anglo-Boere Oorlog sien kom en gaan het, bestaan het voordat Afrikaans ‘n amptelike taal geword het, bestaan het voor die bou van die Hartbeespoortdam in 1922, die inwyding van die Voortrekkermonument aanskou het, Apartheid sien kom en gaan het, in 1994 as stemlokaal gedien het en Gary Player en sy vrou hul kruisies in die skoolsaal kom trek het en vandag, 21 jaar na die Bokke se wêreldbekeroorwinning, staan ons sterk voor die aanslag van die Westerlig-Bulletjies op Laerskool Kameeldrift se velde.

Westerlig is die laerskool in Danville. Ek neem een van hulle spelertjies af, toe sy met haar ruggie na my staan terwyl haar ouma een van die bollas bokant haar oor regdruk. Met ‘n bolla bokant elke oor, waar rondom pienk veertjies tog te mooi wapper, en die uitdagende WESTERLIG BULLE agter-op haar blou rugbytrui se ruggie, weet ek ons speel teen ‘n gedugte span.

Haar ouma het helderrooi hare met skerp punte, sy dra lang, groen naels met ‘n swart kleefbroek en tekkies vol blinkers. Ek neem die foto in die rigting van die Magaliesberge  – die gestolde tsunami op die helder horison van Noord-Wes.

Broedies se afrigter se naam is Nicki. Sy het raafswart hare waarvan die helfte pers gekleur is en haar vernuf as afrigter is net so flambojant soos haar tuimelende hare. By so ‘n wedstryd neem die ouers van die een skool altyd stelling in langs die een lang sy van die reghoek en, asof so ooreengekom, neem die opponent-ouers reg oorkant hulle stelling in, al langs die ander sy van die reghoek.

“Kom Broedies! Maak ‘n lyn!”

Met uitgestrekte arms gaan staan Nicki in die middel van die veld en weerskante van haar maak ons Broedie-Bulletjies ‘n ry onder haar uitgestrekte arms.

Leon Human is die ref.

“Kom kêrels! Sprei uit! Sprei uit!”

Die Westerlig-afrigter vat sy spelertjies aan die skouers van agter af en sleep hulle tot op sy lyn toe die outjies talm.

“Maak ‘n lyn, outjies!”

Die fluitjie blaas.

‘n Westerlig-ma draf tot by die naaste Tswana-spelertjie en besluit om in engels haar raad te gee: “Don’t frow forward, oukei?”

“Ja, tannie,” sê die outjie en gooi die bal vorentoe.

“Julle ouens, druk in julle hemde! Druk julle hemde in, anders kan hulle nie rip nie!”

“Waar’s my rips?” skree een outjie benoud.

“Daar! Onder jou voet, Ryan. Kyk tog! Sit hom aan. Plak op jou rip, Ryan!” skree Ryan se moedelose ma.

Ryan maak voel-voel seker die twee velcro-rips sit aan weerskante van hom vas. Jy mag nie die bal hanteer as jy nie beide rips aan het nie.

“Kom Broedies, maak ‘n lyn!” skree die ref bo die geroesemoes en fluitjies uit wat teen hierdie tyd oral op die bulletjievelde om ons blaas.

“Pass vir jou maatjie! Pass vir jou maatjie en hou op om met mekaaaar te baklei vir die blerrie bal!”kan een pa dit nie meer hou nie.

Vian, my bulletjie, en Ilze-Marìe Schoeman, een van die tweeling in Broedies se span, maak wa-wiele agter hulle afrigter.

“Coach, kyk hier! Vian en Ilze-Danèl maak wa-wiele!”

Ilze-Marìe en Danèl Schoeman is ‘n identiese tweeling en almal noem hulle Ilze-Danèl, om tyd te spaar.

“Vian! Vi-han!” roep ek.

“Ja, Mamma?”

“Gedra jou!”

“Ma-h-aar ek het nog nie ‘n drie gedruk nie!!!!”

“Vian! Kom maak ‘n lyn!” skree Lamont.

Ouboet het gepraat. Die onder-7’s speel vandag saam met die onder-8’s om die spannetjie vol te maak en Lamont het homself aangestel as sy boetie se hoeder.

“Maak seker almal het 2 rippe aan!” skree Westerlig se afrigter.

Fluitjies blaas, ma’s skree skril, pa’s dreun op en af met die baan en die Bulletjies speel hulle siele uit.

“Hardloop Vicu- u-u-u-u-u! Annerkant toe! Annerkant toe-e-e-!”

“Vorentoe, Broedies! Vorentoe!  Pass die bal vir jou maatjie!”

“Ilze-Danèl, moenie jou eie span rip nie!”

Die ref blaas die fluitjie.

Dis halftyd.

“Mamma, wat is in daai sleepwaentjie?”

Lamont. My nuuskierige kind wie se oë niks mis nie. Die een wat altyd sy verjaarsdaggeskenke ontdek voor die verjaarsdag.

“Niks.”

Hoopvol.

“Maar, Mamma, almal loop daar weg met ‘n bruin sakkie.”

Dis waar. Die ogies vol verwondering en die bewegende, bruin kardoessakkies kry ook die oorhand oor my eie nuuskierigheid.

Ons stap na die Venter en leun oor. ‘n Hele sleepwa-vrag vol piepende, geel kuikens!

“Nee!” Ferm. Maar ek weet ek het reeds verloor.

“Kan ons kry-y-y-y?”

Hulle oë en lyfies smeek saam met hulle woorde. Kiana, my 11-jarige en Ousus, se blou oë kry ‘n blink in wat net diere daar kan pleeg. ‘n Liefde wat haar hart vir altyd sal regeer. Diere.

“Hoeveel kos hulle?” hoor ek myself vra.

“Dis net R5 inskrywingsgeld, Mevrou. Dan moet die kinders aan die boeresport deelneem. Die een wat wen, kry ‘n kuiken.”

“No,ways. Uh-uh! Dit doen ek nie aan myself nie! Òf aldrie kry ‘n kuiken. Òf nie een nie. Ek gaan nie die twee kuikenloses beraad van hier tot in Harties nie.”

“Ek is seker daar is ‘n 1ste, 2de en 3de prys. Hulle is mos nou die enigstes hier.”

Dis waar. Al die ander spelertjies is reeds terug wedstryde toe. Die tweede helfte gaan binnekort begin.

Nog nooit in die geskiedenis van boeresport het drie eiers so vinnig en so ongedeerd op ‘n lepel teruggekom by die wenstreep nie.

“Ons sal die kuikens later kom haal.”

Die kinders wil met alle geweld die kuikens vat en huis toe gaan.

“Nee, julle gaan eers die wedstryd klaar speel!”

Ons stap verby die baan waar Laerskool Booysens teen Generaal Nic Smit speel.  Generaal Nic Smit het ‘n swart coach wat saggies en mooi met sy span werk: ‘n Blonde dogtertjie en sewe swart outjies. Sneeuwitjie en die sewe dwergies en geen kind onder daardie vroegwinterson dink eers twee keer daaroor nie. Ek lag hardop. Sommernet.

“Plies people, plies! Make just a little bit space,” vra die ref in hierdie wedstrydjie tussen Booysens en Nic Smit.

“Maak ‘n lyn, Niekies!” ondersteun coach Thabo die ref se versoek in mooi Afrikaans.

Die ref is so verlig dat hy dadelik vir Generaal Nic Smit die bal gooi om eerste af te skop.

Ons kom weer by ons hoek van die veld en ons twee Bulletjies val by die lyn in. Armpies weerskante toe uitgestrek om die afstand tussen hulle mooi eweredig uit te sprei.

“Tap en gee uit!”

“Vorentoe, Broedies! Rip, rip, rip!!! Go, go, go, go, go!”

“EEN, TWEE . . . gee uit!!!!”

Jy het drie tellings om die bal uit te gee nadat jy gerip is en mag weer verder speel as jy albei jou rips teruggeplak het.

‘n Ma storm op die veld: “Wa’ kom jy aan daai reël? Hy was gerip!”

“Dis maar soos hulle hom onlangs verander het, Mevrou.”

Dit moet die ‘Mevrou’ wees wat haar onkant betrap het. Lang maande laas, dalk nooit, het ‘n man vir haar mooi sag iets verduidelik en haar mevrou genoem. Sy knik net en loop ingedagte terug na die Westerlig-kant van die veld. Sigaret wat steeds in die een mondhoek balanseer. ‘n Koue rooksuggie wat agter haar aan wasem.

“Kom Broedies. Vinnig. Maak ‘n lyn!”

“Tap en gee uit!”

Lamont is deur. Hy hou aan hol terwyl hy met sy handjies voel of sy rips nog sit.

“Da’sy, Boeta! Jy’s nie gerip ni-e-e-e-e! Hou aan hol!!!”

Lamont gaan druk agter die pale. Hy straal. Vian straal en hy doen onmiddellik nog ‘n wa-wiel. Dis sý ouboet!

“Mooi, Lamonnetjie Sonnetjie!” skree Kiana skielik entoesiasties.

“Kom Wessies! Kom! Kry julle rips. Kry julle rips!”

“Hier lê iemand se rooi rip!”

“Gee my rip! Couch! Hy wil nie my ri-i-i-ip gee nie!”

Die kleintjies begin neul. Die Magalies begin pronk in die helder winterson. Die dag maak klaar.

“Jy is my alles, alles, alles . . .” sing Bobby van Jaarsveld oor Kameeldrift se duwweltjievelde, oor die blanke plakkerskamp se plankieshuisies net langs die rugbyveld, oor die Venter-sleepwa vol kuikens tot teenaan die gestolde golf van die Magalieskranse.

Die eindfluitjie blaas. Elke span dink hulle het gewen en dis goed so.

“Ek wil ook ‘n kuiken hê-e-e!” huil ‘n klein dogtertjie met ‘n verbete ma aan die hand.

“Daai Booysens het net gewen oor hulle ma’s hulle rips vaswerk,” kla twee ouers van Vissershoek Laerskool wat driftig verbystap.

As die ouers ook begin neul is dit tyd.  Die noodhulpspan sukkel eenkant om ‘n angel uit ‘n skreeuende kleuter se voet te krap. Die bye is teen hierdie tyd ook hiper-aktief van al die suiker uit die omgevalle Energade bottels en halwe Cream Soda’s wat oral langs hopies klere rondlê.

Ons klim in die kar met drie nuwe kuikens, ‘n dogtertjie met stil, blink oë en twee tevrede Bulletjies.

As daar een ding is wat Bulletjierugby in die mensdom uitbring is dit die suiwere eenvoud om ‘n kind lief te kan hê. En die verskillende maniere hoe mens dit kan doen. Sommiges se liefde bou so stil-stil op, totdat dit soos ‘n klein, onbeheersde vulkaantjie uitborrel as Boeta of Sussie pale toe nael. Sommiges wys net ‘n duim na bo as hulle mekaar se oog vang. En dan is daar natuurlik die uitbundiges; die wat raad en aanmoediging en moedeloosheid uitskree terwyl hulle heen en weer saam met die Bulletjies hardloop. Hulle vir wie selfs die ref soms ligloop.

Bulletjierugby is die eerste geleentheid vir ‘n pa, ‘n oupa, ‘n ma om te sien of daar Rugby in Boeta steek. En ons weet almal: die potensiaal om iets te kan wees is soms ‘n groter belofte as om klaar te weet.

Daarom is Bulletjierugby soveel groter as die Curriebeker.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

Vian in volle spoed agter 'n spler van Laerskool Kameeldrift aan. Ilze-Marie Schoeman, een van die tweeling dek sy flank. Foto: Annemarie Burger

Foto: Annemarie Burger

2019-05-10T09:07:15+00:00Mei 28th, 2016|Piekniek en Pikaninie’s|5 Kommentaar

5 Comments

  1. Rita Wulfse 9 Mei 2019 at 5:34 nm - Antwoord

    Ek is mal oor Vian en daardie wawiele. Wens ek het ook ‘n seuntjie gehad wat rugby gespeel het. Dankie Sureta. Hierdie was ‘n lekker lees.

    • Sureta 10 Mei 2019 at 7:55 vm - Antwoord

      Ek wens nou ek het meer oor hulle geskryf toe hulle klein was. Hy is reeds uit die wawiel-fase…. Ai!

  2. Ronell du Toit 9 Mei 2019 at 9:07 vm - Antwoord

    Dankie Suretha!! Soos altyd, het ek ook hierdie prag-skrywe van jou, geweldig baie geniet.. En nou weet & verstaan ék ook wat Bloubulletjie-rugby is!

    • Sureta 9 Mei 2019 at 9:17 vm - Antwoord

      Hallo Ronell,
      Dit was nogal iets om onder die knie te kry: al die reëls en dinge. Maar dis loshande die beste gratis(rige!)vermaak ooit. Bulletjierugby en kleuterskoolkonserte: ek waarborg minstens een hardoplag by een van hierdie geleenthede!
      Dankie liewe Ronell….mooidag!
      Sureta

  3. Elsabie Strydom 27 Desember 2018 at 4:08 nm - Antwoord

    Vir iemand wat nog nooit Bulletjierugby bygewoon het nie; lees hierdie en jy het jou eerste Bulletjierugby ‘in absentia’ bygewoon…

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!