Opeens is sy Laurika Potgieter (45), ñ bekende en geliefde inwoner van Hartbeespoort, lees jy Donderdagoggend op Kormorant se facebook-blad. Van Wag-ñ-Bietjie teen Silkaatsnek. Doodgesteek.

Haar ma het haar wragtag ñ mooi naam gegee. Laurika. Nie die Fudge-vrou nie.

Sy staar half verby die kamera. Op daardie manier wat jy onthou sy al vir jare doen; asof haar oë lank terug nie meer wou kyk nie.

Jy onthou. En nou wil jy sê: wag-ñ-bietjie, Laurika. Ek wil jou vertel van jou. Wag, voordat die wolkie daar bokant die kranse jou siel wegneem na ñ plek waar jou oë weer sal wil kyk.

Jy en sy was albei jonk in die laat tagtigs. Jy met jou bedorwe drome oor loopbane en grade en ñ blink toekoms; sy op die damwal met haar pakkies fudge. In die bloedige somers het sy op en af gestap met die boks verlepte fudge; digby die toe vensters van lugversorgde karre met ñ leergelooide vel. Sy het altyd verby gekyk. Jy sou ook. Verby die vernedering na ñ plek van oorleef.

Wintertye was haar vingers rooi om die simpel boks fudge en het jou ma altyd vir jou gesê: dis eerlike werk. Hulle bly aan die lewe so, en soms deur ñ gleuf in die ruit vir haar ñ R10 gewaai. As sy die pakkie fudge uithou, het jy “Nee, dankie,” gesê. “Ons dieet.” En goed gevoel omdat sy daardie pakkie dan vir dubbel kon verkwansel.

Jy voel vandag wat sy daardie dag sou voel. Die blokkies fudge was die verskil tussen bedel en eerbaar. Jy het haar daardie dag maak bedel. Haar leer verbykyk. Jy is steeds nie maer nie. Pleks jy die fudge gevat het en Laurika se eer in haar oë gaan terugbêre het.

Snags, in daardie pot fudge het hoop geprut; hoop op ñ verkope, maar sekerlik ook hoop op uitkoms; haar drome het een-een versmoor tussen die fudge en die glad wrap.

Toe sien jy haar eendag in Jasmyn. Sy het werk. En sonder dat jy weet hoekom raak jy bly oor haar en dankbaar vir Jasmyn. Dalk dankbaar dat sy nie meer uitgelewer is aan jou nie; aan die Samaritane van ons dorp nie; hetsy barmhartig of onbarmhartig. Die aarde is ñ ongenaakbare plek vir uitgelewerdes. Sy het koffie voor jou neergesit en beleef gepraat, maar nooit gekyk nie. Net-net verby. Die spyskaarte weggeraap. Jy het nie die vrymoedigheid gehad om vir haar te sê jy is bly nie; bly dat sy weg is van die damwal se wolke en son en koue.

Die jare het vir jou en vir haar kinders gebring en ons stories is saam-saam geskryf hier onder die kranse op die wye oewer van ons dam.

Waarmee was jy gisteroggend besig, Laurika? Toe hy jou huis binnekom? Terwyl jy hier sit en skryf staan jou voordeur oop. Net ñ klein entjie weg van Wag-ñ-Bietjie af. Jy het ook ñ selfoon en ñ laptop en ñ lewe wat iemand met ñ skerp voorwerp kan neem. Jy het ook drie kinders wat wees gelaat kan word met twee wrede steke in jou nek en bors; kinders wat by ñ skoolhek sal staan en in daardie oomblik nog nie weet hul ma bly nie meer saam met hulle nie. Gisteroggend hierdie tyd het sy nog gelewe. Was sy ñ ma en ñ mens wat op eerbaarheid oorleef het tot hier.

Miskien, dink jy, kon haar moordenaar eerder by haar kombuistafel gaan sit het en by haar gaan leer het van armoede en eer en vorentoe lewe. Miskien sou hy sien ñ ruggraat van staal bring jou oor damwalle na plekke waar ñ gemeenskap jou geliefd begin noem.

Tussen Afrika en God is daar besluit dat jy, oop voordeur en al, vandag sal lewe om jou kinders te gaan haal.

Jou hart pyn: vir al die genade wat sy nooit ontvang het nie. Nie eers die genade om haar kinders groot te bring nie. Jy dink aan haar vierjarige. Wie gaan haar leer van fudge-kook? Dat daar ook eer is in verbykyk.

Miskien lê die genade juis hierin: dat sy eindelik kan gaan heel wees iewers, dat haar kinders by iemand anders gaan leer dat die wêreld ook ñ plek kan wees waar mens norrevok verby hoef te kyk nie.

Jy weet sy het jou op ñ manier kom leer om die fudge te vat, dat die kelnerin se werk soms meer is as die prokureur en joernalis, dat ñ ma met ñ ruggraat van staal soms genade ontvang eers na haar dood.

Jy ry en speel Photograph van Ed Sheeran op jou selfoon: “time’s forever frozen, still.”

Jy huil met jou drie babbelende kinders op die kombi se agtersitplek. Jy huil vir ñ vierjarige wat nooit gaan leer hoeveel ñ hele gemeenskap kan leer uit ñ simpel boks fudge nie. Jy huil vir haar wat heen en weer oor ñ damwal moes stap, totdat sy eendag toegelaat is om bo-oor en verby te stap na ñ plek waar oorleef gelê het. Jy huil vir jouself en ñ hart wat hunker na ñ plek langs die see waar jy vlietend gelukkig was. Jy huil. Want die lewe is ñ simpel boks fudge wat leeg verkoop. Jy huil. Want jy weet dit is nie net Laurika Potgieter wat leer verbykyk het nie. Jy kyk na haar foto. Die Kormorant is reg: bekend en geliefd.

Jy kyk op. Die wolkie bokant die kranse by Silkaatsnek is weg: soos ñ klag wat teruggetrek is.

-Sureta Strydom v Holtzhausen-