Glaspotjies

Liewe Cornè,

Ek moet erken, ek het nog min briewe, eintlik net een, geskryf aan mense wat reeds deel is van die onsienbare. Daardie wêreld waar siele en engele en duiwels en God sigbaar is en deel is van jou landskap.

En ek moet verder erken dat ek dit dalk nie vandag sou doen, as dit nie vir jou ma se brief op facebook was nie. Sy het vandag, jou verjaarsdag, die mooiste brief aan jou geskryf , Cornè. Maar dit weet jy seker. Of hou mens jou nie op met aardse dinge in die wêreld van die onsien bare nie?

In haar brief dra al daardie ‘En toe’s’, gevolg met ellipse.. . . onthou jy hoe juffrou Denner vir ons die funksie van die ellips in Afrikaans in Standerd 8 probeer verduidelik het? Ons klas was op die tweede verdieping en het oor die dam uitgekyk . Jou ma se ellipse dra swaar aan jou storie en haar smart en al die tussenin dinge wat net jy en sy van sal weet.. Die perfekte ma-brief, sou ek sê.

En toe begin ek wonder oor jou en my. Hoekom was ons nooit hegte vriendinne nie, Cornè? Van die soort wat saam gaan koffie drink en muffins eet by Greenfields. Onthou jy? Daar op Burnettstraat se hoek in Hatfield? Ons was tog saam in dieselfde hoërskool en saam in Huis Erika op TUKS. Ons het selfs een oggend saam Joolblaaie verkoop, ek en jy . Baie onsuksesvol. Totdat daardie outjie van Taaibos ons van onsself kom red het en elke liewe Joolblad binne ‘n halfuur kon uitverkoop.

En dis die ding.

Die min kere wat ek en jy tyd saam gegun is, onthou ek helder. Ek kon nog altyd jou binnekamers sien. Ons het daardie oggend op ons boude op die sypaadjie gaan sit. Ek dink dit moes in Lynnwoodweg gewees het, terwyl die outjie van Taaibos moeiteloos Joolblaaie aan almal agter motorruite afsmeer.

Toe kerm ons. Oor alles waaroor eerstejaars kerm. Ons mis die huis. Eintlik Die Huis. Met ‘n ma en ‘n pa wat jou beskerm daarbinne. Ons kerm oor die HK wat ons opdraende gee, die min slaap, die naweke in, ons vrese dat ons nie goed genoeg is om ons kursusse deur te kom nie, dat eerstejaars verbied word om die koshuis se hysbakke te ry; jy moes 13 vloere klim en ek net vier. Maar iewers in daardie uur het ons begin kuier en lag. Op daardie sypaadjie in Lynnwoodweg. En toe vat ons my handsak se band en meet ons kuite daarmee. Ek kan nie onthou wie se kuite was die mees welgevorm deur die ontgroening heen nie, maar ek onthou die oomblik.

Ek was nuut in die skool. Standerd 8 ingekom. Iemand het my bykans onmiddellik van jou oog vertel. Kanker op twee. Is daar nie maar altyd iemand wat bereid is om die trauma – pot op ‘n ander se stoof se deksel te kom lig, asof dit hul eie is nie? Maar een ding belowe ek jou, Cornè. Dit was altyd gedoen met besorgdheid en liefde. Die stories agter jou rug. Altyd. Want dit is maar hoe jy mense laat voel het. Asof jy besorg oor ons ook was.

Was dit Maya Angelou wat gesê het, lank nadat ‘n mens weg is, sal mense nie meer onthou wat jy gesê het nie. Hulle sal net onthou hoe jou woorde hulle laat voel het. Ek onthou, Cornè . Ek onthou.

Op die skoolstoepe was jy heg verbind aan dáárdie groep. Die groepie met die resep van Hoe om ‘n Behoorlike Tiener te wees. Flippit. Ek het nooit geweet hoe nie, Cornè . Jy was op die leerlingraad en jy was gewild en jy het tot die groepie behoort wat altyd hard en uitbundig gelag het. So ‘n oordrewe uitbundigheid in die gange van ons jeug. As jy smiddae in die kar klim, glo ek, het die uitbundigheid gaan lê en sou jy stil raak voor daardie donkerte in jou. Want deur al julle lag en giggels en gesels kon ek dit deurentyd sien. Jou stryd met daardie donkerte. Jou kuif altyd oor jou oog gekam. ‘n Deel van my kon verstaan dat jy daardie blinde oog wou toegooi met jou raafswart krulle. Maar ‘n ander deel van my moes altyd my hande keer om nie daardie krulle agter jou oor in te druk nie, sodat ons jou hele gesig kon sien. Want Cornè, ek kon jou heeltemal sien. Ek kon sien hoe blink jy daarbinne en jy het onnodig die een helfte probeer wegsteek. Jy was nie ‘n wegsteekmens nie. Maar ek het tog verstaan. Ons moes meer kon praat hieroor, Cornè.

Die kere wat ek en jy kon gesels was daar waters van rus tussen ons.

Jy het stukkies van jouself vir my in glas weg gebêre. Jy het eendag in die koshuis , met my verjaarsdag, vir my twee glaspotjies gegee. Baie vriendinne het oor baie jare heen vir my kosbare dinge gegee, waarvan ek die presiese ding in sommige van die gevalle nie meer kan onthou nie. Jy het vir my net hierdie een keer hierdie twee potjies gegee.. En ek onthou dit. Ek kan nie onthou of ek ooit enigsins vir jou iets gegee het nie. Ek sou. Maar ek kan nie onthou nie. Ek het vandag eers onthou ons verjaar so naby aanmekaar.

Deur al die jare se koshuiskamers, kommunes, en woonhuise het hierdie twee fyn glaspotjies saamgetrek. Hulle staan op my spieëltafel en ek bêre my haarknippies daarin. Soms, as ek ‘n knippie daaruit haal, dink ek vlugtig aan jou. Maar toenemend begin ek my verwonder aan hoe hierdie twee potjies nog nooit gechip is, of gekraak het, of self flenters gebreek het deur al die jare heen nie. Dink jy nie ook dis vreemd nie, Cornè ?

Ek lees op jou ma se facebook – blad ‘n stukkie uit jou dagboek. Hoe jy sê dat jou lewe met kanker begin het en seker ook met kanker sal eindig. Hoe jy onmiddellik troos vind en sê dat jou lewe met God begin het en beslis met Hom sal eindig. En tussenin is daar net liefde. Jou hart kon nog altyd die onsienbare sien, Cornè. Daar waar jy nou vir ons almal wag. Maar tot tyd en wyl bly ‘n stukkie van jou in die mooiste glas op my spieëltafel.

Ek was verkeerd hierbo. Ons is hegte vriendinne. Daar is waters van rus tussen ons. Nog altyd. Mense h t nie koffie en muffins nodig om heg te wees nie. Om mekaar se pyn te kan voel nie. Ek was te jonk om toe jou vriendin te kon wees. Maar nie meer nie. Ek verstaan alles soveel beter. Jy het altyd geweet hoe werk engele. Hoe om mense gelukkig te maak. Jy het alleen gaan veg teen en in die donker. Maar jy kon altyd terugkom. En nou, nou woon jy in die lig en jy weet jy was nog altyd reg oor engele.

En as ek eerlik moet wees: jy het beslis die mooiste kuite tussen ons twee gehad. Want nog altyd moes jy meer vloere klim as ek, sodat jy hoër kon eindig.

Met liefde,

Jou vriendin.

– Sureta Strydom v on Holtzhausen –

2017-12-10T11:36:35+00:00Augustus 26th, 2016|Kruispad|5 Kommentaar

5 Comments

  1. Rita Wulfse 17 Desember 2017 at 4:35 nm - Antwoord

    Dankie Ronell

  2. Ronell 16 Desember 2017 at 4:26 nm - Antwoord

    Ek het hierdie deernisvolle, (& mooiste skeywe van “onthou” al voorheen gelees! Corné was, volgens watnek van haar lees, beslis ‘n baie unieke, Engelmens! Liewe Suretha, dankie vir hierdie mooiste hartstorie!! Dit het my waarlik diep geraak! En Rita Wulfae..jy het diê mooiste herinneringe om te koester! Baie sterkte!!,♡

    • Sureta 17 Desember 2017 at 4:44 vm - Antwoord

      Baie dankie, Ronell. Sy was die tipe mens wat ñ mens altyd met sagtheid onthou.

  3. Rita Wulfse 13 Desember 2017 at 8:58 nm - Antwoord

    Dankie Sureta vir die mooi ontthou van Corné. Ek moes dit net weer lees. Rus in vrede my liefste Corné 26 Augustus 1971- 17 Desember 2004.

    • admin 14 Desember 2017 at 4:44 vm - Antwoord

      My hart was werklik weer seer toe ek na ñ foto van Cornè op tannie se blad soek. Ek kan haar stem en glimlag altyd baie duidelik in my onthou van haar oproep. Ek dink aan julle. Baie dankie dat tannie altyd die stories lees. Liefde.

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!