Hanrie, Aimeè en Ouma

‘n Mens sal nooit weet welke moord of verkragtingsvergryp, politieke belaglikheid of swaarkrymaand op die kalender haar uiteindelik sou dryf om die R2000 wat sy nie gedink het sy het nie, te vat en die agent in Sandton te gaan sien nie.

Díe het te vertelle dat hy hulle binne twee maande in Nieu Zeeland kan hê. Haar man het uit die bloute van oordink, op ‘n vliegtuig geklim en gaan afklim op een of ander drywende stuk grond in ‘n vreemde stuk see met foto’s van sy houtwerk onder een arm en ‘n visum onder die ander.

Na verskeie inkomstelose maande in Suid-Afrika het vyf werkgewers in annerland sy vernuf erken en aanbiedinge begin gemaak; binne ‘n week. ‘n Aanbod is ‘n ding waaraan ‘n wit Suid-Afrikaanse man nie gewoond is nie; muurblomme by die sokkie van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. Om gehê te wil wees is ‘n onvervreembare menslike behoefte en toe haar man gehê begin voel, het hy uitgepak en haar beveel om in Afrika in te pak.

Sy het ver-familie eerste gaan groet. Naweek vir naweek. Vrystaat, Limpopo, Pretoria, Johannesburg. Die Wes-Kaap moes maar Skype.

Sy het haar vriendinne ingepas en geskeduleer en strooikussings met Afrikaanse woorde op gekoop en foto’s geneem en skielik weer verlief geraak op hoep-hoepe en aalwyne en fynbosprentjies en hadedas en die silhoeët van ons horison. Liefde in reverse: lief en toe halsoorkop verlief.

Koester, indrink, stadige afskeid en tussendeur polisieverklarings, eiendomsagente, containers, wat moet gaan, wat moet bly, die plot, die kar, skole, rekords, paspoorte, selfoonkontrakte, haar musiekskool, die klavier. Die klavier gaan saam, besluit sy soos ‘n drenkeling wat verbete klou aan die laaste wrakstuk van ‘n sinkende skip.

Sy stop eendag hier by my met ‘n kattebak vol skilderystaanders en ‘n volledige stel Kennisse: “Kan jy dit gebruik of ken jy iemand wat dit sal gebruik?”

Boeke van kennis van herkoms en oorsprong; sy gee my die kennis van goed en kwaad van nuuts af.

Soms het almal om haar saam met haar verdrink in die rompslomp van trek; om haar lengtegraad en breedtegraad op die aardbol te skuif na waar die koördinaat sê: hier probeer ons vir jou werk gee, hier is ons nie kwaad vir jou oor alles nie, hier is dit veilig sover ons mekaar veilig kan hou, hier kantel die sterre ook suid en die maan dryf ook oor die see en die land, hier is jy vreemdeling in vreemde land, maar daar’s minder gille, minder bloed, minder felheid van gedrag.

Sy het haar vriendinne drie maal finaal gegroet. Ons sou dit nòg drie maal doen en nog, maar tyd en engele sweer soms komplotte om jou gevlerk en gereed te kry virwegvlieg.

Sy emigreer in die ergste droogte in 95 jaar. Die wildepeerbloeisels in die berg het al verdonker, die bougainvilleas staan reeds met hul voete op hul eie geweefde tapyte-uitgeblom soos die jasmyne en seringe. Jakarandas en die son saam, maak nou die metrum van ‘n laatmiddagvers en die regte groen vir die vroegsomer is reeds aan die takke gemeng en teen die berg se hange gesmeer, die mooiste maand.

En toe reën dit die dag van die wegvlieg. Die dam weier om te kyk, te groet. Die berg ook. Wolke se wit mis pak al die mooi toe sodat net die swart teerpad oor Saartjiesnek die rigting na O. R. vir haar wys.

Sy groet op facebook. Jy ook. Sy plaas die laaste saamweesfoto’s. Jy sweer jy gaan nie huil nie.

Jy WhatsApp haar: wat maak jy? Wat maak mens op jou laaste oggend in die land waar jy van Europa af vir 400 jaar probeer het om . . . . probeer het. Die land waar al die vroue op jou familiekiekies soggens opgestaan, die bosveldvoëls beluister het, gebid het, gesmeek het, bestaan het, families uitgekraam het om ‘n nageslag in Afrika te vestig, gelag het, gebak het, begrawe het, gesing het, gekerk het, baklei het, gelief het, geleef het.

Sy laat weet. Sy sit die laaste oggend in die bed met haar kosbaarstes: haar ma en haar kind. En hulle doen wat 400 jaar hier op ‘n vasteland hulle geleer het om te doen. Hulle deurleef die oomblik ten spyte van. Hulle praat oor baie dinge níe. Hulle sing: Ken Hom in al jou weë. Ook op daardie weë en paaie wat niemand hier rond van weet nie. Soos almal van hier rond ken sy Saartjiesnek na Pretoria en Silkaatsnek na Brits en die damwalpad dieper Noord-Wes in en Hy was met haar op al daardie paaie. Nou vra hulle singend, drie geslagte in een hartseer bed, dat Hy ook al die paaie op daardie stuk grond in die vreemde see vir haar en haar kind gelyk sal maak. Eintlik bekénd sal maak.

Haar ma dink dalk, terwyl sy inwaarts met ontsetting afskeid neem van haar vlees en bloed en gene, hoe alles tevergeefs was. Hoe annerland die juwele sal sien glinster wat sy en Afrika in haar dogter en haar kleindogter se harte help uitdelf het. Sy, my vriendin, dink dalk sy offer alles; alles bekend, alles bemind, alles wat haar buitelyn help natrek het, vir haar kind; vir ‘n nuwe nageslag in ‘n drywende land met ‘n veiliger toekoms. En dalk … dalk dink haar dogtertjie: ek sal terugkom. Hiernatoe kom ek terug. Ek sal bid en Hom in al my weë ken en Hy sal my terugbring.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

Foto en sang: Hanri Smith