Kuier

Kom leen my pa vanoggend my grasmasjien. Vra ek hom hoekom hy op ‘n dag wat om 9vm al begin bewe op die horisonne wil gras sny? Abel was dan gister by hom?

Nee, hy sny alles in een uur en Abel vat heeldag.

Dit is so.

Vyf minute later begin die sweet op ons pêrel hier in die oop son en hy stem tog in om gou ‘n koffie te drink voor hy waai.

“Wil pa beskuit hê?”

“Nee dankie, poppie.”

“Dit is tannie Babsie se beskuit.”

“Dan asseblief,” lag hy effe.

Ons sit daar by my lang tafel. Die oorkantste rûens lê onderstebo in die dam oorgeteken.

“Kyk, hoe mooi is die dam ve’more,” merk hy voordat hy ‘n slurpslukkie neem; oor hy nog nooit die geduld gehad het om ‘n koppie koffie tot by tongtemperatuur te laat afkoel nie. Hy slurp hom koeler.

“Pragtig. Gaan warm word.”

“Jou ma is siedend.”

“Wat het pa nou weer gemaak? Die tuin?”

“Man, ek dag ek doen haar ‘n guns en plant haar kruieplantjies oor. Ek plant toe al die grasuie in die lang pot en die pietersielie so half op die een punt in ‘n bondel.”

“Ai, pa. Maak tog tuin in prentjies.”

“Jy klink nou soos jou ma. ‘n Kruietuin is ‘n praktiese ding. Jou ma laat my wragtig twee plantjies omruil. Een pietersielie, een ui, een pietersielie, een ui. Het jy al in jou lewe van so-iets gehoor? Bid jou aan!” Kamma-kamma verontwaardig.

Ons lag.

“Het pa al Donald se brief geskryf?”

“Kry nie tyd nie,” twee van die drie beskuite is klaar.

“Pa beter daardie brief skryf. Gisteraand weer ‘n vrou in haar hondehok dood. Sy het daar gaan wegkruip. 4 Skote. ”

“Dood, sê jy?”

“Jip.”

Hy tuur ver bo-oor die dam en bo-oor die bankeveldrûens wat doer op die warm horison begin verbleik.

“Julle moet hier weg. Julle wil nie luister nie.”

“Ons wag vir Donald, pa,” probeer ek terg.

“Trump gaan nie stront vat nie. Ek moet waai.”

“Vat vir Abel, pa. Al sny hy heeldag. Dis warm.”

“Jy hom nie vandag nodig nie?”

“Nee, wat. Vat hom.”

Hy kyk teen die bleek lug in. “Ja, oukei.”

“Dankie vir die beskuit, poppie. Wat maak jy vandag?”

“My studente skryf vanmiddag.”

“Merk, merk, merk. Sterkte.”

Pa weet. Hy was op ‘n kol dosent in mondbiologie by Medunsa.

Abel skeur karton en druk dit tussen die masjien en die Isuzu se dak in.

En ek staan en dink oor my pa. Oor hoe ons uit een klip gekap is. Gebeitel, sal my ma sê. Ons kon woordoorloë voer totdat ons albei bloei.

Maar vandat ons agtergekom het ons albei is mense, kan ons ure praat. Gemeensaam. Soos twee boere wat gou ‘n stuk bloudraad en ‘n spanner oor en weer leen. Oor dinge waaroor mense praat en wonder. Ons stry steeds soms tot duskant bloei. Maar ou gewoontes laat dinge bekend voel. En bekend bly maar bemind, soos alle clichè’s. Net die skelm rook wil hy nog nie deel nie. Eendag sal hy dalk weet ek het heeltyd geweet, en dalk sal hy wonder hoekom hy nie ook dit maar gedeel het nie. Want mense wat vriende is deel dinge. Anders raak alleen allenig. En dis onnodig.

Die hitte dryf my skadu toe en ek staan lank en kyk na Skeba se groen hondehok onder die stoep se dak. Ek moet my pa gaan help skryf aan Donald Trump se brief. Hy en my ma moet hier uit.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

2017-12-11T07:47:57+00:00November 18th, 2016|Familie, Spore|0 Kommentaar

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!