Kondensmelk

Het jy al ooit een bewolkerige Vrydagmore aan ‘n kondensmelkblik vasgesit?

Gister kla die kinders hulle lus iets soets. Nadat hulle ‘n uur ge-rugby en ge-netbal en ge-Kumon en ge-huiswerk en ge-karate het, wil ek half saamstem dat ‘n soetigheid die aangewese remedie vir daardie besige lyfies is. Die enigste soet ding wat die koskaste oplewer is ‘n blik kondensmelk. Nadat die blik met oorgawe halfgesuig is, bêre hulle al protesterende die ander helfte in die yskas.

Vanoggend begin ek in die kombuis ronddwaal nadat ek met my studente op hulle e-learning portale gepraat het. Ek kry die blik in die yskas. Ek wou eintlik sê die blik skree my naam van agter die yskas se toe deur, maar dit sou melodramaties klink.

My pa het die ding in Graad 1 al begin: as ek en my sussie ‘n mooi rapport huis toe bring, koop hy vir ons elkeen ‘n blik kondensmelk om leeg te suig.

Ek veronderstel kondensmelk sal altyd vir my proe soos die geborgenheid van weet my pa is daar; vir my, my sussie en ons mooie ma.

Ek weet nie eintlik hoekom nie, maar ek vat die blik en gee een lang, koue, soet suig. En daar, sonder vooraf kennis of waarskuwing, glip my lip op ‘n manier in die blik se skerp gleufie in en suig daar vas.

Ek was eers half verbaas. Regtig, so-iets gebeur nie met ‘n ou, bedrewe kondensmelksuier soos ek nie.

Toe wag ek vir die pyn. Toe dit nou nogal nie kom nie, begin ek lag, maar ek belowe jou, om met ‘n Nestlè-blik wat aan jou lip hang te lag, is soos om ponytails met kantoorrekkies te maak: dis seer.

Ek probeer toe my lip met die gleufie langs na die groter gaping skuif, maar toe begin ek bloed proe. Die lip sit.

Ek is genadiglik alleen by die huis en gaan sit versigtig en stadig op die bank – asof die blik aan my lip verwysde pyn in my bene veroorsaak het. Gee ek toe maar moedeloserig nog ‘n suig, want, ek meen, eerstens, as dit pap reën moet jy skep en tweedens, ek reken naas ys om enige swelling te verhoed, is koue kondensmelk seker ‘n goeie tweede beste.

Daar was op daardie stadium ‘n ligte paniek besig om iewers vanuit my bors te rys en ek besluit om hard te ruk en ‘n stuk van my lip aan die blik te offer. ‘n Mens is net nie geskape om gemaklik te wees met ‘n kwart blik kondensmelk wat weier om jou bo-lip te laat gaan nie.

Ek suig ‘n laaste keer my lippe dunner, skuif tegelykertyd die nou bebloede lip na die middel van die gleuf en pluk.

Ek en die blik is geskei. My lip voel asof die Blik die gesinsgeweld-rondte loshande gewen het. Maar ek glo paniek werk ekstra kilojoules se gal onmiddellik; so eind goed als goed.

Ek vermoed my lip lyk op hierdie stadium ‘n bietjie soos die bo-lip van ‘n onthoringde renosterkalfie en ek vermoed teen hierdie tyd ook min of meer dieselfde grote. Terwyl ek na die naaste spieël slinger en benoud wonder hoe ek my lip aan my mediasie-kliënte gaan verduidelik, is ek dankbaar dat die soet kondensmelk die smaak van bloed probeer verdoesel.

Ek kyk na myself in die spieël  en staan ietwat verras. Ek moet my bo-lip omdop om die flarderigheid te kan sien. As ek my mond toe hou sal niemand wis dat daar ‘n klein skermutseling op my bo-lip verloor is nie; wat opsigself ‘n uitdaging is, maar my man sal die stilte verwelkom.

Ek doen toe maar wat generasies voor my gedoen het om troos te soek: gaan maak tee. Met ‘n bietjie kondensmelk in.

Ai-ja, die lewe is meer as ‘n voortdurende sterwe; dis bloed en kondensmelk; en elke nou en dan ‘n bietjie warm tee.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

2017-12-13T04:35:50+00:00Februarie 10th, 2017|Staaltjies|0 Kommentaar

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!