My plek; Die Plot

In hierdie huis woon ek. Saam met my woon my ewige liefde, Helgaard, en ons drie kinders onderskeidelik 12, 10 en 9 jaar oud. In die derde gat onder die dakteëls naby die huis se hoek die naaste aan die palmboom, woon daar ‘n raserige gesin minah’s, oftewel indiese spreeus. Ons probeer ons bes om hulle te verjaag, want hulle verdring alle inheemse voëls, maar sommige dinge gaan nie sommer weg nie.

Aan die anderkant van die huis bly daar‘n klompie nag-apies ook in die dak en elke aand met skemer lanseer hulle rats en geluidloos van onder die dak uit tot binne-in die kareeboom, en dan boog op sierlike boog die nag in.

In ‘n pienk hok op die boonste vloer bly Pieter en Perjams, die twee budgies wat nie broei in hul hout broeihokkie nie. Vanaf die boonste vloer kan jy ‘n groot streep dam sien, daar doer waar hy die voete van die Bankeveldrûens nat hou.

Grondvloer is Salomo en Skeba se domein en saam voer hulle‘n skrikbewind onder die plot se werkers. Skeba is ‘n bonsai-wolfhond met te veel mens in haar en Salomo is ‘n uitgelate, ekstrovert met die gesig van ‘n welgeteëlde husky, maar ge-ingenieur op beentjies soos díe van die Britse Koningshuis se Corky’s.

Vyf dae ‘n week sal jy vir Rosina iewers in die huis aantref. Rosina kon in afrikaans net fokkol en jissis sê toe sy by my begin werk het, maar haar woordeskat brei al mooi uit.

“Hoekom is jy laat, Rosina?”

“Taxi, Mies. Fokkol.”

“Ai, Rosina . . . shame.”

“Jissis,” kopskuddend begin sy dan mop of wasgoed ingooi.

“Handy Andy, fokkol.”

“Ek sal kry, Rosina.”

Maar ons verstaan mekaar.

Abel Selebogo is Rosina se man en jy sal hom Maandae, Woensdae en Vrydae in die tuin aantref. Goed, miskien nie so gereeld op Maandae nie. Abel is nie ‘n groot vriend van Maandae nie. Abel se gunseling TV-program is Noot vir Noot en Donderdae as die Kormorant verskyn, moet ek twee koerante vat, anders verdwyn myne. Een van Abel se gunsteling tydverdrywe is om in die kleedkamers vir die plotwerkers te gaan uitspan met die Kormorant. ‘n Man moet op hoogte bly…

Daar is vyf ander huise op Die Plot. Die twee jongelinge is die eienaars van Die Plot. Maarten en Anèl se huis is so twintig haastige treë van ons voordeur af aan die anderkant van die spuitfontein, maar hulle werk in Tanzanië en is ongereeld hier. Hulle Skype en WhatsApp Die Plot onder beheer daar van Tanzanië se kant af en hulle Internet die Lemon Tree se gaste ook van daar af. Deesdae hoef mens bykans nêrens meer in persoon ‘n opwagting te maak om dinge glad te laat hardloop nie.

Die Lemon Tree is hulle gastehuis en is so ‘n wye regs vanaf ons voordeur. Die gaste daar wissel van stedelinge wat sielsmoeg op Vrydae-middae deur die tuine drentel, tot die wegbreek-garde, met die klem op breek, wat vroegaand al begin raas sodat Wakati teen 22:00 die WhatsApp-lyne Tanzanië toe kap, om te hoor of Die Eienaars nie die Lemon Tree kan stiller kry nie.

Wakati is ons toegewyde nagwag van Malawi. Hy het twee swembadchloor-emmers vol sement gegooi en elke nou en dan vang jy hom met die hingsels aan die voorarms, besig met genoeg bicep curls om selfs jou hoërgraad gym-baba of spier-argitek te verveel.

Wakati bly in die werkerskwartiere by Die Plot se hoofhek saam met die Tanzaniërs, John en sy vrou met hulle seuntjie, Hope. John en sy vrou is aan die stuur van sake by die Lemon Tree en John is ook in beheer van BLOU by ons swembad. Helgaard en Abel het plegtig en sonder teëstribbeling, alle swembadverantwoordelikhede oorgegee aan John se gewillige hande.

Kagiso is ‘n Tswana van Klerksdorp en die inwonende elektrisiën cum jack-of-all-trades. Nadat sy vorige elektriese koppeling ons voortdurend sonder krag gelaat het en Die Eienaars se nuwe elektriese kontrakteur, Kagiso se gesmelte drade in die swembadpomphuisie in ‘n plas water ontdek het, fokus ons op die jack-of-all-trades gedeelte.

Agter die Lemon Tree bly daar ‘n stil vroutjie met haar twee kinders wat in ‘n ander skool is as my eie kinders. Haar man is ‘n fotograaf op ‘n plesierboot iewers op die sewe seë en dis maar ‘n opofferende, semi-soet bestaan vir hulle, dink ek. Sy is deel van ‘n immergroeiende gros vroue in die dorp wie se mans landmyne ontlont in Irak of pype aanlê in Kigali en net nou en dan vir ‘n maand of wat die leisels by die huis kom oorneem, voordat hulle weer gaan brood win in ander land.

Nou en dan loop ek en sy mekaar raak oppad na die herwinningsasblikke en asgat agter ons motorhuis, waar ons ons bes probeer om die planeet te red tusendeur ander verpligtinge en dan moet konsentreer op die feit of ‘n langlewe melkboksie plastiek, foelie (blik) of karton is.

Ons motorhuis lê links van die spuitfontein en is beslis eerder ‘n garage. Geen motor pas tans daarin met al die tot-op-hede-nog-onuitgepakte bokse, tuingereedskap en ou babaprams en kamptoerusting daarbinne nie. Ons karre word voor die voordeur onder die doring- en kareebome parkeer.

‘n Ent anderkant die garage, aan die bo-punt van die spuitfontein, bly Annelize saam met Boris, haar gemmerkat. Annelize is Die Plot se opsigter, landskap-argitek, boer, sakmaker en muti-vrou. Die brousels uit haar kombuis laat jou voel asof jy die fontein van ewige jeug ontdek het! Annelize is vir my ‘n tipe kruising tussen Liewe Heksie en Blommeland se koning Rosekrans. Sy het haar egskeiding se pyn op Die Plot kom inspit en toespit en nou groei die mooiste blomme daaroor heen.

Ver verby die spuitfontein, daar waar die tuine ophou en die veld begin, naby aan die grensdraad met die begraafplaas, bly Baas Peet. Sy huis is die naaste aan die berg en op sy boonste balkon kan jy ‘n skerf van die dam sien. Baas Peet het twee optelbrakke, Vlekkie en Vlooi, en ‘n mak minah, Miena, wat beter praat as my skoonsussie se African Grey. Niemand van ons weet presies wat Baas Peet se nering is nie. Sy huur is altyd op tyd, maar soms is sy koskaste dolleeg. Soms is sy klere vol verf en skilder hy ‘n doek; ander kere kom wys hy my ‘n ding wat hy geskryf het wat die koerant gehaal het en soms werskaf hy in sy tuin of bou hy ‘n sonkragpaneel of dokter hy die werkers met ‘n krui uit Annelize se tuin. Almal op Die Plot laat Baas Peet begaan en ons karring nie te veel in sy hartseer rond nie.

Baas Peet verdwyn soms vir weke na sy ander huise op die Weskus of in die Laeveld of die  Dullstroom-huis of die een in Memel; met sy optelbrakke en Miena en al, net om weer een sonnige middag of mid-oggend of een soel skemer doodluiters om die huis se hoek te stap met sy blikbeker. Hy drink wyn, wel eintlik enige ding, uit daardie outydse geel, blikbeker: iets te make met oer en aards en kom ons hou dinge op koers. Hy sal homself dan langbeen op my stoep kom tuismaak, sonder veel van ‘n groet, en veld in staar: “Vertel my.”

Ek mag dan dalk ‘n ruk tussen die karees en die doringveld met my oë die dag se vrede soek. Miskien eers klaar luister na die tarentale wat elke skemertyd hulle kabaal tussen die begraafplaas se doringbome opskop. En dan sal ek begin vertel. Nie altyd nie. Soms moet hy met my stilte tevrede wees, want stilte op die regte tyd is die grootste gesels.

Maar soms vertel ek. Prate wat ek nie regtig geweet het in my kies lê, net reg om van my tong te rol nie. Sommer praat, praatjies, geselsies, sodat hy kan luister. En soms sal Helgaard al tuis wees en by ons kom sit. En Baas Peet sal stil luister, nou en dan iets sê en homself dan plotseling ophys, dankie sê en ons daar op die stoep in die ligkol alleen los.

Bo-oor hierdie klompie mense rys die ewige silhoeët van die Magalies. Beskilder die berg en die Hartbeespoortdam op ons horison ons dae en die dinge wat in ons dae afspeel op ‘n manier wat Berg en Dam karakters maak in ons storie.

Terwyl ons dae hier op Die Plot gewoonlik sonder stoornis sand word in tyd se uurglas, en  min eintlik ooit gebeur, is daar altyd en ewig die Berg en die Dam en die gevoel dat ons stories hier onder die kranse opgeteken moet word; dat die tweespoorpad van ons bestaan hierlangs kronkel. En ons sal nie nou al weet teen watter stroom of teen watter krans die tweespoor in die gras gaan wegraak nie, maar terwyl hy kronkel, sal ek hom hier karteer.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

2018-01-17T18:46:05+00:00Desember 11th, 2017|Dagboekinskrywings|0 Kommentaar

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!