Sy lag nog soms kliphard as haar oudste boetie soos Micky Mouse praat. Soms kan sy in die swembad speel en inspring en spat asof 12 nie verbete aan die uitgelate rafels van kindwees probeer klou nie. Daar is dae dat sy haarself toelaat om sjokolade te eet en dan kan sy haar vingerpunte aflek en haar wimpers ‘n behaaglike skaduwee oor haar wangetjie maak soos wat haar oë eintlik toegaan van lekkerkry. Sy beplan soms met behaaglike genoegdoening hoe sy en haar Kanadesie nefies weer eiers op die ou wat Oupa se tuinwoonstel huur se paadjie gaan gooi of vertel met vonkelende oë hoe hulle in Satara toktokkie gaan speel het, op pad terug van die fliek af en die ou geskree het hy gaan hulle looi, hy is nou moeg vir hierdie stront. Sy sê stront vinnig en sag en lag dan omdat sy weet sy mag dit nie sê nie, maar verlekker haar daarin dat hulle van die strontprater kon weghardloop.

Maar meesal sal sy deesdae by my kom sit en my vertel van ‘n onreg wat sy op die speelgronde teëgekom het, terwyl sy ontsteld aan haar beker groentee of rooibos proe, of my probeer oortuig om nooit te emigreer nie of my vra of ek die nuutste Percy Jackson-boek vir haar sal koop, omdat sy haar verjaarsdaggeld spaar om eendag om die wêreld te reis. Sy sal haar boeties in winkels probeer dissiplineer en vir hulle ‘n kopwas afsteek, beter as wat ek dit kan doen. Sy sal by my sit en hardop drome droom oor haar swart belt in karate en hoe sy nou al ‘die houe moet kan vat’. Sy sal praat oor daardie leap in lyrical wat sy volgende jaar net móét baasraak en hoe sy harder gaan werk in Kumon, want sy wil hê wiskunde moet haar beste vak word.

Sy sal soms net haar vingertjie by Perjams se traliehokkie hou sonder om ‘n woord te praat en dan sal die budgie sy koppie teen haar vinger vryf, asof hy haar taal verstaan.Sy duld nie pienk of pers nie, sy duld dit nie dat haar boeties haar vertel hulle speletjie is ‘net vir seuntjies’ nie, sy duld nie iemand wat haar waardes beledig nie en sy het ‘n hart wat die wêreld kan verander.

Sy kom Sondag by die huis. Die dominee het vertel hoe Elia by die spruit Krit moes wegkruip vir Agab en Isèbel. Dit was droog. Daardie jaar langs daardie spruit. Die spruit het droër en droër geword. Ons kom pas uit die Kaap uit. Ons moes die toilet spoel met ‘n beker badwater en drinkwater koop en in ‘n katspoegie stort. Die kinders verstaan Elia se hart terwyl hy die watertjie in Krit sien krimp; sy bekommernis dat die vloei gaan ophou, die stroom net poele gaan word, die poele vol groen slik word, en dan die dag van opdroog. En die Here stuur kraaie.

Kraaie met vleis en brood in hul pote of bekke. Elke dag. Ek verbeel my selfs die kraaie het daardie vleis en brood uit ou Isèbel se paleiskombuis gaan gaps. Dat sy seker vir haar man gesê het, Agab, aan hierdie kraaie moet ons iets doen. Hierdie droogte beter end kry. Kok het gesê hulle het vanoggend al twee hoenderboudjies en drie heel kwarteltjies uit die kombuis weg, kon sy dalk gesê het.

Maar daar in die kerk het Kiana haar ook dinge oor hierdie kraaie sit en indink. Sy kom by die huis, gaan sit by die kombuistafel en skets hierdie potloodskets uit haarself uit, sodat ek verstom wonder of ‘n kind van 12 al moet weet van kraaie wat jou kom voer in jou donker dae, sonder dat jy ooit weet daar is opdrag gegee vir die kraaie om jou te kom versorg; om jou vlerke wat doodmoeg gevlieg langs jou lê, te kom heelvoer met vleis en brood; dat geloof en ‘n syferwaterjie genoeg kan wees..

Ek kyk vir haar. Sy bekyk haar handewerk tevrede en kyk dan vir my om die goedkeuring in my oë te vind. En ek hoop, ek hoop dat sy vir altyd sal weet: daar sal kraaie kom. As jy glo, sal hulle kom en jou versorg. En sy moet onthou, en weet dat stukkende vlerke weer groei en dan sterker is, en ja, my liefste kind, ja, dit sal weer in die Kaap reën. En dan kan die kraaie gaan nesmaak.

Sy het haar pyl en boog opgetel en suurlemoenboom toe gestap om na die teiken teen die stam te skiet.

Sureta Strydom von Holtzhausen

Eggo – skrywer:

Kiana von Holtzhausen

Vlerk

Soms moet jy net weet dat jy in ‘n fase van jou lewe is wat jy die pyn in die oë moet kyk. Al lê die kraai half dood hier langs jou, al lyk dinge donker, al is jy seer, kyk vir die pyn, voel dit en weet dit sal verby gaan. Wees net in dit, sit langs dit en moet dit nie wegjaag nie. Dit is al hoe dit vanself  sal weggaan.