V.l.n.r.: Ouma, Lize, Oupa en ek

Ouma het vandag haar oranje rok aan. Eintlik meer ‘n perske kleur. Crimplene, as jy reg onthou.
“Ouma lyk mooi.”
“Ag, my ou Kindjie, hierdie is sommer Ouma se huisrok,” en sy haak haar afstoflap in die rok se smal beldjie om haar middel, waar daar reeds ‘n poetslap hang.
“Maar dis mooi,” hou jy vol.
Ouma lig die deksel van die klavier oop. Met ‘n tipe gewyde respek.
“Wat maak Ouma?” vra jy hoopvol, want jy het Ouma nog nooit self klavier hoor speel nie.
“Ek stof die klawers af.”
En pieng, pieng, pie-ieng vryf sy versigtig, dog verbete, die klavier se skoon klawers skoner.
“Maar hoekom?” neul jy effe.
“Omdat jy elmboë gekry het om die swart hond mee te verja’. En knieë om hom weg te bid.” sê sy vinnig.
Pieng, pieng, pieng.

Ek pong, pong, pô-ong aan die lae kant van die Welmar, waar ek teenaan Ouma op die klavierstoeltjie sit.

“Is jou hande skoon, my Kind? Nee, nee, nee, gaan was eers jou handjies Ouma-se-Kind.”

Jy hou eerder op speel, want jy is nie nou lus om badkamer toe te loop om hande te was nie.

Sy gee vir jou die oranje poetslappie aan om te help.

Jy was seker so nege of tien, en jy het net vanself aangeneem die swart hond waarvan sy praat is Oubaas, Oupa se wit en swart steekhaarbrak wat maar altyd om Oupa se voete rondgelê het.

Lize kom ook met ‘n lap aangestap. Jou sussie is twee jaar jonger as jy. Sy begin die sykant van die klavier afstof.

“Is daardie ‘n sagte lap, Poppietjie?”

“Ja, Ouma.”

“Nee, Poppie, gaan vra vir Oupa vir nog ‘n sagte lap.”

Lize hardloop, lap in die hand, op die stoep uit. Ek raak verveeld en gee die poetslappie vir Ouma terug.

“Hoekom moet Ouma altyd werk, werk, werk?”

“Want ledigheid is die duiwel se oorkussing,” sê sy, terwyl sy die groen vilt-reep met albei haar hande sag oor die klawers neerlê en dan die glimmende deksel geluidloos laat  sak.

Lize het intussen onder die klavier ingekruip en vryf aan die pedale met die sagte, oranje stoflap wat Oupa haar gegee het.

“Dis reg, my Poppie, maar kom stof nou vir Ouma die tafel af.” en Lize kruip onder die klavier uit en begin die blink eetkamertafel afstof, terwyl Ouma haar Royal Albert- teestel op die silwer skinkbord versigtig, een-vir-een, optel en afvee.
Ouma kon op hierdie skoonmaakdae afstof en blinkpoets en wasgoed was in die dubbelbalie-wasmasjien. Sy sou die wasgoed ophang en dit weer loop afhaal daar by die drie oom Sarel-perskebome in die agtertuin, en vir jou wys hoe vou twee mense ‘n laken. Sy sou die laken dan tussen elke vou op die bed gladstryk met haar hande, sodat dit lyk asof daardie laken ‘n perfek-gestrykte reghoek is, net om hom op die reeds perfekte hopie ander reghoeke in die linnekas te gaan wegsit.

In die agtermiddag gaan maak sy tee. Sy dra die skinkbord stoep toe en Lize dra die soetkoekieblik agter haar aan. Jy is saam met Oupa in die tuin doenig.

Oupa sou agter die tuinslang se blink straal water aanstap en tuin natmaak en soms sou hy die tuinslang vir jou gee en jou wys hoe om die straal met jou vingers voor by die tuinslang se bek sagter te laat sproei, sodat jy nie die grond wegspuit en die plante se wortels ontbloot nie

“Kom, Toerie! Kom drink jou tee.” roep sy in Oupa se rigting. Hy lê die tuinslang in die middel van die bedding neer, sodat die water die bedding kan volloop terwyl hy tee drink.

Oupa gaan sit op sy draadstoel op die stoep en begin tydsaam sy drie lepels suiker in sy glas teekoppie inroer. Jy kon nooit genoeg daarvan kry om deur die glaskoppie te kon sien hoe die suiker ‘n blink, bruin bergie onder in die koppie maak nie en al roer Oupa sy tee lank en rustig so katieng-katieng-katieng met die teelepel teen die koppie se binnekant, daardie bruin suikerbergie roer nie weg nie.

Ouma draai so skuins om eers met die een voet en dan met die ander voet van die stoeptrappie af te klim. Sy vou haar hande agter haar rug en loop in die dag se lig in wat met meer genade as vroeër, amper lankmoedig, uit die somerhemel begin neerskyn het. Sy begin met behaaglike treë deur die tuin stap terwyl haar tee afkoel.

“Jy moet seker hierdie saad begin oes, Toerie,” gesels sy stoep se kant toe en frommel ‘n droë afrikanertjie tussen haar vingers heen en weer en bekyk die saad wat grond toe sweef.

Jy hop van die stoep af om saam te loop. Lize sit met ‘n koppie tee en ‘n soetkoekie op die stoep se trap vir ons en kyk.
“Draai vir Oupa die kraan toe, my Kind. Daardie bedding is nou lekker nat.” vra Oupa.

Jy draai die kraan toe en gaan stap langs Ouma. Sy sou dan vir jou elke blom se naam in Oupa se tuin leer: jakob regop, bottle brush, afrikanertjies, nee-wat, daardie een het nie ‘n naam nie, jy kry hom oral, leeubekkies, gesiggies, namakwaland daisy, tee-roos. Jy sien nou nog hoe sy so met haar hande agter haar rug oor die groen gras stap, van bedding tot bedding, asof sy geweet het hoe ‘n mens mooi dinge moet bewonder.
“Ouma, hoekom het ‘n mens knieë en elmboë nodig net vir swart honde?” het jy die ding wat jou nou al heeldag pla, by haar wou weet toe julle terug is op die stoep.
Sy gooi melk in haar tee met so ‘n vinnige wit plonsie uit die vleklose staal melkbekertjie uit.
“O, die swart hond,” onthou sy ons prate van vanoggend, terwyl sy haar tee roer, “ag, my Kind, dis sommer as die lewe ‘n mens die dag onderkry, dan praat ons van die swart hond. Maar ek voer hom nie, so, hy is al lankal weg. Vanoggend al. Ek sien Dan en Nancy is terug van die werk af, Toerie,” val sy haarself in die rede, terwyl sy vir haar bure anderkant die draadheining wuif en wyd vir hulle glimlag.
Jy sit in jou koeltekol daar teen die stoep se paal waar jy met ‘n stokkie en ‘n miertjie begin speel het. Jou tee staan langs jou op die warm leiklipvloer van die stoepie, halfpad opgesuig deur al die soetkoekies en vol nat krummels. Jy het nie geweet hoekom voel jy opeens effe verdrietig nie. Jy was toe te klein om te weet dat die vrug van die boom van kennis altyd ‘n bietjie ongemak bring; al hierdie dinge oor grootmense met ‘n swart hond wat dalk skuilhou, en die duiwel se oorkussing, en werk sonder einde.

“Oupa, wat beteken ledigheid is die duiwel se oorkussing?”

“Nou waar hoor jy van sulke dinge?” en Oupa gooi sy laaste tee versigtig in die piering uit.

“Dit beteken julle moet leer werk, my Kind,” antwoord Ouma sommer die vraag, “julle gaan nie ‘n Johanna Xhosa hê as julle die dag groot is nie. Dinge gaan verander.”

Jy het nie altyd al die dinge verstaan waaroor Ouma met jou gepraat het nie, maar jy onthou dat al daardie prate jou laat voel het asof jy saak maak.

Jy lag toe sy met Oupa raas wat weer die tee uit sy piering drink. Hy kry elke middag hieroor raas. Hy knipoog vir my en sê gemaak-verontwaardig, “But the tea is still hot, my pet!”

Oupa was eenmaal lank gelede, voordat hy met Ouma getroud is, ‘n engelsman, en soms skyn die engels nog deur al die afrikaans wat hy elke dag praat.

“Nou-ja, die werk wag,” sê Ouma, terwyl sy opstaan en die rooi koekblik met die geel rosies om die kant, se deksel terugdruk en binne toe gaan.

Oupa neem die skinkbord agter haar aan kombuis toe, Lize gaan wag solank voor die T.V. vir Haas Das om te begin en jy drentel speel-speel met Oubaas agter Ouma aan, sonder om te weet dat daar op sulke dae goud, wierook en mirre in jou skoot gelê is.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-