Silver Creek Mountain Band

1992

Ek tik my parfuum haastig agter my ore en in my halskuiltjie – Sandalwood essensiële olie. By die Hatfield vlooimark gekoop vir R8. Ek gooi my pa se ou tweed-baadjie as ‘n nagedagte oor my skouers, druk my sakgeld en lip ice in my jean se sak en storm by my koshuiskamer se deur uit. Anders mis ek dalk my lift Navigators toe.

Silver Creek Mountain Band in Café Barcelona

Oppad soontoe bulder U2 uit die speakers van Gina se wit Alfa. In Pretoriusstraat stop ‘n kar vol Taaibos-manne langs ons en Gina rev haar Alfa asof ons hulle gaan dice. Theresa lag wydbek vir hulle en my sussie, ‘n eerstejaartjie, protesteer uitbundig oor die jaagtog wat voorlê. Die ouens lag terug en gooi duime na bo. Hulle is ook derdejaars en die Taaibosman rev sy voosgeleefde Corolla dat die rook trek. Toe die robot groen slaan trek hulle weg met die skree van bande. Ons ry rustig oor die kruising – skater dit uit vir ons eie grappie.

Ek betaal die R5 cover charge. Die plek is gepak en lawaaierig.  Ons dans daai sywaartse two-step om tussen die lywe met glase omhoog deur te beweeg. Ons wriemel onsself op ‘n houtbank in en begin hard saamsing nog voordat die waitress weet wat ons wil drink. Sy liplees my bestelling- 2 Southern Comforts met ginger ale en 2 Crossbow Ciders.

Ons praat en sing en raas maar niemand kan ons hoor nie. Almal doen soos ons doen.

Onderlangs beloer ek Rod, die hoofsanger, se voete. Hy dra ringe om sy tone, sy hakke is verweer en ons almal vertel vir mekaar elke keer: hy het laas in die sestigs skoene aangehad.

Rod Dry in Café Barcelona

Alles aan Rod Dry was groot en manjifiek, soos Kersvader. Die groot bruin kontrabas, die groot baard, die groot lyf, die groot vingers, die hare wat deur ‘n kopband ingetoom word, die groot stem.

“Work your fingers to the bone, what d’you get?” STAMP. GLAS. “Boney finge-ers. Boney Fingers.” sing die gehoor uitbundig saam en stamp hulle glase net 2 keer in perfekte ritme.

Rod pluk die musiek met ‘n soort gebiedende piëteit uit sy baskitaar, terwyl hy skreefogig bokant sy baard die gehoor intuur en iets in die verlede raaksien. Die liedjies val moeiteloos uit hom uit en gaan word ‘n herinnering in ons jong harte sonder dat ons weet.

Die Black Label langs ons probeer my sussie opchat met ‘n sleurtong en baie handgebare. Wat is jou naam? Wat swot jy? Jou pa is seker ‘n juweeldief. Hy het al die diamante gesteel en in jou oë gaan wegsteek. Hulle skitter.

Sy lag maar, lig haar glas in Black Label se rigting en draai doelbewus haar oë terug na die klank.

“Hot chilli peppers in the blistering sun, dust on my face and on my cape. Me and Magdalena on the run. I think this time we shall escape.”

George se voorarms, George se stem, George se liedjies, George se oë. George Lotz lyk soos die kinderbybel-Liewe Jesus. Ek kan nie help om dit so te vergelyk nie. Hy sing bo-oor sy kitaar asof hy homself in ‘n tyd wil toespin wat hom nie beskore was nie. En ek sit skielik en wonder oor my eie drome. En ek word selfs ‘n bietjie onseker oor my eie blink toekoms.

“They wear Green Boots and they’re coming to get you”

Die tafel agter in die hoek speel Coins. Hier teen 23:00 was daar altyd iewers ‘n tafel wat Coins gespeel het. Elke keer as iemand ‘n muntstuk met ‘n 2de muntstuk in ‘n glas ingeskiet kry, kan hy sê wie moet ‘n drankie down. Coins gee die lawaai momentum. Rod en George sou soms, om die beurt, in die rigting van die lawaai tuur. Dalk gesteurd, dalk sommer net omdat lawaai mense laat kyk.

George sing Cat Stevens se Wild World. “Now that I’ve lost everything to you, you say you wanna start something new, and it’s breaking my heart your leavin’, baby I’m grievin. . .

Ooh, baby, baby it’s a wild world. It’s hard to get by just upon a smile, girl.”

Ons vier sing dit saam en kyk vir mekaar en lag en klink ons glase, maar daar is ‘n betekenis versteek wat die uitbundigheid vals laat voel. Asof ons reeds die drome vir die waarhede geruil het.

Theresa praat vurig toe sy haar glas lig en ons cheers. “Hierdie sal nooit met ons gebeur nie! Tjorts julle!” Haar glas en kop praat in ritme saam. “Ons gaan almal in dieselfde straat bly. Gina en Lize gaan dokters wees, Sureet gaan ‘n regter word en ek gaan net happy wees!”

“Wel, ás dit so sou gebeur dat ons uitmekaar gaan, sal ek altyd aan òns dink as ek hierdie song hoor,” Praktiese, mooie Gina.

My sussie, Lize, knik en lig dan tog haar glas op die wilde wêreld wat vir ons wag. Dit troos om te weet ons gaan hom pak in dieselfde straat.

Die Southern Comfort sypel sonder troos in my weg.

“I looked at life from both sides now, from up and down.”

Die aand is om. Rod wens ons almal ‘n veilige reis toe en bedank ons vir ons ondersteuning. Die dronk hoek skreeu uitgelate terug en vra vir nog liedjies.

Rod en George wissel ‘n vinnige woord met mekaar en dan begin George sing. “Forever young. May you stay-ay-ay, forever young.”

Natuurlik. Jonk vir altyd. Sy oë, meer as sy mond, knoop iets in my vas wat ek later eers herken het.

More-aand of volgende week na die toetse of eksamens is ons terug. Die aande met Silver Creek Mountain Band sal nie opraak nie. Ek neem nie eers ‘n foto nie, want ek dokumenteer niks op 21 in 1992 nie. More en volgende week en volgende jaar kom kuier ons weer in Navigators soos die luim ons pak.

Pretoria se middestad is koud. Ek druk my hande diep in my pa se ou universiteitsbaadjie se sakke en die vier van ons loop vinnig kar toe. Die koshuis se deure gaan sluit.

2015

Ek en Lize, Silver Creek Mountain Band te Cafè Barcelona, Pretoria, 2015

“Jy sal nie gló wie speel die 22ste in Pretoria nie?!”

“Wie?”

“SILVER CREEK!”

“Haai! Waar?”

“Café Barcelona. Nie ’n idee waar dit is nie, maar het dit op Facebook gesien. Julle lus om te gaan? Mamma kan die kinders oppas.”

“Ja, jissie. Watse tipe plek is dit?”

“Ek weet nie. Sal Google en julle laat weet.”

Ek Google. Ek bespreek ‘n tafel vir 4 per epos. Ek ‘like’ Silver Creek Mountain Band se blad op facebook.

My sussie is ‘n dokter in Kanada. Gina ook, maar aan die anderkant van daardie ysige land. Die Kaap het Theresa ingesluk. Ek bly weer op my tuisdorp naby Pretoria.

My sussie-hulle kuier hier vir die Desembervakansie.

Ek staan die middag senuweeagtig voor die spieël. Ek staan tevergeefs en wonder hoe kry mens 20 jaar van jou gesig en lyf afgevee. Hoe trek mens aan om nie soos ‘n seer vinger in ‘n skare denim-en-T hemp-studente uit te staan nie?

Ek gee boedel oor en spuit Poême van Lancôme in my halskuiltjie voordat ons voordeur toe loop. Ons waai soene vir die kinders en klim dan in die H1- kombi.

“Sluit die deure en onthou, moenie stop as daar ‘n kar met polisieligte julle jaag op die N4 nie. Daardie blouligbende wat so op die mense skiet is nog nie gevang nie.”

“Ja Pa.”

Ek en my sussie glimlag oor die opdragte, maar ons sluit tog die deure.

Ons raak vies vir die jongeling wat oor ‘n stopteken verby ons jaag in sy middernagblou VW-Polo. ‘n Hengse geraas pomp by sy luidsprekers uit.

“Vanaand staan die dokter op roep sy wonde en toewerk as hy in iemand vasjaag.” frons my sussie.

“Mens kan net nie meer in die aand ry nie.”

“Ek wonder waar is Theresa in die wêreld?”

“Weet nie. Ek sien haar so nou en dan op facebook. Ek mis vir Gina.Ek wonder of sy gelukkig is. Daar ver.” My sussie antwoord nie en kyk by die venster uit na die plakkerskamp waar ons verbyry; ‘n landskap wat nie wil eindig nie.

Ons twee mans, voor in die kombi, gesels oor Kanada en die droogte en misdaad.

Ons betaal die R400 toegangsfooi.

Ons stap by Cafè Barcelona in en vir ‘n vlietende oomblik voel dit of ons vir altyd dáár sit en oud word het. Die hele stemmige gehoortjie is saam met ons besig om hulle mid-lewe deur te leef. Vroue met 20 jaar op die gesig en meer op die heupe in stemmige, swart uitrustings. Mans met myle om die oë en om die middellywe.

Ons tafel is gereserveer met ‘n  klein vierkantige tafeldoekie en 4 stoele. Ons sit. Ons bestel 2 glase wit wyn en 2 Windhoek Lagers by die kelnerin.

Ek weet nie wat ek voel nie. Matelose verligting dat ek insmelt by hierdie samekoms van nostalge en verlepte drome.

Ons neem selfies. Ons koop CD’s en ‘n T-hemp wat ek nooit gaan dra nie, maar ook nooit sal weggee nie.

Ons gesels. Stemmig. Soos mens in ‘n restaurant doen.

George Lotz is dood.

George se broer is die vorige jaar iewers in Afrika tydens vriendelike vuur doodgeskiet waar hy deel was van ‘n vredesmag of iets. Ons hoop hulle sing “Green Boots”; ‘n liedjie geskryf ter ere aan Koevoetlede in die ou Suidwes. Sekerlik ter ere aan George se broer.

Rod loop verby ons tafel tot op die verhogie en my sussie maak wat sy altyd maak as sy onverhoeds betrap word.. Sy lag met haar hand oor haar mond asof sy dit wil keer.

“Waar is die tyd heen?! Hy het dan stokoud geword. Hy moet al 80 of 90 wees!”

“Nee man, seker so 70?”

Foto: geneem deur Silver Creek Mountain Band

Die kopband is steeds daar. Die baard is spierwit, maar is genadiglik steeds groot en luidrugtig. Rod is kleiner. Asof hy meer binne die lyne ingekleur is.

Daar stap nog 3 musikante tot op die klein verhogie.

Carl Frayne met sy stem en kitaar, Eugen Ruetsche met ‘n bekfluitjie en Shugg Dry, Rod se seun, met sy kitaar.

Rod begin sing.

“Look what they’ve done to Silver creek!”

Rod pluk die musiek met ‘n soort gebiedende piëteit uit sy baskitaar terwyl hy skreefogig bokant sy baard die gehoor intuur en iets in die verlede raaksien. Die liedjies val moeiteloos uit hom uit en my herinneringe aan my jonger self kom staan opeens voor my sonder dat ek alles erken.

Die skaretjie is tjoepstil. Die sluwe verdriet van onthou lê net-net ingekeep om ‘n mond, ‘n ooghoek, die vinnige sluk aan ‘n drankie met baie ys.

“Old Joe Brown was a very fine man. A very fine man was he.”

George se liedjies is vir altyd saam met hom weg. Hulle gaan nie Green Boots sing nie, nie Forever Young nie, nie I started a Joke nie, nie Wild World nie. Dit was George s’n en dis reg so.

Die Black Labels in die middel van die klein restaurant kom los. “Rod! Sing die Beatles.”

Hulle val met sleurtonge weg en skreesing “Hey, Jude!”

Rod vat hulle vas. “You have not been with us in a while? If ever.”, streel sy stem uit die mikrofoon.

“The sun came up over Jeffrey’s Bay.”

‘n Blyheid kom in my vry. Iets jonk, wat iewers op my paaie gaan slaap het, word wakker.

“Work your fingers to the bone, what d’you get?” STAMP. GLAS. “Boney finge-ers, boney fingers.”, sing die skaretjie opeens luidrugtig saam.

Rod lag ‘n lag wat my onkant betrap. Dis asof die genot van die skaretjie wat hul glase op ritme kap hom uit die verlede gaan haal het en hom heel by ons op die verhoog kom neersit het.

“Only in Pretoria,” lag hy, “Only in Pretoria”.

Die tafel in die hoek maak sisgeluide op die maat van die liedjies. Hulle kry vuil kyke, maar skree voort: “Lekke Roddie! Sing Strike a Match!”

Ek wens hulle wil eerder Coins begin speel.

Rod gesels met hom: “I did not know they had a sea in Boksburg.”

Die aand is verby.

Dis asof selfs Silver Creek weet dat Forever Young ‘n belofte was wat nooit nagekom is nie. Hulle sluit af met When the Saints Come Marching In. Die belofte daarin maak dat die wit wyn sonder troos in my wegsypel.

Rod gaan neem stelling in by die tafeltjie agter ons om die CD’s en T-hemde te verkoop. Ek skraap alle moed bymekaar om die CD’s en T-hemp by Rod te moet betaal. Hy is hy en ek is ek.

“Can I pay for this?”

Kon ek nie net sê jou musiek was die klankbaan van my jonkwees nie?

“Sure.”

Die gaafheid in sy stem kom tot by sy oë.

“It is 4 CD’s and a T shirt.”

Kon ek nie net sê ek dink jy is ‘n fenominale kunstenaar en jou voetspore deur Pretoria het aan harte geraak nie?

“You are most kind. It will be R600.”

In daardie chaotiese klein ruimtetjie van die restaurant raak ek bewus van ‘n rustigheid, of ‘n vrede. Ek kyk vir hom.

“We could not find ‘Green Boots’ on any of the CD’s. Did we miss it somehow?”

“No, it is not on there. Are you a George-fan?’

“Yes.”

Kon ek nie net sê en natuurlik van jou ook nie. Dis hoekom ons hier is. Van die hele Silver Creek Mountain Band wat jy tot stand gebring het in 1971 al nie?

“Wait, I want to give you something.” Hy verdwyn buite sig.

Hy kom terug met ‘n CD en hou dit na my uit.

“These are a few songs George recorded shortly before his death. You can have this.”

“Thank you so much. It is very kind of you.”

Kon ek nie net sê maar jy gee die hele aand al vir my geskenk op geskenk nie. Uitbundigheid. Ongebondenheid. Vryheid. Jy het met een noot 20 jaar weggetoor.

Met ‘n knik van sy gawe oë draai hy om en help die ander by die tafeltjie.

Ons stap teësinnig by die deure uit die grootmenswêreld weer binne. Die Hyundai se agterste wiel is pap.

Terwyl die mans die wiel omruil op daardie parkeerterrein onder Pretoria se somerhemel, kyk ek en my sussie stil na die ritueel. Asof ons met ons oë mekaar terug op die pad wil help.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

2017-12-19T08:32:10+00:00Desember 18th, 2017|Staaltjies|14 Kommentaar

14 Comments

  1. Liezl Blacquiere 13 Januarie 2018 at 10:14 nm - Antwoord

    Jy vat my terug Potch toe. Terug Bourban Street toe. Terug na Mean Mister Mustard toe. Dit was lekker toe. En dis lekker nou.

    • Sureta 14 Januarie 2018 at 1:22 nm - Antwoord

      Jy klink soos my tipe mens… maar ons weet dit mos nou al.

  2. Kathryn Harmer Fox 22 Desember 2017 at 7:34 nm - Antwoord

    Hello.

    My name is Kathryn Harmer Fox but it used to be Kathryn Lotz and was married to George. I want to tell you that this is a beautifully written description of a time long gone and now brought right back. I heard each song as you wrote the words and I saw George sitting on stage with his gorgeous forearms and voice as dark as night. And you are right, there was something about the way he looked right into you and he did look like a Children’s illustrated Jesus.

    A couple of videos have recently been posted on Facebook of Silver Creek’s early days when they were on the Holiday Inn circuit and we lived in a caravan, travelling from gig to gig. These videos led me, in a very round-about way, to your blog and I just want to say: “Thank you”.

    • Sureta 23 Desember 2017 at 4:29 vm - Antwoord

      Hello Kathryn,
      You have no idea what this beautiful letter of yours mean to me. Thank you so much for sharing this window of your life. I think George’s songs, to me, emphasised the fact that the sadness and the phases of life is inevitable, but the beauty of it should be celebrated.
      Go well, Kathryn, and once again thank you for taking the time to write to me.
      Kind regards.
      Sureta.

  3. Nicki le Roux 21 Desember 2017 at 2:56 vm - Antwoord

    Briljant! Ek het heerlik gelees.

    • Sureta 21 Desember 2017 at 3:37 vm - Antwoord

      Baie bly jy geniet dit. Waardeer altyd jou terugvoer, Nicki.

  4. Nicki le Roux 21 Desember 2017 at 2:51 vm - Antwoord

    Lekkerste leestof!

    • Sureta 21 Desember 2017 at 3:36 vm - Antwoord

      Lekker om te hoor, Nicki! Hoop dit gaan goed. Xx

  5. Pieter Van Heerden 20 Desember 2017 at 5:42 vm - Antwoord

    Ek en die Band kom ook n lang pad saam George en ek het baie baie jaare terug by sy ma gebly. Ek en Rod is vandag nog goeie vriende hy is n amazing mens en die gom wat die Band aan mekaar hou

    • Sureta 20 Desember 2017 at 3:52 nm - Antwoord

      Hallo Pieter,
      Baie dankie vir hierdie vertelling. Dis lekker om dit te lees. Ja, hulle het vir baie van ons gesing in ons ‘grootwordjare’ in Pretoria.
      Mooigaan.
      Sureta.

  6. Ronell 19 Desember 2017 at 4:59 nm - Antwoord

    Wow!! Ek stuur my epos!! Dankie Suretha”tjie!

    • Sureta 19 Desember 2017 at 6:29 nm - Antwoord

      Dankie, Ronell! Altyd, altyd lekker om van jou te hoor. Liefdegroete.

  7. Sureta 19 Desember 2017 at 3:20 vm - Antwoord

    Is ons nie flippin bevoorreg om juis daardie musiek en daardie kuiers in ons herinneringsbank te hê nie? Daar sal ñ volgende keer wees. . . Lekker!

  8. Lize Jones 19 Desember 2017 at 12:46 vm - Antwoord

    Ek ,die Sussie, kan hierdie storie oor en oor lees, en daai spesiale nooit-vergeet aande oor en oor beleef!

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!