“Maarten het die vliegkaartjies op ‘n bokresies gewen.”

In Tanzanië, waar Maarten werk, is dit blykbaar semi-belangrik om te weet wie besit die vinnigste boerbok, net soos dit met perde gesteld is in Suid-Afrika.

Die uitsig vanaf die Indian Ocean Apartments te Masaki in Dar es Salaam

“Die kaartjies is na enige plek in die wêreld,” staan Anèl my díe dag langs Die Plot se spuitfontein en vertel.

“Ons weet van ‘n bokresies niks en Maarten kies toe maar die mooiste bok. En daar wen die bok. En hulle sê ons het ‘n prys gewen. Ènige plek in die wêreld, maar sonder akkommodasie en kos, díe moet jy self voor sorg. So, nou vlieg ek en Maarten Duitsland toe en is dan terug vir kersfees op Die Plot met Maarten se familie. Wil julle nie in ons woonstel in Dar gaan bly nie? Dis op ‘n hoogte bo die see.”

‘n Mens kom van Afrika en jy was al in Namibië en Zimbabwe en jy was té vlugtig in Botswana, jy ken mense wat in Mosambiek duik, jy weet die Serengeti lê noord van jou, iewers, en so ook Kilimandjaro en die Malawi-meer en jy wil eendag na daardie migrerende blouwildebeeste gaan kyk. Maar as iemand die woord Tanzanië sê, dan kan jy nie een ding met sekerheid noem wat in daardie land voorkom nie, behalwe tanzaniet. Tanzaniet word slegs in Tanzanië gemyn en dit gaan eendag klaar raak. En dis wat jy met sekerheid weet.

“Maar is die Serengeti nie in Kenia nie?” wonder ons die aand toe ons Google.

“En Anèl sê Berg Kilimandjaro is so ver van Dar soos Durban is van Hartbeespoort.”

“Nou wat is dan in Kenia?”

“Nee, nou weet ek nie, maar Zanzibar is twee ure per ferrie van Maarten-hulle se woonstel af.”

Ons weet vandag al heelwat meer dinge oor Tanzanië: ons weet die SAA-vliegkaartjies vir ons twee en ons drie erfgename was bykans R34 000, ons weet daar is twee vlugte per dag van O.R. Tambo in Johannesburg na Dar-es-Salaam, ons weet die vlug is drie en ‘n half ure lank, ons weet die Serengeti gaan ons nie hierdie slag sien nie- teen amper $9000, amerikaanse dollar, vir 4 nagte vir ons 5, sal ons liewer op ‘n volgende geleentheid met ons eie voertuig ‘n Voetspore-situasie skep- ons weet jy het ‘n geel inentingskaart nodig met bewys dat jy jou geelkoorsinspuiting gekry het, verder is jou Suid-Afrikaanse paspoort en -bestuurslisensie voldoende en wat ons laastens weet, met groot sekerheid weet, is dat die Julius Nyerere Internasionale lughawe op Dar es Salaam iets uit ‘n fliek is. Van daardie flieks waar die smokkelaars in midde-Afrika op ‘n klein, besige lughawe aankom met hul wit pakke en hul bose planne. Maar ‘n fliek waarin jy die hitte kan voel en die reuke kan ruik en die sweet op jou lyf taai raak en jy naderhand ophou om dit van jou voorkop te probeer afvee. In alle eerlikheid, ons is gewaarsku oor die hitte vanaf verskeie oorde: Onthou, dit is vrek naby aan die ewenaar. Dit is ongelooflik warm. Dit is net so warm 12 uur die middag as 12 uur snags. Ensovoorts.

Dar es Salaam; Julius Nyerere Internasionale lughawe: Kiana kyk hoe haar pa ons tasse tussen al die ander uitsoek en laai.

Maar in alle sweterige eerlikheid, sou ek die blaam vir 90% van Julius Nyerere-lughawe se ongemak pak op ‘n totale gebrek aan lugversorging, ‘n benouende lae dak oor ‘n geboutjie die grootte van ‘n groot skuur en ‘n samepakking van lywe en nog lywe en tasse wat met hakke baklei vir vloerspasie. Daar is geen aanwysings van waar jy jou immigrasie-kaartjie moet gaan invul en in watter ry jy moet staan nie. Maar later besef jy daar is ‘n tipe banale orde in hierdie saamgepakte lywe. Almal staan en maal rond om ‘n  spasie te probeer brei tussen al die vreemde lywe in vir ‘n skouer of hul een voet, maar hul maal net op een plek in tipe gebondelde rye, as daar iets sooos ‘n gebondelde ry bestaan.

Einde ten laaste stoei ‘n beampte stroom-op met die lang ry en hy loop op ons af en vra:”South African? Holiday?”

“Yes.” Effe bekommerd.

“Wrong cue.”

Jy is eers verbaas vir sy korrekte opsomming van ons 5 se herkoms, maar moet toe tog erken dat twee mense met drie blou-oog, ligtekop kinders en net een stuk handbagasie per mens, soos ‘n seer oog uitstaan in hierdie mengelmoes van moor en mohammedaan, under cover-smokkelaars  en britte-oppad-Zanzibar toe.

Ons bondel agter hom aan en verstaan hoekom Anél gesê het dat goeie maniere jou vir altyd binne-in die lughawe gebou gaan hou.

Die Here het vir jou elmboë gegee. Ek stel voor jy gebruik hulle op Julius Nyerere-lughawe as jy ooit die voorreg het om Tanzanië toe te vlieg.

“Waar is die grys tassie?” skree ek vir Helgaard bo-oor die koppe van ons kinders en elf ander mense wat by ons tou probeer indruk.

Hy kyk om hom rond asof dit die grys stuk handbagasie wat toe nog geduldig in die vliegtuig se bo-rakke vir ons lê en wag, gaan laat verskyn.

Wat daarna volg kon ek seker ‘n hittige bespreking noem of ‘n woordewisseling, maar dit was ‘n bakleiery.

“Van nou af is ek flippin in beheer van bagasie! Sorry sir,” trap ek op iemand se voetbrug, “jy beter vir daardie beampte gaan vra wat moet ons nou doen!”

“Laat ons net eers deur doeane kom.”

“Is jy laf?! Dan is ons binne-in Tanzanië. Hulle gaan jou nie weer toelaat met jou paspoort om terug te gaan nie. Vra nou!”

“Ek sê mos as ons eers deur is!”

“Mamma, ek móét nou piepie!”

“Nie nou nie, Vian! Vra daardie man. Engel!”

“Nee! Laat ons net eers deurgaan!”

‘n Beampte stoei deur die mense verby my.

“Sir! We left our…”

Hy kyk vir my, draai sy kop weg en stoei voort.

Ons spandeer die volgende 5 minute deur te sweet en vir mekaar te gluur oor die koppe van ons kinders en 8 ander mense wat probeer indruk.

‘n Tyd gelede het ons van ‘n vlug van die Kaap af op Lanseria van die vliegtuig afgeklim, tien treë tot in die bagasielokaal gestap, nog 25 treë tot in die aankomslokaal en hulle het volstrek geweier dat Helgaard terug op die vliegtuig gaan om sy selfoon te kry wat hy gedink het in die stoelsakkie voor hom agtergebly het. Gelukkig ontdek ons toe die selfoon in ‘n sak en was die onvrede met Lanseria se ongenaakbare reëls onnodig.

Dar es Salaam; Tanzanië

Maar hier staan ons in Dar es Salaam en ‘n hele tas met ons selfoonkoorde, kameras, verkykers, die kinders se kersgeskenke en my gunsteling halssnoer lê in die vliegtuig op die teerblad op ‘n lughawe van ‘n vreemde land vol streng beamptes.

Nog ‘n beampte kom verbygestoei. Ek sit nie eers kommas of leestekens in my besliste sin nie:”Sir-we-left-a-piece-of-luggage-on-the-plane-and-we-need-to-know-now-what-we-should-do!” Hy kyk vir my. “Please!” voeg ek by.

“You should go and fetch it.”

Hy kyk vir my aan asof hy my jammer kry, soos wat jy soms vir iemand kyk wat jy weet is nie verstandelik goed bedeeld nie.

“Hê? No, sir, you probably misunderstood. It is still on the plane.”

“Well,” sê hy baie stadig, maar geïrriteerd, “you should go and fetch it.” En hy loop.

“Gee jou laptopsak, Engel. Go! Go! Go!” en Helgaard elmboog stroom-op terug vliegtuig toe.

Helgaard is betreklik vinnig terug, grys tassie en al, sopnatter van die sweet as vroeër. Teen hierdie tyd is ons almal semi-gedehidreer. Vian staan kruisbeen omdat die geleentheid om te piepie net nie wou opduik nie en ons is ingebreek. Opgewonde, geïrriteerd, mal van hitte, oorgawe, gelate: dit is die vyf stappe van gemoed tussen ‘n vliegtuig en ‘n immigrasie-beampte in Tanzanië. Gelate stap ons na die hokkie toe die polisieman beduie dit is eindelik ons beurt.

Die streng immigrasie-beampte skandeer ons Tanzanië binne en ons vind ons tasse langs die leë bagasievoerband in ‘n groot skare ander tasse op die vloer met verskeie ander mense wat probeer vasstel wat se swart tas is hulle swart tas.

Ons is deur.

“Sorry, sir. Come.”

Ons is dan by die deure. Vryheid wink vyf treë weg.

“Yes?”

Hy beduie na ‘n skandeerder. Ons tasse en handbagasie moet weer skandeer word. Ons het dit drie treë gelede op twee trollies gepak, nou moet ons weer oorpak en dit weer skandeer, terwyl onsself net deur die deure kan stap.

Hulle vind niks obskuur in ons tasse nie, net soos die beamptes op O.R. Tambo niks gevind het nie en eindelik is ons een natgeswete uur nadat ons neergestryk het, vry om Tanzanië binne te gaan.

“Julle kan ons huishulp en drywer gebruik,” het Anèl beduie.

Mudi-die-drywer staan ‘n plakkaat en swaai toe ons die lughawegebou verlaat. Verlig, dors en natgesweet sak ons in Maarten se Prado in met Mudi aan die stuur.

“How many species of birds do you get here?” vra Lamont, tien jaar oud en altyd nuuskierig, maar gereeld ontydig.

“Lamont!” bereik Kiana se twaalfjaaroue gemoed breekpunt, “Is dit nou die tyd?!”

Ai, Rafiki, jou stoute brak . . . In die supermark opgeplak.

Maar ten spyte van die beknopte sit agterin die Prado en die hitte, begin ons kyk. Na Dar es Salaam. Na hoe dit lyk na ‘n mengsel tussen Nelspruit en Durban met  iets daarby wat lyk soos wat ‘n ritme sou lyk as jy ‘n ritme kon sien. Daar is iets in die stadige verkeer wat jou kalmeer. Niemand toet nie. Almal sit. Want dit is wat dit is. Verkeer. Toet en skel gaan dit nie verander nie. Niemand jaag links by jou verby nie.

Bromponies staan in netjiese rye parkeer en ry soms in die aankomende baan teenaan die sypaadjie op jou af.

Daar is flambojantbome en geil groen plante en Lamont leer die naam van sy eerste Tanzaniese voël: ‘n kungulu, iets wat lyk na ‘n klein kraai of raaf.

Daar hang ‘n boom vol vlermuise voor ‘n bank en oral langs die pad word veelkleurige lap en rokke en rou grondboontjies en reuse pynappels verkoop.

Ons weet al hoe meer dinge: ons weet ook nou Swahili en Engels is die offisiële tale en tanzaniese sjillings is die geldeenheid. R1 koop vir jou TSH177. Ons weet al Nutella kos TSH10 600 (min of meer R65), ons weet dat die see hier ook ruik soos see en dat dit waar is: twaalf uur snags is net so soel soos twaalf uur bedags.

“Ek hou van hierdie plek,” sê Kiana vir my die aand toe ek haar gaan nagsê en sy vir die donker see lê en kyk in haar bed, “die lug ruik na mango’s.”

-Sureta Strydom von Holtzhausen-