Kunduchi Beach Hotel and Resort, Dar es Salaam

Daar is net een ding wat my dalk sal oortuig dat die ewolusioniste se beweringe korrek is, naamlik dat die mens se oergrootjie ‘n vis was, en dit is ‘n Transvaler. Wanneer ons Transvalers seewater ruik, gebeur daar ‘n tipe voortstu in ons lywe en ons oë sper dalk ‘n bietjie wyer en ongeag weersomstandighede beur ons verbete voort, totdat ons ‘n (oer)kalmte in ons gees voel oopvou met die spoel van die eerste soutwater oor ons tone. Dit is dan nou ook nie anders gesteld in Tanzanië nie.

Maarten en Anèl se woonstel waarin ons bly, kyk ver uit oor die Indiese Oseaan, maar die woonstel is geleë op die Masaki-Peninsula wat see-in reik op ‘n kransagtige hoogte. Om jou tone in sand of soutwater te kry, gaan ‘n bietjie beplanning verg. Maar ‘n bietjie beplanning gaan ons nie daarvan weerhou om ons innerlike vis te gaan groet nie.

Ons Tanzanië toergidsboekie noem ‘n paar opsies om ‘n strand van Masaki af te bereik: Coco Beach is tien minute van die woonstel af en is gewild onder die plaaslike bevolking, maar juis daarom is dit meer van ‘n mark as ‘n strand. Niemand is in die bui vir inkopies nie en ons besluit om eerder die Kunduchi Beach Hotel & Resort op ons foon se GPS na te ry.

Die hotel is af van die peninsula af en ten spyte van Maarten se aanbeveling om van Mudi-die-drywer gebruik te maak, sou ons dit van die peninsula af sou waag, besluit Helgaard om die Prado self te bestuur.

“Indien julle self sou ry, hou so TSH30000 byderhand. Die verkeerspolisie is knaend,”het Anèl gewaarsku.

“Het jy die kollektegeld?” vra ek vir Helgaard terwyl ons die Prado se veiligheidsgordels vasknip. Hy knik. Dit is nie nou al nodig om ons drie kinders bloot te stel aan die onderwêreld van korrupsie, omkoopgeld en die grys etiese waardes van hul ouers nie.

Vian is 9 en hy stort amper in duie: ”Maar ek dog ons gaan strand toe?! Ek wil nie nou katkisasie toe gaan nie!!”

“Wat?! Gaan ons kerk toe?!” roep Lamont dramaties uit asof ons met hulle oppad is na die een of ander brandstapel. My kinders word in die kerk groot, maar strand is strand en kerk is kerk en verwagtinge is verwagtinge.

“Bedaar tog julle. Ons is oppad strand toe! Ons maak sommer seker van kersdag se kollektegeld . . .” raak my verduideliking yl en ek is sommer vies oor een jok altyd ‘n ander jok ontlok. “Maak vas vir julle!” raas ek my gewete dood.

“Dit is baie kollektegeld,” wil Lamont nog voortborduur, maar ek kyk hom stil, terwyl ek die 30 000 sjillings in die paneelkissie toeklik.

Ons kies koers deur Dar se woonbuurte en die dwelm wat reis is, neem besit van ons psige: ons roep uit en beduie en trek asem in en soms skree elkeen tegelyk ‘Kyk’a!’ deur hul eie ruit, sodat jy na’and soos ‘n kiertsregop meerkat heen-en-weer mik met jou oë en jou wysvinger en jou selfoon se kameralens. My selfoon swaai naderhand permanent aan my hand buite die karvenster rond, sodat ek net nie ‘n foto moet mis nie. Die uitspattige kleur en nuwe bome, die vele steggie-kwekerye op die sypaadjies, die mangobome en kokosneute en mense wat veelkleurige emmers op karretjies trek, motorfietstaxi’s en tuk-tuks het naderhand net te veel geword: om een toneel as ‘n foto uit te sonder, het ‘n keuse geword wat ek net nie meer kon maak nie en ek neem ‘n video.

Die ‘verlepboom’ wat oral geplant word

Ek weet nie wat is Tanzanië se nasionale boom nie, maar dit behoort die ‘verlepboom’ te wees. ‘Verlepboom’ is ook heel waarskynlik nie die boom se regte naam nie; dit is maar my naam vir hulle, maar oral-oral plant die mense sulke lang bome wat in vorm soos ‘n sipres lyk, maar met liggroen blare wat dig en sag en asof verlep aan die boom hang; soos iets wat moedeloos geword het omdat hul nie kon bybly nie. Verlepbome pryk voor ambassades en inkopiesentrums, hospitale en klein klei-gehuggies.

Ek laat val byna my selfoon in ‘n plas reënwater waar ons verbyry toe ek hom sien: “Kyk’a!” roep ek met onbeteulde verwondering, “Maasai!”

Die man loop doodluiters padlangs in tradisionele Maasai-gewaad. “Ry stadiger, Engel!”

“Ek kan nie, man, daar is ‘n kar agter my! Moet ek omdraai?”

“Toemaar, ek het hom!” skree ek triomfantelik vir my man toe dit lyk asof die Maasai op ons begin skree en iets beduie toe hy die fotonemery gewaar.

“Wow! Het julle hom gesien? ‘n Regte Maasai. Wat sou hy hier soek? Hulle is mos daar naby die Serengeti rond, dan nie?!”

Maasai-karwagte; die askari

Die Maasai word beskryf as die bekendste Afrika-stam wie se tradisies die deeglikste opgeteken en bestudeer is. Hul bekende springdans en hul tradisionele drag; die rooi of blou shuka-lap met swart blokke op, panga langs die sy, knopkierie-swaaiend agter ‘n trop bees of bokke aan, is ‘n gewilde onderwerp vir die hoërgraad  fotograwe van National Geographic of WEG, of gewone toeriste soos ek wat bloot herinneringe dokumenteer.  Ek kan my geluk nie glo nie! Hier in Dar!

“Daar is nog ‘n Maasai, Mamma,” merk Vian droog op.

“En daar ook,” voeg Kiana by.

“O?” Ek begin agterdogtig word oor my ‘geluk’.

Daarna sou ons hulle oral in Dar es Salaam en dwarsdeur Tanzanië opmerk; lang maer silhoeëtte, mense wat nie opgee wat hulle ken en geleer het nie en die shuka dra soos die geheim van Afrika. Die Maasai weet wat die Maasai moet ken om ‘n Maasai te wees: hulle kan leeus se prooi afneem en hul kan hul troppe vee op ‘n haaivlakte groot kry met die geheime van water en groen wat net hulle s’n is.

Die ander stamme en burgers van Tanzanië praat soms met minagting van hulle. Hulle is meesal ongeletterd en meesal nie engels behoorlik magtig nie en daarom, vir die van hulle wat na die toekoms in Dar es Salaam kom soek, word hulle die watch men; die askari – die karwagte en hekwagte en winkelsekuriteit. En altyd, as ek hulle onderlangs bekyk, sien ek eintlik nóg ‘n mantel bo-oor die shuka:  ‘n bedektheid geweef met misplaastheid en dalk verdriet, vasgeryg met ‘n worsteling om soos ander mense ook aan die 21ste eeu te mag behoort; ’n bedektheid wat hulle knus omvou.

Oral is daar kwekerytjies op die sypaadjies

Die mengelmoes van Dar se wolkekrabbers en kleihutte en helder busse en motorfietse en tuk-tuks en vroue in kitenge-lap en mans wat onder bome lê en dut in ou motorbande, lê agter ons en na 40 minute se ry aan plus minus 15 km, skuif daar nou ooptes met piesangbome en mangobome tussen die gehuggies in.

Die reën sak uit net toe ons die Kunduchi Hotel se bordjie sien. Hierdie tropiese reën, wat na die nag se sterk seebriese begin uitsak en amper horisontaal voortdryf, is nog ‘n nuwe ritme van ekstase en vreemdheid wat ons geheue gaan vollê. Skoolkinders loop deurdrenk huis toe en hou reuse blare bo-oor hul koppe om die ergste piets van water af te weer.

“Karibu!’ kom die vrolike verwelkomingsgroet vanaf die hekwag.

“Thank you! Can we go to the bar to have a drink?”

“Yes, you are welcome. Karibu,” en hy maak die hek na die hotelgronde oop.

Die kroeg area van die hotel

Die Kunduchi is ‘n pragtige plek, maar op hierdie middag ietwat verlate en misterieus so in die lou reënvlae wat vanaf die see in die oop atrium indryf.

“Karibu! So, you are welcome!” kom die verwelkoming singend van die ontvangsdame af.

“Thank you!”

“Entrance is TSH10000 for you, but half price for children,” sê sy asof sy ons ‘n groot geskenk gee.

Ons sluk, frons en probeer toe ‘n poker face hou en maak asof ons gewoond is om sulke bedrae te betaal. Tienduisend van enigiets klink na te veel.

“Thank you, but what does the entrance entail?” probeer ons nonchalant vis.

“Access to the beach, the pool and everywhere,” vertel sy entoesiasties.

Ek staar na waar die strand verdwyn het onder grys vlae reën. Sweet pêrel desondanks voortdurend oor my voorkop en rug en oral, maar vir swem is ek nie nou lus nie.

“Engel, maal jy of deel jy met 177?” laat my woordsom-wiskunde my soos altyd in die steek.

“Wag so bietjie,” frons Helgaard en tik verbete op die selfoonrekenaartjie.

Die skeepswrak in die verte

“It is fine,” en hy begin die vreemde sjillings uittel. Naderhand oorhandig hy net die rol note en laat die ontvangsdame toe om dit uit te tel. ‘n Mens kom nie agter hoe werktuiglik jy dinge doen in jou eie land en hoe vermoeiend is konstante lees in ‘n ander land nie, selfs om die bedrae op geld te ontsyfer.

“Dit is omtrent R60 per persoon,” praat Helgaard in my rigting.

“Assante,” kom die singerige Swahili bedanking en sy oorhandig aan ons sewe wit kaartjies.

Ons frons weer.

“With this you get one cold drink each, but grown up people get two tickets for one beer each or two cold drinks each.”

Ons frons steeds, maar nou in verwondering. So, eintlik betaal jou toegangsfooi ‘n verpligte koeldrank in die kroeg. Glad nie sleg nie!

Ons stap deur die luukse foyer na die atrium waar die hortjies voor die venster- en deuropeninge toegetrek is teen die reën.

En toe, net so skielik as wat dit begin het, trek dit oop.

Die hortjies word oopgegooi, die son dans op druppels, doer in die blou see lê ‘n skeepswrak en regte, egte eilandpalmbome vol kokosneute verf die strand vol eksotiese prentjies.

‘n Blom van die flambojantboom en ‘n Kilimanjaro bier

Ons bestel ons eerste tanzaniese bier, ‘n Kilimanjaro, natuurlik.

Ons kinders bestorm die strand en die see en ons begin ontspan. Dinge begin voel na vakansie. Vir see-uitgehongerde-transvalertjies is hulle al drie betreklik vinnig weer terug by ons.

“En nou?”

“Ek weet nie,” sê Kiana, “dis nie soos ons strande nie,” en sy neem kopskuddend ‘n slukkie van haar sodawater.

En so sou dit wees regdeur Tanzanië. Dit is sand, dit is see, maar daar is iets, ‘n kwaliteit, die sand se kleur, ‘n vreemdheid, ‘n nuanse wat jy nie kan peil nie; ‘n andersheid wat maak dat jy blou-vlag-status begin begryp, wat maak dat jy dankbaar en trots word op wat ons as vanselfsprekend aanvaar in Suid-Afrika. Die strand is werklik nie onaangenaam nie. Dit praat net nie so duidelik met jou innerlike vis soos waaraan ons gewoond is nie.

Die kokosneute sit hoog…

Ons sit in die mooi, wye atrium van die Kunduchi Hotel en kyk hoe ons kinders kokosneute uit die boom probeer gooi. Oor en oor.

“Mamma, Lamont is in die palmboom. Mag hy?”

Ek teug aan my Kilimanjaro en bepeins Darwin se ewolusie-teorie. Daar is net een ding wat my dalk sal oortuig dat Darwin se beweringe korrek is, naamlik dat die mens se oergrootjie ‘n bobbejaan was, en dit is ‘n Transvaalse plaasjapie teen die stam van ‘n Tanzaniese palmboom.

Geskryf deur: Sureta Strydom von Holtzhausen

Só naby, maar tog so ver…