Tanzanië, 20 Desember 2017: Berg Kilimandjaro

Hout-hoendertjies en sommige verkoop lewendige tarentale in mandjies.

Ons almal weet dat Hollywood, naas die vuurputte van die hel, sorg vir ‘n groot dosis aardse sondes: Elvis, denimbroeke, rock’n roll en The Bold and the Beautiful. Maar selfs Hollywood is nie nét sleg nie: Jack Nicholson en Morgan Freeman se karakters in ‘The Bucket List’, het mense wêreldwyd daarvan bewus gemaak dat iets soos ‘n bewuste lysie van aardse doendinge behoort te bestaan, voordat jou siel op ‘n dag vry van sy lyf kan gaan voortleef en liefhê op plekke waar die najaag van doel en bevrediging oorbodig sal wees.

“To see something majestic” was die een punt op hul bucket list wat die twee manne nie onmiddellik op die beplande reis kon aftik nie, want die majestueuse berg waarna hulle wou kyk, was op die betrokke dag bedek met wolke.

Hoe nader ons aan Moshi kom, hoe swaarder kom lê daardie woorde in my gees: to see something majestic. Toe word die woorde ‘n verwagting en die verwagting word ‘n díng op my lysie: Om Iets Majestueus te Aanskou.

Jy sal weet as jy iets majestueus aanskou; iets majesteitliks: jou asem snak hier iewers in jou keel waar hy kuiltjie maak in jou nek, jou woordeskat krimp tot by ‘n asemrige wow! en dan syfer die woord weg na volslae stilte. Dit is in daardie stilte wat jy intens bewus word van jou plek in die heelal, die spikkel wat jý is, ‘n grootse oomblik in die teenwoordigheid van iets wat ver verby jou sal bestaan en wat lank voor jou wèès, al oud was.

Om op reis te wees na die hoogste berg in Afrika, het ‘n tipe opwinding in my laat posvat; die wete dat daar ‘n majestueuse oomblik aan die einde van hierdie dag wag, het my met verwondering my kontinent laat oordink.  ‘n Alleenstaande berg wat 5,8km vanuit die grond van my vasteland krans en met glimmende spitse vol sneeu die ewige getuie is tot die doen en lates van Afrika, is ‘n vooruitsig wat die verwagting van majesteit in my laat gedy.

Maar tog, terwyl die asembenewende skoonheid noord van Dar es Salaam deur die voorruit van die gehuurde Rav 4 se neus ooprol, roer daar saam met die verwondering, ‘n oorbekende  onrus; die tipe weemoed van iemand wat vermoed dat geleende tyd op ‘n plek eendag gaan uitloop. Soos daardie gevoel wat jy kry as jy vir oulaas op die strand gaan stap voordat jy moet terug die binneland in om jou lewe te gaan hervat na ‘n vakansie.

Afrika se grond lê onder my naels. Die storie van my voormense het soms met bloed en soms met trane in haar grein ingesypel en vir altyd die voorkoms van haar verander, maar my vaderland aan haar suidste buitelyn dreig gedurig om my en my mense op te gee vir aanneming. Na waar presies weet ek nie.  Europa slaan my asem weg op baie maniere, maar my hart kry nie die kontoere van sy lyf gevoel nie.

My kinders is hier gebore, my ma is, my ouma is, haar ma is en steeds verder terug. Afrika is die grond waaruit ons kom, waarvan ons ‘n lewe maak, waarop ons liefhet en baklei; treur; waar ons taal op ons tonge en in ons kieste kom lê het. Geen ander plek op hierdie planeet erken ons groen paspoort as huis nie.

Die asemrowende landskap noord van Dar es Salaam en vroue in tradisionele kitenge-lap.

En tog spoeg sy soms op ons, hierdie Afrika. Sy noem ons steeds Europeërs, al weet ons al vir 365 jaar hoe die Piet-my-Vrou in Desember die reën roep, hoe sebras se runnik klink soos sondeurdrenkte stof en strepe om ‘n watergat in die agtermiddag, hoe tarentale se skree uit ‘n ruigte kan klim en vir jou laat verlang na dinge wat jy nog sal leer.

Vir 365 jaar al weet die Weskussers van bokkoms en galjoen, weet die Bolanders van druiwe en wyn, die Natallers van suiker en piesangs en seeskilpaaie; vir ‘n bietjie korter tyd ken ons die ryp op die blonde gras van die hoëveldvlaktes,weet ons hoe die son die versengendheid uit die karoovlaktes se ysterklip kan klap, weet die Laevelders van lemoene en litjis en wildtuin en klowe.

Vir ongeveer 350 jaar al luister ons saam met die ander stamme op ons kontinent hoe die leeu se brul ‘n vuurrooi son deur ‘n hardekool se takke laat opkom, hoe seekoeie die lied van riviere sing, hoe ons stede woel in ‘n honderd tongklappe en hoe ons almal, ‘n ieder en elk, onder die unieke blou van ons hemel en in die unieke skakering van ons sonlig, sukkel om mekaar nie te verstaan nie.

Op hierdie vroe’more met die vensters afgedraai en die immer lou wind en die sweet oor ons lywe, ry ons noord na Moshi om na Kili te gaan kyk; om ‘n berg te gaan afneem wat ons gaan herinner dat bestaan onbeduidend kan bly as jy nie self betekenis daaraan gaan verleen nie.

‘n Geil landskap vol vrugtedraende bome, oral geplant tussen die stokou bosreuse van daardie streek.

Die landskap is geil en heuwelrig met ‘n tipe superlatiewe groen wat in allerlei teksture die heuwels begroei. Die mense van die land plant mangobome tussen piesangbome tussen jakkavrugbome tussen wit stinkhoute tussen worsbome tussen akasias tussen wag-‘n-bietjies tussen wurgvy. Die gebrek aan formele boorde en landerye, maar met takke in die veld wat oral swaar dra aan mango’s of piesangs of jakkas skep ‘n tipe venster op Eden – daardie tuin van lank terug.

Dit is net die klein gehuggies elke kort-kort waar mense teenaan die ‘grootpad’ ongestoord hul lewe lei, wat jou daaraan herinner dat ons tog uit die Tuin gejaag is. Hoenders pik voor huisies van klei en takke, met dakke van palmblaar of sink, mans sit onder wilde mangobome op hul motorfietse met mekaar en gesels en skrou kliphard vir elke foto wat ek deur die karvenster in die ry neem, bokke staan teen die groen graswalle langs die pad en wei, tou om die agterpoot gebind. Elke nou en dan merk ons ‘n Maasai in tradisionele shuka agter sy trop beeste aan, vroue in kitenge-lap wat water tap in goudgeel emmers, reuse pynappels in groot sisal-mandjies, wilde piesangs in trosse uitgestal en kinders, die kinders wat altyd stop om jou raak te sien en dan uitbundig te waai. Hier is vrede.

Ek weier om dit armoede te noem. Hierdie is ‘n bestaan soos wat hierdie gemeenskappe sedert voortye hul lewe leef; vry van die Westerse verbruikerskultuur en vry van die verkragting van Mammon van die maagdelikheid van ‘n gestroopte voortleef in vennootskap met Moeder Aarde.

Is dit nie waarna ons onbewustelik kom kyk nie? Na ‘n leefstyl waarna ons heimlik verlang, maar wat te lank reeds vervang is met rekenaarskerms se isolerende produktiwiteit, die stokperdjie van verbruik en die smag na nóg, want genoeg vul net nooit die gat nie. Hièr is genoeg. Genoeg vrede in die soel middag waar mense langbeen uitgestrek in die koelte sit; sommige weef ‘n mandjie, ander sit net en kyk, en bestaan. Pole-pole (dit klink soos pollê-pollê). Stadig-stadig tik die tyd.

Die pad is mooi, maar ons besef vinnig die 560km van Dar na Moshi, die dorpie in Kilimandjaro se tone, gaan nie in 5 ure verby wees nie. Ons rytyd is dubbel dit wat ons gewoonlik op die N1 sou handhaaf. Dit is die ritme van Tanzanië; akkommodeer die fiets, jy sal wel daar kom, ry stadig-stadig want daar is kinders en bokke en fietse; pole-pole want die verkeerspolisie is altyd ‘n faktor. Niks aan die stadiger tempo is irriterend nie. Pole-pole. Kom leef, kom béleef.

Die Tanzaniese regering mors nie geld op padpredikante nie en ons is baie dankbaar vir ons selfoon-GPS wat ons uiteindelik omgeskakel kon kry van Swahili na Engels. Ons kyk verwonderd na die name op die selfoonskerm wat in egte prentjies by ons venster verbyskiet: Tanga, Korogwe, die Usambara gebergte, die Pare gebergtes, dele van die Skeurvallei, die Maasai Steppe.

Tussen dorpies ry jy nie 50km/h nie.

Die enigste padpredikant waaraan hulle wel belastinggeld wy, is die 50km/h bordjie by die ingang van elke dorpie en dan, sodra jy deur die weiende bokke en pynappelverkopers van die gehuggie is, is daar weer ‘ n bordjie wat wys 50km/h, maar die 50 is doodgetrek. So, jy ry in Tanzanië 50, en nie-50-nie, 50, en nie-50-nie. En almal, maar almal rem tot ‘n dood-50 sodra daar by ‘n gehuggie ingery word, want die besparing wat die regering doen op padtekens, wend hulle mild aan op die salarisse van hul verkeerspolisie.

Hulle staan onder groot worsbome of wilde mango-bome, paraat by elke tweede of derde dorpie, spierwit uniforms, selfoon in die hand en oor die algemeen baie vriendelik, maar knaend en gereeld.

Kort-kort kom ‘n tuk-tuk aangewikkel met ‘n passasier of drie binne-in. Meermale beur ‘n motorfietstaxi die opdraendes uit met ‘n vrag agterop wat enigiets kan wees: ván betalende passasiers tot ‘n drag vuurmaakhout, dalk vyf jerrykanne vol brandstof of water, soms groot sakke houtskool of boumateriaal, en baie gereeld twee reuse sisalmandjies vol kokosneute of pynapples wat aan weerskante balanseer. As jy ‘n motorfiets besit, is ‘n bakkie totaal oorbodig!

Verkeerspolisie onder ‘n groot mangoboom in hul spierwit uniforms.

Ons begin ‘n vulstasie soek om aan allerhande behoeftes te voldoen. Dit is tyd vir ‘n pouse. ‘n Muitery dreig. Die kinders is dors en as Helgaard te vinnig begin ry, is my foto’s óf uit fokus óf ek mis die geleentheid. Ons begin gluur en hap en toe ek ‘n foto mis van ‘n kind wat ‘n opgebondelde troppie tarentale na ons uithou in ‘n mandjie, met ‘n blou tarentaalkam wat by elke mandjiegat uitsteek, snou ek hom iets toe wat vir die ongeoefende huweliks-oor na vloek sou klink, maar binne die huwelik noem ‘n mens dit groei. Toe Helgaard iets terugsnou wat dalk vir iemand soos Gretha Wiid sou ontstel, toe laat sak ek my selfoon weg van my foto-oog en begin uitkyk -onwillekeurig-   vir rooi en geel; Shell Ultra City se Steers en geriewe sou nou handig

te pas kom.

Ek en Helgaard kyk mekaar half bekommerd aan toe ons besef dat vulstasies nie die mees frekwente tipe besigtiging op ons reis was nie. Ek was so oorweldig deur die skoonheid van die land, dat ek nie dit wat ek nie gesien het nie, registreer het nie. Helgaard beweer dat hy wel twee of drie vulstasies opgemerk het in die afgelope vier ure.

Tuk-tuks, motorfietstaxi’s en fietse gelaai met jerry-kanne is ‘n algemene gesig.

“Daar’s een!” skree Kiana, wat ons laat weet het haar tande swem al en ons swenk die gehuurde Rav 4 daar in.

“Karibu!” Welkom! Kom die bekende en vriendelike verwelkomingsgroet en ons beduie in gebaretaal dat die joggie maar kan volmaak.

“Jambo!” groet ek. “Toilets?” Salig onbewus daarvan dat hierdie franse woord geensins in Swahili inslag gevind het nie.

“Jambo! Fanta, Coke Cola,” glimlag die joggie.

“No, no cold drinks.Toi-lets,” en ek beduie na Kiana wat benoud rondkyk.

Hy snap, glimlag en beduie entoesiasties en trots na iewers agter die gebou.

“Assante!” bedank ek hom in my beste Swahili en ons drafstap na die agterkant van die geboutjie. Die petrolstasie is gebou bo-op ‘n heuwel, na ‘n lang opdraende, en die uitsig oor die rollende landskap neem jou oog oor die heuwels en dale van boom tot reusagtige boom. Die bomeryk in hierdie landskap grens aan majestueus. Bome wat in Suid-Afrika met ‘n koperplaatjie en ‘n paar houtpaaltjies afgebaken sou word, staan hier oral rond asof dit so hoort.

“Mamma! Hoe de…?!” Kiana klink benoud en wel. . . verontwaardig. “Hoe de heng piepie mens hier?!”

Die plat toilette met ‘n koperkraan en emmer vol water – die enigste tipe toilet by vulstasies!

Ek loer om die deur en al my moed sak in my skoene. Die toilet is plat op die grond. Langs die plat toilet is daar ‘n kraan met ‘n emmer vol water onder die kraan. Die vloer is nat en daar is geen toiletpapier nie.

“Ag, flippit-tog, kon die Here nie ‘n Plan B vir vrouens uitgedink het nie?”

“Mamma!”

“Ja, oukei, maar jy weet wat ek bedoel.”

“Ek kan nie meer hou nie, Mamma!”

“Oukei, Nannie, trek uit en gee jou klere aan, anders word dit nat. Dan moet jy hurk bo-oor die plat bak soos in die veld. Hier is tissues.”

“Gross! Gross!” hoor ek elke kort-kort, maar kort voor lank staan ek met haar denim kortbroek in my hand en gee ek nog tissues aan.

“Nou Mámma se beurt,” sê sy selfvoldaan toe sy uitkom, “ek sal hier kywie hou, “ want, asof ‘n plat toilet nie genoeg van ‘n beproewing is nie, is die hele deur van geriffelde glas en kan mens ‘n piepieënde silhoeët uitmaak, as jy sou kyk, vir kilometers ver.

“Nee-wat, ek is oukei. Kom.”

“Hoe kry Mamma dit reg?”

“Ek kan nog hou. Ons sal nou stop by ‘n garage wat meer westers lyk.” Daar is nie ‘n manier hoe ek op daardie plat toilette langs die koperkraan gehoor gee aan Moeder Natuur nie! Ek het in elk geval laas in ‘n pilates-klas in 2015 ge-squat. Iets sou skeur!

Ons het by ‘n Engen gestop en by ‘n Camel Oil wat splinternuut gebou is en elke keer het my hoop gesterf by nog ‘n glasdeur-plat-toilet-nat-vloer-met-kraan-situasie. Ek het op daardie dag vir 11 ure nie gepiepie nie, maar as jy op pad is Om Iets Majestueus te Beskou, en jy word daarop voorberei deur die majesteitlike Boom-Ryk van hierdie land, is jy gevul met groter dinge as die behoeftes van die natuur.

Kremetart met die Usambara gebergtes in die agtergrond.

In die laatmiddag slurp die bergreeks, wat oos van ons soos reuse rygsteke op die landskap begin dein, die geil heuwels met hul tropiese paradysagtigheid op. Oral stip die Maasai die landskap met hul rooi lappe.

Kremetarte staan teen die helling van die berge, of op die vlakte; so algemeen soos seringbome in Hartbeespoort en stadig maar seker begin die geil plantegroei plek maak vir reuse sisal-landerye.

Ons nader die einde van nog ‘n lang opdraende en toe ons oor die knikkie kom, sien ons dit. ‘n Berg. Die Berg. ‘n Berg?

“Is dit…?”

“Kyk julle, daar is Kilimandjaro reg voor ons! Daardie spits wat bo die wolke uitsteek is Kili,” beduie Helgaard vir die kinders.

Hy begin heelwat spoed verminder. “Waar wil jy aftrek, Engel?”

“Vir?” frons ek, terwyl ek die spits in die verte betrag.

“Tsk! ‘n Foto, natuurlik!”

Maasai wat vriendelik waai en nie geld vra vir n foto nie, is raar.

“Nee-wat. Ons is te ver. Dit lyk nog na niks. Ek sal neem as ons nader is,” sê ek half ergerlik, want my eerste oomblikke van Om Iets Majestueus te Aanskou het ietwat platgeval.

Ons Globetrotter Travel Guide begin die gedeelte oor Kilimandjaro met ‘n aanhaling deur Ernest Hemingway:”As wide as all the world, great, high and unbelievably white in the sun. . .” En dan:  “For a writer who made the adjective an endangered species, four in one sentence is a rare extravagance. Hemingway, we can safely assume, was impressed by Kilimanjaro.”

Ek wil so graag hê Hemingway moet van my hou en om mense te kry om van jou te hou, moet jy jou so half kan vereenselwig met hoe hulle dink. Oukei, ek weet sy siel is al vry van sy lyf, maar tog, ek wil dink soos Hemingway dink, of meer belangrik, eendag dalk skryf soos Hemingway kon skryf.

Ons ry nou stadig teen die afdraende af. Ek staar vir die hoogste berg in Afrika! Nie een byvoeglike naamwoord kom by my op nie. Al wat by my opkom is: “Is dit nou dít?”

“Hemingway was ‘n alkoholis.”

“Waar val jy nou uit met Hemingway?” vra Helgaard, “Ons kyk vir die hoogste berg in Afrika en jy praat oor  . . . hoekom?”

“Nee. Sommernet. Hy was óf dronk óf heelwat nader aan die berg óf hy het gelieg as hy skryf.”

“Dis weg.”

“Ja, wraggies.” Doer voor ons is nou net ‘n digte wolkmassa waar ons weet flussies ‘n berg was, Die Berg was.

“Daai ou moet kom oormeet.”

“Watter een?” sug my man effe.

“Die simpel een wat gesê het dis die hoogste berg in Afrika. Ek meen, die Hexrivierberge is hoër!  Ten minste meer imposant. Om van die Drakensberge en Hottentots-Hollands-berge nie eens te praat nie!” raak ek vies. Vies dat my Iets Majestueus nie vandag afgetik is nie.

“Dis seker anders om hom te klim, maar ek het ook meer verwag. Dalk het ons hom van die verkeerde kant af genader,” probeer Helgaard ook Kili se teleurstellende eerste aanblik verklaar.

“Seker. Maar ek wou vandag net vir hom kyk. En hy is  . . . ek weet nie. . . on-imposant. Simpel Hemingway.”

Die volgende oomblik vloek Helgaard met ‘n uitdrukkinglose gesig, “Ag, hel tog!” deur sy tande.

En toe sien ek hom ook. ‘n Verkeerspolisieman met ‘n kakiegroen uniform staan in die middel van die pad en beduie ons moet aftrek. ‘n Mens voel dadelik óf skuldig, óf onseker, veral ver weg van jou land se grondwet en menseregtehandves.

“Het Tanzanië ‘n grondwet?” vra ek benoud deur my tande terwyl ek nou ook breed glimlag vir die polisie. “Hoekom het hy groen aan en nie wit nie?”

Hoof-Inspekteur Mugarula anderkant Moshi.

“Good afternoon, Sir.” Helgaard.

“I am Chief Inspector Mugarula. Where are you going?”

“Okay,” praat Helgaard akkommoderend, “Good afternoon, Inspector. We are looking for the Aishi Machame Hotel. We are on our way to Kilimanjaro.”

“Oh!” glimlag die inspekteur gemoedelik, “And which tribe are you from?” lag hy vir wat hy meen is sy eie grappie, en Helgaard begin gemanierd saamlag.

Maar nie ek nie. Nee, nie op hierdie dag vol Afrika nie. Hierdie is ons kans. Hierdie man gaan nie dink hy weet dinge van my en hy weet nie. Ek knip my veiligheidsgordel los, druk my een hand op my man se bors om ver te kan oorleuen en laat sak my kop sodat die inspekteur my mooi deur die afgedraaide venster kan sien: “Inspector, we are from the Afrikaner tribe. We are Afrikaners.”

Hy glimlag steeds, maar nie heeltemal so breed nie. In daardie oomblik het hy my oog gevang en iets verstaan van die erns van die oomblik, vir my.

“Oh, so not European? Were you born in Africa?” miskien is die klein lekseltjie leedvermaak wat ek bespeur net my eie oorgevoeligheid. Hy staan egter werklik my antwoord en inwag.

“We were born in South Africa. And so were my parents and grandparents,” voeg ek vinnig by toe dit lyk of hy sy boekie toeklap en begin haastig raak.

“Well,” sê hy, werklik innig, “Karibu!”  Welkom! “I am from the Chagga tribe.”

Iets in my gebeur. My asem vang momenteel in my nek se kuiltjie, en daar kom ‘n stilte in my, soos iets wat verslap en eindelik kan opkrul om te slaap. Hy het iets van ons gesnap wat hy nie voorheen van ander mzungus (wit mense) gesnap het nie. Ek weet net.

“Assante,” bedank ek hom en ek wonder of hy ooit weet hoe diep in my hart en van hoe ver af kom daardie dankie.

“You are then my brother,” in Helgaard se rigting, “and sister. You must proceed to the next road block. I will phone and tell them to direct you to Machame,” en daarmee tik hy ‘n nommer op sy selfoon in en gee ‘n klomp bevele in Swahili. “They are waiting. It is about 4km from here.”

“Thank you so much, Inspector,” sê Helgaard, “Assante.”

En Hoof-Inspekteur Mugarula wuif ons terug op koers.

Op pad na die hotel verander ek my lysie:

Om iets Majestueus te Aanskou te Voel.

En ek tik hom af in my Afrika-hart.

-Sureta Strydom von Holtzhausen –

2018-02-07T10:35:28+00:00Januarie 28th, 2018|Afdraaipaaie|18 Kommentaar

18 Comments

  1. Lize 2 Februarie 2018 at 1:40 vm - Antwoord

    Wow! Dis al .Jy laat my woordeloos!

    • Sureta 2 Februarie 2018 at 5:07 vm - Antwoord

      Baie lief vir jou ook! Dankie dat jy altyd vir my daar is.

  2. Liezl 29 Januarie 2018 at 10:52 vm - Antwoord

    Vriendeling…
    Kwame Nkrumah het gesê: ‘I am not an African because I was born in Africa but because Africa was born in me’. Dit is een van my gunsteling ‘Afrika’ gesegdes. En, indien jy sou kies om jou kar te vat en in die ‘Afrika’ in te sukkel, moet jy liefs jou voorgesinde idees by die huis los. Dit is, soos jy tereg sê, die ervarings wat magies is, nie die eindbestemming nie. Afrika is soos ‘n wag-‘n-bietjie. Sy maak dit nie vir jou maklik nie en sy laat jou nie maklik los nie. Ek reis so lekker saam. Ek is sommer lus en los alles en word ‘n sendeling. Jy praat baie waar in hierdie skrywe. Dit is goed vir my om Tweespoor te lees.
    L

    • Sureta 29 Januarie 2018 at 11:45 vm - Antwoord

      Jy is loshande my gunsteling Vriendeling, Liezl.
      Dankie vir hierdie twee mooi Afrika-aanhalings. Kwame s’n is baie waar en Liezl Blacquire s’n wys dat sy Afrika en die ewige konflik hier verstaan!
      Glad nie ñ slegte idee nie: die wêreld het te min dopper-sendelinge (met ñ kattebak vol boeke!).
      Altyd lekker om van jou te hoor.
      Liefde.

  3. Ivanda 29 Januarie 2018 at 8:33 vm - Antwoord

    “n Universiteits vriendin van my het altyd gese mens moet niks verwag nie dan is jy nooit teleurgesteld nie. Soos die Cliffs of Moher, al die pad en dit is bewolk ons kan niks sien en dit sous reen. Die toilette is soos in Thailand, waar ek die waarde van tiger balm geleer het. 15 ure geknyp op trein tussen Chang Mai en Bangkok. Maar dit alles maak ons lewe ryker en ons huwelike sterkter. My skoonsus, Francia het die berg geklim en sy se was ervaring wat sy nie wil herhaal nie. Ek geniet jou stories al voel dit soos Bold en Beautiful,stukkies en ek wil meer weet….

    • Sureta 29 Januarie 2018 at 10:05 vm - Antwoord

      Tiger balm? Jy moet my beslis daaromtrent breedvoeriger inlig.
      Lekker om te weet ñ hoërgraadleser soos jy, lees die stories, Ivanda.
      Ja, sterk huwelike oorleef reis, hoop ek.
      Liefde.

  4. Elmien 29 Januarie 2018 at 8:11 vm - Antwoord

    Ongelooflik ! Gretchen DIetz het volgehou ons moet Catholic Toilets soek – reis is lekkerste avontuur – Tribe Afrikaner doen dit al meer as 300 jaar

    • Sureta 29 Januarie 2018 at 10:07 vm - Antwoord

      Lekker, Elmien! Tribe Afrikaner bo! Ons stam is gemaak van ander stoffasie. Ons het toe geleer oor toilette! Jou heil lê nie by ñ vulstasie nie, maar by hotelle.
      Mooigaan!
      Sureta

  5. FleG 29 Januarie 2018 at 4:18 vm - Antwoord

    As Hemingway Afrikaans kon praat is ek seker sou hy soos jy wou skryf en stories en gedagter inkleur!!

    • Sureta 29 Januarie 2018 at 4:59 vm - Antwoord

      FLEG!
      Jy maak my dag! Jy maak altyd my dag.
      SURS

  6. Elize Goss 28 Januarie 2018 at 10:32 nm - Antwoord

    Wow ! Pragtig ! Dankie vir die heerlike saam ervaar.
    Groetnis uit Texas

    • Sureta 29 Januarie 2018 at 5:04 vm - Antwoord

      Ai, is tannie-hulle terug! Die ver-bly is ñ pyn van ñ ding as dit kom by grootouers en kleinkinders.
      Baie dankie – tannie is my grootste verteenwoordiger, oukei enigste, in amerika.
      Liefde daar!
      Ns. Sê vir oom Sakkie ek het gisteroggend voor kerk post toasties geëet…

  7. Susan Wegner 28 Januarie 2018 at 3:05 nm - Antwoord

    ‘Fill my soul, Africa. Don’t let me go, Africa. Let me grow old, (in) Africa. Remember me’ -Johnny Clegg

    • Sureta 28 Januarie 2018 at 4:20 nm - Antwoord

      Susan! Hy is ñ legende.
      En al wat ek op hierdie gebed kan sê is: Amen.
      Liefdegroete.

  8. Rita Wulfse 28 Januarie 2018 at 3:04 nm - Antwoord

    Aaaa….dankie. Lekker gelees..nog, nog

    • Sureta 28 Januarie 2018 at 4:21 nm - Antwoord

      Dankie, tannie Rita.
      Ek probeer by myself bybly.
      Liefde daar.

  9. Marie Myburgh 28 Januarie 2018 at 2:58 nm - Antwoord

    Sjoe! Suretha wat ‘n aangrypende ondervinding- ek sit hier in Kanada vanoggend met trane in my oe. Killi is ook op my bucket list en beplan om dit DV .in September te klim. Baie dankie dat jy jou ervaring met ons gedeel het. Liefde.

    • Sureta 28 Januarie 2018 at 4:25 nm - Antwoord

      Hallo Marie,
      Dit is heerlik om te hoor van Afrikaners wat hier lees, doer ver. My sussie bly in Red Deer, so, ek het ñ sagte plekkie vir Afrikaanse Kanadese.
      Jy is ñ dapper vrou! Maar jy sal nooit spyt wees dat jy daardie berg se grond onder jou voete gaan voel nie.
      Lekker oefen en mooigaan daar.
      Sureta

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!