Die Wimpy in Schoemansville.

Jy sien hom op die meeste weeksmiddae in die dorp loop, fier en flink met ‘n netjiese, wit kraaghemp of ‘n golfhemp by sy donker langbroek. Die gewig van sy rugsak belemmer nie die gang van sy tred nie en die lang wandelstok kap ‘n verbete ritme op die sypaadjie uit.

Dit is net sy verbleikte slaapsak wat bo-op die rugsak vasgebind is met ‘n stuk tou en sy ou tekkies,  wat die moontlike versletenheid van sy bestaan verraai.

Jy sien hom in Food Zone in die ry staan; pakkie lemoene en ‘n halwe brood. Jy kry hom laatmiddae in die dorp se Wimpy, altyd in dieselfde hoek, altyd verdiep in die gratis koerant wat hulle verskaf. Soms betaal jy met die uitstap sommer ook die oom se rekening en vra dat hulle hom nie vertel nie, ”Sê dit is met komplimente van die bestuurder omdat hy so ‘n gereelde besoeker is,” want iets waarsku jou oor die trots wat daar mag lê.

Jy sien hom meer as een reënerige middag in die dorpsbiblioteek, doer agter by die tafels, verdiep in ‘n boek, sy deurleefde aardse besittings altyd op die stoel langs hom; immer die swyende toeskouer tot sy bestaan.

Jy probeer uitvra, maar die meeste mense weet min. Hy pla niemand, vra niks.

“Hy bly in die berg,” sê ‘n vriendin. Haar man draf smôrens donker daar op en dan gesels hulle soms. “Hy stel net nie in die samelewing belang nie. Ek het gehoor hy het erge OCD; hy raak nie aan die bord as die kelner in die Wimpy daaraan raak nie. Hulle moet die bord eers neersit. Eintlik raak hy aan niks, maar ek weet nie.”

Jy begin geleenthede soek om met hom te gesels. Regte kluisenaars is skaars, veral een wat in ‘n berg bly. Die laaste kluisenaar wat in ‘n berg bly wat jy geken het, kom uit jou kleintyd –  Heide se Oupa wat met sy hond, Josef, in ‘n berghut in die Alpe bly.

Dalk is dit daarom dat jou siel sy siel wil opsoek; ‘n onbewuste hunkering na dae toe ‘n T.V.-program onverdunde vreugde verskaf het en jy geweet het bergkluisenaars is mense wat mooi kyk na bokke, hul kleinkinders en die buurseuntjie. Of dalk is dit omdat jy ook sou wou, maar nie weet hoe nie, ontsnap aan die gemeenskap; sou wou weet hoe om werklik die Magalies se lyf jou tuiste te maak en nie net in sy skaduwee te woon en hom van ver af te mag bewonder, soos julle dorpelinge nie.

Jy begin waai as jy verby hom ry, smiddae, oppad dans toe, of karate toe of welke skoolaktiwiteit ookal jou middagure opslurp. Hy waai telkens vriendelik terug sonder om sy vinnige ritme te onderbreek. Jy begin moed skep.

Jy betrap jouself dat jy jou oor hom bekommer op bitterkoue wintersaande, op aande wanneer die buurtwagradio berig oor onheil in die berg, op dae wanneer dit versengend warm raak; het hy water, lê hy nie siek en ylend in sy tent nie, lê hy nie dalk in ‘n sloot met ‘n gebreekte been nie? Totdat jy hom weer die volgende middag oppad Food Zone toe raaksien en julle vir mekaar waai.

Jaar in en jaar uit leef julle saam in hierdie dorp en jaar in en jaar uit is jy te inkennig om te gaan praat. Sê nou hy raak aggressief as jy dinge vra, sê nou hy begin jou as uitkoms sien en begin eise stel, sê nou hy word gesoek vir iets verskrikliks soos kindermolestering en jy het drie kinders van jou eie, sê nou, sê nou … Al die sê-nou’s van die lewe verhoed baie naasteliefde.

Jy was vir lang jare nie in die Wimpy nie. Jy stap in en daar sit hy in sy hoek die Beeld en lees. Dit is Vrydagmiddag, die plek is stil en die berg se skaduwee begin kombers maak oor die laaste son wat pad vind deur die nek, doer damwal se kant toe.

Jy neem die Pretoria News wat in die rak lê en jy weet jy gaan nie vanmiddag een woord lees nie. Jy neem by die tafel direk langs hom plaas. Hy draai sy rug en lees met sy elmboog op sy een knie, weg van jou af. Jy bestel jou koeldrank.

En dan staan hy op en neem die Beeld terug na die staander reg agter jou rug. Jy vlieg op.

“Kom ons ruil, Meneer. Jy gee vir my die slegte nuus in Afrikaans en ek gee vir jou die slegte nuus in Engels,” en jy hou die Pretoria News na hom uit.

Oom Mike Oosthuizen en sy aardse besittings.

Hy lag. Hy skud sy kop effe, loop terug na sy tafel en gaan sit, omring met sy aardse besittings, sê iets onhoorbaar.

“Wat sê, u?”

“Ek sê jy is reg, die media verkoop nie nuus nie, hulle verkoop net slegte propaganda,” en hy lag weer.  Julle lag saam bo-oor die bladsye van koerante wat niks bevat om oor te lag nie.

“Is u engelssprekend?” vra jy versigtig, die sê-nou’s spook steeds en jy wil hom nie ongemaklik maak nie.

“My moeder was. Kyk hier,” en hy neem die lang houtswaard vanaf die bank langs hom en begin beduie. Sy groot rugsak staan op die grond en op die bank langs die swaard staan ‘n twee-dimensionele hout-kitaartjie, sonder snare, ‘n skerp, hout dryfpen en ‘n gladder hout implement wat bo-op sy dik trui lê.

“Swaarde het baie betekenis, jy weet. Die Skotte het die Engelse daarmee gejaag,” en hy lag nou lekker. “Sir Walter Scott. Weet jy wie was hy?”

“Ja, ek weet, maar u sal my geheue moet verfris oor Sir Walter en houtswaarde.”

“Nee, hy was mos William Shakespeare. Hulle was dieselfde mens.”

Jy begin greintjies onthou uit jou brein sif van toenterjare in die Engels 100-klas in TUKS se GW-gebou, onder in die kelder, saam met die drama-studente.

“Was Shakespeare nie ‘n vrou nie? Of onthou ek nou verkeerd? Ek weet die slim ouens beweer Shakespeare was eintlik ‘n tipe soapie-skrywer. Sy stories was eintlik maar daardie jare se 7e Laan,” hy glimlag steeds, maar skud sy kop.

“Nee, hy was nie ‘n vrou nie. Sy mense bly op Vryburg, waar ek gebore is. En Rustenburg.”

“Oom?!” skrik jy die ‘meneer’ skoon weg. “Rustenburg?”

“Sir Walter Scott het baie kinders in Suid-Afrika. Daar is mos baie nasate.”

Jy hoef nie eers die greintjies kennis wat in die GW se kelderverdieping  deur jou Engelse dosent in jou kop

Handgekerfde hoenderhaan, bokkie en Joko-boksie op Jagermeister-bottel met perskepit.

ingepraat is, uit te sif nie.  Jy weet sommer die proffie het jou nie destyds laat weet Shakespeare se nasate sit nou hier anderkant op Rustenburg nie.

“Kyk hier,” en hy wys na ‘n hout hoenderhaan en ‘n uitgekerfde klipspringer wat op ‘n houtblok langs die Wimpy-tamatiesous en -mosterd staan. ‘n Groot bottel water staan ook op die tafel. En ‘n leë Jägermeister-bottel met ‘n mini Joko-teeboksie op die prop vasgeplak.  Bo-op die Joko-teeboksie is ‘n perskepit bo-op ‘n stukkie blink papier vasgegom.

“Hierdie is my kuns. Ek is ‘n kunstenaar. Kyk, hierdie hoenderhaan se oog is van, hoe sê mens..?”

Jy bekyk die stukkie groen glas wat die hoenderhaan se oog uitmaak, “Jaspis? Albaster?”

“Nee, nee… ek het nou vergeet, maar dit dui op die Skepping. En hierdie is Bambi. Weet jy wat dit beteken?”

“Nee, oom. Maar vir my lyk dit werklik na ‘n baie mooi klipspringer, as jy na die ronding van die boud kyk.”

“Ja,” lag hy, “dit kan ‘n klipspringer, of eintlik enigiets wees.”

Hy tel die kitaar op. “Kyk hier, “ en hy wys na ‘n wit sirkeltjie op die nek van die kitaar, “soos daardie kol op die voorkop van daardie vrouens.”

“Getroude hindoe-vrouens?”

“Ja-ja. En hier is ‘n groot 7 en as jy anderkant-om kyk, ‘n groot Z. Alles beteken iets.”

“En dìe, Oom?” en jy wys na ‘n lang flertsie papier wat aan die kant van die plat kitaartjie vasgeplak is en lastig daar wapper. Op die papiertjie maak jy die twee onderstebo, blou driehoeke van die embleem van die Willa Krause-velsorgreeks uit en op die lang flapperende deeltjie staan die leuse: Skin Care is a necessity, not a luxury.

Hy skud vriendelik, maar ontkennend sy kop, ”nee … ek kan nie… dis persoonlik, maar kyk hier,” en hy wys na die Jägermeister bottel, ”everything in England is a joke,” sê hy, “dis hoekom hulle die tee Joko noem.”

Julle lag te hard vir mense wat in ‘n restaurant is, maar die

Oom Mike se handgemaakte kitaartjie en houtswaard.

restaurant en Hartbeespoort se strate is stil.

“En ek kon nie ‘n amandel kry nie, toe vat ek maar ‘n perskepit.”

“Hoekom ‘n amandel, oom?”

“Jy weet mos. Vir Mandela, vir amandla, maar die regtes kry jy net in die Oos-Kaap.”

“Ek hou baie van Oom se kuns.”

Hy wil keer. Hy wil die Vrydagaand wat begin daal afwend met nog vrae.

“Wat is jou naam?”

“Sureta. En oom s’n?”

“Mike. Mike Oosthuizen,” en julle skud blad.

“Wel, Oom, dit was gaaf om oom te ontmoet. Maar is oom veilig daar in die berg?”

“Ja, wat. Die skoolkinders los my nou uit. Ek bly ‘n ent agter die skool, jy weet? Dis hoekom ek al my goed moet saamdra. Mense vat my goed. Maar die skoolhoof praat nie meer met my nie. Ek het hom gesê hy kan nie spel nie. Het jy geweet spelling is die begin van enige beskawing?”

Jy kyk verwonderd na hom. Hoe skryf jy wetenskaplike formules neer as jy nie kan skryf nie? Hoe dokumenteer jy ènigiets sonder skrif en taal? Hoe ontwikkel jy ‘n beskawing sonder ‘n eenvormige, akademiese taal? Eenvoud dra soms die grootste waarhede.

“Spelling is die begin van enige beskawing. Ek gaan dit onthou, Oom.”

“Wat doen jy vir ‘n lewe?”

“Ek gee klas, Oom. So, ek verstaan presies wat Oom sê oor die spelling.”

“Sjoe, ek het nie geweet jy is ‘n geleerde vrou nie. Jy lyk nie so nie,”voeg hy innemend by.

Jy lag hardop.

”Dankie, Oom. Dit is ‘n groot kompliment,” gee jy hom die voordeel van die twyfel, “ons praat weer, Oom Mike, ons praat.”

“Ja,” trek hy ineens terug na iewers ver, asof hy onverwags verwerp is.

“Ons praat weer, Oom.”

“Wat het jy gesê is jou naam?”

Jy stap in die vroegaand uit. Oom Mike Oosthuizen en jy en die Berg weet dat die paleise in die breine van sekeres, te omvangryk is om in ‘n gewone huis, in ‘n gewone lewe in te pas. Net die lyf van ‘n berg kan sòveel torings berg.

-Sureta Strydom von Holtzhausen-