DIE BALJU

“Die balju was vanoggend hier,” sê Ma, “hy soek iemand met die naam Lelanie vir ‘n uitstaande doktersrekening.”

“Het jy hom gesê hier’s nie so iemand nie?” maak Pa seker.

“Natuurlik, Thÿs. Hy was baie ordentlik,” voeg Ma by, “Jy sal nie glo wat sê hy nie?  Hy sê ons bly oorkant sy baas. Jy weet, die nuwe intrekkers?! Sy is die hoofbalju.”

“Nooit!” sê Pa. “Wat sê hy van die gewapende roof wat hulle Maandag gehad het?”

“Hy sê haar dogter is baie getraumatiseer, maar hy sê ons moenie bekommerd wees nie, hy gaan hulle kry.”

“Wat bedoel hy?”

“Hy sê sy mense doen nie dinge soos ons witmense nie. Witmense het nog nie agtergekom dat jy sulke skelms self moet soek nie, anders gebeur daar niks! Die polisie is te besig om almal te kan vang. As hulle weet jy gaan hulle soek, dan sukkel hulle nie met jou mense nie. Ephraim sê as ons ooit probleme het, moet ons net vir hom bel. Hy sal hulle kry.”

“Ek hoop Ma het Ephraim se nommer gevat,” sê ek, “die arme mense is skaars drie maande in die huis en so-iets gebeur.”

“Ek het hom gesê ek dink dit was ‘n inside job. Nog nooit in al die jare wat oom Piet-hulle daar gebly het, is eens by daardie huis ingebreek nie! Hoekom van al die huise hier, sal hulle ‘n pypsteel kies?”

“En?”

“Hy stem saam. Hy sê hulle het vir haar gevra waar is die derde kar? So, hulle het geweet daar is drie voertuie en hulle het vir spesifieke juwele gevra. Gelukkig het niemand seergekry nie. Maar Ephraim sê hý gaan hulle kry.”

“Ek hoop so,” en ek kyk bekommerd na die muur om my ouers se huis en die groot, boomryke erf vol wegkruipplekke, vanwaar ons op die stoep sit en gesels.

“Ephraim sê daar is Maandagmiddag 1:00 ‘n veiling. Hy sê jy tel sommer ‘n rekenaar op vir R50.”

Ek en Pa kyk vir mekaar. Brits. In die 32 jaar wat ons in Hartbeespoort woon, was Brits nog nooit die plek waar ons inkopies doen nie, maar dis die plek waar Die Blink Boer-tydskrif gratis in rakke lê, waar oom Frikkie se leerlooiery is en ‘n plek waar ek en Pa altyd iets kry wat ons verbaas as ons van daar af terugkom.

“Kom jy saam?” vra Pa, en ek weet ek kan Maandag maar afskryf, ons gaan balju-veiling toe om skootrekenaars te gaan koop teen R50 een.

Dìe Maandagmiddag is dit ek en oom Frans Pretorius en Pa wat oor Silkaatsnek ry, Brits toe. Oom Frans en Pa was saam in die Lugmag-gimnasium op Voortrekkerhoogte, jare gelede.

“Onthou nou, ons is ‘n span,” maak Pa planne, toe die bosveldkom voor ons uitrol en Hernic Ferrochrome se allemintige vlam oorkant die plakkerskamp,  son se kant toe vry.

“So, ons moet nie teen mekaar bie nie, daardie flat screen is myne, nê?”

Oom Frans lag. “Ek het nou ‘n nuwe een. Jy kan maar die balju se flat screen kry.”

“Ek hoor oom-hulle het nou ‘n wag by die huis na die inbrake?”

“Ek betaal sommer iemand R50 om daar te sit sodra ons ry. Ek het moeg geraak om plat te lê agter in die kar elke keer as ek en tannie Rita ry, sodat hulle dink daar is wel iemand tuis. Kosmos se misdaad het heeltemal handuit geruk.”

“Miskien kan jy vandag ‘n A.K. koop?” voeg Pa by. “Ek is seker die balju kan jou daarmee ook help,” en laggende stuur ek die kombi in die rigting van die Brits-stadsaal.

“Die balju is blykbaar agter die munisipaliteitskantore.”

Ons sukkel om Ludorfstraat 62 te kry.

“Can you please direct us to the sheriff’s office?”

Telkemale word ons na die verkeersdepartement beduie. En dan raak dit duidelik. Die man op straat veronderstel die ‘sheriff’ is ‘n man met ‘n goue ster teen sy bors, wat wet en orde handhaaf soos ons in die ou cowboy-flieks geleer is; nie die balju wat slegte skuld probeer delg deur beslagleggingsbevele uit te voer nie.

Einde ten laaste beduie ‘n prokureurskantoor se ontvangsdame ons na die balju se kantore en ons stap agterom die huis waar ‘n klein groepie reeds rondstaan of besig is om die bates op die veilingslys te inspekteer.

‘Iemand het ‘n lappop, op die ashoop neergegooi, sy was gedaan en stukkend en oud en nie meer mooi nie . . .,‘ begin ‘n kinderliedjie van vervloë dae deur my kop maal. Daar is seker niks wat deurleefde, aardse besittings so verdrietig kan laat lyk, as om hulle in die fel middagson op ‘n sementblad te sien rondstaan nie, gerangskik sonder sin of doel: ‘n Gehawende leerstoel staan langs ‘n Samsung-yskas, gemuf aan die binnekant, met ‘n deurhandvatsel wat afgebreek is. ‘n Sitkamerstel wat nie te onaardig sou lyk met die regte mat en gordyne daarby nie, staan verlore rond met ‘n platskerm-t.v. wat op die bank staangemaak is. ‘n Stukkende leer rus teen die muur.  ‘n Lessenaar, twee kantoorstoele, ‘n televisie-kabinet wat beter dae geken het, ‘n Samsung-wasmasjien, drie rekenaar-drukkers op die grond voor die leerstoel en in die hoek van die erf, ‘n blinkblou jetski bo-op ‘n sleepwa. Daar’s ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen, ‘n grammofoonplaat en ‘n kous-sonder-maat, daar’s ‘n leë bottelbier, ‘n verlepte angelier, ‘n gelapte binneband en ‘n ou koerant!

Pa, in die leerstoel en oom Frans Pretorius in die koelte van die Samsung-yskas.

“Kyk nou daai mooi man!” lag Pa, toe hy homself in ‘n reghoekige spieël  gewaar wat teen die warm muur stut.

“Absoluut!” beaam oom Frans, “Ons moet op hierdie spieël bie, Thÿs, want kyk, nou is die man nòg mooier,” en oom Frans wys na homself in die spieël se weerkaatsing.

“Thÿs, hier is jou platskerm! Wil jy nou meer?!”

Hy stap na die rusbank en kantel die platskerm-televisie effe vorentoe om agter te kan inloer. “O gaats, die hele agterkant is gekraak en beskadig,” fluister-sê oom Frans, “jy sal maar my ou boks-televisie moet koop.”

Pa se drome van ‘n goedkoop platskerm-televisie is verydel. Ek stap oor na die hoek met die jetski op die sleepwa.

Die sitplek van die jetski is afgehaal sodat behoorlike inspeksie van die masjien gedoen kan word. Telkens loer iemand oor die rand van die Sea-Doo GTX, staar die binnegoed in en skud hul kop dan in ‘n gebaar van amperse medelye met die man wat hierdie ding vandag gaan koop. Kat-in-die-sak, sê daardie kopskud. Met een oogopslag maak elkeen ‘n ekspert-diagnose en doen presies wat die vorige ou gedoen het; kom kopskuddend en met ‘n meewarige glimlaggie orent.

“Die eienaar het dalk suiker of sand in die tenk gegooi,” sê die man wat tans in die enjin se gat in afloer.

“Hulle doen’it! Kyk, as hy kom beslag lê op mý voertuig. . .ek gaan vir hom sabotage, Pêl! Die volginne ou, … hy gaan skyt!” sê die man wat oorkant my staan en met misnoë na die blink, blink jetski staar.

“Ja, wel, hierdie is net ‘n dop. Kyk bietjie wat is missing aan die ander kant van hierdie,” en die man langs my hou ‘n koppeling omhoog waarvan die helfte inderdaad makeer.

Almal leun oor die wande van die jetski om sy oopgevlekte binnegoed te betrag. Soos bekommerde sjirurge oor die oopgekloofde borskas van ‘n pasiënt, net voordat die een sê: werk maar toe, Boys, ons kan niks meer vir hom doen nie.

“Dis die CDI. Dìs wat missing is,” die mans om die jetski knik hul koppe instemmend en hou aan kyk vir die halwe koppeling wat steeds slap heen-en-weer wieg in die veilingganger se hand. “Dit is so R30 000 missing waarna jy hier kyk. En dan sit hy sy buddy hier op die veiling om dit terug te koop vir ‘n appel en ‘n ei, en hy sit net die CDI weer terug. Onthou, die CDI is die hele rekenaarsisteem.” Daar hang ‘n verontwaardigde stiltetjie in die hitte om die jetski rond.

“Já! Of dis maar net moedswilligheid,” mymer die man oorkant my.

“Die ding is redelik gestrip, Mense,” kom gooi ‘n man met ‘n moon boot aan sy linkervoet sy stuiwer in die armbeurs, terwyl hy swaar naderhink. “Die tenks is los, die seëls op hierdie super charger doen jy elke 100 ure, en as jy hom nie doen nie dan suig hy daai seël in.”

“Ja, en hierdie is nie gedoen nie.”

“Dis eintlik ‘n baie nice ding, maar jy moet hom gereeld diens. En hy kon hom dalk ge-sabotage het, om almal mooi te laat verstaan . . . jy weet. . . maar hy kan dalk ook niks makeer nie,” wroeg die man oorkant my verder en frons diep.

Die Sea-Doo jetski by die balju-veiling te Brits.

“Dis die ding!” sê sy maat. “Dis wat ek sê! Dis nou maar ‘n gamble. Kyk die fuel line regulator is ook uit. Dis nòg so ‘n R2 000.”

Kopskuddend en tongklikkend word die toestand van die jetski verder betreur, “Maar, nou onthou, hierdie is ‘n 2008-model; nuut gaan hulle hier by die R300 000,”  en ons almal staar weer peinsend en innig in die gat af waar die CDI en die fuel line regulator kortkom, en die seëls dalk nie gediens is nie.

Die balju verskyn opeens met haar klampbord en haar koms veroorsaak ‘n beroerinkie onder die klein groepie onder die warm skadunet.

Ek en Pa staan nader om kennis te maak.

“Good afternoon. We are your neighbours in Schoemansville. I am sorry to hear about what happened,” sê Pa.

Sy glimlag innemend.

“We rang your gate bell that morning. They entered the house at 5am and put the gun here,” en sy wys na haar linker slaap. Pa lyk onthuts dat hulle nie die klokkie gehoor het nie.

“My parents’s room is upstairs and you cannot hear the intercom from there,” probeer ek troos.

“No! Don’t worry. Even if you heard … I was so terrified, I just pushed the bell and then immediately ran away to the other people’s house. They took all our phones, so you can’t phone anybody. Eventually the couple a few houses down the road, opened up and helped us.”

Pa en balju Goolam maak kennis.

“Shame! We are really sorry that this happened. This is my father, Thÿs Strydom and I am Sureta,” en ek hou my hand na haar toe uit.

“Kausher Goolam,” sê sy met haar hand steeds op my arm, “please, come over one evening.”

“Yes, we will bring koeksisters and you can have samoosas ready!”

“I love koeksisters! You know, these people will not have a say over where I live. I will not move from that house. It can happen in any house,” sê sy opeens.

“Well, maybe you can buy a new cell phone here today,” probeer Pa maar terg.

“Luckily there are no cell phones listed today,” lag sy vriendelik, “otherwise I’ll be in trouble with the Board of Sheriffs if I buy it on my own sale!”

Die ander veilinggangers begin saam met ons ‘n halfmaan vorm om Balju Goolam.

“Are we all registered, Ladies and Gentleman? Thank you. In the case of ABC Crane Hire and Construction CC, first respondent Zonja Cathrine du Plooy, second respondent Lukmann Ellis du Plooy. First item that we will sell today, Ladies and Gentleman, is the jet ski. Listed as a motor boat, I don’t know why, but it is a jet ski. Opening bid?”

“R5000!” roep ‘n man met ‘n klomp goue ringe aan sy vingers en ‘n mosterdkleur-langbroek wat bokant sy skerppuntskoene uittroon.

“R5000? Do I have six thousand, Mr Schoeman? Thank you. R6 000!”

Nou en dan hoor ‘n mens iemand uitroep of brom, maar merendeels is dit Kausher Goolam se geoefende oog wat die tekens optel en die bod verhoog; die lig van ‘n vinger, die knik van ‘n kop, die swyende beweeg van lippe.

“R8 000! Nine thousand! Do I have a ten thousand?”

Met elke bod wat sy bevestigend uitroep, sal balju Goolam haar hand in die bieër se rigting wys om aan te dui wie se bod sy gesien of gehoor het.

“Ja-ja!” blaf ‘n boer van die distrik sy bod uit.

“Yes? R10 000! Ten five to the man from Ga-Rankuwa,” wys die balju na ‘n groep mense wat almal versteek is agter blink donkerbrille. Elke dan en wan knik een van die mans net hul kop; so ‘n stadige, starende, donkerlens-knik; amper die tipe knik wat ‘n mafiabaas sou gee nadat hy na ‘n kort bepeinsing ‘n woordlose aanslag op iemand se lewe beveel.

“Ten five! Thank you. Do I have eleven thousand, Mr Schoeman? No?”

Meneer Schoeman blaas kopskuddend die aftog en trek die mosterdbroek aan sy bruin leerbeld hoër met ‘n ongeduldige plukkie.

‘n Indiërman staan met gevoude arms en lig net elke nou en dan sy wysvinger en middelvinger boontoe, vanwaar sy hand op sy voorarm rus. Sy vingers lig. Sy gesig bly uitdrukkingloos.

“I have eleven thousand,” knik sy in die indiërman se rigting. “Do I have twelve?”

“Nee-wat, nou kan hy hom maar vat as hy hom wil hê,” blaas die man met die moon boot die aftog.

“Do I have a R14 000? I have a R16 000! Do I have a counter bid for R16 000? Yes, thank you. I have R18 000! R18 000 once, R18 000 twice, R18000! Sold!”

Die jetski is verkoop vir R18 000 en die meeste jetski-doemprofete kyk effe teleurgesteld toe hoe die nuwe eienaar sy bie-nommer op die balju se vorm laat opskryf.

“Dis ‘n bargain,” mompel iemand agter my.

Selfone lui en mense fluister en Balju Goolam beweeg onverbiddellik van item na item op haar lys.

“In the Magistrates Court for the magisterial district of Madibeng held at Brits, case number 0591 of 2016 in the matter between Xanadu Eco Park Home Owner’s Association. The defendant is Selebogo, Tjoep-Tjoep Naledi. We are starting off with this office chair. Can I have an opening bid?”

Balju Goolam in die agtergrond met veilinggangers.

“R10!”

“R10. Can I have a counter bid for R10?”

“Eleven rand!”

Almal lag, maar mev. Goolam gaan ongestoord voort. Thank you, I have R15!” en sy knik in die bieër se rigting, voordat ‘n ander bod haar oog vang en sy die bedrag uitroep.

Een van die vroue van Ga-Rankuwa en ‘n ander vrou bie fluisterend in volgetalle op die stoel, “R50, please.”

“R150, please.”

Mooi en gemanierd, heen-en-weer.

Elke bieër, daar onder die 60%-skadunet, het sy eie kenmerkende manier om die bod op te jaag.

Toe die stoel by R300 draai, skud die een haar kop, “No, thank you. It’s fine,” en laat sak haar kop half verskonend, asof sy iemand in die steek gelaat het.

Na ‘n redelike intense bieëry op die Samsung-wasmasjien, draai die een man weg met ‘n afwysende handgebaar, ”Nee-wat, nou vlieg die ding weg. Dis nie nou meer ‘n bargain nie, vat hom vir jou.” Die bod word toegeslaan op agt honderd rand.

Die Samsung-yskas behaal R4700, muf, gebreekte handvatsel en al en die gebreekte leer behaal R150.

Die middag bak warm onder die skadunet en die veiling maak klaar.

“What about the mirror?” vra iemand.

“Oh yes. Do I have a bid on this mirror, Ladies and Gentleman?” vra balju Goolam en in die smal spieël reflekteer die klampbord met iemand se aardse besittings daarop gelys. Iemand wat in ‘n winkel ingeloop het en daardie spieël wou hê. Dalk om haarself reg te trek voordat sy by haar voordeur uitstap of dalk vir ‘n oop muur in haar slaapkamer. Iemand wat dalk vir die drome in haar eie oë kon kyk, elke slag as sy in die smal spieël inkyk.

Die spieël behaal R20.

Jy wonder opeens hoe voel daardie oomblik; daardie oomblik wanneer ‘n balju jou spieël van jou muur afhaak? Wat sien jy in daardie oomblik?

-Sureta Strydom von Holtzhausen-

2019-05-09T06:41:11+00:00Februarie 16th, 2018|Kruispad|10 Kommentaar

10 Comments

  1. Elsabie Strydom 17 Februarie 2018 at 10:19 vm - Antwoord

    Weer gelees; en voel sommer verdrietig oor die eienaar van die opgeveilde spieël….bly nou wonder oor haar? …..jou skuld!

    • Sureta 17 Februarie 2018 at 10:53 vm - Antwoord

      Dit is ietwat verdrietig om te aanskou. Agter elke item is maar ‘n storie van verydelde drome of kits-rykdom of grade van sosiopatie; algaar is maar ‘n weemoedige situasie vir die mense betrokke.

  2. Lize 16 Februarie 2018 at 6:06 nm - Antwoord

    Jy het nog altyd d gawe gehad om woord vir woord te onthou! Oulike storie,sad einde!

    • Sureta 17 Februarie 2018 at 10:58 vm - Antwoord

      Dankie, my liewe Sus! Die meeste eindes is weemoedig. Die lewe is nooit ‘n maklike ervaring nie.

  3. Ivanda 16 Februarie 2018 at 3:34 nm - Antwoord

    Ek het jare lank skuld ingevorder. Alles probeer dat die balju nie die mense se goed gaan “opskryf” nie maar helaas was daar altyd die geharde skuldenaar wat jou met geen keuse gelaat het nie. En dan na al smeek en soebat jou bel of jy ‘n demoon is wat sy goed “laat oplaai” het. Iets inherent hartseer aan die soort veiling. Nie deftig soos Kuns of Wyn veiling nie maar iemand wat ‘n winskoop soek. Maar agter elke item n storie.

    • Sureta 17 Februarie 2018 at 11:06 vm - Antwoord

      Jy weet presies hoe dit gaan, Ivanda. Die leuens en die ydele beloftes en dan die dag as die lorrie voor die huis stop… die laagtepunt-dag, want daar is net geen wenner in hierdie verhale nie.

  4. Elize Goss 16 Februarie 2018 at 2:55 nm - Antwoord

    Wow!! Jy kan maar skryf en vertel. Vir n rukkie was ek weer daar by ons geliefde mense. Baie dankie.

    • Sureta 17 Februarie 2018 at 11:08 vm - Antwoord

      Tannie-hulle bly heeltemal te ver van ons mense af. Dankie dat tannie die stories lees. Waardeer dit baie en ek kyk altyd uit vir tannie se terugvoer! Liefde. xx

  5. Elsabie Strydom 16 Februarie 2018 at 2:40 nm - Antwoord

    Jy neem goed waar nê….sal my ‘p’s & q’s’ moet ‘watch’, lyk dit my!
    Goed geskryf!

    • Sureta 17 Februarie 2018 at 11:08 vm - Antwoord

      Dankie, Ma. My liewe ma!

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!