Kanadese esdoringstroop en Suid-Afrikaanse beskuit.

Jy is bevoorreg genoeg om nou en dan regte, egte esdoringstroop te kry vanaf jou sussie, Lize Jones, in Kanada. Maple syrup, soos dit alom bekendstaan.

Met die eerste proe-slag trek jou Lyle’s se Goue Stroop-kindertjies die neusies op en verklaar onomwonde esdoringstroop proe soos stof. Jy proe. Dis waar.

Jou ma, Elsabie Strydom, pas terug van ‘n kuier in Kanada, sê net: “Daardie goed is peperduur, julle. Die Kanadese is màl daaroor. Proe weer!”

Ons proe weer. Stof is jy. . .

Die esdoringstroop gaan terug kas toe en skuif weldra tot heelagter in die hoek.

Op ‘n dag soek jy naarstigtelik na die wynsteensuur wat jy gedink het jy nog van het, want Ouma se gemmerbier vra wynsteensuur, en jy vat die bottel esdoringstroop raak.

Jy verlang – na jou sussie, en haar mense in Kanada. Jy begin die flessie stroop sien as ‘n tipe naelstring wat haar geduldig in die vrugwater van Kanada probeer herskep tot burger van die Noordelike Halfrond. Daar waar die grond anders ruik, die lig se kleur wissel tussen glas of grou en waar herinneringe proe na Thanksgiving en kalkoen, of warm plaatkoekies en esdoringstroop.

My herinneringe lê in Ouma se gesnipperde perskekonfyt en skielie en doekpoeding met silwer tiekies in; in Ma se appelkoostong en beesstertbredie en stroganoff; in Lize se yoghurttert en tannie Babsie se sandkoekies. Ek proe wildtuinvakansies en hardekoolvure se gloeikoolkuiers in biltong. Ek proe die liefde van vriendskap in blesbokpastei en die verlies van dieselfde vriendskap in snoekkoek. Ek proe onvoorwaardelike liefde in oorskietvisvingers en helende liefde in tee in die bed, elke oggend.

En soms, net soms, proe jy dinge soos die verslete saalsakke van die Anglo Boere Oorlog in beskuit wat knars en doop jy jouself in die stories van die vishoeke in die pap wat die Kakies die vroue en kinders gegee het, en dan raak jy al knarsend aan daardie stuk beskuit van voor af de hel in vir die engelse, terwyl jy kou en kou en vertel en luister. Jy kantel die flessie esdoringstroop oor ‘n stukkie cheddarkaas. Wat proe ‘n kanadees wat hierdie eet? Wat vertel ‘n Kanadees vir sy kinders en kleinkinders wat hierdie eet?  Jy proe steeds ‘n stowwerigheid, maar ook iets anders wat nog moet woorde kry.

Daar is natuurlik ook iets anders wat die stories vertel van die kultuur van proe, en dit is die beleef van die maak daarvan; die kulturele marinering wat gebeur as jy as kind verwonderd kyk na garingvleis wat eers in julle plastiek bababad lê en week in asyn en koljanderkorrels en ander geheime dinge, om dan later aan oopgebuigde papierhakies in bloudraad-rye in die motorhuis te hang, en jy nie weet hòè jy die dae na ñ eerste happie biltong gaan omkry nie. En dan een dag, sê Pa, “Hierdie stukkie is lekker dun, hy behoort al droog te wees.”

Jy kyk hoe hy sy rooi knipmes uit sy broeksak haal, versigtig oopvou en dan die eerste plat hartjie afkerf en dit sommerso met die knipmes na sy mond bring en versigtig hap sonder om aan die lemme te raak.

“Wil jy ook hê?” Maar hy kerf reeds die volgende stukkie nog voordat jy hoef te knik. Swartrooi. Die lekkerste ding op aarde.

Of die eerste beskuit wat Ma jou maar laat vat, nog nat en warm. Jy kan hòè oud wees, maar om te staan en kyk hoe Ma lou panne beskuit sorgvuldig in reghoeke sny, bly vir jou ñ tipe kulturele meditasie. Daar is ñ ritme wat jou gryp; eers korrel Ma die afstand na die volgende ry met die oog en dan volg die mes se lem die korrel, sy plaas net die lem op die gebakte koek sonder om te druk en iets in jou wil nie hê sy moet daardie perfekte goue heuwels oopbreek en die krummels en sponserige binnekant oopsny nie. Maar dan druk sy; eers die punt van die mes en dan stadig en sekuur gly sy die res van die lem by die heuwels in- krummels breek onmiddellik weg en die geur van kuier en mistige wildtuinoggende langs die draad in Satara, jou hande soekend na hitte om ñ koppie tee, klim dadelik by die geur uit.

Korrel, mik links en regs van die lem, druk, sny stadig deur, korrel…. totdat julle die rye Ma-grootte beskuite op die oondrakke kan pak. Deurentyd word julle honde en kinders en almal wat nog deur die geur van geskiedenis kombuis toe gelok word gepaai met ñ afgebreekte korsie en ‘n “Oukei, dis nou genoeg, julle kinders! Anders bly daar niks oor om te droog nie. En uit nou, julle honde!” en die kinders hardloop laggend by die kombuis uit, stuk warm beskuitkoek in elke handjie, rytjie krummels wat agterna val soos Hansie en Grietjie wat altyd weer die pad huis toe sal kry.

Elke vrou se beskuitsny of -breek ritueel is anders. Elke vrou se perfekte beskuitgrootte is anders.

Jy sal jou ma se beskuit op enige kerkbasaar uitken. Die grootte, die vorm, die herinnering van die ritueel, die liefde…

Daardie eerste doop van nog warm, gedroogde beskuit; die behaaglikheid daarvan, dit gaan lê in die kulturele geheue van jou tong en daarna ontsluit beskuit vir jou die sonnige dinge van jou bestaan.

Daar lê ñ Amerikaanse roman oor boere wat esdoringsap uit die bome tap en dan die stroop daaruit reduseer in my geheue; baie, baie lank terug gelees; titel en outeur in ñ vakkie liasseer waar ek dit nooit weer sal kry nie. Iets van daardie storie en die tydsame proses van boomsap aftap het in my boere-geheue gaan vassteek. ‘n Gaatjie word in die stam geboor, ‘n hout-of plastiekbuisie in die gaatjie in getimmer en dan word ‘n emmertjie onder die buisie gehang om die sap wat begin stoot op te vang. Met die oes in die emmer, kap heelwat saptappers ‘n houtproppie in die geboorde gaatjie in, om die boom se ‘wond’ te seël en nie onnodig bloot te stel aan insekte nie; waardige rentmeesters van die woud.

Esdoringwoud in die Herfs.
Foto deur Paintings I love-facebookblad.

Die verbondenheid aan die seisoene, die geduld met die son wat nader draai en sneeu wat begin smelt, mere en watervalle wat tydsaam en stadig, druppel vir druppel ontvries, bere wat gaap-gaap deur meer hitte wakkergebak word, die sap in bome wat na maande se vasvries in stamme en takke weer begin stu, lewe bring en spriete stoot. En as die sap stu, dan spring daardie esdoringboere en tydsaam, stadig drup die sap uit die stam; drup, drup, drup. ñ Tydsame oes. ñ Oes van tyd.

Jy bel jou sussie.

“Esdoringstroop moet oor warm plaatkoekies geëet word. Pancakes with maple syrup hier in Kanada is soos spek en eiers in Suid-Afrika,” help sy, “en dis nie lekker oor kaas nie,” want sy het dit ook probeer.

Jy probeer weer van die esdoringstroop oor ñ warm plaatkoekie. Jy probeer met ñ genadige tong die Kanadese boer se oes proe.

Deur genade gebeur wonderlike dinge met tyd wat tik, dit bring soms wysheid as jy na wysheid verlang.

Jy gooi die rooibruin stroop stadiger oor. Jy hap met al jou sintuie. Jy proe tyd, jy proe ñ woud, die stof van ñ somer wat in die bas se gleufies gaan lê, dalk ñ groot beer se nael wat die somerstof in die grein indwing met die krap van sy naels teen die esdoringstam, die winter wat die stof en dalk ‘n vlindervlerkie se poeier daar vasvries, die lente wat die stof en die sap en die houtgrein kom meng en opstoot na die hoogste takke. Jy proe seisoene.

Jy vertel vir jou kinders hulle moet soek vir woud en die geheime van bome in die smaak van esdoringstroop. Jou dogtertjie is dadelik betower en verklaar haar ewige liefde vir maple syrup. Die twee seuntjies proe, probeer hard om die storie raak te proe, maar verklaar dan dat heuning lekkerder is en dat ek ñ storie oor bye moet maak. Jy lag en gee vir hulle die groen, gouestroop-blik aan. Hulle het probeer. Die eerlikheid van hul nog ongekunstelde geheue het gewen. Jy en jou dogtertjie proe woud. En ons twee begin ñ klein bietjie van Kanada verstaan hier in Suid-Afrika waar niks na stof proe nie, maar wel na bloed. Bloed en sout en soms die knars van warm beskuit.

16 Maart 2017

-(c) Sureta Strydom von Holtzhausen –