-Geskryf deur Sureta Strydom von Holtzhausen-

Uitsig op Lillie se watergat vanaf die stoep.

Dit is Desember in die Selati. Ons klomp kuier in die lapa op die koppies op Lillie, Oos en Marié Oosthuizen se wildsplaas naby Hoedspruit.

Die dag het teen 47˚C geprut en die versengendheid lê nog warm op die vel. Ons trek laer al teen die plankmuur van die lapa langs, so ver as moontlik van die vuurgloed af; omsingel vir Helgaard en my swaer, Louis Jones, wat in die middel probeer braai. Lize, my sussie, kom sit die bak rou sosaties langs hulle neer en gaan sit dan ook in die soel sirkel van die laertjie om die vuur. My vingers probeer die koue van die ys in my glas memoriseer. Helgaard en Louis is in hul eie bisarre tango vasgevang om die kole se hitte te probeer vryspring. Behaaglik slaan ons die braai-proses gade.

‘n Naguiltjie skree iewers en die stories begin loskom.

Braai in die lapa. Pa, Thys Strydom staan regs op die foto.                        Foto: Elsabie Strydom

Die gesprek loop aanvanklik tussen Lillie se stories rond en kronkel dan deur die Oosthuizens se familie-staaltjies deur: Die keer toe die leeus die koedoe hier in die lapa gevang het en die ou plaasopsigter vir drie dae dit nie hier kon waag nie, word toe die keer toe Marié se oumagrootjie leeus moes trotseer deur met die osse wyd om die trop ‘n stuk grond om te ploeg en dit word toe die keer toe osse ingespan moes word vooraan die Oosthuizens se ossewa tydens die Anglo-Boere Oorlog, op ‘n plaas tussen Potchefstroom en Carletonville.

Oos se mense het in daardie wêreld geboer en het dwarsdeur die Anglo-Boere Oorlog met redelike sukses die Kakies ontwyk. As die Boere-verkenners kom vertel van Kakies in aantog, moes die waens ingespan word en het die vrouens en kinders saam met van die plaaswerkers die Witwatersrante ingevlug en daar in grotte geskuil, totdat die Britse gevaar verby getrek het.

Soos mens nou maar ook nie altyd weet van jou hond se vlooie en bosluise wat hulself dik suip aan jou hond se bloed nie, so het hulle daardie jare ook nie dadelik geweet wie is hensopper en wie is joiner se kind nie. Die hensoppers is saam konsentrasiekampe toe in stille verset teen die oorlog of dalk uit blote lamsakkigheid. Die joiners, oftewel hanskakies, het by die Britse magte aangesluit en daaruit ‘n tipe verwronge aansien geput om hul eie mense uit te verkoop aan die Kakies. Bittere familietwis en huweliksonmin en summiere teregstellings het daardie jare gewoed oor die verraad van die joiners en die skandes van die hensoppers.

Kom die verkenners se inligting eendag ietwat laat by die Oosthuizens uit:”Die Kakies is oppad! Span in!”

“My oupa was toe drie jaar oud; sy sussie omtrent nege,” vertel Oos. “Hy was ook Andries Johannes Gerhardus Oosthuizen, soos ek. Ek sal moet gaan hoor wat my oupa se sussie se naam was. Het nou vir die oomblik vergeet.”

Die sussie het haar driejarige boetie, dis nou Oos se oupa, voor op die wa styf teenaan haar sit gemaak langs die drywer. Dalk het klein Oos en sy sussie se ma agter in die wa stelling ingeneem met die Sanna. Die wa het in die rigting van veiligheid begin haas.

Moeilikheid meld homself selde formeel aan en hy kry altyd ‘n skoorsteen om by in te klim as die voordeur gesluit is – sò ook op dìe dag. Die Kakies kom in volle gallop op die waens afgejaag; hanskakie neem voortou. Seker ook al plek waar die joiners voortou kon neem; sy oomblik van glorie was aljimmers die oomblik net voor die judaskus.

Die joiner was ‘n man van die distrik wat die Engelse loop vertel het van die waens en die grotte. Sal iemand nou ooit weet vir hoeveel sikkels silwer sal ‘n man sy eie uitlewer?

Die Oosthuizens is nie links nie. Hulle lê sweep in en die osse skommel met die waens oor die Wes-Transvaalse vlaktes so vinnig as wat ‘n span osse nou ookal die klippers kan laat spat.

Nou, ‘n joiner is maar ‘n joiner oor luiheid of bangheid. Die verskil tussen lui en bang is soms onbeduidend en ledigheid kom soms goed verskuil as politieke slimmighede. Hy wil nie baklei vir wat syne is nie – hy is maar aan die kant van die ou wat vir hom die poeding op ‘n skinkbord gaan aandra. Al kon hy nie self die tipe poeding kies nie; hy vreet maar.

Op hierdie stadium het die joiner seker gesien sy oomblik van glorie is besig om onder hom uit te jaag of hy was bloot nie meer lus vir die jaagtog oor die klipperige veld nie en hy skiet skote op die waens om daar ‘n einde aan te maak. ‘n Lui man het amper nooit die ervaring om slim planne te maak nie en ‘n bang man beplan niks. Hy doen net.

Oupa Oos Oosthuizen as jong man.

Die joiner skiet klein Oos se negejarige sussie daar reg langs hom op die wa raak; morsdood. Die joiner jaag tot by die wa se voorkant en duidelik sien klein Oos die gesig van die man wat sy sussie langs hom doodgeskiet het. Ontsetting en vrees beitel skerp in ‘n jong gemoed in- beelde wat jy vir altyd verby moet loop en bekyk, al moes die uitstalling al lank reeds eindig.

Die uiteinde van daardie helse oomblik was dat die Oosthuizens konsentrasiekamp toe is, die plaashuis is afgebrand, die diere weggevoer vir kos vir die Kakies, die gewasse verbrand. Verskroeide aarde. Vernielde mense. So was dit maar in 1902 in Transvaal.

Die naguiltjie skree weer. Die kole sis stil. Die braaitange hang leweloos bokant die roosters – oopbek in verstomming. Dan draai Helgaard stadig weg en begin die sosaties een vir een omdraai.

Oupa Oos, oftewel ds Oosthuizen in sy later jare as Hervormde predikant van die Wonderboom-Suid gemeente.

“Op ‘n dag was daar ‘n ringsitting,” vertel Marié nou verder, “Oupa Oos bied aan om die ouderling wat die buurgemeente daar sou verteenwoordig, ‘n saamry-geleentheid na die sitting te gee.”

Die ouderling was onbekend aan hom, maar Oupa Oos stop toe by die adres wat die kerkraad aan hom voorsien het, stap deur die hekkie en klop aan die voordeur. Die voordeur swaai oop. Oupa Oos kyk op, vas in die gesig van die joiner wat sy sussie doodgeskiet het.

Die naguiltjie skree ‘n derde keer.

Ons almal sit opeens vas in ‘n stilte wat langer duur as ‘n gemeenskap in rou wat hul koppe sou buig vir ‘n ontslapene.

” En toe?” waag Ma.

“Toe ry hulle saam.”

Ons ruik pap wat brand en Ma loop woordeloos die donker in, agter die papreuk aan. Lize begin afgemete vir die kinders rolletjies smeer. Oos en Pa kyk doer in die rooi van die kole in; asof die verlede daar mooier geskryf staan as wat hy dalk was.

“Hel. Dit was ‘n bitter oorlog daardie,” sê Pa, terwyl hy die ys in sy glas om en om draai.

Nie een van ons was deel van daardie oorlog nie, maar ons weet: bitter. Iets in ons gene en gebeente onthou; of dalk help al die stories ons iets onthou wat ons te maklik vergeet het.

‘n Jakkals roep onder by die watergat en die maan kom hang in die vuur se rook.

Die gesprek begin langsamerhand terugkronkel na 2015, deur die nuwe Suid-Afrika: hier waar nie Boer òf Brit tans regeer nie, en waar die hensoppers en joiners nie meer op perde rondjaag nie, maar oral hulle sê wil sê. En woordeloos laat ons hulle saamry.

-19 Desember 2015-

Oos en Marié Oosthuizen by die daaropvolgende geslag, hul seuns Chris en Hansie.

Andries (Oos) Oosthuizen by ‘n hoeksteen wat sy oupa, ds Oosthuizen gelê het.