WYSBEGEERTE

-Geskryf deur Sureta Strydom von Holtzhausen-

Ek stap by Protea Boekwinkel in Burnettstraat in Hatfield in en ek herken hom dadelik. Ouer. Min of meer my ouderdom. Steeds die lang, swart poniestert wat teen sy rug afhang. Ek is onmiddellik weer 18. Regsgeleerdheidgebou, UP-kampus op ‘n Vrydagmiddag om 2:00, Wysbegeerteklas; heeltemal uit my water uit. Ou nuk van my om stroom-op te swem; in stede daarvan om Kriminologie as stopvak te neem, soos dit ‘n normale, eerstejaar-regstudent betaam, neem ek filosofie, of te wel, Wysbegeerte 101.

Die dosent, van wie die naam my vir ewig ontgaan het, was ‘n middeljarige man met ‘n blouraamleesbril en pienk- of geblomde hemde. In retrospek was die man heel waarskynlik iewers in sy laat dertigs en het aan die laaste stuiptrekkings van “funky denker” uiting probeer gee, maar as jy 18 is, is alles bo 33 middeljarig.

Hierdie ou, wat nou agter die boekwinkel se toonbank staan en fronsend na ‘n rekenaarskerm kyk, was ook in daardie klas. Kaalvoet, as ek reg onthou. met dieselfde lang poniestert; tie dye T-shirt en al. As die blouraambril-dosent ‘n vraag gevra het, het hierdie ou dit geantwoord en woorde soos eksistensieel en deduktiewe redenasies en induktiewe afleidings gebruik.

Ek het met die gebruiklike Intelligente Frons die klas probeer oorleef en heimlik gewonder hoe de heng gaan ek hierdie vak deurkom? Hierdie vak waarvan my dopper-hart g’n kop of stert van kon uitmaak nie.

As ‘n boom in ‘n bos omval en niemand is daar om dit te hoor nie, maak die boom steeds ‘n geluid? Hoe weet jy dit? Is geluid afhanklik van ‘n teenwoordige mens met ‘n teenwoordige oor om die geluid waar te neem? Ek weet nie. Ek het nog nooit gedink dis iets wat ek sou wou weet nie en ek het selfs nie eers op 18 gedink die antwoord op daardie vraag kan van die wêreld ‘n beter of slegter plek maak nie. Maar ons moes wonder oor daardie boom wat moontlik stil-stil omval. En in alle eerlikheid –  ek dink steeds oor daardie vraag as ek verby ‘n Sappi-plantasie ry.

Maar hierdie ou, wat so perfek met sy kaal voete en swart poniestert by die dissipline van die Wysbegeerte ingepas het, hy het die lewe onder beheer, het ek altyd gedink. Hy lees seker baie en sit nie in die aande in ‘n koshuiskamer met sy tjomme en suig melk deur die groen stafies van ‘n Peppermint Crisp-tjoklit of lê in Navigators rond en drink Crossbow Ciders nie. Nee, soos ‘n regte student sit hy seker in die biblioteek met Nietzsche of Plato en gesels intellektueel met ander intellektuele. My angs en verwarring rondom die wysbegeerte het egter net gedurende daardie dubbel periode op ‘n Vrydag manifesteer en die oomblik wat ek buite die klas was, was ek weer net ‘n student en het ons beplan waar ons vanaand gaan kuier- sonder Plato en Aristoteles se teorieë oor of die son ‘n omgekeerde bak vol kole is, al dan nie.

“Goeiemôre.” Ek probeer glimlag sonder herkenning. Ek sien nie nou kans vir ‘n kenmekaar, 27 jaar later nie. Die herinnering aan my onbeholpenheid, of eerder my eie onkunde, was oorweldigend genoeg.

“Môre, kan ek help?” Dankie-flippin-tog. Ook ‘n glimlag sonder herkenning. Ek begin ontspan. Ek voel steeds 18 en ’n bietjie uit my water. Ek hoop nie hy vra my iets wat ‘n induktiewe afleiding gaan verg nie.

Azette Wiesner se verse in Woord-Engel, gee rym aan die woorde van my gees.

“Ek het ‘n sms van julle ontvang. Hier is ‘n pakkie vir my. Die boek se naam is Woord-Engel.”

Frons met ‘n glimlag, terwyl hy sy kop nee skud. Dis die ergste tipe kopskud. Dit sê: voel solank moedeloos, want hier gaan jy moet verduidelik en tien-teen-een onverrigter sake uitloop. Hy sou sekerlik geweet het as daar ‘n pakkie was op die winkel se pakkies-wat-ons-hou-vir-ander-mense-rakkie?

“Wie sou die pakkie vir jou hier los?”

Ek weet regtig nie of die boom ‘n geluid maak as niemand daar is as hy val nie!

“Dit is deur die skrywer self. Azette Wiesner. Vanaf julle Bloemfonteintak, as ek reg verstaan.”

Hy is vriendelik. Bykans innemend. En hy vra oor sy skouer of die man agter hom iets weet.

“Wat is jou naam.” Meer ‘n opdrag as ‘n vraag.

“Sureta.”

“Hallo, Sureta. Ek is Len.”

Agtertoe. “Haar naam is Sureta.”

“Hallo, Len.”

Flippit. Die kennismaking vang my so onkant dat ek “1795” van D. Sleigh (ek het prober uitvind hoekom dit nie sê “Dan Sleigh” nie) onmiddellik neersit en met meer fokus vir Len kyk.

Winkelassistente in Pretoria het ‘n bepaalde, ongeërgde saaklikheid waarmee hulle die publiek beleefd probeer oorleef. Hulle stel gewoonlik beswaarlik belang in jou bepaalde inkopie-behoefte, wat nog te sê in ‘n kennismaking? Maar nie Len nie.

“Sureta, ons het hom. Hy is hier bo by my kollega. Ek gaan kry gou vir jou die pakkie.”

“Dankie, Len. Baie bly julle het hom.”

Ek los hier en vat daar. Albert Blake. Sit neer. Deon Meyer. R290!  Sit neer. Abraham H. de vries. Sit neer. Marita van der Vyver. Net R39. Hoekom? Sit neer.

Ek vergaap my in die stilligheid aan Len se … warmte, wil ek sê.

“Sureta, hier is die pakkie!” Sò bly asof dit sy eie pakkie is wat hy teen alle verwagtinge in opgespoor het.

Miskien het hy een van daardie korporatiewe kursusse bygewoon waarin hulle jou leer om mense se voorname te oorbeklemtoon omdat dit vertroue skep.Of miskien herken hy my, maar voel aan ek is nie lus om terug te wees in die Wysbegeerteklas van 1990 nie.

Ek neem die pakkie; toegedraai in bruin papier met ‘n liggeel organza strikkie om. Te mooi.

“Julle hou nie CD’s aan nie, nê? Spoegwolf.”  Iets in my wil die gemoedelikheid van die ontmoeting uitrek; hier in Hatfield waar ek reeds jare gelede my sorgvryheid agtergelaat het.

“Wie? Spòègwolf?”

“Ja. Luister hier.” Ek neem my selfoon en soek Spoegwolf op YouTube.

Spoegwolf se CD, “Somer”, waarop Bittermaan voorkom, is al deurgespeel.

Len loop onmiddellik om die toonbank. Hy neem die selfoon en gaan lê sommer met sy elmboë op die toonbank, selfoon tussen sy hande,  terwyl Bittermaan se klanke deur die Protea Boekwinkel in Hatfield begin opklink. Ons staan daar, sy-aan-sy, soos mense wat mekaar lank reeds ken met ons koppe gebuig oor die klein selfoonskermpie.

‘Toemaar, toemaar, toe…’, klink dit uit by die deur in Burnettstraat in.

‘Ek het blomme gekoop.’ Tot by die Regsgeleerdheid gebou.

‘Ek skree jou naam!’ Uit Pretoria uit tot by die see.

‘Bittermaan!’ Die heelal in na waar tweelingsiele en engele bly.

‘Hierdie mense volg my waar ek gaan.’ Tussen sterre in.

‘Bittermaan.’ In my hart in. Ek het momenteel van Len vergeet.

Len. “Hoeveel is in dìe outfit?!” Fokkit. Terug in die Wysbegeerteklas. Is dit nou induktief of deduktief?

“Ek bedoel hoeveel ouens is hulle?” red Len my.

“O! Vier.” Verlig.

“Check hoe wieg daai ou op die maanbal!” lag Len, “Waar het jy van hùlle gehoor?”

“’n Vriend.”

“Goeie vriend,” mymer Len.

Hierdie filosofie-mense. Hoor altyd bome val waar daar geen mens naby is om te hoor nie.

Ons luister  daar in die besige boekwinkel die hele Bittermaan deur, tot by ‘ek is een maar jy . . . nie.’ Enduit.

“Hierdie was befok,” sê Len, en draai na my toe hy die selfoon teruggee.

“Ek hoor jou. Ek soek die CD.”

“Probeer Brooklyn Mall, maar ek weet nie.”

“Maak so. Dankie vir hierdie,” en ek lig die toegedraaide “Woord-Engel” effe op.

“Nee! Dankie vir hierdie!” En hy wys na die selfoon terwyl hy sy arm om my verbaasde skouers slaan en my ‘n drukkie gee.

“Kom ons kry jou deur sekuriteit,” sê Len.

By die deur vertel hy die sekuriteitswag dat daar nie ‘n strokie is nie, want die boek is ‘n geskenk deur die outeur self. Dan gee hy my nog ‘n sywaartse drukkie met sy een arm en sê:”Dankie, Sureta. Dit was mooi.”

“Mooi loop, Len,” en ek is daar uit, met meer geskenke as waarvoor ek gegaan het.

Ek slaan ”Woord-Engel” in die kar oop. Daar waar die bladsy oopval lees ek: ek gee jou vlerke, omdat jy dit vra van my, ek gee jou wat ek kan, sodat jy vry kan word.

18-jariges is simpel, dink ek en ek soek hierdie keer ‘Ek dink soos Jy’ van Spoegwolf op YouTube, voordat ek die kar aanskakel.

Iewers het ‘n boom in die middel van ‘n bos omgeval. En ek kan dit uiteindelik hoor.

-15 September 2016-

2018-04-20T11:53:25+00:00April 20th, 2018|Staaltjies|8 Kommentaar

8 Comments

  1. Elize Goss 22 April 2018 at 7:22 nm - Antwoord

    Pragtig.

    • Sureta 22 April 2018 at 7:33 nm - Antwoord

      Dankie, tannie Elize!
      Hoop dit gaan goed met julle doer ver.
      Liefde.
      Xxx

  2. Ria Coetzee 21 April 2018 at 10:19 vm - Antwoord

    Sureta..ek het nou ook die begeerte om wys te word. Dit was so genotvol om die stuk te lees. Jy mag maar! Dankie!

    • Sureta 21 April 2018 at 2:15 nm - Antwoord

      Baie dankie, Ria!
      Welkom hier. Lekker om te hoor jy het lekker gelees. Waardeer dit baie.
      Mooi dag.
      Sureta

  3. Elsabie Strydom 20 April 2018 at 3:13 nm - Antwoord

    Soos n goeie fliek wat ek die tweede keer kyk vir my mooier word, só is hierdie storie wat ek vir die tweede keer onder oë het, veel mooier as toe ek dit die eerste keer gelees het…..seker die vreemde woorde wat eers moes nesskop in my..

    • Sureta 21 April 2018 at 8:03 vm - Antwoord

      Dankie, my liefste Ma!

  4. Liezl 20 April 2018 at 1:42 nm - Antwoord

    Ek onthou hierdie ene so goed, liewe Sureta. Dit voel egter vir my soos ń leeftyd terug. Ek, sonder grade, sonder wysbegeerte, het voor ek die stukkie van jou vir die eerste keer lees, nog nooit die woord wysbegeerte gehoor nie. Ek het maar gedog filosofie is filosofie. Maar Spoegwolf, diè het ek geken. So ook vir Azette. Maar jy is ook ń woord-engel. Anderster as sy, maar woord-engel nietemin!
    Dankie daarvoor

    • Sureta 21 April 2018 at 8:07 vm - Antwoord

      Dankie, liewe Liezl!
      Jy het kwaliteite wat heelwat mense met grade nie oor beskik nie – glo my maar.
      Jy weet nie hoe waardeer ek jou nie.
      Liefde.

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!