DUIWELSKANTOOR

-Geskryf deur Sureta Strydom von Holtzhausen-

Kaapsehoop se grys klippe tussen die syige grasse.

Om die wese van wie jy waaragtig is, te kan omskryf met ‘n sin wat begin met ‘Ek is’, is ‘n sinnetjie wat ek nog nie uitgedink kon kry vir myself nie. Dit is redelik eenvoudig om jou emosies of jou voorkeure so te beskryf: Ek is lief vir reis. Ek is moeg vir onreg. Ek is my pa se kind. Om egter die definisie van jou gees in so ‘n sin aan die wêreld buite jouself te omskryf , sonder om jouself kort te doen, en werklik die kern van jou ìs hier ter aarde sinvol saam te vat, is ‘n deurdagtheid waarvan die antwoord my bly ontglip.  Maar daar is een Ek is-sin wat wel uit my wese kom en wat nie aan my huidige geografiese adres gekoppel is nie: Ek is ‘n Laevelder.

Sal ons ooit weet hoekom sekere plekke soos ‘n stemvurk op ons toonhoogte vibreer en ander plekke glad nie? Die rede vir my verknogtheid aan die Laeveld kan natuurlik wees dat my eerste skree op aarde in die Rob Ferreira-hospitaal op Nelspruit die Laeveldlug soos ‘n tipe geheue met my selstrukture verweef het. Sodra jy in Schoemanskloof afsak ‘n ent vanaf die linksdraai anderkant Milly’s, of deur die tonnel by Waterval-Boven is, gaan lê die eerste neusvol Laeveld-asem dadelik in die grinterige geheue van my gemoed en is ek by die huis: die gevoel van tuiskoms lê teen die koppies vol kiepersol en berg-aalwyne en laeveldgrys rotse, dit hyg in die klowe vol rinkhals en geil groei en koelte.

Die eerste werklike trauma in my jong lewe van 16 jaar was die wegtrek van The Rest af, ons plot 12 km buite Nelspruit, Hartbeespoort toe. Ek bly al dubbel so lank op Hartbeespoort as wat ek in die Laeveld gewoon het, maar jou kinderjare vorm die diepste groewe in die klei van jou psige.

Sommige Sondaemiddae sou Pa sê “Kom ons gaan ry ‘n entjie,” en dan het julle vier, jy en Ma en Lize, jou sussie, in die groen VW-kombi of later die wit Land Rover geklim en sommer net ‘n ent gaan ry. Baie mense het in die vroeë sewentigs op Sondae sulke ente gaan ry. Dit was die dae toe ons die skerms op ons harte self met data moes vollaai, anders as vandag waar die skerm buite die hart ons soms arm laat aan genoeg herinneringe as ons nie behoedsaam te werk gaan nie.

Die veld buite die dorp het mededoë en is sag op die gemoed.

Daar was plotpaaie en grondpaaie en plantasies en klipkoppies en klowe en lemoenboorde en die alewige hitte wat die bougainvilleas in fushia-pienk laat ronddryf het, die vlambome deinserig help vuur stook het; met die lug wit gebleik teen die kiaatbome en die diepgroen van die landskap. Karsiek en warm het jy tuis gekom en jy kon die verleiding van doelloos rondry op sulke middae nie kleinkry nie – nou eers weet jy dat die ingroef van herinneringe ‘n groeiproses is en dat groei nie altyd lekker is nie, maar dat die vrug in ‘n later seisoen eers ryp word.

Daar was Plaston waar julle daai een keer op oom Jean Joubert se grond ‘n damskrop gaan leen het; daar was Kaapmuiden waar die skoolhoof aan malaria oorlede is toe sy vier kinders nog baie klein was en sy vrou, juffrou le Roux, later jare een van jou gunsteling juffrouens in Nelspruit Laerskool was; daar was Croc Valley waar Pa en Ma by oom Dennis Solomon vir jou en Lize budjies kon laat uitkies het en die budjies in sulke groot hokke in kleurvolle swermpies aanmekaar teen die drade vasgetjirp het. Die Solomon’s van Crocodile Valley Estates was pasiënte by Pa, so ook ou miesies Hall van Hall & Son’s en die spreekkamer is altyd met pers brandspiritus afgevee voordat sy in sy tandartsstoel gaan sit het, omdat sy nie van die reuk van die ander ontsmetmiddels gehou het nie. Daar was Schagen waar tannie Eleanor en oom Rius van Tonder geboer het en eksotiese disse op piesangblare voorgesit het met Anjelien, hulle enigste dogter, wat haar eie klein rusbankie in haar slaapkamer gehad het.   Daar was natuurlik die wildtuin en Satara se kampdraad en die plek waar jy die meeste katkisasie gemis het, Tshokwane. Daar was Karino waar nooit iets gebeur het nie en KaNyamazane oppad Malelane toe waar ons Johanna met haar man, Robert, gebly het en sy sommige Maandae met ‘n blou oog terug was op The Rest en dan het sy en haar twee kinders, Anna en Dingane, vir lank nie weer KaNyamazane toe gegaan nie. Daar was Legogote, die koppie waar die hoofman jare gelede sy ongehoorsame stamlede verhoor het en dan daar afgegooi het en daar was Sabie en Graskop waar die ligstrepe van die rye en rye en rye bome deur die koelte priem. Daar was Sappi by Ngodwana waar ons altyd ophou asemhaal terwyl Pa daar deurjaag, omdat die reuk van die papierfabriek jou laat stik en jy gewens het Pa ry eerder Schoemanskloof om, terug van Ouma en Oupa af in Pretoria.

Op Saterdaemiddae het julle soms uitgery lughawe toe. Pa en oom Gideon Strydom het sommige Saterdae self gevlieg of julle het sommer net gaan kyk hoe die vliegtuie land en opstyg; die Cherokee’s, die Cessna’s, die groot dubbelmotorige Beechcraft en die Piper Tomahawk’s. Maar as jy ‘n ent verby die ou lughawe aanhou ry, is jy op die Kaapsche Hoop-pad.

Kaapsche Hoop, lees die padpredikant onder die papierbasdoring.

“Hoekom ry ons nie bietjie hier in nie, Pa?”

“Nee, wat. Dis ver genoeg. Ons draai net hier om. Daar is niks op Kaapsche Hoop nie.”

“Hoe kan daar nìks op ‘n plek wees nie?” Parmantig.

“Daar is net ‘n stofpad en ‘n kafee of iets,” voeg Ma by, “ons gaan nou huis toe.” Ferm.

In al daardie jare in julle geliefde Laeveld kan jy geen besoek aan Kaapsehoop onthou nie. Ma het jou probeer onthou van ‘n piekniek een dag daar toe jy 6 was, maar jy het geen herinneringe van die dorpie nie. En in al daardie jare het die naam jou kop telkens besig gehou wanneer julle daar verbygaan.

“Moes seker ‘n Kapenaar wees wat nuwe moed geskep het by die aanskoue van ‘n plek net so mooi soos ou Kaapland, en die plek toe maar Kaapsche Hoop genoem uit pure nostalge,” het Ma saam bespiegel.

Die hoëveld-platorand eindig teen die asembenemende skildery van die De Kaap-vallei wat strek tot op die horison.

Dit was jare later, in die vroeë negentigs, dat ‘n teerpad na die dorpie aangelê is en toe ontdek toeriste weer spoelgoud in Kaapsehoop; die spoelgoud van stilte en eenvoud. Jy was een van daardie toeriste en nou is ‘n jaar nie heeltemal volrond sonder een naweek in die mis van Kaapsehoop met die uitgelate runnik van wildeperde nie. My kinders  weef nou Laeveldherinneringe daar waar my eie kinderspore nie lê nie.

Om Kaapsehoop te verstaan, moet jy ‘n ietsie van die Drakensberge se pad oor die kontinent begryp. Die Drakensberge tand van die Oos-Kaap af op verby Lesotho, tussen die Vrystaat en Kwa-Zulu Natal deur en loop dan met ‘n swierige draai deur die noorde van die Laeveld. God’s Window en die Blyderiviervallei is alles deel van die Drakensbergreeks, tot so ver as Mariepskop naby die Orpenhek van die wildtuin in Hoedspruit se omtes. Kaapsehoop is tussen Nelspruit en Barberton geleë soos die kraai vlieg, maar die dorpie het nie die tipiese Laeveldse klimaat nie. Kaapsehoop is geleë op die hoëveld-platorand. Op die plek waar die platorand ‘n kaap oftewel ‘n tipe binnelandse skiereiland vorm en amper nuuskierig vanuit die Hoëveld se blonde grasvlaktes by die Laeveld inloer.

Soos met alle mooi plekke het daar eendag ‘n ou met ‘n perd opgedaag en hy het seker ook gereken mooi plekke moet name hê. Dit moes ‘n mistige dag gewees het, verbeel ek my, want misvlae is ‘n konstante besoeker aan Kaapsehoop. Digte mis het ‘n manier om stilte rond te sleep totdat alle klank stom is. Die wit mure van mis is deurdringbaar met die lyf, maar nie met die oë nie. Jy loop na’and alleen in daardie wit stilte wat maak dat jy dinge dink en feë sien en jy in jou eie angs of blydskap, dit hang af van die genade, vasverdwaal.

In die mis lyk die grys kliptande wat oral uit die plato se groen tandvleis hap, na ‘n plek van draakgevegte en misterieuse verledes vol sonde wat wag om onverwags op te doem en jou skrik te maak.  En dan stap jy nog so lekker en begin jou stelselmatig verwonder aan die fyn handewerk wat noukeurig al die veldblomme en grasse en bobbejaansterte tussen die klippe ingeweef het, net om die volgende oomblik amper van die aarde af te foeter. Nét daar stop die kaap, of die platorand se uitstulping en kan jy net verdwaas staar na die Laeveld wat doer-doer onder voor jou uitrol tot op die einders en jy weet dat die alfabet nie altyd ‘n woord kan skommel om skoonheid of heiligmooi te kan beskryf nie.

So moes daardie ou op die perd die dag deur die mis gestap het toe die aarde opeens voor sy voete wegval, toe noem hy die plek Duiwelskantoor. ‘Duivels Kantoor’ sou dit in Nederlands wees, wat in daardie jare steeds maar skryftaal en leesstaal was .

Ander ouens op perde het laat in die 1880’s spoelgoud in Duiwelskantoor se stroompie ontdek. Duiwelskantoor is daar en dan vergewe vir sy mistige slierte wat pal tussen die kliptande hang en is herdoop na Kaapsche Hoop. Maar helaas, die duiwel het spoedig sy takkantoor na Pelgrimsrus verskuif en daarna na die Witwatersrand met die ontdekking van groter goudneerslae daar. Die delwers se hoop was al wat in die stroompies agtergebly het; hulle hoop op kitsrykdom, maar ook het sommige ouens se perde daar agtergebly.

Toe vrede na die Anglo-Boere-oorlog oor die verskroeide aarde van Transvaal neerdaal, het daar nóg ‘n klomp perde in Kaapsche Hoop agtergebly, word vermoed. En so het die troppie perde om Kaapsche Hoop begin wei en gaandeweg begin vergeet van toom en saal en hoe die binnekant van ‘n stal dalk lyk. Die manne op perde het begin motor bestuur en nie net Afrikaans gepraat nie, maar dit ook begin lees en weldra het die Hoog-Hollands in Afrikaans in verdwyn: Kaapsehoop.

Jy het koud gekry; die hele eerste naweek daar. Om te dink jy pak vir Nelspruit se klimaat, terwyl jy mik vir Kaapsehoop is ‘n fout wat net ‘n kaggel kan besweer. Plekke moet met jou stemvurk vibreer, maar jy hoor eers die plek se musiek as bekendheid geborgenheid word.  Jy het Kaapsehoop se musiek begin hoor toe jy eendag kaalvoet deur die veld moes stap na die einde van die plato. Jou sandale het blase op jou voete gemaak, toe pluk jy hulle uit.

Hmmm. . . rotsplank ry in Kaapsehoop.

Jy trap kaalvoet en versigtig in die veldpaadjie langs, en voel byna onmiddellik die naelstring tussen jou en die sagte, klam aarde van Kaapsehoop. Die grond het met mededoë meegegee onder jou te sagte voetsole, die groen gras het onder jou gespriet en nie die harde polle gemaak waaraan jy op The Rest onder jou taaigebreide kindervoete gewoond was nie. Daar was veldblomme en mos en klammigheid en toe die aarde voor jou voete wegval, het jy baie ver van die duiwel af gevoel en baie naby aan engele.

In die dorp se grondpaaie trippe trappe trone splintergroepies van die wildeperde soms. Jy wonder oor hulle; oor hoe diep die wildheid werklik in hul wese lê. Daar is wildeperde by Botriviervlei naby Kleinmond en daar is die bekende troppe by Aus in Namibië wat jy al op vol gallop oor die woestynvloer sien hardloop het, en dan hierdie troppies by Kaapsehoop.

Op ‘n respekvolle afstand vanaf die wilde vulletjie.

Jy dink onwillekeurig wild beteken noodwendig vry; vryheid van toom, vry van ‘n baas se reëls, vry van dissipline, vry van ‘n stal of ‘n slaapplek op’n bepaalde plek. Jy is vry, jy kan gaan slaap waar dit mooi is, of waar die gras soet is of die merries blink is, of waar die hingste se maanhare saam met die wind vloei. Maar tog. . . die troppe waarvan jy weet se naam is gekoppel aan ‘n plek; aan Kaapsehoop, aan Aus, aan Botriviervlei. Kaapsehoop se wildeperde gaan loer nie soms in op Nelspruit daar naby of op Witrivier nie, Botrivier se wildeperde gallop nie soms deur Hermanus nie en Aus se wildeperde gaan nie Lüderitz toe om dinge bietjie daar te gaan deurkyk nie. Nee, hulle hou hulself ingeperk binne die grense van ‘n baie bepaalde area.

Elke jaar bekyk jy hulle en jy wonder oor wildwees en vrywees en hoe langer jy kyk hoe meer sien jy die strukture van die trop, die gehoorsaamheid aan seisoene, die onthou van makwees sodat sommiges kom appels bedel of makkerig die verbode sierplante op sypaadjies wegknibbel.

Die kinders in Salvador’s Bistro – ou kalante!

Stelselmatig weef Kaapsehoop by jou kinders se selstrukture in. Satara en die Weskus en Kaapstad en Ballito en die Tankwa en Ketelfontein buite Colesberg en heelwat ander plekke vibreer reeds daar. Hulle eerste potjie pool by die Salvador Bistro se snoekertafel in die hoofstraat was, aldus hulle vertellinge, onvergeetlik. Julle moes daardie naweek elke aand noodgedwonge by Salvador’s uithang, want dit blyk goudkoors en pool-koors is baie dieselfde ding. Soos óú kroegvlieë het jou drie kinders daardie blou kryt aan die stok se punt gevryf en mekaar bo-oor die groen vilttafel uitdagend bekyk, die glas Cream Soda naby die elmboog vir innerlike versterking. Later sou hulle lawaaierig saam met julle deur die donker terugstap na Die ou Plaashuis waar julle tuisgegaan het, met jou man wat vir 8-jarige dreig met totale geheelonthouding van suiker en kleurstowwe as hy nie onmiddellik sagter lag nie.

En daar was die naweek toe julle by Marekele in die vallei onder Kaapsehoop in die reën gekamp het en die nuwe groen tent in die donker by net ‘n selfoonflitsie moes opslaan.   Nat en verwese het julle later in die Bohemian Groove Café na die perkussie-musikante se ritmiese musiek geluister en jy kon eers weer jou vingers voel na die tweede glas glühwein.

Wilde perde. Wildeperde. Wille pêrre.

Daar is ook ander dinge. Dinge soos om in die diepkant van die nag na wakkerword te spartel en dan hoor jy dit veraf – die runnik van ‘n wildeperd, ‘n proes en mettertyd hoewe wat oor die klippies in die pad trap.  Daardie runnik klìnk soos verlange, maar dit voel soos troos. Want jy weet daar is iets daar buite in die donker wat jare gelede net gelos is, iets wat net moes klaarkom sonder die liefde van hulle wat hul eens liefgehad het en bloot moes oorleef, of nie.

Hoop alleen kan niks of niemand red nie. Hoop moet in ‘n kettinkie saamgebind wees met die geloof dat elke dag genoeg sal hê en eers dan snoer liefde die kettinkie saam en die liefde maak dadelik die hoop weer meer; om en om. Die mens wat die perd net gelos het se hoop dat die perd oorleef, het nie die perd gered nie. Daardie perd se eie binnekamers vol onthou van tye dat elke dag sal sorg vir genoeg water en genoeg kos en genoeg skuilplek het die perd gered; het hom laat oorleef op ‘n platorand wat ver die Laeveld instrek. En toe vind hulle in hul weerloosheid, vryheid.  Maar tog, hulle perk hul eie vryheid in deur hul eie geografiese grense te bepaal. Miskien het daardie perd afgestam van Paulus in die Bybel se perd, as Paulus ooit ‘n perd gehad het. Want dit is net Romeine 5-perde wat kan weet swaarkry kweek aanhou, aanhou kweek die egtheid van die geloof dat elke dag genoeg sal bring en die egtheid van geloof kweek die hoop. Dit is asof Kaapsehoop se wildeperde verstaan: niemand is werklik vry sonder om iewers te behoort  nie. En daar waar die duiwel sy kantoor weggeskuif het, daar bring engele die hoop van behoort.

2019-05-09T06:40:19+00:00April 25th, 2018|Afdraaipaaie|8 Kommentaar

8 Comments

  1. Elsabie Strydom 27 Desember 2018 at 2:14 nm - Antwoord

    Kan nie glo dat hierdie storie by my verby gegaan het nie? Pragtig geskryf; “as usual”!

  2. Leonie Gerber Burmeister 29 April 2018 at 3:41 nm - Antwoord

    Wel dit was so lekker om veral jou laaste paragraaf te lees omdat dit die hoogtepunt van jou verlange – deurdrenkte blogpost is. Jy verlang na dieselfde dinge as die meeste kultuur bewuste afrikaners. Hel die ou wat my aanvat oor ek dit so uitdruk…moet asb ophou om my eie geskryf te volg. Ek raak al meer bewus van my behoefte aan ” eie-soortigheid ” soos die wat ek die afgelope naweek in Kaapsehoop raakgeloop het.
    Die gesprek wat begin het met ” het julle vir ons ‘n medlemon ” sou uiteindelik maak dat die hele eetsaal van Silver Mist vibreer van ons gegons oor als wat ons nie van mekaar af weet nie
    En daar praat ek alweer re veel …
    Ek assosieer met jou siel agter jou sielstories
    Liefde is so n maklike woord vir my
    En op my ouderdom stoot dit gelukkig niemand af nie want ek is totaal onskadelik op 60
    So dan liefde van my en Juanita tot daar by almal van julle
    Tot ons weer by Kaapsehoop ontmoet
    LEONIE GERBER BURMEISTER met klem op die GERBER

    • Sureta 29 April 2018 at 6:45 nm - Antwoord

      Liewe Leonie (en Juanita),
      Ek het nou so lekker gelees en gelag vir hierdie brief!
      Dit was sò lekker om julle te ontmoet. Ek wens nou ek het ñ foto geneem van julle twee met julle hare wat met tandeborsels gekam is en meer gesofistikeerd gelyk het as wat myne ooit sal lyk, haarborsel en al.
      Jy klink self baie behendig met ñ pen, Leonie en Juanita, ek sien baie uit na jou webtuiste.
      Dankie vir die mooiste kompliment: om mense se siele raak te skryf. Niks bring my groter vreugde as iemand my laat weet as dit wel so gebeur het nie!
      Ons is bly julle is veilig tuis.
      En ons is lank nie uitgekuier nie- kom maak gerus ñ draai by ons op Harties as julle ooit daar kom- julle het my nommer. Ons het ñ oneindige voorraad koppies met pierings waarin vriende na hartelus kan koffie stort…
      Ek hoop daardie verkoue is hokgeslaan, Juanita.
      Met baie liefde
      Sureta, Helgaard en die drietjies.

  3. Dana Snyman 27 April 2018 at 8:55 vm - Antwoord

    Hallo Sureta. Dit vir hierdie mooie storie. Ek sit hoeka nou hier op Kaapsehoop… Het jou nommer verloor. Mooidag, en dankie. Dana.

    • Sureta 27 April 2018 at 10:28 vm - Antwoord

      Baie dankie vir wat jy sê oor die storie, Dana. Jy, van alle mense, weet hoe voel mens oor jou eie stories.
      Ek hoop Kaapsehoop is vir jou goed. Jou pad was eintlik mos lank reeds soontoe gebaan.
      Mooidag daar ook.
      Sureta

  4. Liezl 26 April 2018 at 6:21 nm - Antwoord

    Liewe Sureta. Ek lees weer jou storie. Weet hoe baie sê ek hoop alleen, net hoop sonder aksie, beteken niks. Hoop is baie harde werk. As jy in hoop glo, moet jy werk vir waarin jy glo. Maar om vir iemand anders te hoop is die moeilikste, want jy kan niks aan iemand se aksies doen nie. Of iemand in aksie in hoop nie. Hierdie storie gaan my baie lank by bly!
    Dankie

    • Sureta 26 April 2018 at 7:30 nm - Antwoord

      Dit is baie waar, Liezl. Hoop sonder aksie is ‘n futiele oefening . . . Mooi aand vir jou! Liefde.

    • Sureta 26 April 2018 at 7:53 nm - Antwoord

      Liezl, Jy laaat my nou dink aan dr Phil: You only have control over yourself; your own reaction to events, your own words, your own actions. You have no control over the actions of other people. Dis so half bevrydend om dit bewoord te sien, al klink dit logies.
      Ek hoop dit gaan baie goed metjou.

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!