TROU

-Geskryf deur Sureta Strydom von Holtzhausen-

Daar is sekere dinge wat jy eers weet jy gehad het as dit vir altyd weg is. Onskuld is een van daardie dinge, ook die heilige verbintenis van ‘n troubelofte, jonkwees, die fases van jou kinders se grootword, die fases van liefhê, ouerliefde. Om onskuld te verloor of om iets heiligs te ontheilig gebeur ook nie noodwendig in ‘n oomblik waarin ons dit herken as die verlies daaraan nie. Jy sal soms eers lank nadat so ‘n oomblik verbygegaan het,  staan en tee maak of op jou agterdeurtrappie sit en kyk hoe die son in geel blare grond toe sweef en dan, gelyktydig, sal die besef en die heimwee jou iewers tref. In daardie oomblik is dit asof jou hande verstil en jy momenteel vertoef by al die graffies van verlore dinge in die begraafplaas van jou hart.

Jy was tien toe tannie Marietha Wegner die ritme van stilte in Satara met tegnologie binnegedring het. Tannie Marietha het haar lewe sonder die toestemming van enigiemand geniet en julle het elke wintervakansie saam met die Wegners gekamp teen Satara se draad. As julle by die wildtuin se Numbihek of Krugerhek inry, het Pa die motorradio afgesit en gesê: Ons is hier om na stilte en die veld te luister.

Satara, 1981. Ma, Elsabie Strydom, en tannie Marietha Wegner wag vir die troue om te begin. Foto-krediet: Ma se foto-album.

“Ja-a-n! Kom help ‘n bietjie hier! Die troue begin amper,” het tannie Marietha in oom Jan se rigting geroep terwyl sy vanuit die karavaan ‘n klein TV-stelletjie te voorskyn bring en op die tafel in die tent die Aromat en blik beskuit sommer met die TV’tjie agtertoe stoot om plek te maak.

Jy het onwillekeurig na Pa gekyk en gewonder of dit ooit toelaatbaar was om ‘n TV by jou in die wildtuin te hê. Dit was 1981 en ons eie TV het ons die vorige jaar by Bakos Brother’s naby Pa se spreekkamer in Nelspruit gekoop. Maar Pa het net behaaglik geteug aan sy sigaret en met ‘n “Bid jou aan!” nader gestaan om die besigheid te bekyk.

In verwondering het jy en jou sussie gekyk hoe die haasore rondgedraai is om ‘n beeld op te vang.

“Attie!”

“Ma?”

“Bring bietjie ‘n draadhanger daar in die karavaan. Dalk vang hy beter op.”

En so het julle daardie dag op ‘n klein, swart-en-wit televisietjie met ‘n sneeuerige beeld gekyk hoe Lady Di met prins Charles trou. Toe sy uit ‘n koets met regte perde klim, het niemand die glansspreeus hoor skrou in die haak-en-steek of die geelbekneushoringvoël sien bedel vir beskuitkrummels naby die tentopening nie.

“Sy kon darem haar rok gestryk het,” sê Pa en hy en oom Jan loop draad toe om die vuur te pak.

“Ag-man, sy is pragtig. Loop maak vuur, ja,” verjaag Ma die mans met hul slimmighede.

Om ‘n regte prins te sien was egter ‘n teleurstelling wat jou tienjarige gemoed van iets beroof het, maar die nuwe prinses van Wallis was betowerend genoeg om darem die helfte van ‘n sprokie waar te maak.

Jy was pas ses en twintig, een volle dag lank om presies te wees, in ‘n kommune in Hatfield toe jy gehoor het sy is dood. Daar was baie dinge wat jou hart geruk het tydens daardie vroeë September-begrafnis in 1997; die stilte onthou jy, hoe skares mense verslae en stil rye en rye en rye blomme vir haar neergelê het, Elton John wat in Westminster Abdy Candle in the Wind vir haar sing, maar bo alles onthou jy die klein kransie wit rosies op die voorpunt van haar blomoorlaaide kis. Wit koevert bo ingedruk.  Seuntjiehandskrif: Mommy.

Harry was dertien jaar oud toe hy en sy boetie met prinse-moed agter hulle ma se kis moes aanloop. Jy het gehuil asof hulle familie was.

Weer het die tyd geloop en veertien jaar na daardie stil, swart dag breek prins William en Kate se troudag aan. Jy het drie kleuters onder 5 op daardie stadium en wie trou met wie se wat haal glad nie jou prioriteitslys nie. Jou grootste oorwinning is om vyf minute in jou dag te kry om ‘n gastehuis op Wakkerstroom te bel om te bespreek vir die komende langnaweek. Jy wil die skaars kalkoenibisse gaan soek en dalk Pa se mense se familieplaas op Amersfoort, maar grotendeels wil jy en jou man net op ‘n ander plek gaan bottels maak, doeke ruil en klein roosbekkies Purity voer, want dalk voel dit tog soos ‘n wegbreek.

“Jammer, mevrou, die dorp is vol. Dis mos die troue.” Jy wil jou vererg vir die vrou wat half aanneem dat ‘n wildvreemdeling bewus sal wees van een of ander boer in die distrik se troue, maar jy is die verleë een en bly dus vriendelik.

“Ons is nie deel van die trougaste nie, maar is daar werklik glad nie iewers ‘n bed nie? Die kinders slaap sommer op matrassies op die vloer,” pleit ek.

Daar is ‘n langerige stilte oor die lyn.

“Hallo?”

“Askies, mevrou, maar ek bedoel Kate en William se troue. Jy weet mos. Die prins. . . ”

Jy kliek toe, maar steeds verstaan jy nie. “Nou wadde ongeluk het ‘n Britse troue in Londen te make met die besetting van gastehuise in Wakkerstroom?”

“O! Dis ook die Vleifees, maar die meeste gastehuise bied ‘n high tea met Royal Albert en alles aan, as jy die troue by hulle kyk,” laat hoor sy opgewek.

Jy het nou alles gehoor! Jy slaan jou hande saam en steeds wil jy eintlik net die waadvoëls in die vlei gaan kyk en vir kalkoenibisse soek en die kinders afneem tussen riete of iets, “Asseblief…”

“Ons het iets ‘n klein entjie buite die dorp. Gee julle om?”

Julle kyk kalkoenibisse, die kinders melk beeste en jy verlekker jou in hierdie hoek van die land waar drie provinsies by mekaar kom.

“Wil julle kom? Ons kyk troue!” roep julle gasvrou van die hoofhuis se kant na waar julle ‘n hanskalf melk voer.

“Nee dankie!” roep jy vriendelik terug. ‘n Ma van drie foeter nie met oomblikke waar haar kinders in verwondering staar na die melkskuim om ‘n kalfie se bek nie.

“Ek het cupcakes vir die kleintjies!”

En daar op ‘n plaas buite Wakkerstroom, sien julle net betyds hoe Catherine Middleton by Westminster Abdy insweef en met ‘n prins trou wat dogtertjies se geloof in prinse in ere behou. Saam met drie tjoepstil kleuters, kieste vol kolwyntjies, drink julle tee uit fyn Royal Albert-porselein en eet komkommertoebroodjies.

Sewe jaar later, in Mei, hang die vlieswolkies vuilerig bokant die Hartbeespoortdam, die dag is ysig en prins Harry trou met Meghan Markle in ‘n sonnige Windsor.

Lamont is tien. Vian is nege en hy kry dit nie klein dat hy sy windbuks moes bêre waar hy na ‘n teiken teen die suurlemoenboom geskiet het, om na Ouma-hulle se huis te kom nie.

“Maar hulle is dan in die wildtuin . . .” neul Vian.

“Maar ons kom na die troue kyk, Lyf. Dit is net op DSTV.”

“Al die pad vir ánder mense se troue?”

Jou ma en pa se huis is net 1.7km van julle huis af.

“Ja, àl die pad. Maar ons het ‘n Bar One-koek gekoop,” probeer jy sy bui lig. Met suiker kan jy vir Vian onder ‘n wip vang.

“Ken ons hulle dan?” vra hy nog meer verbaas.

Die gaste kom al aan en toe jou oog vir Oprah in ‘n ligpienk rok raaksien met ‘n hengske hoed op die kop, raak jou geduld met Vian se ondervraging klaar, “Vian, dis ‘n koninklike troue. Dit gebeur nie elke dag nie, so ek gaan dit kyk. Gaan speel buite as jy nie wil nie.”

“Mamma, is Meghan wit?” Kiana is net dertien, maar sy is reeds Suid-Afrikaans genoeg om te weet dat sekere vrae versigtig en effe omsigtig gevra word in hierdie land.  Julle kyk die troue op ‘n groot plasmaskerm-TV in die boonste stoepkamer en sy fluister amper.

“Ek vra maar net,” verdedig sy reeds die vraag.

“Jy mág vra. Die media gaan dan daaroor aan. Sy is veelrassig, Nannie.”

Frons.

“Wat beteken dit?”

“Swart ma, wit pa, in haar geval.”

“O. So sy is aangeneem.”

Jy kyk na haar, jou Nannie-kind,  daar in die flou sonkolletjie op die mat; die lig wat met haar krulle speel, ‘n onwillekeurige knikkie van haar kop soos sy tevrede aanvaar dat sy nog ‘n legkaartstukkie van hierdie ding wat ‘n mens die wêreld noem, self uitredeneer het.

Jy sukkel met sulke oomblikke. Oomblikke waarin jy haar doelbewus moet stroop van nog ‘n skeppie onskuld, sodat sy deur die eeu waarin sy gebore is met kennis en liefde kan navigeer. Sy en haar boeties moet grootword in ‘n wêreld waarin hulle stadig maar seker leer soort soek wel soort, maar soort word nie meer op sy baadjie takseer nie.

“Nee, Liefie. Dit gebeur soms dat mense wat met mekaar trou nie van dieselfde ras of nasie is nie. En dan is daar kinders en sy is een so ‘n kind.”

“O.”

Julle kyk ‘n rukkie in stilte hoe George en Amal Clooney arriveer.

“Kyk, Nannie, daardie vrou in die geel is ‘n advokaat in Londen. Sy spesialiseer in internasionale reg en menseregte.”

“Wow. Ek wonder met wie gaan sý heeldag praat? Beslis nie met daai ou met die tattoos nie. Lamont! Ek trek jou velle af as jy jouself eendag laat tattoo!” raas sy by voorbaat met haar jonger boetie.

“Dit is David Beckham. Hy was ‘n sokkerspeler. Sy vrou, Victoria, ontwerp rokke. O, en sy het ook gesing op haar dag,” onthou jy die Spice Girls. “Ook meer geld as …wel, verstand,” mompel jy suurknollig.

“Watter kleur gaan hulle kinders dan wees?” vra Kiana.

“Wit, Liefie. Tatoëermerke word mos nie deel van jou genetika nie.”

“Ag, Mamma! Ek weet dit! Ek is nie stupid nie! Ek bedoel Meghan en Harry se kinders!”

“O!” ek neem ‘n te groot slukkie van die JC le Roux in die glas langs my. “Genetika is ‘n wonderlike ding. Hulle kinders sal ook veelrassig wees, maar party kan spierwit lyk en ander baie donker. Dit is maar ‘n lucky packet. G’n mens kan ooit presies voorspel hoe jou kinders gaan lyk nie.”

“Wow! Daar klim sy uit!” knip Kiana my relaas ongeduldig kort.

Meghan Markle oppad kansel toe in St George Kapel, Windsor.
Foto-krediet: Internet.

Meghan gly uit die Rolls-Royce uit. Haar swart ma sit langs haar in ‘n liggroen tabberd. In Windsor. In een van Koningin Elizabeth II se vele Rolls-Royce’e. Windsor Kasteel wat een duisend jaar oud is. Hierdie ma wat kom van voormense wat jare gelede vanaf jou kontinent as slawe weggevoer is, sit vanmiddag in die Britse Koningin se koninklike voertuig voor ‘n kasteel wat eeue ouer is as slawerny, veel ouer is as Amerika, of as apartheid, ouer is as die taal wat jy en jou kinders praat; ‘n kasteel wat opeens die plek geword het waar sy dalk moedersdag sal moet vier saam met haar nuwe skoonfamilie.

Toe Meghan by die St George Kapel instap met haar klein wit ruikertjie, aanvanklik alleen, spat die eerste konvensie aan skerwe soos wat haar oorlede skoonma konvensies in die koningshuis laat spat het.

Sy lyk asembenemend. Harry lyk prinslik.

Meghan se ruikertjie bevat onder andere mirte wat Harry se oer-oumagrootjie, Victoria, in 1845 laat plant het. Ja, dieselfde ou gifappel-koningin wat vir oom Paul gewen het in die Anglo-Boere Oorlog. Dit is asof die geskiedenis op hierdie dag net nie tot rus wil kom nie.  Die bruidsruikertjie is rond met wit blommetjies uit die kasteeltuin en jy kan nie help om daardie stil dag in Westminster Abdy te onthou nie.

In die kerk. Windsor; 19 Mei 2018.

Jy kyk na die prins en die aktrise. Sy is 37 jaar oud; reeds het sy een jaar langer geleef as wat ooit vir haar betowerende skoonma, op 36 oorlede, beskore was. Sy is geskei, sy is veelrassig en sy het haar eie dominee, eie koor  en eie tjello-speler in haar tas saamgebring, by wyse van spreke, al die pad vanuit Amerika. En dit is asof daar momenteel ‘n wit koevertjie by die dag uitsteek: Harry. Geskryf in die ink van sy ma se liefde.

“Marriage enriches society and strengthens community,” herinner die Aartsbiskop van Canterbury almal. Prins Philip, daar langs die Koningin, lees deur die program in sy hande.

“Sacrificial love changes lives,” bulder The Most Reverend Michael Curry opeens in sy Afrika-Amerikaanse stem nadat hy uit Hooglied gelees het.

Die daadkrag van die liefde.

“When love is the way, there will be no more hunger!”

Prins Philip en die Koningin kyk op.

“When love is the way, God is the source!”

Amen, Brother! wil jy uitroep hier in Hartbeespoort.

“When love is the way, we are brothers and sisters!” Harry kyk af en vryf liefderik oor Meghan  se ring, dalk aan daardie plekkie waar sy ma se twee diamante tussen die ander blink.

Die Amerikaanse Most Reverend Michael Curry lees uit Hooglied. Foto-krediet: BBC.

“King Solomon was right: when there is love there is fire!”

Sir Elton John kyk ietwat verbaas, maar stil deur sy pienk bril na die bulderende prediker vol liefde.

There could have been no iron age without fire!”

Prins Charles is dalk ‘n meer geharde tipe sondaar, want hy kyk nou eers geamuseerd op van die program in sy hande.

“There could have been no industrial revolution without fire!”

George en Amal Clooney loer al òm die pilaar wat hul blik op The Most

Prins Charles fokus nie!

Reverend versper, om beter te kan sien.

“If humanity can capture the energy of love, humanity will for a second time discover fire and we will make this old world a new one!”

Amen, Brother!

Deur dit alles sit Meghan se ma half eenkant in die kerkbanke teenoorgesteld tot die koninklike familie; onpeilbare uitdrukking op haar gesig, iets tussen sagtheid en verbluftheid.

Die gospelkoor wat Stand by Me sing.

Dit voel opeens asof jy ‘n nuwe son oor ‘n savanna-vlakte iewers in Afrika kan sien opkom toe die gospelkoor al wiegend Stand by Me begin sing.

Daar staan hulle toe eindelik as man en vrou; as gades, hande ineen, in die sonkolle wat deur die talle vensters stroom, in ‘n heilige sirkel.

“Hoekom huil, Mamma? Is Mamma séker Mamma ken hulle nie?” vra Vian besorg met ‘n smeersel sjokoladeversiersel oor sy wangetjie.

“Ag, Vian!” vererg Kiana haar vir haar jongste boetie en vee verleë die traan van haar eie wang af.

Want reeds op dertien erken ons die graffies van verlore dinge in ons harte wat wag om toegegooi te word deur die lewe se onverbiddelike beloop; hetsy deur seën of deur duur lesse te leer.

Foto: Internet.

Toe prins Harry en sy vrou, die nuwe Hertogin van Sussex, op die sondeurdrenkte, duisendjaaroue trap uitstap, klink die onmiskenbare Afrikajubel op van vroue wat hulle tonge in ongebreidelde vreugde met klank laat dans, terwyl soldate van die koninklike wag hul swaarde links en regs van die kerkdeure gedissiplineerd en doelgerig lig.

Dit voel nie asof Engeland en Amerika ‘n geskiedkundige verbintenis aangegaan het nie. Dit voel vir jou asof Afrika uiteindelik binne-in ‘n Britse kapel die een of ander veldslag gewen het. Jou Afrika. Asof Engeland skielik meer bekend en daarom meer bemind geword het.

Troues doen dit: dit verstil jou hande daar waar jy treur by die graffies van verbygegane dinge, maar in die snoer van geloof, hoop en liefde herinner troues jou aan die daadkrag van die liefde.

Die nuwe Britse Koningshuis. Foto: Internet.

2018-05-26T09:52:31+00:00Mei 22nd, 2018|Staaltjies|6 Kommentaar

6 Comments

  1. Sakkie Goss 22 Mei 2018 at 8:36 nm - Antwoord

    Glo dit of nie – hierdie was die eerste skrywe oor die “troue” en alles rondom dit wat ek gelees het . Die Rooinekke staan my nie aan nie maar jy slaag daarin om my alles te laat lees wat jy skryf – pragtig ! Sal maar moet sien hoe die nageslag gaan lyk . Mis ons mense nog elke dag maar dis gelukkig al . Groete aan almal asb !!

    • Sureta 23 Mei 2018 at 11:02 vm - Antwoord

      Hallo oom Sakkie,
      Ek het nou lekker gelag: as ek oom kan laat lees oor die Tommies in Engeland, ag ek dit as ñ groot kompliment.
      Ek moet sê: ons almal bekommer ñ bietjie oor julle daar ver en oor alles wat julle, en veral oom, tans moet deurgaan. Baie, baie sterkte. Hier is baie mense wat bid.
      Met liefde.
      Xxx

  2. Lize 22 Mei 2018 at 2:37 nm - Antwoord

    Pragtig pragtig pragtag! Gaan sommer nou d troue kyk wat ek moes mis weens werk!

    • Sureta 22 Mei 2018 at 5:54 nm - Antwoord

      Het jy toe gekyk? Wat het jy daarvan gedink?

  3. Ivanda 22 Mei 2018 at 11:39 vm - Antwoord

    Nee ek wou nog lees en toe is dit klaar Pik ek nou hier weer ‘n traan weg. Jou mooiste stuk nog. Nou eers klaar huil…..

    • Sureta 22 Mei 2018 at 1:56 nm - Antwoord

      Dankie, Ivanda.
      Ek heg baie waarde aan jou (hoërgraad)lees opinie, so ek ag dit ñ groot kompliment te wees!
      Liefde daar.
      xxx

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!