BESTEMMINGS

Peter van Lowveld Towing, doenig by die vasmaak van die Hyundai-H1 net voordat hy ons Laeveld toe sleep.

-Geskryf deur Sureta Strydom von Holtzhausen-
Indien dit van jou eie beplanning afgehang het, sou jy nooit jou lewe so inrig om ander mense te noop om goed te wees vir jou nie. In onafhanklikheid glim sukses, kan ‘n mens maar sê. Die mens is mos immer doenig en aan’t skarrel en aan’t jaag agter vlae wind aan en niemand weet meer van al die goedwees wat in ander mense lê en wag nie, want almal is net te besig om daardie eensame hoeke van onafhanklike sukses te probeer verken.
So, op die mees ongerieflike oomblikke word jy soms in jou spore gestuit en uit jou eie gejaagdheid weggepluk. Instede van oplet en begin raaksien welke les ons moet leer of welke geskenk vir ons neergesit word, wil ñ mens dan murmureer soos die volk van ouds en aan klippe slaan om water daaruit te kry.
Wanneer ons die noordelike dele van die Krugerwildtuin besoek, ry ons nie sommer vanaf Hartbeespoort deur Nelspruit na een van die suidelike hekke soos Krugerhek of Phabeni nie, maar gewoonlik deur Dullstroom na Orpenhek toe.
Vanoggend besluit ons egter ons is lus om weer vir ñ verandering onder in te gaan en via Skukuza Satara toe te ry en moet ons derhalwe deur Nelspruit, wildtuin toe ry.
Ons H1 Hyundai-kombi het duskant Machadodorp begin rookwolke uitspu en krag verloor. By die Berg-en-Dal-gedenkteken glyplank die pad al af Laeveld toe en strek die lang afdraende ver onder toe. Ons kon gelukkig daar af sonder remme of krag. By die effense hoogtetjie was daar, op ñ baie besige N4, op daardie stadium wonderbaarlik geen verkeer nie en kon ons momentum ons daar oordra, net om weer verder in neutraal te dryf tot binne-in Milly’s se parkeerarea: veilig en gerieflik totdat Peter van Lowveld Towing ons daar kom kry ñ paar uur later.
Intussen het my ma se vlerke begin ritsel en bel sy ñ vriendin op Nelspruit wat sy vermoed ñ ekstra voertuig beskikbaar kan hê vir ons om te leen, sodra ons deur die tou-trok in Nelspruit afgelaai word. Tannie Adamanté Wiid se foon gaan egter dood na een lui en Avis, en so ook elke ander verhuringsagentskap in Nelspruit, het geen voertuie beskikbaar op hierdie Saterdagmiddag nie.
Terwyl Helgaard bekommerd op sy selfoon motorverhuringsagentskappe google, google ek akkommodasie in Nelspruit. Dit is duidelik dat ons nooit vannag Satara gaan haal nie. Ek bespreek ‘n gastehuis in Nelspruit. Satara word skielik weer slapies om af te tel.
Maar op die keper beskou is ons veilig, hulp is op pad en om die drie ure se wag vir die toutrok om te kry koop ek reuse houtlepels by die Zimbabwiese smouse en ‘n skinkbord in die geskenkwinkel.
Peter van Lowveld Towing daag op; hy bekyk die volgepakte kombi, die swaargelaaide Venter-sleepwa, die drie rumoerige kinders en hy knip nie ñ oog nie. Die kombi word op die platbakvragmotor gelig. Ekself, die 9-jarige Lamont en die 12-jarige Kiana klouter tot op die platbak van die vragmotor en dan binne-in die kajuit van die kombi in. Die Venter word aan die sleeptrok gehaak en Helgaard en 8-jarige Vian ry voor by Peter in die stuurkajuit.
Om in jou eie kombi te sit en te kyk hoe die wêreld agterstevoor by die wiele uitrol is nie ‘n slegte ervaring nie. Die hoëveld lê blond voor jou uitgestrek met Machadodorp se kerktoring wat soos ‘n groot kroon al verder en verder wegskuif en dan agter die rant verdwyn. Die Laeveld begin voor die venster verbyblaai, totdat die voorruit, waardeur ons agtertoe kyk, ‘n skildery word van kiepersol, aalwyn en klipkoppies.
Die gebeure jaag vir Lamont met sy lawa-haartjies en pruttende geaardheid skoon op ‘n knop en na ons ribbokke teen die soom van ‘n groen klofie gewaar begin hy op die spirituele steun: “Kan Mamma glo? Ek het vanoggend gebid dat ons kar breek en kyk nou net . . . ons sou nooit ooit daardie ribbokke van nou-nou gesien het as ons vorentoe gery het nie, nê Mamma?”
“Miskien het jy gebid dat ons vandag bewaar word, Liefie?” probeer ek die uitgelatenheid net weer in perspektief plaas. ‘n Mens karring nie met die geloof van ‘n kind nie.
“Maar kyk net! Al die kiepersolle! En aalwyne! Elke sentimeter is vol goed!” adem hy en daar is net nie tyd om werkwoorde in al sy sinne te sit nie.
Die kind se uitgelatenheid het geen keer nie en ek voel half skuldig dat ek op geen stadium kommer of drama in hierdie ietwat ongemaklike dilemma waarin ons onsself bevind, ervaar nie.
Kiana vang my oog en lag net vir haar opgewonde boetie en vra op haar rustige manier wat gaan volgende gebeur? Sy wou nie eers die visse in die dam by Milly’s voer nie, uit pure kommer oor haar ouers se dreigende armoede nadat Helgaard gesê het: “Hel, dis te duur! R14 om visse te voer?! Ons beter eerder daai R14 spaar om ñ nuwe kar mee te koop.”
Die arme kind sal die wêreld se kommer op haar skouers tel, as ons nie keer nie.
“Nannietjie, glò my as ek jou sê ons moet vandag net hier wees waar ons nou is. Soms beskerm die Here ons deur ons weg te hou van ñ sekere pad of plek en ons weet nie eers ons word beskerm nie.”
“Ek weet, Mamma. Dis net, ek wou sò graag saam met David en Simon in die wildtuin wees. Dalk maak ons dit nou glad nie,” sug sy effe moedverlore.
David, Simon en Clarabelle is my sussie en haar man wat in Kanada woon se drie kinders en die Jones’e wag al vir ons in die wildtuin saam met Ouma en Oupa.
“Ons sal dit maak wanneer ons moet. Kyk hoe mooi is die lemoenboorde!” wys ek haar, terwyl Joubert en Seuns se lemoenboorde deur die voorruit, van ons af wegskuif.
Al geselsende reverse ons drie in die kombi die Laeveld binne. Ons verkneukel ons in die karre wat gefrustreerd voor ons opdam totdat dit lyk asof Lowveld Towing die hele Gauteng se motors die Laeveld in tou; ‘n lang sleepsel metaal sonder magnete vol haastige mense wat tog vir ons terugwaai as hulle einde ten laaste verlig verby ons kan jaag.
Ons stop om 5nm voor die gastehuis in Ferreirastraat. Dit is nie Satara nie, maar dit is my grootworddorp díe. In elke donkerpers bougainvillea-blom, of flambojantpeul of rubberblaar waar ek verbytrap, grondlangs, tussen die kenmerkende grys rotse in die tuin, na die onbekende voordeur toe, trap ek oor die herinneringe van my kindwees in hierdie soel Laeveldskemer. Daar hang ñ parfuum in die lug wat net son en papierbasbome en kiaat kan meng.
Om ñ semi-komatiese Hyundai-kombi op ‘n draagbaarplatbak van binne te moet afpak, sonder om die agterluik te kan lig, neem meer vernuf as wat jy moontlik mag dink. Veral as jy onder andere ñ 60 liter Engel-kampvrieskas, vier kratte volgepak met broodplanke en bokspap en kameras en blikke sheba, vanuit die agterste ruim moet lig en bo-oor die ruglening van die sitplek moet sleep om vorentoe aan te gee en dan na onder, na die ou wat daar staan en wag.
My ma bel vanuit Satara. “Tannie Adamante het teruggebel. Oom Anton gaan sy Amarok vir julle leen.”
Ek en my sussie, Lize, en oom Anton se dogter, Aldorette, het stukke grootword saam kafgedraf. Oom Anton kom met Aldorette en die jongste boetie, Francois, by ons gastehuis aan. Francois het in die afgelope 30 jaar sy haasbekkie en blonde kuif vervang met ñ gesin en al die ander grootmensdinge en oom Anton Wiid se apteek is nou soos so baie ander plekke op Nelspruit, net nog ñ apteek met mense daarbinne wat ek nie meer sal ken nie.
“Ek is van facebook af,” sê Aldorette, “maar Francois begin vanmiddag praat dat sy dogtertjie gaan begin ballet en toe begin ek praat oor toe ek en jy en Lize ballet geneem het. Die drie feetjies. En toe gaan soek ek op facebook na jou en ek sien julle staan by Milly’s. As ons nie oor ballet begin praat het nie, sou ek nooit geweet het julle is in die moeilikheid nie!”
Ons staan in die tuin van die gastehuis en die geur van huis-toe-kom hang om my.
“En my ma sê toe, maar sy het ñ missed call van jou ma op haar foon gesien en sy is nou seker julle het hulp nodig,” eindig Aldorette in verwondering.
“En hier is ons,” sê Francois, “net bly ons kan help.”
Kort-kort klink oom Anton se gul lag op en hy stap saam met Helgaard weg om hom die Amarok te wys.
Ek kyk na die gesigte om my. Vriendskap weef ñ goue draad na volgende generasies, tot in die volgende geslag. Ek het dit al voorheen ervaar. Toe Lamont sy tand op Dullstroom uitpluk. Maar dit is ñ ander storie.
Later sit ek en Helgaard op die stoepie van die gastehuis, omring met die rotstuin vol varings. En terwyl ek vir hom ñ paar Ehmkestraat 85-staaltjies vertel, die Wiids se adres in ons grootwordjare, voel ek dit tussen lagbuie deur: die geborgenheid van ‘n tipe tuiskoms. Ons kamp nie vanaand langs Satara se draad nie, maar ons is presies waar ons moet wees.
– Junie 2017 –

2018-06-05T15:25:34+00:00Junie 5th, 2018|Afdraaipaaie|2 Kommentaar

2 Comments

  1. Elsabie Strydom 5 Junie 2018 at 4:09 nm - Antwoord

    Ai man….díe storie met n ietwat ander kinkel as ek reg onthou, het my nou weer in trane….maar hierdie keer is dit nie net trane van dankbaarheid vir sulke pelle en n mooi einde nie, maar oor ons nooit weer daai innemende laggie van Anton gaan hoor nie….n dierbare, onvervangbare vriend gewees! Dankie my kind …. mooi/goed geskryf!

    • Sureta 5 Junie 2018 at 5:17 nm - Antwoord

      Ek dink Ma dink aan die opvolgstorie. Ek werk nog daaraan.
      Dit is moeilik om te glo dat oom Anton net ñ jaar gelede vol lewenslus en lewenskrag was. Flippit.
      xxx

Lewer kommentaar

error: Content is protected !!