Mielielandjie met pampoenrank en boontjies.

  • Geskryf deur Sureta Strydom von Holtzhausen

Ek kon baie dinge gedoen het voordat ons die mieliepitte geplant het; selfs terwyl hulle geil en groen daar onder by die soetdoringboom hoër groei, kon ek meer probeer uitvind het. Oor die verbouing van mielies. Ek kon ge-Google het. Ek kon my vriendin, Anriette Prinsloo, geskakel het. Hardu en Anriette is groot mielieboere in die Delmas-distrik. Maar ek is Pa se kind: die instruksieboekie word eers gelees as die nuwe wat-ookal glad nie aan die gang kom of bymekaargesit kan word nie. Dit is nou te sê as die instrukies nie reeds weggegooi is saam met die verpakking en ander onnodighede wat bokse se volume opmaak nie. Oorhaastig. Maar meesal werk dinge uit.

Abel is een more in die laatwinter ñ pakkie mieliepitte van die plaaslike Pick n Pay in die hand gestop.

“Kry ñ kruiwa vol kompos agter die garage, Abel. Ons plant hulle sommer daar,” en ek wys na die tuin se hoek waar die son met ongenade neerbrand op die doodgerypte stuk kweek.

“Jy spit. Ek sal plant. Ons deel die oes.”

Abel het met ongewone ywer die klein akkertjie begin omspit en toe later die saailinge versorg.

Normaalweg het hy ñ lastige tydverdryf wat hy probeer beoefen terwyl die spitvurk versaak word of die tuinslangwater al ñ diep poel in die bedding begin opdam – hy lees toegewyd koerant; òf in die buite toilet, òf in die droë bergstroombedding tussen die kareebome wat buite die werf verbyloop.

Hy is heeltemal op hoogte van die gebeure van die dag, dog salig onbewus dat die boslelies staan en wurg in die onkruid of dat die pot-avokado’s en tamatieboomsteggie se blare hang.

Maar sedert ons ñ mielielandjie het, is hy tydig en ontydig daar doenig; die koerantlesery vergete.

“Abel, wat maak jy? Gaan jy vandag die randte klaar sny?”

“Nie vandag nie. Die mielies het bossies.”

Flippit. Die malvas ook!

“Wanneer dan?”

“Miskien Vrydag. Ek het die pampoen tussen die mielies geplant. Hy kom mooi.”

Nugter weet waar hy ñ pampoenpit vandaan kry, maar inderdaad rank die pampoen welig tussen die groen mielies deur.

Baie dae, as ek so na die lappie mielies kyk, maak dit dinge in my geheue los wat ñ droë, plat stuk tuin nooit sou kon doen nie.

Die temalied van Oklahoma draai byvoorbeeld deur my kop: “Oh, what a beautiful morning, oh, what a beautiful day! The corn is as high as an elephant’s eye….hm, na-na-na, hmmm…..,” so-iets.

Toe die stamme dikker word, die blare dig begin hekel aan die groen doilie daar in die hoek teen die draad en die pluime soggens soos pêrelboë wit in die sonlig glinster, neem ek ñ foto en stuur vir Anriette. “Sê vir Hardu hy moenie lag nie. Onthou, Bill Gates het in ñ garage begin. Kyk my mielieboerdery!”

Ek sit en wag vir die luide LOL of 🤣. Dit kom nie. Haar antwoord vang my onkant:

“Sjoe, Vlammie. Hulle is sò mooi. Jou spilpunte draai seker elke dag. Baie geluk!”

Dit is droog. Die wolke hòù hul water hierdie jaar. Die soveelste jaar. My oranje sproeiertjie is inderdaad elke dag in die lappie groente en opeens voel ek my mielieboerhartsvriendin se hunker na reën – vir Hardu se morge en morge mielies. Ek voel haar liefde en waardering vir dit wat die grond so mild kan gee. As die reën net wou kom. Ek lees haar erns raak as dit kom by boerderysake.

“Ek soek ñ foto van julle mielies ook,” vra ek haar.

“Eers as ek daar verbyry. Ek sal die spilpuntmielies vir jou kan afneem. Alles om die huis staan verdroog.”

Ek verstaan die dobbelspel van boerdery.

Pa wat sê, terwyl hy sy oë na die leë hemel skreef: “Dit moet nou kom reën. Die tabak moet water kry. Besproeiing is nie reën nie.”

Of met die oë wyd na die lug vol donker wolke: ”As ons vandàg hael kry…..die tabak is nog nie als in die skuur nie.”

My en Pa se helske baklei toe ek in standerd 6 vir hom skree: “Pa is ñ moordenaar!” terwyl hy met die haelgeweer mik na die swerms en swerms vinke wat sy koring-are leeg pik; Ma wat my perspektief probeer gee rondom die balans tussen voortbestaan en bewaring.

Mielies met geil pluime.

Ek bekyk my mielielandjie een middag van die stoep se kant af. Iets is anders. Ek stap af, sirkel die klein akker en kom af op die wit pluime wat grinterig op ñ hoop in die son lê en verlep.

“A-bel! A-bel!”

My stem wip soos ñ spoelklip oor die werf, maar sink bodem toe, toe ek besef hy is vandag by Pa in die tuin. Ek bel. Groet nie. ñ Mens groet mos die mens al terwyl jy die nommer skakel in jou hart: Hallo-pa-hoe-lyk-dinge-vandag-daar? En dan tel Pa op.

“Hallo?”

“Kan Pa glo Abel het gister al wat pluim is van my mielies afgesny? Die goed lê in ñ hoop agter die bedding.”

“Hel tog. Nou vir wat doen hy dit? Die stronke gaan mos nou nie pit maak nie?! Die pluim is die blom!”

“Ek weet nie – hy het dit uit sy eie loop doen. Ek gaan hom iets aandoen. Hy ken tog mielies!”

“Nee-wag, laat ek hoor.”

ñ Gedempte gesprek in die agtergrond volg. Abel gee nie bes nie.

“Vra vir Rosinah ôk! Sy plant baie mielies. Jy moet die kop afsny. Dan groei die mielies groot.”

Ons praat klaar en ek sit af kombuis toe.

“Rosinah, hoekom sny jy jou mielies se blom af? Jy kry minder koppe met pitte?!”

“Njee! Hy kom moi!” Rosinah gee ook nie bes nie.

En dit was dit. Die koppe was reeds aan die stamme – in blare toegevou soos groot, groen kokonne met blonde kuiwe. Ons sou moes wag en kyk.

Die einde van die jaar dinge het my lank weggehou by die landjie. Abel het daar aangegaan.

“Vat vir julle smiddae spinasie en boontjies, Abel. Die mielies wag jy mee. Ek wil saam oes.”

Ons is wildtuin toe. Die seisoen is hittegolf op hittegolf.

Uiteindelik kon ek gisteraand afstap na die mielielandjie in die tuin se hoek. Die droë blare ritsel in die lou bergbries. Bleek blare wat nou styf en hard teen mekaar perkussie.

Ek draai die eerste kop af. Ek vermoed ek het soos ñ slegte boer oestyd verpas. Terwyl my hande die blare wegdruk en ek die grootste koppe afdraai en hulle in my arms probeer saambondel, draal daar ñ nuwe reuk deur die parfuum van die vroe’aand. Die vol reuk van aarde en groen wat kneus. Lewe wat lewe gee. Die reuk van herinneringe aan ñ tabakplaas buite Barberton. Aan vroue wat met helder klere vooroor komma en ritmies pluk of skoffel, die reuk van grond wat omdolwe – oral om; werkers wat van die boonste pad teen die land af lyk soos helder krale wat op ñ groen doek uitgeval het. Pa wat sê hulle spuit vandag vir aalwurm, Ma wat perser as nagpers eiervrug uit ons groentetuin in haar hand ronddraai voordat sy dit vir moussaka begin opkerf, Lize, my sussie, wat kleidiertjies langs die dam sit en maak terwyl sy ñ deuntjie neurie – al hierdie dinge hang skielik hier om my waar ek my beteuterde mielies in die Magalies se ou tone staan en af-oes.

Die (effe beteuterde!) oes.

“Moes dalk vroeër gevra het: het ek te laat ge-oes, Annie?” slaan ek die WhatsApp-lyne Delmas toe.

“🤨 Mielies lyk goed….Is hulle nog sag?” stuur Anriette terug.

“Soos die beertjie se pap: iets tussen sag en kliphard.”

Ek staan in my kombuis en trek die blare weg van die goudgeel pitte; in verwondering oor een, enkele goudgeelpit sulke rye en rye en rye ander goudgeelpitte kan voortbring; ñ hele paar stronke per plant. Een pit. Hoe ñ klein sprankie lewe genoeg is om geilte en voorspoed te voorsien. Met son en reën en ñ hand.

Ek sal Vrydag vir Abel en Rosinah hulle deel laat oes, dink ek met die warm mielie vol botter tussen my vingerpunte. ñ Mielie wat dalk nie my boere-voorsate tot eer strek nie, maar nietemin myne is.

Die huis slaap al. Niemand kon meer wag vir die mielies om sagter te kook nie. Die nag kwaak en kriek om my. Maar daar is ñ samesyn wat ek met elke mondvol harderige, geel pitte soos vrede om die tafel kan proe.

Mielies in soutwater.