-Sureta Strydom von Holtzhausen-

Somtyds stap jy by ‘n oomblik in jou eie lewe in sonder dat jy ooit vooraf kon raai dat die ragfyne web van draadjies wat mense aan mekaar bind, jou juis daarheen geweef het. Draadjies wat jy eers raaksien as hulle almal kom vasknoop op ‘n plek wat jy nooit vooraf sou eien as ‘n oomblik waarin die hande van die verlede jou kom neersit nie.

Gereformeerde Kerk Pretoria, 10 Februarie 2019.

Gereformeerde Kerk Pretoria, 10 Februarie 2019

Sondag, 10 Februarie 2019, om 16:00. Gereformeerde Kerk Pretoria. Die facebookblad, My Dopperdagboek, het ‘n feesdiens gereël vir die 160’e bestaansjaar van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Een honderd en sestig jaar gemeet aan die wêreldgeskiedenis is ‘n baie kort tyd.

Die woord ‘kerk’ is in 2019 ‘n woord wat swaar dra aan bagasie. Dit is ‘n instansie wat kort-kort moet hergroepeer en herstel onder die voortdurende knetter van woordgeweervuur en die hensoppers van skriftuurlike waardes.

Konflik rondom die kerk as instansie, konflik in binne-geledere, kritiek teen kerkmense en kritiek rondom die persepsie dat die kerk apaties en liefdeloos staan, laat ‘n mens soms voos en vervreem voel van baie dinge. Die Gereformeerde Kerk is hoeka uit sulke konflik gebore – skriftuurlike korrektheid, gehoorsaamheid en die sing van psalms en skrifberymings, is die ouers wat hierdie kindjie moeisaam afgesonder en grootgemaak het. Soos met alle dinge wat nuut word uit ‘n tipe oorlog, is daar altyd ‘n gesukkel om die balans te kry tussen hòè ons behoort te glo en dit wat ons behoort te dòèn, in geloof.

Søren Kierkegaard het presies dieselfde ervaar ongeveer 165 jaar gelede, kort voor die stigting van die Gereformeerde Kerk hier ter plaatse. Kierkegaard was ‘n Deense filosoof en teoloog. Kierkegaard het iets verstaan van die krag wat in ‘n goeie storie lê. Hy vertel eendag die storie van die ganse wat getrou elke Sondag kerk toe waggel om die diens by te woon. Ganse in Denemarke het ook maar hulle probleme gehad; in daardie jare was ‘n blinkgebakte gàns die middelpunt van die kersfeestafels in daardie omtes en nie kalkoene of skaapboude, soos ons dit ken nie.

Hierdie ganse het ‘n lewe van oorvloed op die plase geleef. Hulle was grotendeels onverstoorbaar in hul vreedsame, gemaksugtige bestaan. Een maal per jaar egter, wanneer die swerms wildeganse migreer en in groot, vry driehoeke hoog teen die blou lug krassend oor die plaas verbyvlieg, het die mak ganse opgekyk en dan rusteloos geraak; effe weemoedig hul vlerke geroer, en dan stiller as gewoonlik aangegaan en gedoen wat ganse doen. Sondae waggel die spannetjie maar weer kerk toe en luister instemmend en kopknikkend na die inspirerende preek van die dominee-gans. Elke Sondag sou die dominee-gans vir hulle vertel dat hulle ‘n hoër doel het, dat hulle Skepper vir hulle vlerke gegee het om iets baie groter te bereik as om hierdie lewe te lei wat hul leef. Hulle sou dan instemmend en tevrede kwaak en blaas, en was elke Sondag baie bly as die dominee-gans vir hulle sê dat hulle met daardie vlerke ènige plek heen kan vlieg waarheen hulle wil. En dan, dan eindig die preek en waggel hulle terug huis toe. Waggel. Nie vlieg nie.

En so waggel hulle die volgende Sondag maar weer terug kerk toe, luister geïnspireerd na die diens en waggel weer terug huis toe. Hulle het blinkvet geword. Kom kerstyd is hulle geslag en opgeëet.

Ek kon nie help om aan hierdie storie van Kierkegaard te dink, terwyl ons van Hartbeespoort af Pretoria toe ry om die feesdiens by te woon nie. Doen ons ooit dinge reg? Hoekom loop sommige kerke leeg en bars ander uit hul nate? Waar onttrek ons ons aanvaarding van mense, en besluit ons om hulle te vervreem in die naam van gehoorsaamheid? Want mense maak denkfoute. Mense interpreteer dinge verkeerd. Niemand ken God se weë regtig nie. Niemand.

Kiana, Vian en Lamont binne in kerk

“Hoekom moet ons weer kerk toe gaan?” neul elfjarige Lamont vir die soveelste keer vanmiddag.

Ek sug. “Dis nie kerk per se nie, Lamonnas. Dis ‘n fees,” verduidelik ek weer. Ek kyk in die tru-spieëltjie na hom op die agtersitplek en frons.

“Hoekom het jy jou Tshokwane T-hemp aan, Lamont? Dis ‘n feesdiens en nou gaan jy vir altyd so lyk op die foto’s,” en ek gooi ‘n sywaartse blik in Helgaard se rigting wat ‘n oog oor die seuntjies se aantrekkery moes hou, want ek was laat.

“Die hemp is heel,” trek Helgaard verskonend skouers op.

“Maar dis in ‘n kerk, so dit ìs kerk en ons was mos vanoggend by nagmaal. Ek wil nie op naweke so besig wees nie!” laat hoor tienjarige Vian sy psalm van agter af.

“Ek het ‘n Franse taak, Mamma! En ek moet leer vir Dinsdag,” laat hoor dertienjarige Kiana, meer bekommerd as neulend. Sy het ‘n beter aanvoeling vir wanneer hulle ma ‘n streep gaan trek met die neulery en voeg vinnig by toe sy my frons in die spieëltjie gewaar, “maar ek sal darem Paul Kruger se huis wil sien en waar Ouma-hulle getroud is.” Paaiend.

“Wie’s Paul Kruger nou wee’?” neul Vian verder en rek die naam uit; meer in protes by die vooruitsig aan nòg ‘n geskiedkundige uitstappie, as wat hy werklik ‘n antwoord wil hê.

Ek begin hulle ignoreer en Helgaard neem oor terwyl ons die middestad binnery, “Jy weet baie goed, Vian,” bulder hy effe. “President van die ou Transvaal en die man wat die wildtuin begin het.”

“Ja, Vian, jissie….,” laat hoor Lamont verontwaardig. Enigiemand wat die wildtuin te na kom, hetsy in feit of in lojaliteit, is so goed soos ‘n ketter in ons kinders se oë.

“So, ek hèt die regte hemp aan,” beduie hy trots na sy Tshokwane-hemp.Tshokwane is die wildtuin se grootste piekniekplek.

“Don’t push it, Le’Mouth,” lag Kiana vir haar boetie.

“Paul Kruger was ook ‘n dopper,” speel ek die troef na agter. En toe is dit stil.

Ons ry verby die helde-akker vol omgevalle grafstene. Die gras staan welig en hoog en in die pallisade-heining van die begraafplaas is tekens van mense wat met geweld daar wou in, en dit toe blykbaar reggekry het.

Kerk van buite

Ons draai links in Kerkstraat wat nou nie meer Kerkstraat is nie. WF Nkomostraat pols ‘n ritme uit ongekend aan die Sondaemiddae van my kinderdae. Dit is ‘n soel somermiddag met ‘n lug vol belowende wolke in strate sonder gewydheid. Die taxi-toeters skel, oral dryf buitelanders handel en die wanorde van Afrika dwarrel in ‘n tipe veelkleurige troosteloosheid verby oom Paul se huis reg oorkant die Gereformeerde Kerk. Die nederige ampswoning van die oud-President van Transvaal klou moegerig vas aan ‘n vergange waardigheid.

‘n Oom in sy kerkpak en das staan oorkant oom Paul se huis, voor ‘n hek langs die kerkgronde en beduie ons moet daar inry vir parkering. Ons parkeer veilig agter die pallisadeheining en stap deur die aangrensende hekkie die kerktuine binne; die bekendheid van orde, van vars gesnyde grasperke, welige rose en dahlias wat rooi gedy, gooi my sonder waarskuwing by ‘n Septembermiddag in. Die middag toe Ma hier gestaan het. Op hierdie plek. Met alles in haar hart wat ‘n bruid in haar hart dra. Skielik word die swart-en-wit kiekie van Ma en Pa se troudag vir my ‘n regte dag. Ek sien amper hoe haak sy haar sleep van die helder dahlias af los, hoe die briesie haar sluier teen haar wang roer, hoe Pa rustig binne wag in sy pak, met al die dinge in sy hart wat ‘n bruidegom op so ‘n dag hoop en glo oor die toekoms.

Ek sien die beeld so helder voor my geestesoog dat dit opeens voel asof ek hìèr begin het; die eerste draadjie van my menswees in die skadu van hierdie swierige gebou geweef is. Dit wat God saamgevoeg het, het MY laat begin.

Die gebou lei my oog al met die elegante toring langs tot bo waar die middag ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê, teen die wolk bokant die kerk vasteken. Ouma San het altyd so gesing – dis die haan wat op die kerktoring staan. Ouma San Wandrag, Pa se ma, was vir jare die orrelis in die Margate-gemeente. Ouma wat Saterdae-middae eers saam met ons in die see-swembad kon gaan swem het, nadat haar voete die Sondagpsalms uit haar swierige klavier se lyf getrap het, al dansende heen-en-weer op die koperpedale, haar hande hier by my verwonderde ogies op die ivoorklawers, besig om die Here te loof.

Volle toring

Ons stap by ‘n sydeur in. Jou mense sit daar in die houtbanke; elk met hul eie sonde, hul eie stuk hartseer, hul eie mooi manier om te verstil in die gewydheid van die uur. Doppers. Ons. Minderheid. Mense wat glo wat hul glo omdat dit belangrik is om God te dien soos ons glo Hy gedien wil word. Mense met foute. Silwerkop-ooms wat elke nou-en-dan die warm boordjie met das regskuif.

Ek hoor sommer vir Ouma Tienie; Ma se ma: “Toerie, trek reg jou das,” en dan sou sy Oupa se driehoekie wat bokant sy sak uitsteek en van dieselfde bruin sy as die das gemaak is, regskuif. Oupa sou sy tong klik en in sy Oos-Kaapse, vertransvaalde Engels sê, “Ag, my Pet. I don’t know why you people wear a tie to church!”

“’n Man moet netjies lyk,” het Ouma net gesê en dan met beide haar hande oor sy skouers gevryf, ‘n donsietjie versigtig met haar geverfde naels afgehaal, swart oniksring wat blink in die streep son wat by hul kamer inval en met haar Pink Spice-lippe dit weggeblaas. Sy sou dan met beide haar hande weerskante van sy forse arms afgly en met die omdraai sê, “Ek het klaar die rys uitgesoek. Na kerk moet jy net vir my die boontjies kerf. Gaan trek solank die kar vir ons uit. Ek haal net gou die curler uit my hare.”

Oupa sou knik terwyl hy weer rem aan die boordjie; ‘n engelsman vanuit die Church of England wat vir Ouma, vir Tienie van Niekerk alleen, ‘n dopper geword het. Ouma sou dan die kruller uit haar hare gaan haal, ‘n laaste keer tease en dan haar Franse reukwater, Canoe van Dana, agter haar ore spuit. Soms L’aimant van Coty. Sy sou dan haar psalmboekie in een hand dra, handsak oor die skouer en op haar lakleer polvye by die huis uitstap.

Julle skuif naby aan die koor by ‘n oop bank in. Dit is ‘n kerk wat stelselmatig begin vol tap met die stemme van jou stamboom, gevul met mense wat dieselfde verlede vandag kom eer het.

Ds Hannes Noëth

Die feesspreker is ds Hannes Noëth. Steeds verder terug lei sy woorde ons deur ons eie gisters. Gereformeerde predikante wat in Die Almanak van die GKSA, ‘n jaarlikse publikasie met dagstukkies en ander inligting, die gees van hul tyd probeer vasskryf het.

Algaande word ek bewus van hoe maklik dit is om terug te kyk en die mense van ons verlede te kritiseer, indien jy ‘n geskiedenisboek gemaksugtig en liefdeloos oopslaan. Om soos ‘n blinkvet plaasgans selfgenoegsaam rond te waggel en nooit jou vlerke te gebruik nie. Dit is maklik om met ‘n oop geskiedenisboek vir iemand wat dit moes leef voor te skryf.

Die Almanak van 1888 betreur die droogte wat nie skiet wil gee nie en hoe swaar gemeentelede kry. In 1889 word die Runderpes genoem. Gedurende die Anglo Boereoorlog verskyn Die Almanak nie – ‘n verskroeide stilte – en in 1904 word daar oor die bannelinge geskryf wat hul weg terugvind huis toe vanuit plekke met name wat ongevraag deel geword het van ons volksmond – St Helena en Ceylon en ander.

Jy sit daar en jy dink na oor 160 jaar. Dit is ‘n amper onwaarneembare klompie jare op die tydlyne van die wêreld. Jesus was nooit ‘n dopper nie. En tog is daar Gereformeerdes wat glo hulle alleen het die sleutel tot God se koninkryk. Mense ervaar ons as afgesonder en uitsluitend. Ons word minder. 160 jaar is ‘n brose druppel in die diep kom van tyd. Miskien moet ons soms erken dat die geroep van die migrerende ganse ‘n tipe ongemak in ons laat roer. Daar is iets meer buite die veilige begrensing van die pallisadeheinings.

Kierkegaard is ook bekend daarvoor dat hy die ‘leap of faith’, die geloofsprong, bepeins het. Liefde en geloof is twee dinge waarop ons besluit, sonder dat die besluit om te glo of om iemand lief te kry, enigsins op konkrete bewyse baseer is. Geen konkrete bewyse bestaan tog dat ‘n sekere persoon ons liefde waardig is nie, so-ook bestaan daar geen konkrete bewys dat God waar is nie. Geloof eis dat ons desondanks die gebrek aan konkrete bewys, ons onsself toewy aan God, en liefde eis dat ons onsself desondanks, toewy aan ons liefdesmaat. En dan bepraat Kierkegaard ‘n waarheid wat baie gelowiges van wegskram – geloof, glo hy, bring onmiddellik ‘n twyfel met hom saam. Juis omdat jy nie jou rasionele brein kon oortuig van die meriete van jou toewyding nie. Om te glo, is om te twyfel. Om die wildeganse te ignoreer, is om te hunker en nie aan God se volle potensiaal vir jou gehoor te gee nie. Om aan die bestaan te glo van die stoel waarop jy sit, neem geen geloof nie, maar om aan iets te glo sonder sien, is om ‘n sprong te neem en die stem van twyfel vir altyd te hoor – en dan tog voort te glo.

Jy luister hoe ds Noëth vertel hoe ds Gert Kruger in 1949 in Die Almanak skryf dat weinig mense die lewe van ‘n predikant bedink; soos ‘n tipe uitroep na iemand om hom te verstaan. Dalk het ds Kruger op daardie dag in 1949 gevoel soos die Dana Snyman-karakter, ds Tienie Benadè. Want hier in 2019 het predikante van oraloor salf gevind in die gelyknamige fliek wat Sallas de Jager van die eenmanvertoning gemaak het. Is dit wat gebeur as wildeganse kom land? Plaasganse begin hul vlerke roer en onthou hoe om te vlieg.

Die taxi’s toet sonder ophou buite in WF Nkomostraat. Sjinese en Zimbabwiërs smous hul ware – ongeag die dag – en tog stap daar geen Sjinees of Zimbabwiër of Somaliër vanmiddag hier in nie, al glo hulle dalk, desondanks hul twyfel. Nie een van hulle kom sit vanmiddag saam met ons hier in die glim van ou hout en Godswoord nie. Dit is asof niks in ons handel en wandel hulle kan help onthou hoe om te vlieg nie. Waar eindig kultuur en begin geloof?

Prof Herman Guillomee skryf hoe die Gereformeerdes se bydrae in die geskiedenis ver bo hul getalle is, vertel ds Noëth verder. Prof Guillomee is nie ‘n dopper nie. Hy is ook ‘n instrument wat by die stemme van die verlede antwoorde soek; ‘n wildegans wat weet hoe om te vlieg.

Ons almal is eintlik net ‘n rat in God se ingewikkelde masjien. Soms waggel ons selfgenoegsaam rond soos ‘n plaasgans wat vergeet het om te vlieg en soms is ons die wildegans wat hoog vlieg en roer die vlerke van ‘n mak gans wat na ons opstaar. Ons Doppers het besluit om God op hierdie manier te dien, want dit is ons manier van voortvlieg – ons manier om deel te wees van een van Sy linies in hierdie titaniese stryd tussen Lig en Donker.

Ds Dirk Postma het op die vooraand van die stigting van die Gereformeerde Kerk geskryf oor God se buitengewone bystand. Hoe hy dit ervaar. Ds Postma was N.G. tot en met 9 Februarie 1859. Op 10 Februarie 1859, na ‘n slapelose nag, stig hy die Gereformeerde Kerk onder ‘n seringboom in Rustenburg op ‘n reënerige dag. Vlieg is nie vir almal dieselfde nie. Buitengewone bystand kom vir elkeen in ‘n ander stel vlerke.

“Uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan, waar hoop se laaste spore, in wanhoop my vergaan; uit diep van donker nagte, roep ek, o Here, hoor, en laat my jammerklagte tog opklim in u oor,” meng die beierklanke van die orrel met die sonstrepe wat deur loodglasvensters val; met die toeters en met die verkeergedruis en meng dit alles met ons stemme hier binne, sodat Psalm 130 rys en uitswel en in die straat afdryf sodat al die vreemde tonge op die sypaadjie my gunsteling psalm aanhoor, en dalk selfs begin saamneurie.

“Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. En wat getrou bly tot in ewigheid.”

Ds Anton Dednam

Ds Anton Dednam van die Gereformeerde Kerk Bergsig, lees en preek uit Jesaja 42 en 43. Draadjies wat immer weef. Oupa. Na Ouma Tienie se dood. Oor en oor. “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” Oupa is hemel toe met Jesaja 43.

“Lees weer hierdie stuk, Oupa-se-Kind. Dis vir my so mooi. Nee-nee, nie daardie nie. Jesaja. Daar waar die boekmerk is.”

So sal dit wees soos dit onder die seringboom in Rustenburg 160 jaar gelede gelees is vanuit Psalm 45: ”In die plek van die vaders sal die seuns wees.” In die plek van Ted en Tienie Nell en San Wandrag is Elsabie en Thys Strydom, en in die plek van hulle, Sureta en Helgaard von Holtzhausen en in die plek van ons, sal dit Lamont en Vian en Kiana wees. In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.

Die orrel dra ons saam met die groetseën by die deure uit; mense wat nie normaalweg ‘n gemeente is nie, maar wel gemeensaam in die ooreenkoms oor hoe wildeganse hoog kan vlieg. Mense wat ‘n geloofsprong geneem het en desondanks glo. Die twyfel weggepak in toewyding aan God en staatmaak op die buitengewone bystand van ons Vader. “Moenie bang wees nie.”

Kiana en Lamont

In groepies begin mense mekaar ontmoet; facebookvriende wat voor jou oë werklike vriende word. Ek probeer die blomme mistrap en druk my rug teen die pallisadeheining sodat ek die kerktoring in my foto kan inpas. Ek hoor die stem nie dadelik bo die gedruis van die straat nie. Ek sien net die beweging vanuit die hoek van my oog en skrik my boeglam vir hierdie mens op die sypaadjie wat amper teen my staan met net die weerlose gleuwe van die pallisade tussen ons.

“Sorry. No,” en met ‘n skud van my skouers fokus ek weer op die foto en probeer haar smekende blik miskyk.

“Magtig, staan nou in ‘n ry, julle,” raas ek sommer met die kinders omdat ek nog nie klaar geskrik het nie en ek die stroom mense eerder wil volg wat agter om die kerk beweeg na die saal met broodjies en tee, as om hier alleen met die kinders aan die straatkant te wees.

“Asseblief, Mammietjie,” praat sy in suiwer Afrikaans aan die anderkant van die heining, haar hande nou om die pallisades geklem. Oom Paul en tannie Gezina se voorstoep is ‘n stil getuie oorkant die straat. “Ek wil nie pla nie, maar ek is regtig honger. Die man is weg en daar is nie werk nie. Asseblief.”

Ek kyk vir haar. Ek kýk. Hierdie mens met die rooi kopdoek. Die res van haar is verpak in helderkleurige lappe. En sy praat my taal bykans sonder aksent.

Ek hoor ‘n wildegans iewers kras. Ek onthou ds Tienie wat aan die einde van die fliek sy kerk se deure oopgooi. Ek hoor die wroeging van gereformeerdes oor hoekom ons getalle krimp. Ek hoor Psalm 118 se note wat ook nou-nou nog hier in die straat afgedryf het: Gods’ goedheid ken geen grens of tyd. Die behoefte om die hek oop te gooi en die hongeres en hongeriges in te nooi na die saal met die oorvloed vingerhappies oorweldig my bykans. Al kom hulle eers net vir die tee en broodjies. . . Die geslote hekke laat my opeens vals voel. Soos ‘n blinkvet plaasgans. Ek grawe desperaat in my beursie rond en haal dan ‘n R50-noot uit.

“Askies,” en ek beduie na agter die kerk met my kop. Askies oor ek jou nie innooi nie. Almal hier sal jou welkom heet. Daaroor twyfel ek nie. Maar daar is onsigbare mure tussen mense en ons begin nou eers leer hoe om deur te tas na mekaar. Ons begin, maar vorder stadig! Sy neem egter die geld bykans jubelend en sê: “Die Here sal jou en jou kinders seën, Mammietjie.”

Gemeentelede en Vian in die tuin

Om te glo is om te twyfel. Ek loop agterom die kerk, verby die geil vyebome en tuine en dit is asof ek kan hoor hoe knetter my gebrekkige naasteliefde op die brandstapels van selfgenoegsaamheid en geestelike hoogmoed. Ons moet leer hoe om die hekke in liefde en met verantwoordelikheid oop te gooi. Iets in my wil die buitengewone bystand van God ervaar deur die liefde van Jesus te verstaan en te kan doen. Maar ek gooi niks oop nie. Ek stap om die hoek waar die kerksaal is, die kinders geselsend agterna noudat die “langste diens ooit” verby is.

Ons bevind ons opeens in die vertroostende kring van die gemeenskap van die gelowiges: teelepels rinkel teen koppies en pasteitjies word gehap verby die woorde van kennismaking of blye weersiens.

“Mamma, ons gaan koek haal,” en Lamont en Vian wip uitgelate by die saal in, met Kiana meer besadig agterna. Helgaard staan reeds en gesels met iemand, bordjie en koppie wat in sy een hand balanseer sodat hy met die ander hand die vurkie kan hanteer.

Al praat ek self nie, is die luister en die bekyk van nuwe ontmoetings ‘n tipe gerusstelling: Wie is jy? Vanwaar? Ek kan nie glo jy ken ook vir sus en so nie! Die kerkgebou word bykans liefderik afgeneem. Mense plaas mekaar in rytjies voor die magrietjie-en-dahliabeddings en verewig die oomblikke op foto’s. Foto’s wat dalk oor nog 160 jaar die enigste getuie tot hierdie kerk sal wees, of dalk deel van ‘n immergroeiende gedenkalbum. Hoe sal ons weet? God se kerk op aarde was en is en sal nooit net uit Gereformeerdes bestaan nie. Maar Sy kerk op aarde sal voortbestaan – dit is soos dit sal wees.

Gemeentelede en oom Paul se huis

Die middag word deurskynende lig en in stilte ry ons deur die raserige straat terug huis toe; ‘n straat van wapperende koerante vol ou nuus, smouse wat gelate en tydsaam hul ware in groot blou-en-rooi dra-sakke wegpak, net om môre en elke ander dag dit weer uit te pak hier in die skadu’ van die Gereformeerde Kerk; strate vol hongeriges wat op die ritme van die taxi-toeters en die haastige verkeer probeer vol kom en oorleef op die skuldoffers van waggelende mak ganse.

“Dit was goed,” laat hoor Kiana stil.

“Ja,” beaam Lamont, “maar ons was nie in oom Paul se huis nie.”

“Maar ons was darem waar Ouma en Oupa getroud is,” troos Vian sy effe teleurgestelde boetie.

In die plek van die vaders sal die seuns wees.

Genade en vrede vir julle. Mag die gawes wat ons Hemelse Vader aan ons toevertrou het, ons leer hoe om die hekke oop te gooi, sodat ons in vry driehoeke teen die blou kan migreer na bestemmings mooier as wat ons dit ooit kon indink. Soms is al wat nodig is ‘n wildegans wat kom land en jou laat onthou hoe werk jou vlerke.