-Sureta Strydom von Holtzhausen-

Eenvoud praat altyd direk met die hart. Remhoogte.

Elke tweede Woensdagmiddag het ds Izak Bekker die belydenis- en voorbelydenisklassie voor die Gereformeerde Kerk, Die Moot, in Schoemansville met sy kombi kom oplaai en bulderend en plesierig oor die damwal gejaag na die Remhoogte dienspunt waar ons en Remhoogte se jongklomp, dan vir twee ure lank deeglik onderrig is in die wel en weë van die dopperkerk, die kerkgeskiedenis en ook die leer en geskiedenis van baie ander kerkgroepe: kennis is ‘n fondament en as die fondament deur ds Izak gelê is, wankel jy nie sommer weg van Gereformeerd-wees nie.
Elke ander Woensdag moes die klompie van Remhoogte saam met ons in die konsistorie van die Schoemansville dienspunt die twee ure deurtrap; nie twee gemeentes nie, bloot twee dienspunte.
Jy onthou daardie warm middae. Sy stem wat die feite soos ‘n masjiengeweer uitgooi en jy wat jou hand lam skryf om by te bly met die notas. Die duiwe buite in die doringbome, onthou jy en hoe hy homself soms onderbreek het en sê: “Nou, Suster, wat sê daardie duif? Hy sê Makoe, sit ‘n bietjie soontoe, ma-koe, sit ‘n bietjie soontoe,” wag hy nie vir ‘n antwoord nie. Dalk het hy gesê “Maku, bekhu se-tutu,” ek kan nie sy presiese woorde meer onthou nie.
Vandag nog koer ‘n duif my by daardie warm voorkamer van een van die gemeentelede se plaashuise naby die Remhoogte-kerkie in en onthou ek vir ds Izak, my heel eerste geestelike leier: ernstig oor die Gereformeerde leer en uitbundig oor die lewe. ‘n Man met twee doktorsgrade, een in Hebreeus en een in Afrikaanse poësie. ‘n Man wat waaragtig vir twee jaar lank een honderd persent aan sy katkisante se kennis wy, terwyl hy elke nou en dan ‘n gedig aanhaal as een van ons fokus verloor: “Wat is jy vandag so leep-oog, Joey’tjie? Jong, lekker laat gekuier gisteraand? En vandag is dit my voete loop na Wellington, maar ek gaan Boland toe?” en dan klim die lag eers hier in ‘n kopknik deur sy nek, plooi sy oë en dan bulder dit by sy mond uit. Hy was lief vir sy jongelinge en hy het in ons belê – ‘n belegging wat ek vandag eers eien en steeds die geestelike rente daarvan benut.
As jy afdwaal nadat jy by ds Izak belydenis afgelê het, het jy wragtig op jou ore gesit, of daar is ‘n spesiale Jobsplan met jou.
Nietemin, sodra die Hartbeespoortdam se damwalpad jou by Schoemansville uitkronkel, en jy draai links by die groot vierrigtingstop anderkant Ta’Malie se winkel, loop die pad oor Kommandonek, verby Kosmos, verby Green Leaves waar ek en Helgaard getroud is, verby Leopard Lodge waar ons altyd saam met Ma en Pa buffet gaan eet as die Kanadesies kom kuier, verby die prentjiemooi landery met die laning bome, verby van Gaalen se kaasplaas, al met die panorama van die oudste berg op aarde langs tot binne-in Skeerpoort. Elke dan en wan kan jy die wit aasvoëlmis teen die kranse sien afblerts en die berg sleep jou oë oor die landskap totdat hy boggelrug, kilometers vorentoe, oor die aarde se boog wegkrink.
In die wye draai van die teerpad by Skeerpoort, swenk die Remhoogte grondpad regs uit.

Die landskap op pad kerk toe teen die ewige skildery van die Magaliesberg.

Landerye, ‘n pekanneutboord, nog boomlanings, troppe perde, blokkies omgeploegde grond wat vrugbaar onder die son klont, die kranse ‘n lang skildery op die horison en dan opeens ‘n slap afdraende en die kerkie op links.
In die dae toe daar nog ‘n diens by beide dienspunte was, het eers dr Bekker en daarna ons huidige predikant, ds Christo van Vuuren om 8:00vm by Remhoogte gepreek, terug oor die damwal vol toeriste gejaag om net-net betyds te kan wees vir die 9:30vm diens op Schoemansville.
Ek was in die Remhoogte – kerkie met die laaste nagmaal daar. Die laaste diens. Ds Christo het die diens gelei en ek onthou die effense hartseer, die nostalge. Ek onthou hoe die heel laaste tafel nagmaalgangers die hele van der Walt-familie was, onbepland; ‘n vreemde einde. Iets met betekenis wat my steeds ontwyk.
Die boere in daardie omgewing is bykans almal weg en die dienspunt was nie meer volhoubaar nie. ‘n Kerk wat toemaak, om welke rede ookal, voel soos ‘n duiwelsklap teen jou hart se wang. Jy sit daar in die stilte van die platteland, jy kyk deur die boogvensters wat wyd oopgegooi is na die helder oggend in die landerye daar buite en die gees van die ou doppers, die ou makmakers van ons land kom hang op ‘n manier oor jou.
Ds Bekker het vir Kiana, ons eersteling, en haar nefie, David Jones van Kanada, in hierdie kerkie gedoop. Ons ander twee kinders is op Schoemansville deur ds Christo gedoop. Ons het baiemale nagmaal op Remhoogte kom gebruik omdat dit die vroeër diens was en ons daarna nog Pilanesberg toe kon ry vir ‘n dag in die wildtuin. Ons was baie daar ook sommer net oor dit wat Remhoogte is en vir ons beteken het. Oor daar iets meer van God se Stem in stilte gehoor kan word.

Gereformeerde Kerk Hartbeespoort (vroeer jare, Die Moot) – Remhoogte-dienspunt.

Op ‘n stadium was daar planne om dit maar in ‘n trou venue te omskep. Die ou houtbanke is geskuif tot teen die mure, sodat daar ‘n middelpaadjie kan wees vir ‘n bruid om wasig in af te sweef, die vloere is geskaaf en weer blink vernis, elke boogvenster is versag met wit lap en rosies. Maar niemand wat ons ken moet nog getroud kom nie en die dae wat ons die Remhoogte-kerkie besoek het, het al hoe verder op die kalender weggeskuif. Herinneringe word naderhand geskiedenis en die geskiedenis versamel stof as jy dit nie gereeld herdenk nie.
En toe hoor ons: die Briels hou Sondag, 23 September 2018, ‘n familiesaamtrek in die Remhoogtr kerk – gemeentelede is welkom om die diens by te woon. Die diens word gelei deur ds Hennie Briel van die gemeente Boshoff-Petrusburg. Die Briels het jare gelede ‘n stuk van hul plaas aan die kerk geskenk om die Remhoogte-kerkie op te bou. Die familiebegraafplaas is daar naby, maar is nou op annermansgrond en om toegang te verkry is ‘n onvriendelike, moeilike storie, vertel Adrien Briel vir my en Helgaard.
Ons loop oor die nuwe Geloof-Hoop-en-Liefde stoepie deur die nuwe deure. Die sagte glim van hout en die rus van jare se Godswoorde kom lê soos troos om my. Dis tog al wat God vir ons hier onder op aarde gelos het: Sy Woord. Sy woorde en sinne. Ons moet dit net aanhou lees en aanhou hoor totdat iets vir ons begin sin maak en totdat ons deurdrenk is daarvan en ons Sy ouerliefde vir ons begin glo en verstaan.

Die stoepie en nuwe ingang is nie deel van die oorspronklike kerk nie en is aangebou met die oog op die trou-venue. Die oorspronklike gebou het net ingange aan beide flanke van die gebou gehad.

Kareekoelte voor die kerk.

Die Briel-familie lyk soos enige ander Afrikaanse familie: daar is die oues van dae met ooms in grys pakke en tannies in geblomde lap, daar is die persoonlikhede met helder hare of Hawaii-hemde, daar is jonges en besiges en soetes en stoutes en gawes en kwaaies en dan is daar drie dopperpredikante onder hulle, aldus Hennie Briel, waarvan sy kleinneef, die ander Hennie Briel, vanoggend se diens lei. Daar is mense van allerlei beroep en werk en van verskillende plekke in ons land, saamgebind deur die Briel-voorvaders, ook makmakers. Mense wat op Sondae kom doen wat generasies voor hulle gedoen het; elkeen met sy eie kruis; sy eie stuk lewe wat hul saamdra.
Kyk, die woord dopper begin seker nie om dowe neute met dieselfde letter as die woord dwars of dwarstrek nie. Op menige kersoggend het ek al effe tandeknersend in die bank gesit en wonder of dit regtig die predikant sou doodmaak om net die doodgewone kersverhaal uit Lukas voor te lees, en vir die gemeente ‘n kersagtige psalm te laat sing. Daar word soms so oortreffend geskop teen die sleur van die wêreld of die verset teen konformeer, dat ek soms wonder of daar nie ‘n sterk streep asprisgeit is in die nie-lees van die kersverhaal op 25 Desember nie. Hoe dit ookal sy, ek voel onmiddellik geamuseerd toe ds Hennie Briel uit 1 Konings begin voorlees en hoe koning Salomo die bou van die tempel aangepak het.
Hier sit ‘n familie voor ds Briel, sy eie mense. Sommige van hulle, asook hyself, het van heinde en verre gery tot hier, en hy lees oor ‘n bouperseel. Ek wonder of baie van die Briels dalk in die boubedryf kan wees? Ek sukkel om te antisipeer waarmee hy enigsins moontlik met hierdie stuk kan gaan en dit relevant kan maak op hierdie fees? Kon hy nou wragtig nie maar net tematies gepreek het en iewers iets oor die mooi van familiebande gaan lees het nie, sit ek en wonder. Die verlore seun, dalk, Noag en sy mense in die Ark; ‘n hele paar families kom in my gedagte op, terwyl ds Briel voortlees oor hoe Salomo sy dwangarbeiders daar in die Lebanongebergte laat klip en hout kap het vir God se tempel. Hoe elke stuk klip en rots en houtbalk op die Lebanonberg perfek reg gebeitel en gekap is in opdrag van Salomo. Hoe die slawedrywers en opsigters seker geskree en lawaai het, bome gekap en gefel is, rots gebeitel, die amper 70 000 werkers bevele uitgeskree het en gewerk het dat die sweet so staan.

Maar op die perseel waar die tempel gebou word, is daar geen, maar geen beitel of hamer of saag se geluid toegelaat nie. Die tempel is in amper gewyde stilte gebou met die materiale wat tot op die millimeter reggebeitel is, doer in die raserige berg, en dan afvervoer is na die bouperseel waar daar stilte geheers het, gedemptheid, gewydheid.

Ds. Hennie Briel, gemeente Boshoff, lewer ‘n uitmuntende preek.

Ek sit en dink aan die halsstarrigheid van ons doppers en hoe ek tog baie trots is dat ons probeer, waaragtig probeer, om kinders te wees wat in gehoorsaamheid glo en steeds in hierdie wêreld te moet leef. ĺn die wêreld, nie vàn die wêreld nie. Maar dan pluk ds Briel die spreekwoordelike mat onder my uit en sluk ek elke liewe kritiese ding wat ek oor ons doppers sit en dink het: “So maak die Here ook met ons,” vertel hy. “Hy stel mense oor ons aan, hy dwing ons soms om goed te doen wat ons nie wil doen nie, hy kap en beitel ons daar in die Lebanonberg en dis soms baie seer. Hy gaan nie ophou kap totdat ons op die millimeter inpas in die plek wat Hy vir ons in gedagte het nie.”
“Daar is nou al Briels waaraan Hy klaar gekap het,” sê hy sag, “Briels wat hy klaar gebeitel het, en hulle is nie meer by ons nie, maar hulle bly al lankal by ons hemelse Vader, presies op die plek waar Hy hulle wil gebruik.”
Ons, hier, is nog in die Lebanonberg. Hy kap nog, Hy beitel, Hy gebruik ander mense om ons te vorm totdat ons presies inpas in Sy tempel, daar waar Hy ons wil hê. Ds Hennie se preek gee sin, dit gee krag, dit gee redes vir aardse swaarkry en wat ‘n diepe troos die gawe van geloof is.

Die Briels sing ‘n lofpsalm.

Ons stap uit terwyl oupa Chrisjan se kinders aangesê is om gou voor in die kerk ‘n familievergadering te hou en die res solank moet aanbeweeg begraafplaas toe. Families. Ons almal behoort aan ‘n familie. Ons gaan kerk toe, want kerk is ‘n opdrag van God. Eenvoudig. Ons probeer gehoorsaam wees aan ons Maker; al faal ons so vreeslik gereeld. Ons probeer. Terwyl ons almal, die gehoorsames èn die ongehoorsames, nog in die raserige Lebanonberg bly, waar ons aan mekaar kap en beitel.
Met die terugry lê die dag deinserig om ons. Die

Hennie Briel (staande) en ds Briel op die preekstoel.

Magaliesberg loop hierdie slag stil en reguit in die rigting van Pretoria – die oudste berg op aarde ken al die geraas hier tussen sy tone; die seer, die rou, die verlies, die vrees, die gille; maar ook nuwe seisoene en Sondae vol samesyn en die menslike vreugde van behoort. Aan die einde; die heel einde in die stilte na die gekap en gesaag en gebeitel, wag daar ‘n helder oggend op ‘n Plek waar liefde ongekend ons deel sal wees; ‘n bietjie soos die liefde van familie op ‘n lente-oggend in ‘n kerk vol genade.
23 September 2018