-Sureta Strydom von Holtzhausen-

Ek was aan die einde van my standerd 7-jaar toe Ma en Pa van Nelspruit af Hartbeespoort toe moes trek. Std 7 het intussen graad 9 geword; Lize, my sussie, sou std 6 – oftewel graad 8 – in die nuwe hoërskool begin. Dit was 1986. Die droogte het die Laeveld se geil tussen die warm bladsye van daardie jaar se hitte gepars totdat die koppe plat en vaal en oper gelê het; die wildtuin, waarvandaan ons nou ver weg moes trek, was ‘n makabere skildery vol doringboomskelette en verbleikte beendere.

Die nuwe huis se uitsig oor die simpel plas water, het aan die oorkant àl met die bankeveldrûens langs, Johannesburg se kant toe gekartel, en het agter die huis by die Magaliesbergkranse begin. Simpel berg wat soos ‘n skeefgerysde kolwyntjie oor Schoemansville hang; simpel dam met ‘n eiland vol verbleikte tente en damvissermanne met alg-strepe onder die knie in die plaaslike drankwinkel. Simpel blerrie plek met net ‘n Milky Lane en die Slangpark duskant die damwal; Ta’Malie se Winkel aan die oorkant van die wal.

Ons het as gebore en getoë Nelspruiters bitter moeilik verplant.

Maar, soos die lewe loop, het dit kom reën. Ek het die kleur van die lig begin eien as die seisoene draai, begin weet die jasmyne bloei eerste na die winter en as die lente goed op dreef is, sal sering se geur deur die skemer draal en staan die berg se wildepeerbome in blom, soos bruide teen die trappe van ‘n bruin katedraal. Ek het begin raaksien hoe koper-en-fluweel die kranse en son met mekaar kan dans in die vroe’môre, hoe ons reën oor die dam aankom en sodra die wolke te swart hang, vir die knalgeluid te wag wanneer die Schoeman-oom aan die oorkant van die dam, vandag Pecanwood, die wolke weg van sy koolkoppe skiet met sy gas-kanon.

Die Italianers van langsaan het kom kennis maak en tannie Renè het gesê ek en Lize kan enige tyd op hul baan tennis speel. Wanneer oom Rosano Gulmini vroegaand die hekkie in die draad tussen die twee huise oopdruk, kon hy en Pa tot ounag op ons stoep praat.
Ons het Schoemansville se mense ete vir ete en braai vir braai leer ken: die nuwe tannies en ooms van my hoërskooljare. Mense waarsonder my lewe vandag ondenkbaar anders sou wees: dierbare Oom Nic en tannie Babsie Ligthelm; Mimi von Dürckheim – die boerebarones met haar Duitse gesin; tannie Marena Geldenhuys, ‘n oud-onderwyskollega van Ma, en haar man, oom Eugene. Daar was oom Willie en tannie Naomi Steenkamp skuins oorkant ons op die hoek van Scott-en Harringtonstrate, met wie Ma en Pa sedert universiteitsdae vriende was; die huis reg onderkant oom Rosano-hulle, aan die polisiestasie se sykant, se mense het maar gekom en gegaan. Oom Christo en tannie Elsabè Roos het oorkant die laerskool gebly, soos dit die skoolhoof in daardie jare betaam het. Daar was tannie Rita Koen wat my blommetjieskitaarsak gemaak het, wat ek nou nog het. Ds Izak en tannie Gretha Bekker het op Karelstraat se einde gaan bly, nadat hulle uit die pastorie langs die Gereformeerde Kerk getrek het. Die pastorie is vandag die dorpskliniek met mense wat hulself daagliks in ‘n lang tou rangskik oorkant die laerskool se rugbyveld; ‘n desperate tou behoeftig aan orde. Somernagte sou die wind in die moot afblaas en die stemme van die dralende deurnagsang vanuit die polisieselle aan oom Rosano-hulle se anderkant ietwat verdof. Oktobermaande begin Ma vir die Piet-my-Vrou wag om te skree. Ma sweer tot vandag toe as die Piet-my-Vrou in die berg skree, kom dit reën. Dit is so. Jy hoor hom eintlik nooit. Maar as hy vroegdag al begin roep en die hitte teen die middag al die blou uit die lug geskrop het, sal die wolke anderkant die dam teen laatmiddag in grys skakerings begin stapel en die reën sal in vet, harde druppels oor die dam begin aangalop.
Min of meer in die middel van die dorp was die Rheeders-Sentrum waar oom Peet Rheeders se apteek ook was. Die poskantoor was en is steeds langs die kafee. Potjiekos wat net op Sondae wel, potjiekos bedien het, was agter die poskantoor. Ek sou sê dit was Schoemansville se sentrale sakesentrum.
In die blok net langsaan was die videowinkel om die hoek van die Schoemansville Slaghuis wat reg oorkant die Griek se kafee en die drankwinkel was. Ons het eerder George se Portugese kafee langs die poskantoor verkies.
In Ifafi was daar ‘n SPAR, ‘n groter drankwinkel en die Dreiers Hardeware-winkel, vir die dinge wat George se kafee nie aangehou het nie.
Die biblioteek, Leon die spietkop en al die kerke was in Maraisstraat gerangskik van bo na onder aan die linkerkant van die pad af en die laerskool aan die regterkant van die pad. Vandag begin Maraisstraat met Schoemansville se WIMPY. In 1986 was die WIMPY maar net ‘n gewone blyhuis met kinders wat skoolgaan en mense wat tuinmaak en ‘n pa wat dalk by Medunsa doseer het, soos my Pa, of wat by Pelindaba uraan verryk het en gewerk het aan allerhande geheime dinge wat in 1994 stil-stil deur ‘n shredder aan flarde geruk is.
Ons het jaar na jaar ons wortels in die Magalies se klipperige grond begin anker totdat ons darem soos gelukkige Laevelders tevrede in Schoemansville kon bly. Tot een oggend in 2001. Ek het op daardie stadium in Engeland gewoon, maar was met vakansie tuis. ‘n Man het op die digbegroeide oop erf onderkant ons huis rondgestap. Die leë erf onder ons huis was vir alle praktiese doeleindes deel van ons landskap; ons s’n – wit stinkhoute, karee, sering, voëls, nag-apies, eekhorings en ‘n onbelemmerde uitsig dam se kant toe. Oom Rosano en Pa het onmiddellik ‘n noodvergadering belê en die ys om-en-om in hul bekommerde whisky- en brandewynglase gedraai; tot ounag gewonder hoeveel verdiepings gaan opgaan, hoe dit hulle uitsig gaan beïnvloed en hulleself sit en verwyt oor hulle nie al lankal saam die oop erf gekoop het om sulke tipe onwelkome ontwikkeling te vermy, soos wat hulle lankal al dreig om te doen nie. Pa het besluit die koeël is deur die kerk en dit help nou nie om in vyandskap met ‘n nuwe buurman te leef nie. Pa en Ma se uitkyk op die lewe is dat ‘n vreemdeling net ‘n vriend is wat jy nog nie ontmoet het nie, en toe daar weer een more twee of drie manne met opmeetinstrumente op die oop erf rondstap en fondasies in oordrewe treë begin afmeet, eers in tannie Naomi-hulle se ou huis se rigting, daarna boontoe na ons toe en later na oom Rosano se kant toe, loop Pa af om te gaan kennis maak.
“Wie’s dit?” wou Ma bekommerd weet. Wanneer jy jaar na jaar met ‘n sekere uitsig saamleef, word Uitsig veel meer as ‘n tipe status; Uitsig word die reëndag toe Oupa Toerie dood is of die snikhete een toe julle die foto’s op die balkon neem nadat jy belydenis van geloof afgelê het. Uitsig word soms een van die heel belangrikste rekwisiete in die storie van jou bestaan.
“Sakkie Goss. Hy gaan ‘n meenthuiskompleks hier oprig.”
“’n Kòmpleks?!”
“Ja, hulle besit die Pick-a-Pancake oorkant die damwal. Ook die huis met die coffee shop in op die hoek van Marais- en Scottstraat. Maar ‘n maatskappy met die naam Pleasure Foods het hom nou ‘n aanbod gemaak: daar kom ‘n WIMPY op daardie hoek.”
“Maar ‘n Wimpy gaan die hele dorp belemmer! Dis so . . . rooi! ‘n Kòmpleks?!” Ons het net nie geweet wat om te maak met al hierdie lewensveranderende nuus nie. Èk het nie geweet nie . . .
“Dit is darem nie ‘n kliniek soos ons gedink het nie. En dit gaan net twee verdiepings wees. Dit kon erger wees!”
My lewensfilosofie is NIE dat alle vreemdelinge vriende is wat jy nog moet ontmoet nie.
“Goss? Is hy ‘n Jood, Pa? Het hulle kinders? Het Pa gekyk dat hy alle munisipale regulasies navolg? En die bouplanne? Is dit goedgekeur?”
“Hy is Afrikaans. Jy was nou lank weg, maar hy en Elize, sy vrou, is ook doppers. Ek dink hulle kinders is al groot. Hulle bly net hier bo langs ds Izak-hulle.”

Oom Sakkie en Tannie Elize Goss

Oom Sakkie en Tannie Elize Goss (Foto: Facebook)

“Moet die mensdom alewig die natuur uitwis? Hier is hope beskikbare huise om in te gaan bly. Kan ons as menslike ras nie net besluit dat alle groen areas nou groen bly nie? Die munisipaliteit sal deesdae ook ALLES goedkeur. Verdomp!” Skop teen prikkels.
My bors het maar swaar geklop die dag toe die ontbossing begin. Bergkarees, knoetserig en oud, het met oopgespalkte wortels onwaardig en verslaan omgelê. Soos rowe het die oop kolle grond nou in die blote son gebrand. Die reuse seringe met die lente in hul blare se geamputeerde takke is weggevoer.
Die vier meenthuise, een in elke hoek van die perseel, het meedoënloos verrys en namate die mure hoër rys, het die vuur in my geblus. Ons sou steeds bo-oor die dakke van die kompleks kon sien. Gemaklik. Oom Sakkie en Ferdi Viljoen, die bouer, het alles deeglik, volgens die boek en so groen as moontlik gedoen: daar was solarpanele (in ‘n tyd toe die gebruik daarvan meesal ongekend was), die buitemure is met ‘n dubbellaag bakstene ‘n ent uitmekaar gebou vir isolasie, daar is ‘n spelonk van ‘n gat naby die onderste hoek gegrawe met ‘n reusagtige ondergrondse tenk vir die opvang van reënwater, die inheemse bome wat kon bly staan, is so ver moontlik behou, en elke liewe sering is uitgekap.
Ma het hulle die aand oorgenooi om hulle as ons bure te verwelkom. Ons het op die skemer stoep gesit en ek het nog nie daardie aand geweet hoe lief ek hulle sou kry nie. Tannie Elize was sag en elegant en sy het haar heuninghare in haar kenmerkende bob-haarstyl gedra. Oom Sakkie was presies en direk met ‘n baie besliste idee oor die wêreld: hy draf elke oggend, hy drink een koppie koffie per dag, hy eet mieliepap elke weeksoggend wat hy vir homself in die mikrogolf maak en Sondae voor kerk eet hy post toasties: “Dis my treat vir die week. Lekker!”
Soms, as hy weg is Dreiers toe, het tannie Elize gou vir haar ‘n tweede koppie koffie geskink. Hy is intens en korrek en gaaf. Hy het later jare vir hulle ‘n huis in die Xanadu Eko-landgoed naby Jasmyn gebou wat heeltemal onafhanklik van munisipale dienste kon funksioneer – batterye, solarpanele, en ‘n hysbak vir die dag as hy en tannie Elize nie meer kan trappe klim nie. Die hysbak het genadiglik ‘n tipe interkom na die landgoed se hoofhek gehad wat baie handig te pas gekom het die dag toe beurtkrag hulle tussen die twee vloere betrap en hulle vassit. ‘n Hele kerkdiens lank.
Oom Rosano sou nooit al hierdie dinge weet van oom Sakkie nie. Hy het in Desember van 2001, kort nadat oom Sakkie LINDAU begin bou het, sy helikopter na die agterkant van sy BMW-onderdelefabriek in Brits probeer skuif toe ‘n haelstorm dreig. Die lemme het kragdrade getref, die tuig het gekantel en oom Rosano het uitgeval. Hy is ‘n week of twee daarna oorlede. Dit is opmerklik hoe dinge lank onveranderd in jou lewe kan voortgaan, en opeens kom dolwe die hemelploegskaar die grond in jou lande om – klam kluite na bo.
Ek en oom Sakkie deel een groot liefde en een groot verskil: ons albei weet jy koop net EEN tipe kondensmelk as jy die blik wil uitsuig, en dit is Nestlè s’n. Die lewe is te kort om te mors op die verkeerde kondensmelk. En ons een verskil blyk bome te wees, uitheemse bome. Maar selfs in daardie verskil verstaan ons mekaar se sieninge. Dit is mos maar verskille wat die sout-en-peper aan gesprekke verleen. Om mooi te verskil van mekaar, beteken jy dien die ander se intellek deur tyd aan mekaar se diepste dinkdinge te spandeer. Jy bepraat hom want die ander mens maak saak. Sodra die respek ontbreek, onttrek jy mos maar en stem jy net klakkeloos saam; dit verg minder energie. Met oom Sakkie het ons mooi geluister as die ander praat.
Uitheemse bome is gulsige drinkers van ons kosbare grondwater; die verstaan ek. Ek verstaan ook sommiges verdring ons eie inheemse spesies. Maar Pretoria sal doodeenvoudig nie meer ‘n gedig of liedjie die moeite werd wees sonder haar Oktoberbloeisels wat soos lang repe purperkant langs die strate af hekel nie; sonder Tukkie-studente wat met eindeksamentyd jakarandatakke skud sodat hulle die vak kan deurkom omdat daar ‘n blommetjie op hul kop geval het nie. Seringbome bring lente, hulle geel bessie-bondeltjies lok voëlpartytjies in hul takke en helaas, die dopperkerk is in Rustenburg in 1859 onder ‘n seringboom gestig. Hoe inheems moet uitheems nòg word, voordat ons maar die dorstige gas in ons tuin koester?
Ek en Helgaard is getroud terwyl Pa en Ma in Engeland gaan bly het vir ‘n klomp jare. Ons bly toe in hulle huis. Kom ek een middag om ons huis se hoek; patroleer oom Sakkie, Jerry-kannetjie vol diesel in die een hand, die erf, op soek na afgesaagde seringboompies wat dreig om weer uit te loop.
“Hallo oom! Wat maak, oom?”
“Jou pa het my gevra om te sorg dat hierdie seringe wat hy laat uithaal het, goed dood is. Ek kom gou diesel oor die stamme gooi. Jy weet. . . die diesel laat hulle vrek. Hulle het niks nodig om te versprei nie. Dis maar ‘n vieslike boom.” Behulpsaam. Innemend.
“Ek en Helgaard hou van hulle, Oom. Dis oukei,” dan het hy maar gelag, en het ons oor ander goed begin gesels. Soos oor sy tuinhulp wat hy vir die soveelste keer agter die bos aan die slaap kry. Hom einde ten laaste laat gaan het.
“Kom hy wragtig nou die dag hier aan en vra of ek hom sal help invul aan Departement Arbeid se vorms. Hy wil ‘n klag teen my lê by die CCMA, maar hy kan nie skryf nie.” Oom Sakkie het so ‘n stil manier van uitbundig lag. As Pa met sy kettingsaag en oom Sakkie met sy dieselkannetjie op die werf tussen die uitheemse bome doenig was, kon ek en Ma iets oorkom. ‘n Boom is koelte en koelte is die tuiste van baie diere.
Met ons eersteling, Kiana, se geboorte het twee dinge my getref: die eerste was hoe lìèf jy ‘n ander mens kan hê. Dit het my totaal onkant betrap. Die liefde vir jou kind is die naaste aan onvoorwaardelik wat jy ooit op aarde sal ervaar; en die tweede ding was die feit dat grootmaak nooit ophou nie. Dit is ‘n tipe loopbaan sonder af tye, met geen betaling nie. Ek het niemand by Kiana vertrou behalwe my eie ouers en vir Helgaard nie. Tannie Elize was die heel eerste mens wat nie familie was nie, wat haar eendag opgepas het toe ek dringend kliënte moes gaan sien. Ek het gespanne en gejaagd by die babakamer ingestorm toe ek langer opgehou is as beplan en daar was hulle: tannie Elize met Kiana op haar heup, terwyl Kiana haar handjie probeer uitsteek na die lapdiertjies wat bokant haar bababedjie gehang het. Sag het tannie Elize met haar gepraat. Die pad na ‘n ma se hart loop deur die harte van haar kinders. Ek het vir tannie Elize net daar liefgekry.

Tannie Elize en Oom Sakkie by my en Helgaard se troue in 2004 te Greenleaves, Hartbeespoort.

Deur die jare heen was hulle maar altyd daar: oom Sakkie en tannie Elize. Oom Sakkie alewig doenig met ‘n ding; met ‘n bouery, met ‘n plan om Madibeng en Eskom te fnuik, by die kerk doenig om vir die Herfsmark hamburgerpatti’s te braai, Xanadu toe te trek, te draf, ses dae van die week sy mikrogolfmieliepap te eet en op die sewende dag ’n bord graanvlokkies.
Dit was 2014 toe hulle Amerika toe trek. Agter die kinders aan. Texas. Texas is vir my ‘n plek waar J.R. Ewing mense se lewens reël en waar die predikante lees oor thee en thou. G’n ingeburgerde Protestant verstaan ‘n woord daarvan nie! Texas is in my kop nie ‘n plek waar mense ‘n Herfsmark hou met lewerkoekies en vetkoek en ‘n slaghuis vol skaapboude en tjops en osstert nie, of mekaar se seringe met diesel verdrink sodat die planeet dieper kan asemhaal nie. Texas is vreemd.
Met my hele hart gun ek vir die mense wat ek liefhet ‘n veilige land, maar met elke selfsugtige vesel pes ek dit dat daar so baie van my mense al ver sit. Op plekke waar die son verkeerdom val en die sterre vreemd rangskik rondom die maan; waar siklone en orkane en die water uit wasbakke anti-kloksgewys draai en nie kloksgewys soos hier nie; plekke waar die berge pieke het en nie ‘n sagte ou boggel wat in die Bosveld af glyplank soos by ons nie.
Oom Sakkie het ek selfs liewer gekry toe hy my stories op Tweespoor begin lees. Steeds elke slag laat weet hy of tannie Elize die een of ander van hoe hulle dit ervaar. En elke slag dink ek hoe kragtig stories is; hoe dit stukke van mense se siele oopskryf waarvan jy onbewus was. Hoe dit my telkens verras dat hierdie besigheidsman, hierdie ‘nuwe’ buurman van ons, se siel aanklank vind by dit wat ek skryf. Dit is elke slag vir my heerlik om sy brief uit Texas te ontvang, nadat hulle my storie gelees het.
Nou die dag laat weet tannie Elize vir Ma: “Hy het behandeling gestaak. Dit maak hom te siek.”
Die tannie wat my eerste baba die heel eerste keer so sag opgepas het; wat my geleer het om vir die bakslag mayonnaisse op pasteideeg te smeer en nie rou eier nie; wat my vertel het Volksrust se boere is so welgesteld omdat baie van hulle hensoppers en joiners in die oorlog was, en hul plase toe nie afgebrand is deur die Kakies nie; sy wat wintertye lankmoedig eers mid-oggend kon gaan warm bad as die solarpanele genoeg krag kon opwek om die geyser warm te maak; sy sit nou gans te ver weg van ons almal af.
Die oom wat lief is vir my stories op Tweespoor, wat met ‘n dieselkannetjie die planeet red, wat weet Nestlè is die beste kondensmelk en dit mààk saak, is tans in te veel pyn en gans te ver van die plek waar die aarde vir hulle buig soos ‘n ou vriend en die son in bekende skadu’s deur die tuin val.
Dit is vandag Sondag. As julle nog naby was sou Oom vanoggend dalk die blesbokke by Xanadu se voëlskuiling vanaf julle balkon kon sien. Die fisante sou vir goggatjies skrop onder die kareebome by julle braaiplek. Oom sou oudergewoonte post toasties eet voor kerk en dan sou julle ‘n paar banke voor die orrel gaan sit het en na ds Christo luister. Julle sou die majestueuse jakaranda op die hoek van Harrington- en Scottstrate sien blom hierdie jaar. Julle sou self kon sien hoe die voetpaaie en tweespoorpaaie tot bo teen die kranse loop; dit is droog, maar die berg wag lydsaam op reën. Die dam skitter elke dag in die hitte asof daar niks verkeerd is nie. Vanaand is donkermaan en die Suiderkruis sal helder bokant die regte horison vir julle hang. En more-oggend, met die begin van nog ‘n nuwe week, sou daar in die geel dubbelverdiepinghuis naby die Xanadu-hoofhek die geur van mieliepap hang. Dalk, net dalk sou die wolke laatmiddag oorkant die dam begin stapel en kon dit lank en indringend in Hartbeespoort kom reën.

In Texas woon daar twee uitheemse mense, wat koelte gee aan baie dinge.

Oom Sakkie en Tannie Elize. (Foto: Facebook)