Vir my was daar eers die Apokalips waaroor ek nog sal skryf, toe die Voorbereidingsdag en dan vandag: DAG 1.
Gister was Voorbereiding. Ons het eers die wildtuinkratte uitgepak, Jasmyn toe gery vir vrugte en groente waar mense met sakkies en sakkies uie, artappel en botterskorsies op trollies kar toe sukkel, apteek toe om vir Abel se tand-abses penisilien en 10 volumes peroksied te kry voordat hy en Rosina in Mojakaneng die tyd gaan uitsit en toe Dreiers Hardeware toe vir saadbakke, potgrond en saad. Oor 85 dae kan ons al blomkool eet en oor 65 dae spinasie, sê die pakkie. ñ Harde bui reën het buite uitgesak en toe verbygetrek. Alles was helder en blou en geil.
Oral was die toue. Stil mense wat probeer voorberei vir iets wat ons nie vooruit kan weet of begryp hoe nie. Die drankwinkel en apteek was mal. Malariatablette wat hidroksie-chloroquin bevat en blykbaar sal help vir die virus is nou die nuwe item om aan te skaf naas die toiletpapier, sanitizer en masker-en-handskoen-fase wat blyk verby te wees.
Dit raak duidelik dat pizza baie se keuse van ñ laaste maal sou wees: om 11vm staan die toue by Roman’s uit. Die gevriesde pizza-basisse is uitverkoop. By KFC en O’Galito’s-hoender is die toue net so verbete.
Ma bel my vir nog piesangs en Coke Lite want Pa het reeds van die ekstra tros begin eet en die lockdown het nog nie eens begin nie. Ons ry na die Spar oorkant die damwal vir nog langlewe melk, brood, die piesangs en ander dinge. Oral maal mense. By elke ingang hou ieder en elk hul hande uit om ontsmet te word. Kassiere in maskers werk onverpoos. Die werker voor my koop melk, ñ Nosh-sjokoladestafie, twee botteltjies ontsmetmiddel en ñ Monster energiedrankie. ñ Vrou in die parkeerterrein se BMW lê reeds op sy as toe sy nòg bier in die oorvol kattebak inpas.
Ons het teruggery oor die damwal. Drie sluise was oop. Die lug vol helder wolke het in die dam teruggekaats.
Besighede wat om 3:10nm op ñ Donderdagmiddag oop behoort te wees is nou net donker name met slotte aan die deur.
ñ Nuwe bedelaar en sy seun het by die hoërskoolrobot staan en bedel. Die kind koes maer en skaam agter sy blonde kuif weg sodra ñ kar hulle nader. Die wilde-dagga blom net so mals-oranje oral langs die pad soos dwarsdeur Mpumalanga tot in die wildtuin.
Ons het onthou Helgaard moet sigarette kry en ons ry vir sigarette en sjokolade vir die kinders na die naaste garage. Ons trek kontant vir às …… ons maak die kar vol vir às……..Ons tel ñ vrou se verlore beursie in die pad op en besorg dit aan haar terug net toe sy die Pakistani agter die toonbank probeer betaal vir haar twee blokke Rama, drie wit brode en ñ 5 liter-water.
Ma en Pa kom vir oulaas by ons op die plot braai. Ons almal en Annelize, ons buurvrou van oorkant die fontein, staan in die skemer op die koel grasperk en lag vir die dinge van ons nuwe lewe: ons lag vir die Corona-grappies, vir die dinge wat ons opgegaar het, ons bekommer saam oor die nuwe bedelaar met die te maer seunskind by hom, ons wonder of die weermag ons gaan arresteer as ons by mekaar wil gaan kuier, ons is dankbaar ons kan op die plot hardloop, stap, tuinmaak en buite leef. Ons praat en lag oor al hierdie dinge. En vergeet amper om vir Ma en Pa betyds te laat huis toe gaan. Soos Aspoestertjie wat voor die muurhorlosie twaalf slaan moes ophou dans met die prins.
Teen 00:00 begin ek benoud voel. Dis middernag. Ons woon nou amptelik in ñ grendelstaat.
“Ons moes ñ huis langs die see gehuur het,” praat ek die donker in, “dan kon ons nou vir drie weke iewers op ñ stoep vir die see kon kyk. En vis vang vir kos.”
“Slaap nou. Nie een van ons hou van visvang nie,” praat Helgaard terug uit die donker, “Kry jou kop reg. Ons het baie online-werk om klaar te kry in hierdie tyd.”
Teen 4:00vm word ek rusteloos wakker met ñ hoofpyn en lyfseer en wange wat effe gloei. Ons is 4 ure in lockdown in en ek voel vasgekeer. Ons moes in die wildtuin ñ afdraaipaadjie geneem het, verdwyn het en vir drie weke van die veld gelewe het, soos ek voorgestel het. Maar nee, toe ry Helgaard mos ewe gehoorsaam by die hekke uit, lê ek wilde dinge en dink.
Teen 4:10vm het ek myself diagnoseer. Ek is amper doodseker ek het die virus. Dit moes daai Spar aan die oorkant van die damwal wees met die malende mense!
Ek gaan lê in die spaarkamer tot sonsopkoms en Google intussen die simptome. Ek drink twee Disprins. Ek het darem nog nie die droë hoesie nie.
Teen 6:10 kom soek Helgaard my in die spaarkamer en ek lig hom in van my diagnose.
“Belowe jy sal met die kinders emigreer as ek doodgaan? Julle sukkel nie alleen hier aan nie. As jy dink ek is ñ moeilike vrou, dan wil jy nie weet watse moeilike spook ek gaan wees nie!”
“Waar is die koorspen?” lag hy maar net.
“Ek dink dis ipekonders. Of ñ tipe akute hartseer. Die wêreld verander.”
“Ek bring koffie.”
Ons gaan dinge verloor. Ons gaan weet wie gee vir ons om. Ons gaan uitvind wat bly oor nadat ons gestroop is van als wat onnodig is. My mond voel nou ook warm.
Helgaard bring koffie en warm suurlemoenwater.
“Dis net oor jy nie ñ horison oor ñ enjinkap sal kan sien vir drie weke nie. Jy sal nou-nou beter voel.”
Ons moet die perfekte dae probeer lei, beplan ek met die kinders. Al vier pilare: oefen, huisgodsdiens, iets pragtigs vir die siel en werk tot jy moeg is.
“Ek ry gou apteek toe vir ñ koorspen,” laat Helgaard hoor nadat ek gaan bad het en hom vra of hy dink my nek voel warm agter.
Kiana het die hemelruim met ñ volmaan en die melkweg op ñ T-hemp begin verf, Lamont en Vian verower wêrelde in Fortnite en ek het deur die tuin begin loop.
Die swart dahlia-steggie het gevat. Die rooi rose het ñ swam- die goed moet vrek as hulle wil vrek, die malvas en laventel en engelvlerkies blom helder, die irisse maak knoppe en die salies blom pers en rooi en pienk.
“Vra vir Siri! Wag, ek sal! Siri, does 36.4 constitute a fever?” vra ek die virtuele orakel met die nuwe pandabeer-koorspen onder die arm.

Dag 1. Ek het nie meer die Corona-virus nie. Ek moes sin maak van dinge.
Ek en Helgaard het solank die spinasie, blomkool en broccoli in potte geplant na middagete. Sodra ek begin rou, het ek ñ behoefte na iets wat gedy. Dit was nuut om dit by Helgaard ook waar te neem.
Ek gaan kontak maak met vriende. Ek gaan musiek luister en lees en voorberei en hierdie ding dokumenteer. En ek gaan jùlle dokumenterings lees. Saam-saam gaan ons hierdie geskiedenis skryf. Ons gaan ons gawes deel met die mense in ons lewens en vir mekaar geskenke gee wat jy nie kan toedraai nie. Want alles en almal is effe broser in hierdie tyd, en dalk ñ bietjie bang of in ontkenning of benoud oor inkomste of wat ookal.
Op dag 1 het die son gesak. Miskien slaap ek vanaand deur. Ek dink ek is nou oukei. Ek bekommer my nou oor almal wat in my hart bly.
Struktureer jou dag, eet gesond en tap jou gees vol. Hierdie wipplank gaan nog ons gal werk. Liefde. Vir ieder en elk wat hier lees. Baie liefde. Ons gesels more weer.