Vandag het my knaend laat dink aan iets wat ñ ou my eendag gevra het: Meiringspoort se koraalkranse het skildery gemaak om ons groepie studente in die BMW op pad Victoriabaai toe. Ek en twee van my beste pêlle, Theresa Horn en Elize Godley, het op die agterste sitplek saamgery. Die twee ouens voor in die BMW was ook Tukkie-studente, maar wildvreemd vir ons. Lang storie. Annerdag dalk.
“Ons ken mekaar nie eens nie,” het die een ou gesê, “vertel vir ons iets van julleself.”
“Soos wat?” het ek gevra.
“”Ek weet nie! Hou jy van beet en wortels?”
Ek worstel die afgelope 25 jaar al met ñ antwoord op daardie vraag. Elke keer as ek òf beet, òf wortels eet wonder ek vlietend: eet ek beet en wortels omdat ek regtig egtig daarvan hou? Of eet ek dit omdat dit goed is vir my? Daar is ñ verskil. En wat sê dit oor my selfkennis dat ek nie regtig weet of ek outentiek van beet of wortels hou nie, al eet ek dit?
Daar het vandag dinge in mense begin verander. Mense het begin agterkom of hulle van beet of wortels hou.
Die grappies stroom steeds in, maar nou is elke derde WhatsApp òf ñ gebed, òf ñ ernstige gesprek oor Covid-19. Mense het ook virtuele geskenke vir mekaar begin stuur. Asof die e-tydskrifte, byvoorbeeld, moet sê: ‘Toemaar, toemaar, toe…. onthou om te bel as jy swaartrek. Ek sal aan die anderkant van die lyn wees en my mond wat met jou praat is verbind aan my hart wat vir jou omgee.’ So-iets.
Daar is ñ ballerina in Engeland wat vandag ñ gratis YouTube-kanaal begin het. Sy begin Dinsdag met virtuele balletklasse vir ma’s met dogtertjies, ouer vroue en ook klasse vir senior dames. Sy deel haar gawe liefderyk met ñ wyd-ogig-geskrikte wêreld.
My Australië-vriendin stuur die Italiaanse operakoor aan wat Verdi se Nabucco sing. Elke koorlid sing alleen en in isolasie, maar tegnologie maak dit vir al die enkel stemme moontlik om ñ koor te word en ñ uitvoering te lewer wat my hart swaar laat dra aan die emosie van mensheid.
Baie instansies bied gratis wolkskole aan vir kinders, gratis audio-boeke, gratis uitvoerings. Geskenke. So baie geskenke was vandag ons deel.
Vriende begin bel om te sê hoe dit gaan. Verhoudings wat verwaarloos het, se roes word afgepoets, want dit maak saak. My nefie het Oupa geword en hy vertel en vertel. Ons praat en lag. Ons was dan gister nog kinders op Oupa Ted se gras en het saam raas gekry oor ons nie ons voete afvee voordat ons in Ouma Tienie se skoon huis inkom nie.
My niggie stuur ñ wondermooie brief aan van ñ Italiaanse skrywer wat ons probeer voorberei op wat op ons wag in hierdie dae van afsondering. Draaiboeke en tekste word oor hierdie tyd geskryf asof mense deur nuutgeskape oë die wêreld bekyk.
My ander vriendin se kanker het in Oktober teruggekom, maar sy is oukei, verseker sy my. Haar nie-oukei-geit lê in alles wat sy my nie vertel nie.
My vriendin op Delmas deel haar plaatkoekie-foto’s met my. Sy bak eintlik min.
My vriend in Roodepoort het uitgewerk 45 minute se draf om die huis is ongeveer 10 km. Sy vrou, natuurlik ook my vriendin, laat hom begaan, terwyl sy haar geskeide kliënte se lewens vir hulle probeer uitsorteer.
En twee van my hartsmense wat beide dokters is? Hulle het albei gehuil. Hulle weet. Hulle weet al geruime tyd dat dit hel-flippin-belangrik is om in hierdie tyd op te hou beet en blerrie wortels te eet as jy nie flippin baie daarvan hou nie! Want tyd is ñ ding wat klaar raak.
Kondenseer uit die tyd net die dinge wat vir jou brood-en-water-kosbaar is. Maar hê genade. Hou maar daardie vriend of vriendin wat vir jou net die broodkrummels van tyd uitgooi- hy of sy het jou dalk nodiger as wat jy ooit sou kon weet.
Dit is asof mense hul plek begin verstaan. Hule deel hul gawes wyd en liefderyk. Hulle hê mekaar lief en sê dit. Hulle lag. Hulle bid.
Net na 6:00 vanoggend vlieg ek uit die bed en begin dadelik ñ klomp dinge ignoreer. Ek het die hoop groente en vrugte wat Ouma se Frigidaire van hoek tot kant vol lê, nie vandag blansjeer en verwerk om te vries nie. Ek maak die hoofpyn af as sinus of cabin fever, maar drink toe tog later maar weer ñ Disprin. Ek het nie meer lyfseer nie, ek hoes nie, maar my kop is vandag swaar. Hy wil nie regtig gelig bly nie, maar ek hou hom hoog en begin die hele oond vol oven cleaner spuit. In die kas waar ek die oven cleaner soek, kom ek ook af op die antique wax. Die lang tafel moet behandel word. Ek sit solank die was en lappe op die tafel neer.
Die simpel pandabeerkoorspen sê weer ek het nie koors nie. My mond en laerug voel steeds warm. My wange gloei. My hart klop te vinnig. Alles dinge wat sinus of ipekonders kan wees.
Ek maak vir my en Helgaard koffie. Ek wil vir hom ñ rooi roos buite gaan pluk en in die kristalpotjie op die skinkbord sit. Ek het ñ dors na mooi dinge. Hy kom vaak-vaak by die kombuis ingestrompel. Ek sit maar weer die skêr neer en ons gaan drink koffie op die stoep. Ons praat oor die herfs wat hier is. Oor Skeba wat nou oud word. Ons praat sommer oor bekende dinge uit ons bekende lewe uit. Ons ignoreer in die vroegoggend vir eers om te praat oor die dinge van ons nuwe lewe. Dinge soos online-werk en mense wat naarstiglik begin soek na sigaret-bronne en ander wat begin rebelleer teen die binnebly.
Aan en af deur die dag was ek die oond uit en spuit ek die oondskoonmaakmiddel in die oond in.
Ons speel vir die eerste keer in ñ lang tyd die radio in die huis. Een van ons, of meer as een, moet gewoonlik op ñ tipiese dag òf werk òf konsentreer en na vol dae met te veel om te absorbeer, hou ek die huis gewoonlik gevul met stilte. Stilte is soos rus. Maar nie vandag nie. Kenny Rogers sing opeens daar agter die lang tafel wat nie vandag gewaks is nie: “Everybody’s lookin’ for a way to say somethin’. . .”
Iets het vandag verander. Elke mens het begin soek na sy of haar manier van dinge doen. Sy of haar manier om die wêreld mooier te maak; sagter, om hulle hart te praat, om hul verweefdheid met ander mense hegter te hekel op baie maniere.
Ma bel. Pa se grassnyer het gebreek. Hy wil ry om parte te gaan soek.
“Dis asof hy nie verstaan dis regeringsbevele wat ons binne hou nie,” praat Ma moedeloos, “en die gras gaan binnekort te lank wees om sonder ñ gesukkel te sny.”
Ek stop vir Helgaard ñ bottel hoesstroop in die hand: “Vat asseblief vir my Pa ons masjien? Laai hom maar net by die hek af en ry. Sanitize net die handvatsel. Sê maar vir die padblokkade jy neem vir jou skoonmense medisyne. Dis nie regtig onwaar nie. Groot ‘seblief.” Ma en Pa bly net 1.7km van ons af. Dit voel die afgelope twee dae soos die laaste 1.7km in die oneindigheid. Die hoesstroop moet nou maar die lieg wees tussen vrede en onvrede. Niemand gaan tog besmet word nie. Geen padblokkade-mens sal verstaan dat ñ grassnyer soms beter medisyne as hoesstroop is nie.
Teen 7nm bespuit ek die oond ń vierde laag oven cleaner, verbied vir Helgaard om ooit weer ryspoeding met appelkooskonfyt wat oorkook in die oond te maak en besluit dat iets wat om 6vm na ń goeie idee gelyk het, om 19:00 ñ baie simpel idee blyk te wees. Die oond is steeds nie skoon nie. Die lang tafel is nie gepoets nie. Die groente is nie blansjeer nie. My kop voel steeds swaar.
My sussie uit Kanada gebied my om Maandag vir malaria te gaan toets. En sommer vir Die Virus terwyl ons aan’t toets is.
“Ek het ook heeldag al ñ vreemde hoofpyn,” kom Helgaard uit met die sak patats.
“Wel, ek gaan nie toets nie. Ek is mos in self-isolasie. En wat van die kinders as ons beide positief toets? Jy moet maar gaan,” vind ek oplossings vir die kinders.
“Jy sal moet. As ons dit het sal ons moet wegkom by die kinders. Onthou, bel die werk as ek iets oorkom. Hulle het die details van die lewensversekering.”
“Moenie vir jou simpel hou nie!” maak vrees my vies, “maar terwyl ons nou hieroor praat- wat het jy my gesweer doen jy as èk dit nie hierdeur maak nie?”
“Ek het niks gesweer nie.”
“Jy beter sweer anders spook ek vir jou tot in ñ ritteltit in. Dít sweer èk!”
“Oukei-oukei: as JY iets oorkom moet ek met die kinders emigreer. Kyk! Wraggies ñ blou-aap,” onderbreek Helgaard homself en wys na die blou-aap wat doodluiters op die grasperk rondloop. Die trop kom gewoonlik net so laag af as hul kos in die berg begin min raak.
Ek het weggestap om Kiana se budgie van sy hakie af in die Johannes broodboom te gaan haal.
“Siestog, Perjams! Amper word jy ñ blou-aap snackie?!”
“Hallo Perrrrjams!” gesels Perjamsie, terwyl Salomo en Skeba vir die hoeveelste keer afstorm na die onderste draad om vir die bure se twee perde te blaf wat daar naby wei.
In die lug bokant die dam het die wolke vanaand geen lig absorbeer nie. Grys het die een wolk in die pienk lug gedryf – soos ñ groot draak; vlerke dig teen sy lyf gevou.
“Kom gou!” fluisterroep Helgaard net na donker, “hier is drie uile hier buite.”
Hierdie is ons vierde jaar op die plot. Nog nooit het ons die reuse ooruil hier gehoor of gesien nie. Naguiltjies, skopsuiltjies, witkoluiltjies, wel.
Ek loer onder die stoep se dak uit. Daar sit hy- majesteitlik met sy geel oë. Hy skrik vir my en vlieg weg.
“Hoe-hoe-e-hoe,” roep die ander een iewers op ons dak.
“Jy weet natuurlik wat sê die oumense van uile op ñ dak,” probeer Helgaard terg.
“Flippit. Drie!” ñ Middeleeuse krieweling het bygelowig diep binne my, waar ek hom probeer dooddruk het, geroer.
“Onthou, jy emigreer. Ènige land.”
Ek hou van beet en wortels. I just do not care for them.
Soms moet jy jou uitspraak oor iets lewer en dit afhandel, want die dinge wat jy weet, is hoe jy die mensdom om jou moet liefhê.