Daar het ñ stilte in die dae ingeweek. Dit is nie soseer die teenwoordigheid van ñ Sondagmôre-gewydheid nie. Eerder die afwesigheid van iets. Asof die trillings van te besige mense en gejaagde kinders en die pretsoekers se stoornis nou uit die lug om ons weggesypel het. ñ Tipe flatline van ons as ñ ras se selfopgelegde gejaagdheid; daardie gejaag na wind wat ons almal so effektief regkry. As jy ophou om die wind te jaag, dan kom die stilte. Jy vind als wat heilig is en helder is in ñ stilte.
Die nuwe seisoen se eerste mistigheid lê vanmôre oor die kranse. Die olienhoute en karees en die blinkblaar-wag-ñ-bietjie staan dowwer in die wolk wat op die aarde kom lê het. Sommige bome in die tuin staan onsienbaar in die wit muur. Maar hulle is daar, want al kan jy nie sien nie, weet jy mos net sekere dinge.
Jy besef jy sit en wag. Vir kerkklokke om te lui. Jy haal eintlik net asem terwyl jy wag vir iets normaals om te gebeur. Geen kerkklok het toe vanoggend gelui nie.
Preke word vandag reg oor die wêreld gestream. Op hierdie dag is denominasies se deure gesluit. Wêreldwyd. Vandag is jy nie ñ dopper of ñ hervormer of ñ metodis of ñ wat ookal nie. Jy is net wat jy is: God se kind. En jy, en al Sy kinders oor die wêreld heen, gaan Hom vanoggend loof en julself verootmoedig op ñ binne-manier.
Jy besluit: jy wil vir jou kinders hierdie Sondag die normaalste Sondag van alle Sondae maak. Die tipiese Sondag. Die superlatiewe Sondag.
Julle gaan aantrek. Julle gaan kerk luister en bid en die mense in julle harte voor Sy voete lê in vaste vertroue en liefde. Julle gaan tee drink op die stoep.
Jy dink op die normaalste van alle Sondae moet ñ mens iets soets eet by tee-op-die-stoep-na-kerk. Oukei, jy sal na kerk eers iets bak en dàn tee op die stoep.
Voor aantrek moet jy dalk eers die vleis uit die vrieskas loop haal. Dis nie so maklik om die normaalste van alle Sondae te beplan nie.
Na tee op die stoep, gaan jy ñ Sondagmiddagete kook met boerekos. Rys, vleis, artappels en groente. Dis iets wat julle nooit meer doen nie: boerekos eet. Dis gewoonlik die een of ander koolhidraatlose-proteïen-en-groente situasie met geen nagereg by nie. Vandag is die dag!
Die kinders gaan tafel dek. Julle gaan as gesin om die tafel eet en praat en elkeen gaan moet sê waarvoor is hy of sy dankbaar, waarvoor is hy of sy bang en waarop is elkeen vandag trots.
Want om te verwoord is die ontsmetmiddel van die hart. En harte het tans meer sanitizer nodig as hande.
Na ete gaan julle rus- wel, rus op die moderne manier- dalk in die tuin stap; dalk die bure se perde wat nou hier wei gaan bekyk, dalk ñ bordspeletjie speel.
En vanaand gaan jy een van daai ‘ligte’ Sondagaand-etes maak…. melkkos. Lamont het al ophou vra dat jy melkkos vir hom maak.
Kom ons kyk hoe verloop die normaalste Sondag van alle Sondae.
xxx
Toe die mis lig het die dag om ons gelê met daardie helder kwaliteit wat net die herfs kan bring. Ons het in die sitkamer na ds Christo se preek op YouTube geluister. Helgaard het selfs dat die kinders saam met hom die Psalms sing, maar dit het so ñ kakofonie van note en kwake afgegee dat ek hulle verbied het om verder te sing. Helgaard het te hoog ingesit en varieer sy diep alt met iets tussen sopraan en deskant. Die kinders sing, maar elkeen sing sy of haar eie weergawe van die melodie.
“Stoppit, julle! You’ll get much further with the Lord if you stop offending His ears.”
“Mamma!”
“My Engel! Wat?!”
“Mamma…. rêrig?!”
“Ag, flippit julle! Dit kom uit My Fair Lady uit. Baie bekende quote. Baie waar in ñ lockdown met vyf mense sonder ñ nootvaste voorsanger! Sjoesh nou. Dominee preek al.”
Salomo en Skeba se ore het skerp gespits tydens die Psalm-singery, maar hulle het gou vas geslaap iewers tussen die Tien Gebooie en die preekrede.
Ons het na die preek die ketel gaan aanskakel, ek het gou eier en water by die gluten-vrye sjokolade muffinmengsel geroer en dit in die skoon oond gedruk. (Ek het die oond ñ laaste keer voor die diens weer uitgewas!)
Ons het op die stoep gaan sit en tee drink en geluister na die radio se Sondagmusiek. Die dag was stil. Selfs die blou-ape was nie vandag in die tuin nie.
Ek het Basmati-rys gemaak en artappels en gemarineerde varknek en lemoenpampoentjies met soetmielies in. Dinge wat ons maande laas geëet het. Ons het gaan aansit rondom my groot orgideë wat aanhou omduiwel nadat ek hom oorgeplant het. Hy spruit gelukkig reeds nuwe lote wat lyk asof hulle mooi regop gaan koers hou. Ek het vroeër vir Vian gevra om die plant vol ys te pak. Die orgideê se groeimedium was te droog.
“Waarvoor is julle dankbaar? Waarop is julle baie trots? En is daar iets waarvoor julle bang is?”
Ons almal was dankbaar, baie-baie dankbaar dat ons op die plot kon wees vir die inperkingsperiode en nie in die woonstel in Pretoria nie.
Kiana het gehuiwer en toe gesê: “Ek weet mense gaan dood, en ek wil dit nie hê nie. Maar ek was sò moeg. Ek is net sò dankbaar vir hierdie blaaskans.”
Die seuntjies se vrese is dat een van ons sal siek word. Kiana se vrees wat sy met ons gedeel het, is dat sy dalk nooit sal uitvind wie sy moet wees en waar haar plek is in die groot geheel van dinge nie.
Ek het na haar gekyk en gewonder hoe ñ kind so wys kan wees op 14? En gewonder hoe laat jy daardie kind verstaan hoe sy juis bestem is vir dinge wat haar nie laat inpas nie? Inpas mag nooit my drie spruite se doel op aarde wees nie.
In die helder middag het daar kwê-voëls by die voëlbak gebad en gespat. ñ Eekhoring het met fyn handjies iets opgetel om te knibbel. Die nuus het gesê dat die polisie nie beheer kan uitoefen oor die mense in die townships nie. Hulle maak kontak met mekaar asof hulle die dood net sal glo as hulle sy skadu kan sien. Wat is ook die oplossing? Hoe verwag jy dat 6 tot 8 mense wat in een sinkvertrek slaap ook daar moet saamleef vir 3 weke of meer? Die hele dag kom die getalle na jou toe. Khayelitsha het sy eerste geval. 1100+ mense is tans besmet. In Italië is amper 10 000 al oorlede.
Dit is asof mense vandag ingekeer het na iets binne hulself. Ek dink onsekerheid het soos ñ troetelhond by almal se voete kom lê. En as daar ñ ding naby jou kom lê sit jy maar ook stil. En wag totdat die ding eerste beweeg.
Ons het teen sonsak onder die vreemde wolke gaan stap. Wolke wat terselftertyd gelyk het na koue en na reën wat verby gaan trek.
Alles op die plot blom en gedy in die deurweekte stilte. Ons het ñ rukkie in die tuin staan en kyk hoe John, die plot se voorman van Tanzanië, op en af in die plotpad ry op sy turkoois fiets. Ons het ñ rukkie by die dammetjie staan en kyk hoe die sekelmaan in ñ oopte tussen die wolke begin blink.
Ons het later met ñ Savannah op die donker stoep gaan sit. Die kinders het gaan Netflix kyk. Ek het na my Ma en Pa sit en verlang. Ek het verlang na my sussie en swaer en die kinders in Kanada. Ek het iets van ñ gelatenheid begin aanvoel.
En ek het gewonder hoe ñ doodnormale Sondag so uitsonderlik onrustig kon voel?