Die afgelope paar dae is ek diep in die nag wakker met my onrus en my lyf wat effe gloei. As die bed langs my leeg is, weet ek Helgaard is reeds spaarkamer toe met ñ Disprin vir sy eie vreemde hoofpyn. As hy steeds langs my lê en slaap, is dit ek wat opstaan, ñ Disprin of Panado in die medisynekas gaan kry en dan maar in die spaarkamer gaan wag vir die dag om te breek.
Die bed is vanmôre reeds leeg. Ons sal vandag by die apteek ñ malaria-toetspakket kry en net kyk. ñ Lastige muskiet het my hoeka in die wildtuin op die hand geklits. Niks is tans ernstig nie, maar as ons malaria kan elimineer dan is ons terug by ipekonders, dalk ñ vroeë menopause of ñ geheel ander virus. Soos die keer toe Lamont en Vian babas was en dit reggekry het om gelyktydig hospitaliseer te word – elkeen met ñ ànder virus.
Dit is 4:00vm op ñ Maandagmore. Gewoonlik kan jy reeds die voertuie op die hoofpad doer ver hoor verbygaan op pad stad toe vir skool en werk.
Vanoggend is daar net ñ donker stilte in die rigting van die hoofpad. Dit is asof die laaste stuk van die nag wag vir iets om te roer. Selfs die naguiltjie is tjoepstil. Die buurman oorkant die pad se leeus brul nie eens nie. Ek wonder opeens oor die leeus. Ek het hulle in weke nie gehoor nie. Gewoonlik teen vroegoggend en vroegaand het hulle gebrul soos wat elke leeu in Afrika daardie oerding het om die son te wil groet.
Geen kiewiet skrik vanoggend hier buite vir Wakati wat die plot patrolleer nie.
Ek wil die sin oor en oor skryf: Dis stil. Dis stil. Dis stil. Want dis asof ñ doodse stilte op ñ Maandagoggend in die skoolkwartaal eindelik die storie begin vertel – op die planeet woed ñ oorlog teen soldate wat onsienbaar klein, maar potensieel dodelik is.
Gaan jy in ñ winkel ñ brood of ñ jogurtbak optel wat ñ vorige mens aan geraak het, wat aan sy buurman geraak het, wat op sy beurt aan sy vrou geraak het wat in ñ salon werk wat aan ñ vrou geraak het wat nie geweet het sy het geraak aan die toiletdeur op die vliegtuig op pad terug van Europa of êrens nie, wat oopgemaak is deur ñ man wat in Switzerland aan sjokolade in ñ winkel geraak het en toe moeg oor sy gesig gevee het en toe besmet is nie. Hoe weet jy? Hoe koes jy werklik effektief?
Vyf gate. Dis al hoe die virus by jou lyf kan inbreek en sy klein mal oorloggie op mikroskopiese vlak voer. Jou twee oë, jou twee neusgate en jou mond. Dis moeiliker as wat jy dink om uitkykpunte en forte en nagwake rondom daardie vyf gate opgestel te kry.
Jy tas onsienbaar rond, jy bly tuis, jy was hande, spuit ontsmetmiddel en tas verder rond in die hoop dat die stilte daar buite beteken ons wen sommige veldslae.
Vandag begin ons werk. Tuis. Die skole begin van môre af aanlyn werkskaarte aanstuur en lesings aanbied. Beide my en Helgaard se werke is reeds druk besig om alles op aanlynforums te hanteer. Ek begin vanoggend lesings opneem vir die studente om teen middel April weer met ‘klasse’ te kan begin, het 11:30 ñ Zoom Room-inligtingsessie en ñ Zoom Room-vergadering om 15:00. Helgaard het Skype-vergaderings en stuur kontrakte rond per e-pos.
Ons sal weer vandag gesond begin eet. Ons begin more met ñ aanlyn-oefenprogram. Ek gaan Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas vir die kinders begin lees. Kiana moet hierdie week die huisgodsdiens lei. Dit wat ons kan beheer, moet ons beheer. Want om verlore te voel in ñ tyd sonder koördinate, is om van dors te vrek in ñ tipe woestyn wat jy op geen landkaart gaan vind nie.
Dis 5:00vm. Helgaard se selfoonwekker het pas afgegaan soos elke weeksoggend hierdie tyd. As ñ wekker wat lui om 5:00vm op ñ blou Maandag jou begin troos, omdat dit die normaalste klank is wat jy in drie dae gehoor het, dan, wel dan staan die wêreld op sy kop.
Ek stap met die trappe af om te gaan koffie maak. Ek probeer onthou dat Abel en Rosinah my nie vanoggend 8:00 gaan sms om die plothek vir hulle oop te bel nie, dat ek nie kosblikke hoef te pak nie, dat Helgaard nie ñ gestrykte hemp by Rosinah se strykplank hoef te gaan soek nie. Ek probeer onthou dat niks vir altyd aanhou nie. Niks.
Die malaria-toets was negatief. Ons gaan nie vir korona toets voordat die pandabeerkoorspen ñ hoë koors wys nie. Ten minste 38C, het ons huisdokter gesê.
Annalize, ons buurvrou aan die anderkant van die fontein, het heeldag in die plot se beddings gewerskaf, dooie takke uitgesnoei en plante uitgeplant en oorgeplant.
Teen laatmiddag het The Ballet Coach haar eerste gratis balletklas aangebied op YouTube. Ek en Kiana het first and second position in die kombuis saam geoefen, pliès gedoen en ons nekke lank gemaak.
Uit verveling het Kiana haar kamer begin regpak en op haar springtou afgekom.
Lamont het daar buite in die donker op die swembadrand met sy bene al swaaiende in die water gesit, terwyl hy hardop tel en Kiana onder die sekelmaan touspring.
“Alie staan met haar rug teen ñ pendoringboom en kou aan ñ groot stuk blink gom wat sy teen die stam gekry het,” lees ek die eerste sin van Stories van Rivierplaas vir die kinders. Kiana en Lamont kon nie vinnig genoeg verkas nie, maar Vian het doodstil bly sit totdat ons klaar was met die storie van Die asdans en die bul.
En dít is die ding wat vandag met mense gebeur het: elkeen is op ñ manier besig om meer te word van wat hy of sy reeds is.
Dit is asof elkeen van ons weer begin onthou hoe ons soggens en saans die son wil groet. Elkeen op sy unieke manier.