Ek sou sê Dag 5 is daardie kind in die klas wat almal wat lag en gesels se name op die bord skryf wanneer die juffrou uitgaan; ‘n regte natlappie van ‘n dag wat al die minder opwindende realiteite van die lewe kom herinstalleer het.
In die eerste plek het ons besef mop en afstof gaan ‘n ding moet word iewers in ons dag. Sodra Rosinah op Vrydaemiddae die deur agter haar toetrek, kry ons dit min of meer reg om die huis aan die kant te hou vir ‘n ruk. Die kinders vat beurte om die skottelgoedmasjien uit te pak en ek of Helgaard pak in. Hier teen Saterdaemiddae begin dinge effe uitrafel met Salomo se hare wat oral begin klos in die hoeke en met ‘n modderstreep hier en daar oor die ligte vloere. Teen Sondagmiddag lyk die plek soos die dag voor die skepping en as Rosinah sommige Maandae versuim om in te kom, voel die hele dag omgefoeter. Rosinah en Abel is hoeka nie groot vriende van ‘n Maandagwerkery nie.
Sy is reeds Donderdagmiddag hier uit. Teen vanoggend kry ek vir Helgaard in die kombuis, besig om die vertrek te ontruim. So te sê. Al wat rooster, smoothie masjien en ketel is, staan versamel op die lang tafel.
“Wat maak jy? Trek ons?” terg ek, maar ek weet baie goed. Ek is net nie nou lus om te help nie. Ek is die persoon wat Abel se werk oorneem met ‘n lied in die hart. Ek gooi tuin nat, trek hier en daar ‘n bossie uit en is alewig doenig met sade of steggies in potte.
Helgaard praat nie eintlik terug nie en vee met ywer die blad blink.
“Fine, as jy my weer wil Kouwit, dan is dit nou maar so,” maar ek kry tòg die flippin besem tussen die twee yskaste uit en begin vee.
“My engel,” lag hy maar net, “al wat ek weet is dat my beurt nou klaar is. En ek hèt jou vanmore gegroet.”
Kouwit (soos in Covid-19) is ‘n nuwe term vir mense wat geruime tyd getroud is. Saterdagaand, toe beide ek en hy koorsig voel en net nie lekker is nie, klim ek in die bed en leun oor vir die gebruiklike nagpikkie op sy wang of voorkop. Sal die man nie terugdeins nie, vir my kyk en toe maar skuldigrig sy kop laat sak en my sy piksoentjie gee – op my VOORARM!
“Wadde heng….? Ek glo dit nie! Ons is albei ewe ipekônnersrig. Dink jy wraggies ek gaan jou MEER aansteek as wat jy dalk reeds aangesteek is? ‘n Mens kry nie Covid en dan mèèr Covid nie!”
“Ek maak net seker. Skuif nòg ‘n bietjie op,” sê hy terwyl hy na die buitewyke van die bed opskuif.
“Ek kan regtig nie glo jy het so-pas jou eie vrou ge-Kouwit nie! So, my gesig is in kwarantyn, maar my voorarm is veilig. So ewe. . . “ ons lag maar vir onsself in die donker en ek sorg in die stilligheid dat ek ook maar half buite snork-afstand van hom lê. Daardie spoegdruppeltjies trek ver.
Op Dag 5 Kouwit jy nie meer mekaar nie. Die piksoene is terug, want kom jy om, so kom jy om.
“Wat bedoel jy, jou beurt is nou klaar? Dan is my kosmaakbeurt ook nou klaar. Niemand is klaar nie! Ons gaan in opruim-spanne moet opdeel. Dis al genade,” praat ek terwyl ek vee, vir Salomo uitjaag en groente begin opkap vir die sop.
Op Dag 5 begin die eerste gekorswel, geredekawel of debakel oor huistakies as jy ‘n Rosinah gewoond is.
Kiana het om 12:00 haar eerste klavierles per WhatsApp Video Call gehad, ek het ‘n uurlange inligtingsessie op my werk se aanlyn-portale bygewoon, Helgaard sit al pal en werk sedert vanoggend. Die skole het ons begin bombardeer met die nuwe kwartaal se werk. Die Hoërskool Menlopark stuur nuwe roosters aan van wanneer Kiana (Gr 9) haar klasse per WhatsApp moet bywoon. Wetenskap is Maandae, Woensdae en Vrydae. Lamont (Gr 7) en Vian (Gr 6) se laerskool doen dieselfde en hul werkkaarte en bladsyverwysings en lesplanne is besig om my rekenaar-stoorruimte te laat krimp.
Die lewe in sy nuwe ritme het begin prut.
Steeds verstom die dinge wat in ons almal bly oopval my: Vian begin allerhande lawwe grappies uitdink – Vian, wat gewoonlik ‘n entjie agter Lamont staan en vir sy ouboet lag. Kiana het vir die eerste keer in maande haar boog gaan uitgrawe en skiet met die een pyl wat pal onder my voete rondlê na die palmboom toe. Lamont het klaarblyklik finaal oordoseer op Fortnite en hy hang al heeloggend buite rond, asof hy eers paadjies met sy hart moet oopkap voordat hy iets kies om te doen. Al drie van hulle het ‘n duikplank oor die swembad gebou met ‘n stuk plank en swaar klippe op die een punt. Toe Kiana sonder aankondiging van die plank afklim, tip Vian se gewig die plank sodat Vian, rotse, plank en al die water in plons. Ek sou sê daar is lesse geleer aangaande kragte en gewig.
Dis asof die kinders se gesels vandag begin loskom. Dis asof hulle hulself al minder afsonder voor ‘n rekenaarskerm of in hul eie kamers of die kantoor en al meer betrap ek al drie saam om die lang tafel of in die kombuis by my, besig om te vertel en te gesels.
Op pad om die sproeier te gaan oopdraai sien ek dit: die heel eerste broccoli-spriet wat begin stoot.

Op Dag 5 beur die nuwe lewe deur die donker grond na die lig toe. Net soos wat die mooi en die oorleef in ons almal se siele onstuitbaar na die lewe sal bly beur.