Elke dag lyk mos maar op die oog af asof dit dieselfde sal wees as die vorige een: jy staan op, jy drink koffie, jy kyk na die vreemde wolke wat nou al ñ week lank nie soos Maart of April lyk nie, julle eet, werk, lag, stry, gaan slaap en herhaal. En tog. Om vir 7 dae in die naby teenwoordigheid van jou mense te wees sonder die afwisseling van skool of werk of winkel, is ñ bietjie soos ramshorings om ñ stadsmuur; op die sewende dag gee iets ñ klein bietjie mee. Hierdie hang nou maar af van temperament, maar vir iemand wat gereeld tuin in, werk in, selfoon in of net binne-jouself-in vlug van al wat mens is, het die sewende dag ñ ongemak aan hom gehad. Dis asof afsondering soos ñ sonstraal deur ñ vergrootglas op jou verhoudinge brand en daar is nêrens om heen te vlug nie.
Die reën het gekom. Eindelik. En saam met die reën het die eerste winter op die aarde geval.
Die kinders het gisteraand ñ vuur gemaak en Vian het gebraai. Sy eerste.
Hulle het smores op die kole gemaak en die nag het geruik na geroosterde marshmallow en sterre.
Lamont het genoem sy broeke is klaar en onmiddellik is hulle na die Speed Queen in die opwaskamer marsjeer. Hulle het opgewonde geluister na die kort, dog ferm demonstrasie oor hoe wasgoed werk en waar die seeppoeier kom.
Vroegoggend, kort voor die reën begin val het, het Lamont sy wasgoed buite opgehang. Sy eerste.
Die huis het vandag geruik na Sta Soft en kaneel. Ek het vir Lamont en Vian pannekoek gebak en vir Kiana haar oats-en-piesang weergawe van pannekoek.
Ons het deur die hordes e-posse van die twee skole en die werk geploeg en gewerk en gewerk.
Alles op Dag 7 was soos gister en tog was niks dieselfde nie.
Daar het ñ besef posgevat dat die mense wat jou hart liefhet, en nie bloot jou hand nie, se kringetjie so klein is dat die kringetjie jou amper nie kan toestaan nie. Dit voel asof jy hierdie ragfyne netwerkie van mense nie meer bymekaargehou kry nie- jy kan nie meer net by Pa en Ma se hek inry en met jou eie oë sien of hulle nog oukei is nie, jy bekommer oor jou sussie en haar mense in Kanada, ñ deel van jou wil sommiges bel en kort-kort hoor of hulle nog oukei is, maar ñ ander deel van jou blaas op ñ ramshoring en loop om en om die stadsmuur terwyl jy nie eintlik glo dat die muur sal val nie.
Die binnereis van inperking het ñ tipe dorsland bereik; dalk meer ñ mirage wat soos water gelyk het en toe nie was nie. Iewers in jou, daar waar jy al dinge uitsorteer het en antwoorde gehad het sonder om ooit oor die vraag te wonder, voel jy nou ñ ongemak. Dalk omdat iemand die beheer oor die grense in jou lewe weggeneem het. En nie een van ons het dit sien kom nie.
Daar is geen vrees vir die virus self nie. By niemand wat ek ken nie. Suid-Afrikaners skrik nie sommer vir enige bedreiging nie – ons lewe bestaan dan uit woorde soos listeriose, onteiening sonder vergoeding, Eskom of die EFF. Maar die liefde – daarvoor kan ons maar bang wees. Die terrein wat jy gaan betree, hetsy of jy skielik 24/7 saam met jou gesin is, op jou eie ingegrendel is, in isolasie is terwyl jou geliefde op ñ ander dorp of in ñ ander land is, saam met ñ eks moet bly, saam met ñ nuwe liefde moet bly, of jy dalk weer in jou ouerhuis moet bly, of wat ookal jou ingrendelstatus is, gaan moeilike terrein wees. As jy een maal te veel om die mure van die liefde loop, kan iets kantel wat jy dalk nie weer kan herbou nie.