(OPGEDRA AAN ALLE MEDIESE PERSONEEL- ons vergeet soms….)
Daar is mense wat hierdie grendelstatus in ouetehuiskamers sonder uitsig moet deurleef, mense met peuters in woonstelblokke, mense in sink-kaias, mense in meenthuiskomplekse. En dan is daar die mense met tuine of diegene op plotte en plase wat darem ñ buite-area het. Wàt die omstandighede ookal is, dit is asof hierdie nuwe wetgewing drie karaktertipes wil uitwys: diegene wat dit beskou as ñ liefdesdaad aan hul naaste en ingeperk bly uit liefde en respek vir ander. Dit is nou maar díe wat voorrade probeer ophoop het, hul werkers ñ maand of twee vooruit betaal het om
hùlle ook veilig te hou, videos en grappies rondstuur om mekaar besig te hou, in hul opritte op-en afhardloop om oefening in te kry en so min as moontlik uitgaan om werklik net die noodsaaklikste aan te skaf. Dan is daar diegene wat dit nie kan bekostig om voorrade te stoor nie en op straat beweeg of taxi ry omdat daar nie werklik ñ alternatief is nie, of wat dalk moet gaan werk om noodsaaklike dienste te verskaf. En dan is daar die derde groep wat elke dag iewers heen probeer ry sonder om gevang te word, murmureer oor hulle nie kan gaan draf, stap of fietsry nie en dit dan tog doen, en die hele regeringsbesluit om mense se grense te beheer, probeer diskrediteer. Hulle laat steeds werkers van iewers af inkom om te kom skoonmaak. Tans beleef ñ mens hierdie tipe mens as selfsugtig; mense wat weier om te aanvaar dat die reg ook op hulle van toepassing is; eintlik maar ñ tipe onvolwassenheid wat steeds vassit in die ontkenningsfase van dit wat besig is om te gebeur.
Ek wens ek kan vir die derde groep vandag die hart van ñ dokter wys. Ek wens ek kan vir hulle my sussie se voicenote van vanoggend aanstuur waar sy haar hart uitpraat, nie omdat sy nie ñ sterk mens is nie, maar omdat sy my vanoggend toegelaat het om vir die eerste keer haar doktershart werklik te sien. Dit was laatnag in Kanada en laatnag is ñ wetterse ding – jy sukkel laatnag om jou menslikheid weggesteek te kry.
Die Kanadese projeksie is dat hul mediese sisteme teen einde April, begin Mei, die groot getalle gaan moet akkommodeer.
“Sòveel mense gaan siek wees. Ons gaan sòveel mense nie kàn help nie. Ons hèt nie eens soveel beddens nie,” het sy net radeloos die huil uit haar stem probeer wegweer. Haar hart by mense en families wat sy nog nie ken nie, wat nog nie weet daar lê ñ begrafnis in hul nabye toekoms nie, wat nog nie verstaan dat jou hand op iemand anders se hand by wyse van énige objek in hierdie tye ñ tipe moord is nie.
Ek het sommernet begin huil terwyl ek na haar luister. Sy is soveel sterker as ek. Sy treur alleen in die laatnag oor die mensdom en die oormag wat deur ñ handjievol mediese personeel gehelp en gered moet word. Ek tjank sommer in die daglig.
Oor ek net so bekommerd is oor hààr blootstelling, ek haar omgee vir haar pasiënte kon aanvoel, oor ek te ver is om werklik te troos, oor ons saam bekommer het oor ons vriendin, Gina, wat in ñ hospitaal in Ottawa ook in die voorste linies werk, oor ons niggie, Tanja, wat ñ internis in Vereeniging is, oor ons ma en pa, “Hou ASSEBLIEF almal van Pappa af weg. Hy kàn dit nie kry nie! Weet jy hoeveel jongmense, JONGmense, wat rook of vape is al dood?!”
Ek weet die rokers kry nou swaar met díe dat hulle nie sigarette mag koop nie. Ek bly saam met een, my pa is een; naby vriende ook. Ek verstaan hulle penarie 100%.
Maar ek sien hulle vandag vir die eerste keer deur haar oë. Om langs ñ persoon vol potensiaal se bed te moet staan en dan later, die familie in die oë moet kyk en hul lewens vir altyd verander met jou kop wat skud? Dokters is mense. En as mense te veel aan halstarrigheid blootgestel word, word hulle beduiweld vir sekere dinge. Want hulle is dààr, elke keer as mense om hulle stukkend breek in die teenwoordigheid van die swart gat wat die dood los as hy jou mens van jou kom wegvat- vir altyd. Hulle is daar en hulle sien die pyn en hulle raak moeg of oorstelp of afgeslote. Dis nie die ou wat dood is wat verder swaarkry nie.
“Ek is nie bang om dood te gaan nie. Ek weet mos ek gaan hemel toe, maar my kinders sonder hulle ma…. “ Ek weet. Ek verstaan. My eie drie…..
“Ek is regtig oukei. Soms raak dit net te veel, maar ek belowe jou, ek is oraait….ek pak nou net hier af by jou, want soms moet ñ mens. Deur die dag is ek sterk vir almal…..Mag al hierdie projeksies verkeerd wees. Kyk net in vadersnaam na julleself. Moet nie uitgaan nìè!”
Wat sê ñ mens vir iemand wat oor die mensdom huil en sommiges bevraagteken die maatreëls steeds? Totdat dit hy of sy is wat daardie eerste droë kuggie in die elmboog gee….
Die reën het effe skiet gegee nadat ek my gebrekkige troos probeer terug voicenote het.
Ek het vir Annelize, wat saam met ons op die plot bly in die roosbedding gesien.
“Kom gou hier en bly ver. Ek het vir jou iets,” het sy die nuwe lewe se naderroep geroep.
Ons het tussen die plot se pienk rose wat soos Turkish Delight ruik gestaan, ñ afstand met ñ goeie vier roosbosse tussen ons.
“Ek is nie ñ taalmens nie,” het sy begin en nadergestap; ñ ruiker ver voor haar na my uitgehou, “maar ek ken plante. Ek weet nie of jy weet wat hierdie is nie? Hier is vir jou ñ tussie mussie. Ken jy die woord?”
Ek het maar net my kop geskud en reeds weer trane afgevee. As jy tjankerig is en iemand is mooi met jou, gee daar mos nog ñ ding skiet in jou.
“ñ Tussie mussie is ñ welriekende ruiker. ñ Bossie met blomme en kruie wat net lekker ruik.”
“Is dit streekstaal?” Annelize kom van Hopetown af en ek het werklik nog nooit die woord teëgekom nie.
“Ek weet nie. My ma het altyd tussie mussies vir almal uitgedeel.”
Sy het die ruiker onder vasgehou en hom versigtig uitgehou sodat ek hom bo kan vat en ons geen kontak maak nie. Toe treë ons weer terug- vier roosbosse tussen ons.
“Oukei, ek waai. Gaan soek daai woord in jou HAT,” en sy is weg uit die roosbedding sodat ons albei kan gaan hande was.
Nie eens Ouma se HAT, my oudste een, het die woord ingehad nie. Ek het wel by die t’s vir ‘tussie mussie’ afgekom op ñ aantekening van Ouma in haar onderwysereshandskrif, die enigste een in die boek: ‘tussenbrein = talamenkefalon’, het sy eendag daar geskryf. Ons sal nooit weet hoekom nie.
Google het my gehelp met die spelling en met die bevestiging van so ñ woord – ñ kort artikeltjie in die SARIE van ñ tyd gelede: ñ woord uit die 1400’s wat ñ ronde handruikertjie is vol welriekende blomme.
Die aroma van die tussie mussie het die heeldag om my gewalm waar ek by die lang tafel sit en werk het: die turkish delight rose, roos-malvablare, laventel, roosmaryn . . .
Die reën het hewiger begin uitsak. Dit voel vandag asof dit nie vír ons reën nie, maar mèt ons.
Ons het saam met die kinders ñ paasboodskap gelees en toe die enigste ding gedoen wat ons kòn doen voordat almal hul koppe moes laat sak en werk en werk – ons het gebid vir mense wat alleen ingegrendel is, vir hulle wat bang raak en dan uitgaan om seker te maak hulle is nie alleen op aarde nie, vir Lize en Louis en die kinders, vir Gina en vir Tanja, en alle mediese personeel. Vir alle dokters en verpleegsters en vir mense wat in koswinkels moet werk; mense wat ook kinders het en blootgestel word aan ons wat gou brood en melk moet gaan kry. Vir hulle wat veg op die voorste linies.
Vir julle almal wens ek die welriekendste parfuum van die dankbare mensdom se mooiste tussie mussies van gebede; gebede wat die heeltyd sal talm om julle en julle mense.