Wanneer ek eendag, lank van nou, op hierdie dag terugkyk, sal ek baie dinge onthou. Die reën wat meedoënloos bly neerkom; oral op die plot het bruin stroompies water soos sjokolademelk begin afkabbel met die plotpad of met voetpaadjies langs. Die droë lopie wat uit die berg kom het ñ bruisende klein skouspel geword tussen die ruie karees se swart stamme.
Dit was nog vroeg toe Ma laat weet: oom Johan is in ICU. Hy is ñ tandtegnikus en het van sy lab by hulle huis se trappe geval. Bloeding op die brein. Prognose swak.
ñ Mens kan die dinge wat gelyk in jou gebeur nie eintlik beskryf nie: terwyl jou hart iewers teen jou borskas vasruk, tas jou woorde onmiddellik na ñ smeekgebed wat jy halfpad los, “Toemaar, Here, vergeet wat ek vra. U weet die beste. Ek het gèèn reg nie ….”, terwyl verwyt en ñ gevoel van totale mislukking jou verstar.
Oom Johan Nell is Ma se jongste boetie, my peetpa. Sy het drie boeties. Oom Danie is reeds in 2018 weg.
Oom Johan is presies 20 jaar ouer as ek, en hy is so deel van my heel vroegste herinneringe soos wat slange in die huis doodmaak en hoenders oor die grasperk jaag, vir my is. Hy wat by ons op Nelspruit op The Rest kom kuier en my dan in sy groen Volla laai sodat ek by Ouma en Oupa Toerie kan gaan kuier in Pretoria. Ek, drie jaar oud, wat net-net oor die Volksie se deur kan kyk en sien hoe Ouma Tienie opgewonde sommer oor Oupa se een blombedding wip om te kom groet toe ons by die hek indraai; arms reeds oopgegooi om my vas te druk.
Oom Johan wat met sy slangstok en slangserum op The Rest kom kuier – bitter bang vir die Laeveld se sluwer veldbewoners. En wraggieswaar, sal ons èlke slag as hy kom kuier vir ta raakloop – luislang wat drie baba-hase doodwurg onder in die kloof, boomslang wat een Sondagmiddag oor die hoëtroustel in die sitkamer gedrapeer lê, rinkhals, noem maar op. As hy kom kuier het met sy vrees vir hulle, het hulle opgedaag om daardie vrees te kom aanskou, kan ñ mens maar sê.
Elke slag na ñ kuier het hy met die groetslag ñ geldjie in my en Lize, my sussie, se hande gedruk- ‘koop vir julle ñ swiet! Lekker!’ en dan het hy gelag en vertel van die nuutste lekkers op die mark – ñ ewige soettand.
Ek het verlede jaar laas met hom gepraat.
“Kom,” het Helgaard vanoggend gesê terwyl ek met my rooigehuilde oë en hart vol verwyt na die reën kyk, “jou ma het gister vir sopgroente gevra. Ons het brood nodig. Ons gaan kry gou en laai daar af.”
Ma het nou-nou ge-WhatsApp: Het jy vir oom Johan probeer bel vòòrdat jy gehoor het van die val?
“Jip. Too little, too late…. “ het ek terug laat weet.
Ingevolge ons nuwe inperkingsregulasies mag jy ouer mense versorg, omdat hulle hoë risiko-gevalle is. Ma en Pa kom nie nou, met blootstelling aan die virus ñ ewige realiteit, meer in winkels nie.
Ek neem ons boks steriele handskoene en die gesigmasker saam, sodat ons by Ma en Pa aan niks raak nie.
Ek klim agter Helgaard in en sit op die agtersitplek soos regulasies vereis.
Toe ons met die plotpad opry hek toe, sit hy daar. Bo-op die telefoonpaal reg langs die pad. ñ Reusagtige aasvoël. Hy sprei opeens sy vlerke wyd oop en baai daar in die kol sonlig wat momenteel deur die wolke gebreek het.
Ons stop onmiddellik, ek klim uit en neem foto’s met my selfoon; drafstap terug voordeur toe om die kinders te roep.
Die aasvoël sit daar in ñ tipe onverstoorbare glorie. Manjifiek met sy pêrelgrysvlerke soos engelvleuels wyd gesprei aan weerskante van hom – standbeeldstil.
Verwondering verdryf alle nuttelose emosies in ñ hoek in en vul jou met die aanvoeling dat iets groots immer naby is. Selfverwyt is ñ nuttelose sweep, maar dis die felste emosie op tye wat jy op jou weerloosste voel. Hoekom skeep ons die mense wat ons die meesste liefhet soms so gruwelik af?
Ek het daar onder die grys hemel gestaan en my verwonder aan hierdie amper-majestueuese wese. Sy huis hier agter ons ñ oeroue skildery wat elke dag nuutgeverf word; die kranse blink en natgereën, die laagste reënwolke wat slierte kom maak teen sy hange.
Die aasvoël het steeds op die hoë paal gesit met sy oop vlerke toe ons ry- seker papnat gereën op pad terug van die wildtuin af. Daar is ñ paar aasvoëlrestaurante op die Magaliesberg om die kolonie te help, maar daar is al bevind dat hulle so ver as die Krugerwildtuin vlieg om te gaan aas en weer terug na hul broeiplek hier teen die kranse. Soms as jy opkyk sal jy hulle sien stippel maak doer bo die berg se boggel – vlerke net stil-gestrek, al swewende op die wind se paaie. Maar nog nooit ooit het een van hulle hier onder kom sit nie. Nooit.
In Ma se huis het ek nie aan ñ ketel, ñ kraan of ñ deurknop geraak met my handskoenhande nie. Ek kon my eie ma nie eens ñ rukkie vashou of ñ drukkie gee nie – juis uit liefde uit.
Ons het die groente en brood se verpakking steriliseer met die uitpak, ek het my eie koppie in die masjien gepak sodat Ma nie raak waar ek raak nie.
“Kom ons bel ICU, Ma. Kom ons probeer net. Hy kan nie so alleen daar lê nie.”
Een van die verskrikkinge van hierdie lockdown, van grendelstatus, is dat gèèn mens in hospitale toegelaat word, behalwe die pasiënt self nie.
My niggie is self ñ internis, en selfs sy is die vorige nag by haar pa geweier, omdat sy nie by daardie hospitaal as dokter gekontrakteer is nie. Hulle moes die grootste deel van die nag voor die hospitaal in die kar in die reën sit en wag en sy kon hom net 20 sekondes sien tussen Ongevalle en ICU.
In hierdie tyd gaan elke mens sy bangste tye, selfs sy dal van doodskaduwee, allen deur – sonder ñ geliefde langs die bed.
“Sureta, kom gou! Hulle gaan dat ons praat!”
Ek hardloop na Ma se landlyn waar sy reeds sê: “Hallo Johan! Dis Elsabie! Hoe voel jy? Ons dink aan jou, hoor jy?! Hier is Sureta.”
“Hallo Oom!”
“Hêllo.”
“Oom?”
“No, it’s his nurse speaking,” sê die vreemde mansstem aan die anderkant, “did you hear him now?”
Hy dink ek is my ma. Hulle gaan nie toelaat dat nog ñ persoon met hom praat nie.
“Thank you very much. Yes. I just want to say good bye to him.”
“You did not say good bye? Oh, okay.”
“Oom?”
“Hallo, Sus.”
Hy dink dis my ma of dalk Sonja en Tanja, dalk.
“Hallo, Oom, dis Sureta. Sjoe, oom het ons laat skrik. Ek wil net sê ons is lief vir oom. En ons sou daar langs oom se bed wees, maar ons mag nie. Lief vir oom. Baai, oom.”
“Oukei. Oukei,” het hy gesê. Helder.
“Is it okay now? Can I take the phone back to Sister?”
“Thank you so much.”
Everything is better now, wil ek sê. Ons het sy stem gehoor. Op ñ manier het ons hemelse Pa my halwe gebed verhoor. Op soveel maniere.
Ons het deur Schoemansville se Monopoly-strate teruggery huis toe. Lang leë bane sonder ñ enkele teken van lewe; wagtende op die dobbelsteen om te val.
Die aasvoël was weg toe ons by die huis kom. Maar die son het deur ñ gleuf in die wolke geval en ñ duisend druppels op blomblare het begin dans in die lig.