In die begin van die somer het twee swaeltjies onder die stoepdak begin nes bou met modder. Dit was droog. Die kleinstreepswaels het skaars ñ halwe holtetjie klaargehad, toe kom die reën en duiwel al daardie ure se pleisterwerk met hul fyn bekkies op; hulle het op ñ lekplek gebou en die nessie het van die plafon af weggekrummel. Nie een van die tweetjies het gelyk asof hulle rou of kerm oor die skade nie. Hulle begin weer. Die heeldag lank vlieg hulle onder die stoepdak in en uit met blertsies modder aan hul bekkies. Dit het weer gereën. Die nes het weer geval.
Toe skuif hulle die nessie na ñ plek weg van die lekplek in die dak en begin weer bou.
Elke slag na ñ reënbui vorder die swaeltjie-iglo vinniger, want die modder is nader.
Ek het my verwonder aan die verskillende kleure modder wat in strepies die klein iglo versier het soos die mooi mapokkerhutte uit my kinderdae. Daardie rooi strepie modder kom seker uit die plotdam se kleigrond en die gryser strepies dalk hier langsaan by die begraafplaas uit ñ oop graf se sesvoetgrond, die bruineres uit die plasse wat altyd onder die moerbeiboom in die groente-akker lê na die reën; so het ons hulle week in en week uit dopgehou en hulle het gekweel en goggatjies gevang en ons aanvaar as hulle bure.
Ons was sò trots op die mannetjie-swaeltjie toe die klein iglo klaar is die dag. Vroeg een oggend sluit ek die deur vir Salomo en Skeba oop en gaan op die stoep uit met my koffie. Daar lê die streepswaeltjie soos ñ omgegooide ornamentjie met sy klein koperkoppie en sy glansblou vlerke netjies ingevou teen sy pêrellyfie – morsdood.
Ek het hom saggies opgetel, my tuingrafie van die tafel geneem en hom net daar naby onder die olienhoutboom tussen die diamond frost-blomme begrawe.
Ek is nie ñ swael nie. Ek kan nie nèt in die oomblik leef en onmiddellik aangaan met die volgende ding wat gedoen moet word nie. Met ñ wye weemoed het ek na die agtergeblewe lewensmaat gekyk. Hoe sy elke kort-kort haar koppie by die modder-iglo uitsteek; asof sy wonder.
Drie dae later lê die twee klein eiertjies, uitgeskop en stukkend gebreek op die grond. Die ‘Days of our Lives’- swaeltjie-soapie het te veel geword vir my hart. Sy kon nie eet èn die eiertjies warm hou sonder haar maat nie.
Ek gaan lees op: alhoewel swaeltjies lewenslank dieselfde maat kies en telkemale terugkeer na dieselfde nes, sal hulle weer ñ maat kies as die ander een iets oorkom.
Dit was nie lank nie – dalk drie dae – toe neem die nuwe maat sy intrek en ñ paar weke later hoor ons die kleintjie in die nessie. Oneindige heen-en-were het gevolg met ñ nimmereindigende stroom goggatjies wat bo-oor ons koppe nessie-in gedra word en dan weer nessie-uit vir nòg ñ jagtog. Soms het die nuwe mannetjie vlak bokant ons koppe op die stoeplig se een arm sit en rus.
Vanoggend sit ons op die stoep.
“Ek dink hulle is weg?” merk Helgaard op, terwyl ons albei opkyk en bokant ons begin rondsoek vir die twee.
Verbaas besef ek dat ek hulle lanklaas gesien of gehoor het.
“Flippit. Hulle kon darem kom groet het,” mor ek half onkant gevang en voel sommernet skielik allener. Asof die menslose strate om ons nie genoeg is nie.
Menslose strate en strande en wildtuine het soos ñ uitnodiging oor die planeet heen begin fluister.
Voertuie, vliegtuie, skepe, vierwiel-motorfietse of bergfietse op afgeleë plekke, laat haar nou met rus. Die planeet vernuwe en leef vorentoe, verander seisoen en ontvang geboortes, dood, reën of droogte op die ingeskape ritme van die Skepper, omdat dit deel is van die onverbiddelike beloop van dinge.
Nie eens ons, die kroon van die skepping, is verhewe bo dood of droogtes of pandemies nie. Ons kan die ritme van die heelal nie ontsnap nie.
Ons het net gedink ons kan. Wetenskaplikes en farmaseutiese firmas hou ons mos gesond. Ons modewoord was: ek het nie tyd nie. Ek is so besig. Hoe besiger, hoe belangriker. Skeep jy die mense wat op jou pad geplaas is af? Geen probleem nie. Sê net jy was besig. Dis die geldige, onbetwisbare verskoning van ons tyd.
Sou ñ geliefde sterf is die groot versugting in gedigte en in prosa dat die wêreld net vir ñ oomblik sal ophou draai. Want jòù wêreld het ophou draai. Meedoënloos het die wêreld en sy dinge egter voortgejaag na vlakker waardes tot op ñ plek waar tot mènse net bloot verbruiksartikels geword het.
En toe stop iets ons in ons spore. Die kalenders en horlosies wat ons aanvaar het as die oppergesag in ons besige lewens beteken opeens niks. ñ Tipe apokalips dreig op ons horison. Behalwe Die Virus, is armoede, hongersnood en plunderaars opeens ñ werklike bedreiging. Om jou lewensstandaard te sien wegkrummel en jou oorlewing dalk gaan afhang van jou eie groentetuin, jou veldkennis en jou rou instink om jouself te verdedig klink nie meer vergesog nie. Want as wêreldekonomieë gaan tuimel, gaan geld weer net papier met inkprentjies op word.
Daar is weer dolfyne in Venesië se waterstrate, tydens die sardientjies wat loop het seevoëls in ongekende swerms ñ skouspel van sketter en jag gelewer, op Skukuza se golfbaan rapporteer veldwagters troppe leeus, of troppe wildehonde, of een of ander bospartytjie elke oggend, op die kragpale waar ons bly sit daar opeens doodluiters aasvoëls hul vere en droogbak, in Kanada noem my sussie het sy skielik smôrens voëlsang voor haar venster, iets wat sy nooit gehad het nie.
Dalk, na dit alles, vind ons weer ons plek in die ritme van dinge: as kroon van die skepping, maar altyd deel daarvan. Ons staan nie buite dit nie. Ons gaan minder wees, maar ons gaan weer bewus wees van hoe kosbaar die lewe en sy mense is; hoe onnodig die dinge waaraan ons waarde geheg het. En wie weet- as die ding lank genoeg aanhou verstaan ons dalk weer dat daar ñ mag agter alle wetenskaplike kragte sit wat Einstein al agtergekom het. ñ Krag waaraan alle ander kragte ondergeskik is en waarvan die eienskappe in alle kragte teenwoordig is. Einstein het daardie krag Liefde genoem, en besef die liefde is God.
Op dag 10 het doendinge vervaag en het ñ reënboog van emosies in ons kom opstaan. ñ Besef dat ons die oppergesag verkeerd gehad het. Dalk vir die eerste keer begin ons besef dat ons totaal afhanklik is van daardie Krag agter alle ander wetenskaplike kragte wat Einstein agtergekom het: God. En dat ons losgesny gaan bly voel as ons nie in gehoorsaamheid onsself oorgee aan Sy ritme nie. Soos die kleinstreepswael wat gehoorsaam hier weg is, maar nog nie weet daar lê vir hulle nog ñ pragtige somer voor by hulle aankoms nie. Hulle vlieg net in gehoorsaamheid.
(c)sureta von holtzhausen

https://youtu.be/xFmO6a0fRs8
**hier is die link na Einstein se brief aan sy dogter waarin hy die krag agter alle wetenskaplike kragte beskryf