Van Riebeeck-Dag

Die wolkkolom by dag en die vuurkolom by nag van die eerste week het uitgereën en weggetrek. Die vreemde opgebreekte wolke wat smôrens en saans oor Hartbeespoort gehang het, het skiet gegee en die herfs het blou gebreek oor hierdie tweede, nuwe Maandag. Dalk omdat ons die herinnering van beskerming nou nie meer nodig het nie. Ons het self begin weet ons moet ons harte en ons gemoed weerbaar maak vir dit wat kom.
Gister op Rapport se voorblad is daar gegis oor ñ grendeltyd van ñ verdere vier maande.
Nog voor al hierdie begin het, het ñ uroloog op Nwanedzi se uitkykpunt in die wildtuin vir my vertel dat hy nie ñ ekspert op virusse is nie, maar na sy kennis, lui drie weke geen klokkie in die kringloop van ñ virus nie. Drie weke sal nie hond haar af maak nie.
In Kanada en Engeland gaan geen leerder terug skool toe vir die res van die jaar nie. In New York lê dooie mense in woonstelle nou vir 48 uur voordat begrafnisdienste daarby uitkom om hulle te verwyder.
In Italië het die hongersnood op plekke begin intree.
In Oberammergau is die Passiespele kanselleer – ñ verbond met God wat nog net een maal te vore moes wag, en dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dalk is hierdie die Derde Wêreldoorlog? Soos een ou op Facebook nou die dag skryf: “Kom ons laat die ding nou ophou en erken alles: Geluk Sjina, julle het die Derde Wêreldoorlog gewen. Stop nou die virus.”
Op Hartbeespoort plant ons elke pit wat ons kan. Ek begin weer soek na hoenders. Abel kon nie voor lockdown vir my betyds 7 hoenders van Mojakaneng bring nie. My vriend, Herman, vra op WhatsApp of ek ñ springbokkie of ñ njala-ooitjie wil koop; ñ tong in die kies met die waarheid onder die arm-tipe-WhatsApp. ñ Ou skoolmaat, Aldorette, plaas op facebook dat sy hase soek. Dadelik weet ek. Hase! Natuurlik! Hase en hoenders. In Eben Venter se roman, HORRELPOOT, oorleef boere deur haasvleis te verkoop aan ñ verhongerde nasie nadat Suid-Afrika ñ politiese apokalips beleef het.
Ek glo daaraan: bid terwyl jy planne maak.
Mense se besighede en voortbestaan is in gedrang.
Jy sal nooit weer in ñ Edgars of in ñ Jet inkopies doen nie. Hulle het voor die lockdown al gesukkel. Hulle gaan nie weer oopmaak nie. Tensy daar ñ Staatswonderwerk gebeur.
Koerante gaan nou dalk eens en vir altyd vou, laat ñ joernalisvriend bekommerd hoor.
Maar terwyl hierdie klink na ñ lang lys profesieë, verskrikkinge en bekommernisse is daar die mens se aanpasbaarheid wat reeds begin seëvier.
My Ouma Tienie se ma, ons oumagrootjie, was nooit in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boere-Oorlog nie, maar die Engelse soldate het een mooi dag op hul Oos-Kaapse plaas aangekom en geëis dat sy vir hulle kos gee.
Die Engels aan haar kant en die Afrikaans aan die vyand se kant was ewe gebrekkig. Kos was skaars, maar Oumagrootjie was aan’t brood bak in die buite-bakoond.
“Die brood is nog te wit,” het sy vriendelik, dog ferm, vir die Engelsman laat verstaan. Mens neuk nie ñ hele oggend se knie op deur die brood te vroeg uit te haal nie.
Spring die engelsman met ñ harde woord op sy perd, blaf ñ bevel na sy troepe, en galop hulle vervaard daar weg.
Oumagrootjie het seker uit haar maag gelag, daardie dag, soos wat Ouma gelag het as sy vir ons hierdie storie vertel het.
Wat welbekend was, was hoe lugtig die engelse vir Generaal de Wet was, onder andere. En die bietjie Engels wat Oumagrootjie wel verstaan het, was “General de Wet is coming!”
“Die brood is TE WIT,” was te veel vir die senuagtige engelsman wat sy ‘de Wet’ en ‘te wit’, opgemix het.
Ouma self het altyd gesê sy is met ñ donkiekar skool toe, sy het die eerste kar beleef, in ñ vliegtuig gevlieg, die maanlanding aanskou en van handsentrale, landlyne, koordlose fone tot by selfone beleef. “Die mens is ñ aanpasbare wese, Poppietjie, die mens is ñ aanpasbare wese,” het sy meer as een maal mymerend gesê, terwyl haar hande altyd besig was met kos roer, konfytkook of klavier poets.
Ek het toe nie werklik verstaan wat sy bedoel nie. Maar ek weet net eendag, lank van nou, gaan sommige van ons ook vir ons kleinkinders en agterkleinkinders kan vertel van hierdie tyd. Dit sal verbygaan.
Kiana gaan skool op WhatsApp Video Call, ek het ñ regsfakulteitvergadering by my lang tafel in Zoom Room, Helgaard het ñ online-opleidingsessie op Microsoft Teams en bespreek dokumente op Sharepoint terwyl Salomo by sy voete lê, ek berei lesings voor op Blackboard Collaborate Ultra, my sussie in Kanada se dogtertjie, Clarabelle, het e-School op Google Meet en ons sing vir haar vir haar verjaarsdag op Facetime, my vriendin in Dubai staan korporatiewe kliënte by om salarisse sinvol te snoei op ñ heel ander aanlyn-forum, my vriend Herman beduie my gou hoe om geld op ñ selfoon oor te plaas na Abel en Rosina sonder dat hulle ñ bankrekening hoef te hê.
Waar ons almal ñ skrale maand gelede bepreek is deur motiveringsprekers en wysheidstukkies dat skermtyd inbreuk maak op gesinstyd en verhoudinge, is die skerm nou ons enigste manier van verbinding met ons medemens.
Afrikaners is vandag 368 jaar in Afrika. Ons lyk en praat en dink heel anders as die heer Jan van Riebeeck wat hier voet aan wal gesit het en toe weer weg is. Hy is hier weg. Afrika is nooit in sy gene in vasgelê soos in myne en joune nie. Hy het ons tot hier gebring, ñ fort en ñ tuin gemaak en gewaai. Hier is nie eens vandag ñ enkele van Riebeeck-nasaat in Suid-Afrika nie. Al kry hy vandag op absurde manier die skuld vir baie dinge. Die arme man het eintlik net sy werk gedoen en nou word selfs die lastige teenwoordigheid van ons op sy skouers geplaas.
Ek dink nie eens hy het ooit geweet ons gee hom die eer as ons volkstigter nie. Natuurlik was hy bewus daarvan dat hy die eerste Europeër was wat hier aangeland het en iets hier begin vestig het. Maar die handelspos aan die Kaap was vir hom net nog ñ werksprojek van die VOC – met deadlines en al. Hy is iewers ver van hier oorlede.
Maar ons wat gebly het, die nasate van skeepsknegte, kokke, skoenmakers, soldate en kleinboere, ons het oorleef tot hier.
En ons is nou deel van soveel ander mense met volkstigters waarvan ons nie die name ken nie, saam in een land. As dit met die een klomp sleg gaan, gaan dit met ons almal sleggaan. Ons moet net aanhou planne maak.
Die mens is ñ aanpasbare wese.