Ek het vanmiddag op die stoep gaan sit. Sommer net gesit en vir die middag om
my gekyk. Het jy al ooit lank genoeg na iets gekyk of dieselfde woorde soveel keer oor en oor vir jouself gesê, totdat daardie ding of daardie woorde die betekenis verloor wat ons daaraan geheg het?
Jy kyk na die witvlieg, ñ pes en plaag wat gewoonlik jou rose verwoes, wat in ñ streep son onder die wasgoedlyn al in die rondte vlieg. Om en om. Totdat jy weet as witvlieg nie rose opfoeter nie, speel hulle ring-a-ring-a-rosies in die son. Witvlieg haak los van die woord plaag, en word net wit spikkels wat in die son speel.
Jy sit net en kyk na ñ middag. Nie ñ Woensdagmiddag nie. Nie ñ weeksmiddag nie. Nie eens eintlik na die tydgleuf voor aandete en na middagete nie. Net na ñ oomblik waarin verganklikheid en ewigheid tegelykertyd vasgevang is. Die vleiloerie in die hoek van die tuin duik agter ñ gogga aan. Dan is hy weg. Die volgende oomblik pik-pik die bontkiewiete met hul twee nuwe kuikens oor die grasperk. Dan verdwyn hulle veld in deur die draad. ñ Ewigheid vol verganklike oomblikke.
“Hoekom beweeg jou voet so op en af?” vra Helgaard wat met sy koppie koffie oorkant my kom sit om gou ñ breuk van sy nimmereindigende vergaderings te neem.
Ek hou my voet stil.
“Weet nie. Ek voel verveeld, al is ek toegegooi met werk. Nie eintlik verveeld nie. Opgeskeep. Ek weet nie,” en ek hou aan kyk vir die middag met sy oomblikke. Sien hoe ñ sprinkaan reg bo-oor Salomo spring wat om die hoek van die huis gestap kom.
“Afwisseling, jy het afwisseling nodig,” verklaar hy, “Kom ons stap bietjie hek toe.”
Alhoewel ons pal agter ons laptops sit en werk met datums en beplanning vir die weke wat kom, het iets van al hierdie begin losdryf van mekaar sodat elke ding weer in sy eie betekenis kom staan. Asof jy dinge weer beleef sonder hulle toegedigde hiërargie. Net die middag. Net die witvlieg. Net die skoenlapper wat om die voëlbak fladder.
Kiana het weer begin teken soos toe sy klein was – uur na uur, velle en velle papier, probeerslag op probeerslag totdat sy tevrede haar krullebol knik en haar naam onderaan skryf.
“Ek gaan my talente heeltemal wegbêre tot die skole weer begin en nuwes uitdink,” het sy verklaar en met die panga wat ons in Tanzanië gekoop het uitgestap en op die grasperk die Japanese swaardkuns begin inoefen wat sy so pas op YouTube gekyk het. Ons het die oggend gesels oor die man wat met sy een talent gewoeker het en die ander ou wat al tien begrawe het. Sy is gedetermineerd om te begin woeker.
Hoor ek selfs vanmiddag toe ek verby haar loop waar sy op die selfoon gesels: “Loop Ouma Elsabie net elke dag om die huis? Nee-nee, Ouma mòèt Ouma self ñ bietjie meer uitdaag. Ek gaan vir Ouma drie splinternuwe stokperdjies op YouTube stuur om te doen.”
Jy het seker net vergeet jy teken al van baba af, dis geen nuwe talent nie, wou ek agter haar aan roep om haar te herinner, maar die effe geroeste panga het reeds deur die lug geklief. Ek het dit gelos. Dit is soveel kragtiger om jousèlf te herinner aan wie jy is.
“Ons gaan ook vanaand ñ maanpartytjie hou om die supermaan te vier. Ek sal die vuur pak,” het sy beplan.
Lamont het ñ paar dae gelede kom vra, self kom vra!, of ek dalk ñ App kan aflaai oor hoe om klavier te speel. Sedertdien sit hy pal en leer Perfect van Ed Sheeran op die klavier, sodra sy skoolwerk vir die dag afgehandel is.
“Ek het vir Ouma zumba-klasse gestuur, origami en sy moet Grieks begin leer op DuoLingo.”
“Dink jy Ouma sal origami doen? Of Grieks leer?”
“Mamma! Dit is juis die punt! Om iets buite jou gemaksone te doen! En ek het vir haar net drie diertjies gestuur vir origami om te vou.”
Herder, my arme ma. Ek duik eerder weer agter my laptop weg voordat Kiana my ook wil besig hou!
Ons wag nog vir Vian. Om binne-in hom iets nuuts te voel fluister. Vian se naam
beteken “full of life” en tans leef hy bloot sy naam uit. Hy spring en hop en huppel en sing deur die huis. En dalk is dit presies wat hy moet doen.
Vanaand met die maanpartytjie het ons onder die vreemde wolke gesit wat weer terug was en na Kiana se vuur gekyk.
Dit was koud. Onplesierig. Daar het heeldag ñ vreemde bries vir hierdie tyd van die jaar in die Moot afgewaai. Hierdie herfs wou net nie bekend voel nie.
Maar ons was lank genoeg stil om ñ oomblik met ons eie self daar te kon sit, terwyl die maan groot en blink bokant die kapokboom opkom.
Ek kon nie help om vir die kinders hierdie gedig van Rumi vir ons kort, mini-maanpartytjie voor te lees voordat ons die huis in is agter ñ bietjie hitte aan nie:
“What in your life is calling you,
when all the noise is silenced
the meetings adjourned,
the lists laid aside,
and the wild iris blooms by itself
in the dark forest,
what still pulls your soul?”
Soms as jy lank genoeg stilstaan, vang jy vir die eerste keer weer jou eie siel.
(C)sureta von holtzhausen