President Cyril Ramaphosa het vandag die nasie toegespreek en grendelstatus verleng met twee weke.
Dit was die heeldag swaar bewolk en koel.
Daar gebeur ñ tipe balans in die psige van die kinders; ñ tipe tevredenheid wat hulle lanklaas so saamgedra het.
Kom ons praat oor die Paasnaweek waar niemand in die wildtuin kan wees nie.
Kom ons prààt maar oor die wildtuin, as jy nou nie self daar kan wees nie:

WAKKERWORD IN SATARA
Jy is nie seker of dit die koue is, of jou heupbeen wat in die harde grond deur die dun kampmatrassie druk, wat jou uit die slaap sleep nie. Dit is amper asof jy eers van die ongemak weet, daarna die wakker en dan die hiëna veraf kan hoor hooeee-hoep! Stadig, soos ñ helder watertjie wat oor ñ oorloop stort, weet jy waar jy is en ñ behaaglikheid kom lê jou vol.
Jy verskuif effe en druk jou neus ook onder die duvet in, terwyl jy weet die hekke maak binnekort oop; jy beter jou oë oopkry en orent wankel om die res ook aan die gang te kry.
Die krieke is nog aan’t sing en iewers by die beligte watergat van die duur Stanley Gastehuis, in die Noord-Westelike hoek van die kamp, whoep-whoep-whoep die zebras nou.
Die afrikaanse naguiltjie roep Good Lord Deliver Us en iewers in ‘n ander tent of karavaan snork ‘n oom nog terwyl jy al die eerste motors kan hoor luier; gereed om voor die toe hek te gaan tou om dalk daardie eerste leeus in die donker nog in die pad te kry.
Satara-kamp in die Krugerwildtuin se wakkerword is tentritse wat jy hier en daar hoor oop-en toegirts, voetstappe wat bedagsaam-versigtig verbyknars badkamers toe en skotteltjies vol blikbekers en eetgerei vir die ontbyt iewers by Nwanedzi of Timbavati of Muzandzene wat klingel-klingel gepak word; koelerbokse se deksels wat toeklap.
“Gaan haal vir ons die kookwater,” hoor jy ‘n vrou ‘n ent teen die draad af saggies vra, en in jou wakkerwordskemer sien jy sommer in jou geestesoog hoe sy die fles vir iemand aangee om by die gemeenskaplike kombuise te gaan volmaak; hoe die water uit die waterverhitter in die fles in plonsborrel.
Gedempte prate.
Die bosveldfisant sketter hard iewers in die veld en kondig die son se koms luidrugtig aan. Hy is op ‘n manier die hoenderhaan van die wildtuin.
Dan raak dit weer stil in die donker kamp met net die vroeg-uitry-ers wat sag probeer rondskarrel.
Die groenvlekduifie is nou wakker: My Ma is Dood, My Pa is Dood en Al my Kinders is ook Dood en my Hart Huil, weeklaag hy gelate iewers ver.
Flitsligte speel elke kort-kort oor die tentmuur en oor jou geslote oë.
Dan begin die ander tjirpies. Bobbejane blaf aan die anderkant van die kamp.
Kardeure en kattebakke.
Jy kom onvas orent op die matras, balanseer effe, trek jou warm baadjie aan, tas na jou toiletsakkie in die donker, voel jou bril en die flits raak wat jy elke slaaptyd naby jou kopkussing sit, sodat jy weet waar om in die donker te vat.
Jy rits julle tent oop, steek jou neus by die koue, donker oggend in, klim uit die tent en rits weer toe.
‘n Sekelmaantjie sal soms nog op sy rug net bokant die horison lê; die suiderkruis laag gekantel soos ñ vlieër wat duik.
Die donker bokant jou begin uitwas, asof iemand ‘n kers agter ‘n swart gordyn aangesteek het en jy steeds nie in die huis kan insien nie, maar die skynsel maak alles mooi en hoopvol.
Grys word blou.
Hardekoolskelette begin swart skets teen die horison anderkant die draad.
Die stil oggendroesemoes in die kamp is ontdaan van kinderstemme; brom-brom word hulle sommer in hulle pajamas in voertuie ingepaai.
Die eerste spreeus begin met mekaar gesels terwyl die oggendster verflou.
In die ooste breek daar opeens oranje iewers uit ‘n reënboog weg en dan pienk, totdat alles in pers en indigo oor die hemelkoepel vloei.
Julle is laat vanoggend. Die reuk van veld en oopte waai by die afgedraaide karruit in terwyl julle stadig hek toe ry. Die fyn fluitertjies is ook nou wakker en die oggendlug vibreer met die bos se perkussie.
Uit by die hek en die eerste trop tarentale wipdraf in die pad af, al voor die kar uit. Twee kameelperd-silhoeëtte wieg op hul lang bene voor die opkomende son verby.
“Watter pad ry ons? Die S100 of Ngirivani toe?” sal iemand vra.
Hierdie is die oomblik van die dag waarin enigiets nog moontlik is.
©sureta von holtzhausen