(Of soos die grappie sê Day 1, S02, E01)
Goeie Vrydag, 10 April 2020

Die wolkkolom gee nie bes nie. Grys en bankvas span hy oor ons. Die huis is koud.
Dit is asof ons almal tans ñ bietjie ongeskans rondloop. Jy lees dit oral raak.
Ons is ontdaan van ons roetines en roosters, sommiges van hul geliefdes, van ons beplanning en begrotings en ander sekerhede. Ons voel bloot gestroop en ons is glad nie seker waarmee ons dit moet vervang nie, want dis asof ons nog nie mooi seker weet presies waarvan ons gestroop is nie; nakend van ons sekerhede, sonder nuwes om die broosheid en ons sensitiewe areas mee te bedek.
Ek worrie altyd ñ ding vooruit. Kommer is iets anders as worrie. Jy dra kommer saam en dis ñ ding wat iewers in jou gees stowe op ñ gelate manier. Worrie het ñ frons en ñ ongedurigheid aan hom. Soms ñ tranerigheid. Worrie het meer doen in hom as kommer.
Jy kan maar vir my al daai goed sê van Worry cannot change tomorrow; it only steals today’s joy, Let Go and Let God, en hoeveel ander. Ek worrie.
Op 39 het ek deur ñ hele rouproses gewerk tot by 40. Ek was nog nie 40 nie, maar ek het solank vooruit geworrie oor verganklikheid, verydelde drome en verwante onderwerpe.
“Ek wil iets doen wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie,” het ek op 39 vir Helgaard gesê toe hy uitvra oor die 40ste wat voorlê.
“Wat van ñ groot partytjie?” het hy hoopvol voorgestel, radeloos dat ons niks uitgedink kry vir my verjaarsdag nie.
“Rêrig???!!! Hoe kèn jy my? Ek meen, kèn jy my enigsins? Ek vra nie vir ñ straf nie. Net iets om die geleentheid te merk. Is daar ènigsins ièts meer sinloos as groot partytjies?!”
Dis wat worrie doen. Jy baklei soms met jouself, maar hardop, sodat die mense naby jou dink jy baklei met hulle. Die arme man het my maar gelos om self iets uit te dink, want ek weet hy stem eintlik saam met my oor partytjies.
Ons het gaan jag. Ek wou.
Dit was nie asof ek ñ behoefte gehad het om iets dood te skiet vir my verjaarsdag nie. Ek wou net getrou wees aan wie ek is, outentiek, vir eens in my lewe – ek het besluit as kroon van die skepping, as rentmeester van die planeet en as ñ omnivoor wat meer neig na karnivoor as na herbivoor, moet ek die dapperheid toon om alles op my bord self uit die natuur te kan haal.
My vriend, Herman Clark, is ñ PH en ons en ons goeie vriende Anriette en Hardu Prinsloo van Delmas, is almal hier weg na ñ plaas buite Thabazimbi.
My eerste skoot was net-net mis. Mis is mis. Die bok leef. Toe ek my vinger mooi egalig terugtrek terwyl ek konsentreer om die geweer stil te hou met die bok se regterblad mooi in die middel van die visier, stap die rooibok doodluiters uit die skoot uit na die volgende graspol en dis mis.
Teen Saterdagmiddag besef Herman ons tyd loop uit en ek het steeds geen bok vir my 40ste Augustus op aarde nie. Ekself het vrede gehad. Die skoot wat geknal het was al bevestiging wat ek nodig gehad het, van dit wat ek van myself wou weet; van my karakter. Sondae jag ons nie.
Herman neem my ñ ent veld in met die bakkie, stop onder ñ maroelaboom en beduie ek moet afklim. Ons ken mekaar al jare.
“Hulle wei soms laatmiddag net agter hierdie plaat bome. Kom ons gaan kyk.”
Hy help om die geweer veilig af te lig en haak die geweer oor sy eie skouer.
Dis warm. Ons stap in doodse stilte. Ek agter hom aan.
Dis ñ mooi deel van die plaas. Oper, met groot bome en sanderige grond.
Kort-kort stop hy met sy hand in die lug, sodat ek kan sien hy stop sonder om in hom vas te loop.
Dalk is die bos nog die enigste plek op aarde waar al vyf ons sintuie akuut werk.
Hy wys kort-kort na ñ spoor in die sand. In stilte.
Fluisterend.
“Wat is hierdie?”
“Ratel.”
“Hoe weet jy?”
“Jy het my gister geleer.”
Dan lag hy net en ons loop verder.
“Hierdie?”
“Nie ñ idee nie.”
“Kyk mooi. Jy ken hierdie een.”
Ek kyk en kyk maar die dier wil net nie uit die spoor opstaan nie.
“Kyk, hier het hy begin grawe vir iets. Weet jy al?”
Fronsende stilte.
“Ystervark! Onthou jy nou?”
“O-ja!” Maar spore is moeiliker as ñ klomp wildtuinbesoeke en een middag se onderrig.
Die son bak. Ons word deel van die veld soos wat die mens bedoel was om daarvan deel te wees. Elke beweging of roering eis jou volle toewyding en elke sintuig vuur in hoogste versnelling. Ek dink nie daar is enige iets anders op aarde wat jou so teenwoordig kry in die oomblik as die Bos nie. Die bos bring jou na waar jy moet wees – aanwesig in jou eie lewe.
In ñ koeltekol stop hy weer en hy beduie ek moet sak, gaan sit self op sy hurke en toe plat op sy boude.
Ek kyk bekommerd rond. Lig my hande en skouers om te beduie ek sien of hoor niks.
“Trek jou skoene uit,” fluister hy.
“Wàt?!”
Hy het reeds sy kous in sy een skoen begin inbondel.
“Dis hoe mens eintlik jag. Kaalvoet. Skoene raas.”
Ek verstaan wat hy sê. Hoe langer jy in die stilte van die bos rondloop, hoe meer bewus raak jy van jou eie lawaai. Die girts-garts van jou stap in die paadjie verklap knallend jou koms, maak nie saak hoe sag jy probeer trap nie.
Ek trek my tekkies uit. Plaas versigtig my voetsool op die bosveld se oeroue bodem. Lou, grinterig.
Ons kom orent en in verwondering trap ek kaalvoet deur die bosveld agter Herman se rug aan. In totale stilte.
Die sand gee mee, nou en dan steek ñ dingetjie in jou voet maar mettertyd raak jy daarvan onbewus. Jy word die koelte, jy word jou skaduwee wat meng met jakkalsbessie se skadu. Wat verby die witgatwortelboom stap wat hy die vorige middag vir my en Helgaard uitgewys het: “Die Boere het koffie met sy wortels gebrou in die oorlog. Dis een van min op die plaas.”
Jy trap verby miershope en versigtig bo-oor mierleeutjies se tregterholtetjies.
Jy word intens bewus van jou ontblote hakskeen en dat jou voortbestaan afhanklik is van jou akute waarneming, van teenwoordig wees in die oomblik.
Om kaalvoet deur die bosveld te stap in jou hoedanigheid as Mens; Mens wat lewe soek om te moet neem vir jou om te kan leef, is een van die mees sensuele ervarings wat jy ooit sal beleef, sonder dat daar ñ ander mens by die sensualiteit betrokke was. Dit was die tipe sensuele belewenis wat jy net ervaar wanneer die grootse besef in jou kom lê dat jy deel is van die Groot Kring van dinge, jy die kliek hoor van jou legkaartstukkie wat vir nou in sy plekkie inglip, jy jou totale afhanklikheid begryp van die genade en seën waarin jy voortleef en dit ñ ding is wat konkreet met jou lyf ook gebeur in son en sweet en asem. Sensualiteit in denke kry jy net ooit as die lyf ook betrek is.
Ons is sonder ñ bok terug kamp toe, maar sedertdien was ek nog nooit weer op ñ meer suksesvolle jag as daardie middag nie.
Herinner ñ video wat ñ vriendin my annerdag stuur my weer aan hierdie middag. ñ Veldwagter vertel in die video van sy ervaring in die bos om ñ blinde buitelander op ñ wildrit te neem. Sy akute herbeleef van sy gewone omgewing deur haar belewenis daarvan.
Ons almal beleef ons gewone lewens meer akuut in hierdie dae. Daar is nie meer ruimte om weg te koes van ons eie leefstyl nie. Hy staan daar oop en bloot in die visier.
Ons was Donderdagmiddag nie deel van ñ mal paasnaweekuittog iewers op pad na ñ plek waar ons glo ons rus gaan vind nie. Ons het nie vanoggend wakker geword in die wildtuin, of aan die Weskus, Ballito of Dullstroom nie.
Ons was net in ons eie lewe. Ons het ds Christo se diens in die sitkamer geluister. Ons het paaseiers met hot cross buns en tee op die stoep geëet na die diens, soos elke Sondag of Kersdag of Goeie Vrydag, en gesels oor dinge wat die kinders onthou van plekke waar ons al was. Ek het vandag se fliek op Netflix gekies en binne 5 minute was die TV-kamer leeg, maar ek het in vrede aanhou kyk na Letters to Juliet – die eeue-oue debat oor die onbegryplike verskille tussen ewige liefde of praktiese liefde.
Teen skemer het ek op die stoep gaan sit en kyk hoe die donker inkom.
Om 7:00nm het ek ñ geluid gehoor, onseker of ek dit werklik gehoor het – ñ kerkklok.
“Hoor!” sê ek vir Helgaard wat intussen ook op die stoep uitgekom het, “Wie sou dit wees?”
Deur die grafstilte en swart donker beier die klok veraf, maar helder. ñ Ramshoring blaas kort daarna onmelodieus, maar seker. Oorwinnnend. Iewers in die donker, na Schoemansville se kant toe waar die kerke onderkant die Wimpy in gelid afrangeer dam toe, het iemand ñ klok gaan lui. Alles gaan wel wees, weet ek net. Die graf was leeg.
Ons het die radio aangeskakel terwyl ons almal kos maak; Kiana het haar heel eerste heel hoender gebak.
ñ Dominee van GK Pretoria, ek het ongelukkig sy naam gemis, het van Jesus se ses verhore in daardie een nag vertel. En hoe ons die Barabbas van die verhaal is – reeds ter dood veroordeel. Hoe Barabbas, ñ hi-jacker en rower van formaat (die dominee het die woord terroris gebruik, maar dis regstegnies inkorrek), hoe Barabbas, toe die Romeine se sleutel in die slot knars, seker gedink het: hier is dit nou – ñ welverdiende marteldood. En toe . . . sy onverdiende vrylating.
Barabbas, die ou bo-oor wie ñ mens lees, wanneer jy na die verhaal kyk. Jy lees mos maar gewoonlik bo-oor jouself.
Ons het begin eet.
Ek het sit en wonder oor my vriendin, Sonja Muller in die Paarl, se mooi WhatsApp-vertelling die middag – oor wat gaan ons kinders eendag van ons onthou? Veral in hierdie tyd van onsekerhede.
Ek het sit en kyk na die hoender wat Kiana gebak het, vir my perfek, die sous wat Helgaard gemaak het, die bakkie beetslaai en rys wat ek bygegooi het. Geloer of daar ñ bewolktheid in Kiana oorgebly het na ons vanoggend woorde gehad het. Belangrike dinge wat sy nou al moet reg oor dink, sy wat by die dam van my wegstap en oor haar skouer roep: “Ek is nou moeg vir Mamma se raad. Dis àltyd verkeerd!”
Wat sal hulle onthou van ñ stil, bewolkte Goeie Vrydag vol gewone dinge en ñ goeie skeut verveling hier en daar?
“Hierdie is die beste Paasfees ooit,” laat Kiana stil hoor. “Ek dink nie ñ Paasfees was al ooit so spesiaal nie,” en sy hap behaaglik aan die hoender wat sy self gemaak het.
“Hoekom?” Verbaas.
“Want dit voel reg. Vandag was hoe ñ Paasfees moet voel.”
My beker loop oor. Vir ñ groter wonderwerk op Goeie Vrydag kan geen ma voor vra nie.
Vandag het my laat besef dat almal van ons in hierdie tyd kaalvoet jag. Ons moet gemaklik raak met ons broosheid en ons moet weer leer waar om die witgatwortels uit te grawe, sodat ons steeds kan koffie brou.
(C) sureta von holtzhausen

https://youtu.be/ppVjqaUQ5yQ
**** Hier is die link na die video oor die blinde meisie en hoe ñ veldwagter die Bos deur haar beleef. Dis pragtig – doen jouself die guns.