Dit is teen vroegaand dat die dae
vir my bekend begin voel. Soos ñ ou vriend wat alles van jou weet en jy niks hoef voor te gee nie. Die naggeluide hier in die Magaliesbergmoot langs die dam ken ek amper beter as die daggeluide. ñ Mens ervaar die nag en sy dinge mos meer akuut.
Ek het pas in die bed geklim toe ek hoor hoe die twee nuwe oor-uile op die dak rinkink. Bitter min kere het ons hulle die afgelope jare hier rond gehoor, maar die afgelope week is hulle in die nag hier doenig.
Knap voor 1:00vm het daardie fluwelerigheid van ñ hoe-hoe deur die nag gevou. Die ander uil het teruggeantwoord vanaf die begraafplaas se rigting. Ek skakel my selfoon se voice recording aan en neem die twee se ge-hoe-ery vir mekaar op, terwyl ek in die donker onder die duvet lê. Tussen hoe-e is die nag ontdaan van alle geluid – ñ stilte so wyd soos die oneindigheid. Die kiewiete met hul twee kleintjies skuil tjoepstil iewers, die dikkoppe roer nie, selfs die krieke het viole neergelê. Tjoep-graf-stil.
Die ander uil moes op ñ stadium nadergeswiep het – uile vlieg mos nie, hulle swiep of sweef op die donker se paaie rond. Met die ander uil ook by is dit toe nou ñ gekuier hier bo-op die nok van die dak. Val hulle mekaar selfs by tye in die rede. Naderhand klink dit my of hulle ñ uile-kànon probeer sing. Dis ñ “hoe” en voor sy nog by die tweede “hoe-e” uitkom, begin die ander een dieselfde lied met “hoe”. . . en dan “hoe-e-hoe-e”, eindig hulle so saam-saam.
Die grootste deel van ñ uur lê ek vir die twee hier bokant my kop en luister; soos lang fluweellinte van klank wat sterlig aanmekaar hekel en ñ slapende wêreld sus met hulle uile-wiegelied – so mooi.
Teen vroegoggend het die man oorkant die hoofpad se leeus gebrul. Hulle was lank stillerig. Toe hulle jonger was het hulle klokslag die son gegroet soos wat ñ leeumannetjie maar maak- elke skemeraand en skemeroggend. Deesdae is hulle heelwat stiller. Sal ek eerder nie hier skryf wat ek dink van Afrika-diere in klein spasies nie.
Laat weet my oom Billy vir Ma daar loop deesdae ñ groot trop tarentale in Sinoville se strate rond. Doodluiters.
Daar is hierdie dinge van lockdown: dolfyne in Venesië, aasvoëls in die tuin, tarentale in die stad, wat vir my amper wonderwerkagtig mooi is om te hoor of te beleef.
Daar is ook vir my dinge van lockdown wat vir my so ver verby onmenslik is, dat ek dit in my wildste drome in ñ menseregte-Staat nie kon voorstel nie. Klein peutertjies en kinders wat sonder hul ma’s of pa’s in ambulanse weggeneem word nà ñ seerkry, ñ komplikasie, ñ pofadder-pik. Ouers wat soos babas snik oor die skeidingsangs en trauma wat so-iets aan hul kind doen. Geliefdes wat alleen moet sterf. Of herstel. Alles weens die nuwe Covid-19 regulasies. Daardie is ook dinge waaroor ek liewer nie nou hier wil skryf nie.
En dan is daar die vreemdhede van inperking. Soos om middagete om 11:00vm op ñ Saterdagoggend te eet.
“Jy beter ophou met daai Jamie Oliver-videos. Jy gaan jou hele dieet opfoeter,” waarsku ek vir Helgaard waar hy YouTube-videos op sy selfoon sit en kyk. Hy het aanbeweeg van America’s dumbest criminals, of High speed Chases, na Jamie Oliver.
“Nee-wat. Ons hou mos nou by die simpel dieet. Dis net lekker om te kyk. Bouquet Garni? Wat’s dit?”
“Ek gaan jou nie sê nie. Ons eet vandag net groen groente. Kyk iets anders – the complete 5 minute workout, of iets . . . Dis ñ klomp geurmiddels in ñ pan of sakkie,” gee ek bes.
Ek kon nog Dinsdag en Woensdag af en toe Jamie se Britse aksent hoor wanneer Helgaard kans kry vir YouTube na al sy werksdinge.
Donderdagmiddag in Pick n Pay se tou: “Het ons pork belly in die vrieskas?”
“Nee, hoekom?” Suspisieus.
“Staan jy hier. Ek moet gou slaghuis toe. Ek kom kry jou nou.”
Vanoggend gly ek regop in die bed en begin die vorige dag se storie neerskryf. Helgaard staan op, gaan bad, trek aan en gaan ondertoe.
Naderhand kom Kiana ingedrentel en drapeer haarself oor die bed se voetenent. Ons gesels en gesels. Ek bad, was hare, trek aan en gaan drapeer myself daar langs Kiana terwyl ons gesels.
“Hene, my kind. Dis al elfuur. Help my gou met hierdie bed.”
Terwyl ons bed opmaak kom Lamont in: Mamma, Pappa sê julle moet kom eet.”
“Ek het klaar eiers gehad,” begin Kiana reeds walgooi.
“Dis nie ontbyt nie, Kiana, dis middagete,” sê Lamont en loop uit.
In die kombuis is die lang tafel gedek- laventel-ruikertjie, wynglase en al.
“En die? Dis 11 uur, my Engel?!”
“Die pork belly het baie gouer geneem as wat Jamie se resep sê. Die kos is nou reg. Ons kan net sowel eet.”
“Flippit. Viva, lockdown! Kom ons eet dan,” en ons almal sit om die geroosterde pork belly en wortels met rys.
Sondae het Pa altyd vir my en Lize ñ vingerhoedjie se soetwyn in ñ sjerrieglasie geskink saam met ete. Van kleins af. Ek noem dit nou die dag vir Helgaard.
Daar staan vandag ñ rooiwynglas agter elke kind se bord. ñ Oop bottel Merlot by Helgaard se bord.
“Die dieet…”
“Ek drink vandag ñ glasie wyn en eet normaal. Gaan jy ook?”
My rubber-arm draai …. eintlik heel maklik.
“Net ñ halwe glas.”
Hy gooi vir elke kind ñ pirtsie Merlot in.
“Engel, rooiwyn is bietjie heavy vir die wegspringblokke. Dink jy nie? Het ons nie iewers OBS of iets nie? Vian!”
Vian het nog nie sy slukkie wyn in nie, maar sy arms waaier reeds en hy praat non-stop.
“Kom, ouens. Etiket. Vian, haal jou tong uit die glas!” probeer ek orde skep.
Helgaard neem oor.
“Kom, jy neus hom eers,” en Helgaard begin sy wyn in die glas ronddraai. Lamont proes van die lag, by die woord ‘neus’ en hy sproei sy eerste sluk merlot reg oor die tafel.
“Neus?!” lag Vian in tandem en druk hierdie keer sy hele neus in die glas in.
Kiana lag so vir haar boeties, dat sy nie haar eerste slukkie geneem kry nie. Die kinders se eerste les in wynprotokol was, om die minste te sê, ñ reuse sukses in samesyn, meer as in wyn-etiket.
Kiana begin vir Lamont lag wat sy tong met albei vingers vashou omdat hy sê dit voel lam.
“Jy is sò vol drama, Lamontana! Jou drama-lama! Dis onmoontlik dat een slukkie wyn jou tong lam het,” lag sy vir haar boetie.
Lamont is ñ jolige palmboom en die lewe is net te kort om nie ñ skeut drama by te voeg nie.
“Ek sê julle, dis asof Oupa Thys se naald my tong verlam het!”
Nou-ja, Jamie Oliver se pork belly is aan te bevole. Veral om 11vm op ñ Saterdagmore.
Ma het gebel. Elias vra of hy kan geld leen. Niemand gee nou vir hom werk nie en sy moet ñ voorskrif by Dischem optel. Elias het voor grendelstatus een dag by Ma en Maandae by my begin werk. Abel is nie ñ groot vriend van tuinwerk nie, maar daar is nie sprake om hom te laat gaan nie.
Ek trek my handskoene aan, masker op, kry vir Ma by hulle hek, ook gemasker en gehandskoen en ons gaan gee vir Elias daar voor Pick n Pay sy geld vir die hele April.
Ons het daarna gou die voorskrif gekry in die nuwe stilte van inkopiesentrums – almal se onderste dele van hul gesig is gemasker. Die meeste mense.
Ek wonder of retail therapy iets met die onderste helfte van gesigte en musiek te make het? Geen musiek speel deesdae oor die luidsprekers nie. Mense is stiller in hul doen en late. Daar is ñ somberheid in die mall en mense skram vir mekaar weg.
Ek het Ma gaan aflaai, nuwe handskoene aangetrek en gou tee gedrink terwyl ek aan niks probeer raak nie.
Pasella, hulle Jack Russell, en ñ jong blou-aap het mekaar moeg gespeel deur die tuin. Twee vet kwêvoëls het by die bak kom water drink en ek en Ma het oor Oom Johan gepraat. Oor oom Billy. Oor hoe swaar dit is om hier aan te gaan met jou lewe, terwyl een van jou mense in die dal van doodskaduwee stap.
Maar ons het gelag ook. Ons kry altyd ñ rede om saam te lag of saam te onthou. Veral oor Pa se verontwaardiging Donderdag toe die Obaro-man vir hom sê hy kan nie ingaan nie, want grassnyers is nie essensiële dienste nie. Net boerdery is. “Wanneer laas het die mannetjie ñ grassperk met ñ slasher probeer kort hou?” het Pa gevra, terwyl ek en Ma wonder oor iemand se vermetelheid om namens die vroulike geslag te besluit lipstiffie en maskara word toegeplak, maar heel balm en haarkleursel is oukei om in ñ lockdown te koop.
Die son het die herfslig deur die tuin geskyn en Pa was onder in die garage doenig om die grassnyer aan die gang te probeer kry.
Ek het stadig teruggery huis toe met die Magalies wat oop lê onder die blou lug. Een kar het van vooraf gekom.
ñ Aasvoël het hoog bokant die kranse soos ñ ontsnapte kwartnoot gehang. Die wysie het vandag van oral af opgeklink.
(C) sureta von holtzhausen