Ek begin bederf raak met die volslae stilte waarin ons soggens wakker word; selfs die Sondae-oggende sonder kerkklokke. Vanoggend het ons weer saam in die sitkamer na die diens op YouTube geluister.
Na die diens is ek tuin in. In hierdie huis lyk gebed op vele Sondae voor kerk soos ñ vrou met ñ tuinslang tussen blombeddings. In tuine ruis en roer daar immer dinge, blom dinge en stoot nuwe lewe, vrek dinge weg en verras die kleinste komplekse verweefdheid jou keer op keer tussen kelkblare of waar dit op ses garingdunbeentjies teen steeltjies hang.
Kom Vian uitgestap en steek effe vas ñ entjie van my af, skouertjies verlep staan hy maar net en kyk hoe die salies en dahlias buig onder die swaar spuit water.
“Wat’s fout, Liefie?”
Hy sug diep.
“Ag…. niks.”
Die water spuit ñ blink streep deur vandag se helder herfs. Eindelik is daar ñ dag waarop die herfs lyk soos ek hom ken.
“Sê maar, my kind. Ek kan mos sien.”
“Hoe is dit hèèltyd, Sondag?” vra hy nie opstandig nie, net effe moedeloos in sy verbasing.
Snap ek die dilemma. Herder, hoe lag jy nie vir daai elfjarige dimpel-kennetjie-sproetgevreetjie wat so verslae daar staan nie? My kinders mag tussen Maandae en Donderdae geen rekenaarspeletjies speel nie. Sondae, nèt die middag as daar geen ander dinge is nie, maar beslis nie op Paassondag nie. Fortnite is nou nie wat ek noem ñ sielsopbouende aktiwiteit nie en ek is nou jammer, maar hierdie ma reik nog na dagdrome en storieboeke en kyk verveeld na die wolke, vir haar kinders- want daaruit vind die siel sy pad.
“Ek sê jou wat. As jy vandag daardie lang ry irisse daar vir my natspuit, dan kan ons môre gesels oor sakgeld as jy dit in die week ook wil doen. Wil jy?”
Hy knik net, neem die tuinslang en sleep hom oor na die irisse.
Toe ek huis in mik, is die skouertjies reeds reggetrek terwyl hy begin fokus op die straal water en die blare wat begin dans. Tuine.
Die dag was gedigmooi. Die son het saad geskiet saam met hierdie geil seisoen, ons het laatmiddag gebraai en die alkoholvrye gin wat ek Donderdag by Pick n Pay gekoop het loop mooimaak.
Daar was twee tameletjies wat alkoholvrye gin en alkoholvrye sjampanje vir my presenteer: het ek dalk net in ñ bemarkingslaggat getrap en my dinges af betaal aan twee bottels koeldrank? Al NOEM iemand die woord alkohol in die beskrywing.
En, is daar ñ etiese probleem met kinders wat iets drink wat soos alkohol verpak is? Ek weet hoe bloedig ek my vir ñ ma vererg het vroeër die jaar wat vir Lamont se Graad 7-klas alkoholvrye sjampanje gestuur het. Vreeslik vererg en met Lamont ñ gesprek gehad het, maar die ma maar gelos het. Strike one.
Ek het vir die kinders gesê ek het vir hulle tonic water mooi gemaak. Die alkoholvrye-drank-verpakkings en minderjariges wil maar nie reg lê met my nie.
Nietemin, Vian het een sluk van sy mooi tonic-water geneem en gevra vir Milo. Kiana en Lamont het hul bes probeer om die roosmaryntakkie in te asem en die wierook-drankie, soos ons dit gedoop het, te geniet vir wat dit was – ñ nuwe ervaring.
Ons het geëet en toe is dit tyd.
Die hele dag was ek bewus daarvan dat mense regoor die wêreld na hierdie tydgleuf mik. Mense met hul eie stories, hul eie seer of angs of blymoedigheid. Ek het my naastes per WhatsApp laat weet om te onthou om te onthou van Andrea Bocelli se gratis vertoning.
Daar staan hy, hierdie blinde man in Italië se grootste kerk. Europa se tweede grootste. Die Rooms Katolieke katedraal in Milan. Nie eens Wikipedia kon ñ foto kry om op hul webtuiste te plaas van hierdie hemelmooie gebou sonder mense voor hom nie. Voortdurend mense; toeriste, Italianers, altyd. 600 jaar het dit mensehande geneem om hierdie stukkie asembenemendheid te skep – 6 eeue.
En vanaand 19:00 in Milan en in Hartbeespoort, in die Laeveld en aan die Weskus en Delmas en Roodepoort, 11:00 in Red Deer Kanada, 18:00 in Londen en St Ives, 5:00 in Tauranga Nieu-Seeland, 3:00 in Melbourne Australië, oraloor op hierdie uur het almal ñ skerm gaan aanskakel, elkeen met hul eie hart vol leef en vrese en wankelrige liefdes, en gewag.
Hy het daar stil in homself gestaan en die musiek het uit hom en die orrel geval sodat ons almal, elke taal en nasie die Italiaanse volk se onnoembare verliese gevoel en verstaan het. Totdat ons elkeen ons eie verliese verstaan het. Ons harte vol was. Harte is altyd boordens vol dankbare waters van rus wanneer iemand namens jou, jou verlies en vrees en leemtes reg verwoord, al kom die woorde in tale van die gees na jou.
Ons het verstaan dis ñ tipe mini-roudiens vir die bykans 20 000 Italianers wat dood is aan Die Virus, bykans 10 000 mense net in die provinsie waarin Milan geleë is. Duisende ander in Parys, New York, Spanje.
Hy stuur sy fluweelstem oor die skerms van miljoene mense.
Op ons skerm staan 2, 669 091 are watching. Net in ons huishouding kan jy daardie syfers met 5 maal – ons kyk 5 mense na een skerm.
Die kerkbanke glim ry op ry op ry in die leë kerk – die kunsskatte amper oorweldigend gelaai aan die verhale van eeue. Ontdaan van mense, van asems, van harte. Maar iewers begin jy weet- daardie banke sit volgepak met die siele wat ons vooruit is. ñ Tipe troos wat sê kyk, ons het die aardse deel voltooi, ons weet reeds dinge wat julle nog moet uitvind, maar leef aan. Alles sal wees soos dit moet. Die kerk is vol.
Dan stap Andrea Bocelli in Milan se stilte in. ñ Uitgestrekte, menslose plein strek voor hom uit. Die stilte vertel ñ verhaal wat niemand self kon uitdink of in moderne tye kon voorsien het nie. Dit vertel die verhaal van ons broosheid, al het ons dit vir ñ wyle vergeet.
Op daardie majesteitlike gebou se trappe in daardie majestueuse Romeinse stad het hy gaan staan en begin sing van genade, onbeskryflik groot. ñ Ou-ou lied.
Amazing grace; ñ deurtrapte lied met ñ boodskap waaraan ons steeds oor en oor herinner moet word. Daar is hoop, want daar is genade.
In 6 eeue het die mensdom aan die katedraal se voete geleef, gebreek, geheel en weer alles van voor af. Oor en oor.
Maar soms moet dit heeltyd Sondag wees vir ons om weer te onthou hoe ons is en hoe ons moet wees.
(c)sureta von holtzhausen