Paasmaandag, 13 April 2020

Vroegoggend het die paashaas in die tuin rondgesluip en drie kinders se paaseiers versteek.
Dit is elke jaar interessant om gade te slaan hoe hulle hierdie soektog aanpak – aanvanklik is daar amper ñ effense gierigheid te bespeur… ñ koorsagtige rondhardloop in die tuin om soveel as moontlik sjokolade-eiers eerste raak te sien en vir jouself in te palm, daarna begin elkeen volgens sy eie sisteem meer deeglik en volgens plan die tuin fynkam om enige eiers wat dalk misgekyk is op te spoor en dan is dit asof hulle hul kragte tèèn die paashaas begin inspan en hom as ñ span saam probeer uitoorlê:
“Hey, Lamont, het jy opgekyk? Hy sit die eiers hierdie jaar in bome se mikke ook,” sê Vian terwyl hulle aldrie van boom tot boom stap en Kiana op nog eiers afkom in die wilde voëls se skinkbord wat van die johannes broodboom se takke hang.
“En ek hèt nogal daar gekyk,” roep Lamont, verontwaardig vir sy eie oorsig, uit, “hy is hierdie jaar sò sneaky. Kyk hoe hoog steek hy dit weg!” (Die haas weet seker Ma en Pa se Jack Russell is op die werf en hy weet waar kan Pasella en Salomo en Skeba oral bykom!)
Van hul kleuterjare af weet ons kinders die paashaas glo in deel na afloop van die soektog, want hy is ñ regverdige haas. Elkeen kry ewe veel marshmallow eiers, harde eiers en spesiale eiers. Hulle gooi hulle fonds op die lang tafel uit en deel dit presies tussen hulle drie.
Kiana kom later die kombuis in:”Dankie dat Mamma my ma is.”
Ek sit die muffinpan onmiddellik neer, stap om die eilandjie en gee haar ñ lang druk. Met Kiana moet jy die oomblik vang sodra die son hom laat blink. Dis vlietend. As sy maar weet hoeveel foute ek maak, hoeveel keer ek al in die stilligheid my kop vir my ouerskap-mislukkings geskud het, gewonder het hoedehel het dit gekom dat drie wesens se ontwikkeling en toekoms aan my toevertrou is. . .
“My liefkind, ….. en dankie dat jy….”
“MOENIE daai sê van dankie dat jy my gekies het om jou mamma te wees nie, Mamma! Ek het jou nie gekies nie! Kinders kies nie hul ouers nie!”
“Maar Kahlil Gibran sê kinders kies die ouers….”terg ek.
“Mamma! Die Here kies. Komaan… Anyway. Al glo ek nie meer in paashase nie, sal ek altyd op paasoggend aan hom glo. So, moet nooit vir ons ophou eiers wegsteek nie, oukei?” en sy is uit by die deur.
Sy hoef nie bekommerd te wees nie. Sy sit met ñ ma wat nog glo sy sien feetjie-vlerke blink onder varingblare, kersvader se bokke klingel al van 1 Desember af oor die huis om te kom kyk of die kinders nog soet is en die tandemuis word klokslag geroep: muis, muis bring vir my ñ steentand vir ñ beentand. As jy nie self die sprokies, die feëtjiestof, die towerkrag in jou lewe inbring nie, gaan dit nie vanself gebeur nie – toor het nog steeds ñ towerstaf en ñ bietjie verbeelding nodig.
Sedert gister is dit asof gemoedere halfmas begin hang.
Dit is vir my moeilik om werklik te bepaal hoekom.
Ma het ñ siek kleinboet in ICU wat sy nie mag sien nie, Pa sit met twee stukkende grasmasjiene en kniehoogte gras, ek en Helgaard stoei met aanlynforums en nuwighede by die werk. Maar dis nie net die gewone dinge van leef wat ons effe bedees het nie.
Dit is nie rou nie; daar is werklik by mense wat ek ken geen werklike verlies by name te noem nie. Selfs ons vryheid is nie verlore nie, tydelik ingeperk wel, maar nie verlore nie.
Al hoe duideliker staan daar vir my ñ sekerder wete tussen al hierdie op: die proses om weer jou gediskonnekteerde stukke aanmekaar vasgegroei te kry het begin. Groei is nooit ñ maklike ding nie. Dis meesal maar blerrie seer.
Vandat grendelstatus amper drie weke gelede begin het, word jy skielik wakker met net jouself; die grootste stuk van jou doenlys nie meer ñ faktor nie.
Skielik moet jou brein wat alewig dink en beplan, nou na die hart luister om te bepaal of jy oukei is en om te weet of jy oukei is moet die hart na jou gut luister, daardie oer-instink van jou, om te bepaal of jy nog veilig is, en om te bepaal of jy nog veilig is, moet jou oer-instink terug na die brein om uit te vind hoe jy beplan om hierdie moontlike bedreiging te fnuik. Oor en oor: jou brein na jou hartbrein na jou gutbrein. En as jou multi-breine oor en oor binne-in jou weef, raak dit ongemaklik want heelword en nuutword is onbekend. Onbekend is onbemind.
Dit gaan alles tyd neem. Wees egter opgewonde. Sit hiermee. Moenie dit vermy nie. Neem die mandjie en soek in mikke en tussen blomme en op donker plekke in jou. Daar is geen mens meer heel en tevrede, as die een wat verstaan dat jy soms jou hart moet laat praat want jou brein het hom te lank stilgemaak nie; of dat jy soms jou brein ñ spreekbeurt moet gee omdat jou hart altyd kwetter met oorweldigende emosies sonder woorde, of dat jy ook na jou gut moet luister, want jou oorlewing hang daarvan af, nie.
En eers nou dat ons begin stilstaan, kan hierdie drie breine binne-in jou begin saamgesels – kry die hart dalk sy eerste spreekbeurt in baie jare.
Rou daaroor, sit stil met jouself en indien nodig, reik uit. Daar is altyd daardie een mens wat lank reeds in die skattejag van jou gees al hierdie dinge in jou ontdek het, al moet JY nog.
Soms moet ons eers die effense gierigheid van die oorlewingsdrang neerlê, daarna effe deegliker beplan en verstaan dat jy eintlik veilig is, vir vandag is jy veilig, en dan kan jy jou hart laat praat en weet ons is almal saam in hierdie penarie- wêreldwyd is ons almal saam besig om paaseiers te soek in die vergete uithoeke van ons wese.
(c)sureta von holtzhausen