Vroegdag het die storm begin bou.
In helder sonskyn het jy die bries voel pluk, maar steeds het ons bondels wasgoed bly ophang. Laag op laag het die wind homself neergelê. Kort-kort is jy buitentoe om stukke klere wat afgewaai het, terug op die draad te hang.
Die blou is tydsaam uit die lug gewring totdat die wit in grys en lood begin skakeer het, maar steeds het ons die simpel rose wat nie wil vrek nie en ook nie wil gedy nie, natgespuit.
Die wolkkolom wat hierdie herfs nog selde die wyk geneem het, het grou begin maal en kolk, maar steeds het ons gaan stap, gaan kyk hoe die perde wat hier onder wei nader galop as hulle ons stemme hoor en dan buite bereik gaan stilstaan; asof hulle smag na ons aanraking en samesyn maar ons nie vertrou om dit te gee nie.
Die versekeringsmaatskappy het ñ sms gestuur en Helgaard het die kombi onder die afdak gaan trek, ons het ons rekenaars uit die muur getrek en vir Ma en Pa gebel om hulle te waarsku om ook hul voertuig in die garage te sit, maar steeds moes ons boontoe hol om vensters en balkondeure betyds toe te kry, toe die wind die reën begin rondgooi.
Almal sê ons moet die kinders nie oorweldig nie, ons moet hul gemoed in ag neem, net asemhaal, maar steeds begin die skole versigtig terugvoer verlang oor vordering.
Die plotte se krag gaan as ñ reël af na die tweede bliksemstraal en dan sal die Madibeng Krag WhatsApp-groepie begin piep oor wie se krag af is, wie het dalk die fout rapporteer en wanneer verwag hulle herstel, maar steeds het jy aanlyn ñ vraestel probeer opstel en heel waarskynlik alles verloor toe jy die wi-fi sein verloor kort nadat die krag af is. Jy weet nog nie.
Die storm het teen 15:20 losgebars soos iets wat verligting vind. Takke het gesweepslag, die reën het van die dak gestroom en het onder die stoepdak ingedryf, om 15:40 was dit swaar skemer in die huis en moes ons kerse aansteek.
Hoeveel dinge in ons lewens kan ons sien opbou en ons berei nie behoorlik daarvoor voor nie; asof dit nie werklik gaan gebeur nie? Hoeveel keer sal ons soms stap na die grensdraad van vriendskap en bevind dat die mens daar eintlik net-net buite die kring van omgee bly beweeg soos ñ mak
perd wat begin verwilder? Hoeveel keer sal ons dinge doen uit gewoonte, omdat dit soveel makliker is as om waaragtig te glo dit sal binnekort op die rose reën? Hoeveel keer sal ons die tekens van iets wat gaan eindig bly miskyk, omdat ons onsself die ongemak wil spaar? Hoeveel keer?
Die reserwebank het die repokoers vandag met nog ñ persentasiepunt laat sak.
Johan Rupert het gesê ons gaan ekonomies harde klippe kou vir die volgende drie of vier jaar.
In Kanada het die Covid-19 syfers met rasse skrede begin klim.
Dalk is daardie onrus wat in ons opbou soos ñ laatmiddagstorm ñ tipe oerwete dat ons van ñ klomp dinge ontslae sal moet raak: jy jouself moet stroop van onbenullige gewoontes, van gedrag wat geloof ondermyn; jy vriende wat net die broodkrummels van hul vriendskap na jou kant toe skiet moet laat gaan; lou liefde moet uitspoeg en eerder alleen moet vorentoe, of dalk ophou speel en ware liefde aangryp; verder moet gaan swot of dalk vir die eerste keer moet gaan swot, gaan reis of begin teken of doen soos jou gees vibreer.
Ons kan die storm voel opbou. Ons kan sien hoe wring die blou uit die helder dae. Ons kan nie meer bekostig dat onbenullighede ons dreineer nie. As die krag afgaan, moet ons weet waar die kerse is.
Doer op die horison het die son oplaas deur ñ oog in die wolke gegloei. Ver. Baie ver. Die hele hemel was rooi. Toe is dit weg.
Die donker het oor die berg gekom. En in die lig van die kerse op die lang tafel, het dit vir ñ oomblik gelyk asof ons almal anders is.
(c)sureta von holtzhausen