Daar was drie, nee vier, weemoedige dinge in vandag.
Ek was nog in die bed toe ek net na 6:00 die spookvoël hoor. Ek het lê en kyk na die wolke wat die seisoen nie met rus wou laat nie. Daar was skerwe blou skoongewaste lug met groot stukke wit wolke wat reeds begin dreig het om die nuwe dag se son toe te pak. Lang repe sonlig het deur die dag se Delft geglip om om die kranse en deur die klowe te vou en glim.
Ek het vir baie jare gewonder oor die uitgerekte, weemoedige geluid wat baie gereeld uit die berg se lyf opklink. Spookvoël, het ek naderhand geleer. Hy is nie ñ vroeë sanger nie, maar vanoggend dra die eerste lang skaduwees sy roep tot in die tuin.
Dit het sedert gister 26mm gereën, maar die tuin en veld het reeds lomerig begin raak. Die groei in die gras en die spruit van nuwe lote reeds traag.
Gister het daar glo sneeu geval in die Rhodes-omgewing.
Pa sê hy maak al ñ week lank saans vuur in hulle kaggel.
Ek en Helgaard was mid-oggend reeds sat gesit agter die rekenaars, ons het die kinders gelos met hulle skoolwerk en het ons een van ons gebruiklike roetetjies op die plot gaan stap; regs uit by die voordeur verby die groot bedding met die kapokbome, weer regs af waar die devils’ backbone teen die tuinlig groei tot by die onderste hek waar die twee vreemde perde wei, dan al die pad weer terug verby die van der Walts se gastehuise tot by die boonste hek wat na die hoofpad lei, links oor die stuk groot grasperk dammetjie toe en by Annelize se huis verby terug na ons s’n.
Dit was onder by die perde wat Helgaard eerste die beweging onder ñ kareeboom aan die veldkant van die heining raakgesien het.
“Wat is so rooi daar regs van die boom?”
“Oeee….. dis hy! Vleiloerie.”
Ons het een vleiloerie wat maatloos sy dae om soek en duik na goggas in die onderbos. Alleen doer onder in die hoek van die tuin. As Abel die dag werk en hom sou sien kom roep hy my – “daai voël wat jy laaik is hier.” Pragtige alleending wat my altyd laat wonder oor sy maat. Vleiloeries is skugter wesens. Hulle kleure is bymekaar gegroepeer asof die Skepper hom die bos se treffende perfeksionis wou maak – vir hom ñ lied gegee wat altyd iets in my hart wat toe moes bly, oopsing. Sy vlerke die kleur van ñ sonsondergang wat te lank bewonder is en toe geroes het. Vleiloerie.
Ek het hom probeer bekruip vir ñ foto, soos altyd, maar hy het geruisloos onder die geroeste sonsondergang van sy vlerke veld in gesweef.
Die derde weemoedige ding was Bruce Springsteen. Iewers het ek raakgelees dat hy vandag ñ gratis konsert van sy huis sou stream. Die berig was foutief en dit het blykbaar groot Twitter-konsternasie veroorsaak. Dit was nie dat Bruce sou sing nie, Bruce het net van sy huis af sy eie speellys wat hom deur kwarantyn kry, met die wêreld gedeel en vertel hoekom. Dit was ook reeds ñ week gelede se Woensdag.
Daar was egter vir my meer gerusstelling in sy vertelling as in enige van sy liedjies. Hy wat vra wat mis jy gedurende lockdown? Hy is gewoond aan alleenwees. Wat mis jy nou eintlik?
Sy lysie dinge was al die dinge ‘which makes us, us”, verwysende na Amerikaners: ñ hot dog by ñ straatkafee, sy daaglikse stappie in die park, ñ koue bier met vriende by die plaaslike kroeg. Doodgewone dinge.
Kaviaar en sjampanje, meer geld, ñ rit in een van sy sportmotors of op ñ Harley Davidson-motorfiets, ñ reis na Europa of een of ander eiland; geen van die luukshede van sy vermoë het die lys gehaal nie. Doodgewone dinge hèt.
Sodra ons die onbenullighede in ons bestaan kan uitsny, die gejaag na wind kan stopsit, het ons reeds alles, àlles wat selfs die wêreld se superrykes na smag as dit weg is – al die dinge wat ons, òns maak: ñ braai saam met jou mense, ñ stappie met die honde, ñ glas koue Kaapse wyn na ñ lang week, jou kinders gesond en gelukkig. Die meeste van ons het dit reeds. Waarheen jaag ons dan so?
Die meeste van ons lei reeds ñ lewe vol van die dinge wat werklik saakmaak. Doodgewone dinge.
Ons moet dit net bly onthou as ons almal die dag hier uit is en jy jou voet weer op die hamsterwieletjie van futiliteit wil plaas.
Ons het reeds alles wat ons ooit sal mis.
Bruce het verder gegaan en die dood betreur van een van sy vriende, ñ liedjieskrywer met uitsonderlike talent. ñ Skrywer wat eintlik net beskik het oor die vermoë ‘to observe the fine details of ordinary lives’ en dit dan neergeskryf het.
Om terug te kan sit, asem te haal en net dit wat elke dag se leef na jou bring op jou eie manier te kan dokumenteer of vas te vang; dààrin lê ñ tipe heilsaamheid.
Laatmiddag moes ons ry. Pick n Pay was reeds toe en ons is na die Grieke in Schoemansville se kafee – eintlik Foodzone, maar vir my sal dit altyd die kafee-langs-die-poskantoor bly.
ñ Bak roomys vir die kinders om die laaste somer uit die dae te haal, vier sjokolades-want-Helgaard-wou-nie-hê-nie, ñ Fair Lady oor daar ñ artkel in is ‘The rise of Storytelling’, die brood waarvoor ons eintlik gekom het.
“Jy het nou al ses dinge wat jy glad nie nodig het nie. Ons het vir brood gekom,” hef Helgaard ñ Jeremia-lied hier langs my aan.
“Off course she can have six things she does not need!” praat die kleinste Griek hier reg agter ons. Ek kan sy naam nooit mooi hoor nie.
“Ha! Lekke’ kry jy raas,” praat ek terug, “ek kan nie help jy mag nie sigarette koop nie. Gaan haal dit op oom Cyril uit.”
Die kafee se sigarette is sommer al in die eerste week van die lockdown deur die polisie konfiskeer. Pa het al die detail en nuutste nuus van elke sigaretverkoper op die dorp, welke nuus hy dan aan Helgaard oorvertel.
Ek en die Griekse ou lag maar stillerig saam. Wel, ek vermoed hy lag. Sy oë kreukel bokant sy kamoefleerlapmasker. ñ Mens neuk nie te veel met ñ man wat bekommerd raak dat sy rook-stash min raak en die lockdown al hoe langer rek nie.
Toe ons by die huis stop, hoor ons dit. Die jakkalse. Hulle moet omtrent teen die hoofpad wees. Die man met die leeus het ook een kameelperd, ñ zebra en ñ wolf of wat. Daar was ook ñ visarend in ñ hok wat sy longe hees geroep het, maar díe is al maande lank stil. Dalk het hy jakkalse ook. Ons het hulle nog nie gehoor nie.
Die skemer kom trek sy kantgordyn oor hierdie dag vol gewone dinge. En ñ jakkals gooi sy borrelroep oor die pad na die plek waar die sekelmaan nou-nou eers sal opkom. Daar is min dinge so weemoedig, en terselftertyd so wondermooi soos ñ jakkals wat roep.
Heelwat later knak ek maar my sjokolade in twee:
“Dis darem klein,” Jeremia Helgaard weer, “Vian, gee vir Pappa ñ happie van joune!”
“No ways, jy wou nie hê nie, onthou jy? Los vir Vian,” maar Vian is reeds uit by die deur om sy sjokolade met sy lewe te beskerm.
“Hier is die helfte, my Engel. Môre is dit weer groente vir ons. Paasnaweek is lankal verby.”
Is daar nie maar altyd vier skeute weemoed geroer by ñ dag vol doodgewone dinge nie? Want dan het jy teen bedtoegaantyd ñ dag wat jy sal mis as die dinge van hierdie tyd verbygegaan het.
(c)sureta von holtzhausen