Vandag sou die laaste dag van die eerste inperkingstyd gewees het. Hierdie sou my laaste dagboekinskrywing wees. Ek sou nou, hier teen 17:30, my stem oor die tuin gooi om die boeties te begin kry om een-een te gaan bad en naels te knip en hare te was – met sjampoe – vir skool môre. Kiana gaan altyd eers nà die seuntjies bad en sy sou solank haar tas pak en haar kosblik regkry.
Ek of Helgaard sou hulle vra om hulle skoolklere vir môre reg te sit, maar steeds sou een van hulle môre-oggend om 5:20 of so, vaak-vaak kom vra vir ‘n onnie of ‘n skoolbaadjie of iets. Helgaard sou ‘n gestrykte hemp soek. Ek sou solank koplangs in die tuin stap om te weet wat Abel môre moet doen en teen 8:00, eintlik meer 8:25, môre-oggend sou my selfoon ‘n missed call wys en dan moet ek die plothek vir Abel en Rosinah oopbel. Of ek nou voor my studente staan en klasgee of by die huis rond is, vanaf enige plek waar my selfoon opvangs het, kan ek die hek oopbel.
Maar nou is dit nie die laaste dag nie. Daar lê nog 16 dae voor. Dan sal ons 38 dae ingegrendel wees. Iets aan 38 klink nie reg nie. Volronde dinge kom in 3’s of 7’s, 12’s of 40 dae lank.
Ons was vandag tuis soos die meeste dae, maar aan die gesuis op die hoofpaaie om ons, kon ek ‘n tipe gatvolgeit of defiance bespeur. Die woord minagting dra net nie vir my dieselfde uittartend-gatvol-wat-gaan-jy-daaromtrent-doen-tipe emosie as wat defiance doen, oor nie! Of dalk het baie, baie mense net regtig vandag brood en koffie benodig. Gelyktydig.
Natuurlik was daar nie ‘n openlike minagting nie, want dit sou tog onaanvaarbaar wees. Menselewens is steeds op die spel. Mense wat gaan werk moet steeds teruggaan huis toe na hul gesinne met kinders of oumense onder hul sorg – die weerloses. SA se getalle is besig om te styg. Maar kort na 17:00 het daar motors verby die plothek gejaag teen ‘n frekwensie wat daar in weke nie was nie. Die heeldag kon ons die verkeer hoor.
Die stroom grappies het grotendeels opgehou. Dit is asof elkeen teruggeskuif het in die nuwe ritme van hul lewens. Die vergrootglas oor ons verhoudings het weggeskuif. Jy weet nou dalk wie en wie nie en al wat oorgebly het, is die weemoed van aanvaarding. Die fokus op ons emosies is minder fel – merendeels onder die sand van die uurglas toegeloop en ons het begin aanvaar dat hierdie nuwe dae deel van ons lewe gaan wees vir ‘n groot deel van die winter.
Ek sit hier terwyl Skeba en Salomo op hul kussings slaap, die skottelgoedmasjien skommel, die kinders bad en Helgaard sit iewers in die huis met sy foon op YouTube of ‘n regshandboek aan’t lees. En mateloos, mateloos voel ek verlig dat ek nie môre die wêreld hoef aan te durf nie. Ek toon ‘n sterk aanleg om ‘n professionele kluisenaar te word.
Kort voor middagete het ek weg van my rekenaar met my studente daarbinne, langs die lang tafel gaan sit. Ek het sit en kyk vir al die verydelde dinge in my lewe: die oopgesnyde tamatie wat sedert die oggend nie afgedek kom nie.
Ek is spens in. Daar waar ons allerhande dinge berg, maar ook ‘n halfbottel muskadel. Ek het geskink. Vandag het alles in my gaan skuil en dit is asof ek iets bly soek het; die glas muskadel moes die ongewone wees in ñ doodgewone uur.
Terug langs die lang tafel het ek weer vir die flippin tamatie sit en kyk. En die krummels. Dit is asof almal in die huis effe boedel oorgegee het en vandag net in hul eie lewens aanwesig is. Niemand weet presies wat die punt is om ‘n halwe tamatie in die yskas te bêre en hom dan maar oormôre weg te gooi nie. Ouma sou nou gesê het dis oor ons nog nooit in ons lewens honger gehad het nie. Sy sou reg wees. Nie eens Perjams, die budgie, eet tamatie nie. Nou lê hy daar: ‘n stillewe op die broodplank.
“Maar die knoffel het al uitgeloop,” het Helgaard gister in die kafee gesê toe ek die bol vol groen spriete optel. “Vat ‘n ander een.”
“Nee, dis juis . . . ek wil hom plant.”
Nou lê die ongeplante knoffel ñ ent weg van die bossie Jakob Regoppe wat ek vroeër die week in die tuin gepluk het. Onthou-blomme, vir my.
Op die hoek van die tafel lê my werk en my oop laptop en my dagboek.
Bo-op oom Nic se leë boekrak wat hy onlangs vir my gemaak het, het ons Die Lockdown Plan staangemaak: ‘n weekrooster met werk en skoolwerk op, maar ook dinge soos pak die garage reg, plaas die boeke alfabeties in oom Nic se boekrakke, leer met waterverf skilder (Kiana), YouTube balletklasse vir ma’s en dogters, oefen en speel pluimbal op die gras. Ons het by nog niks van enige van daardie dinge uitgekom nie, behalwe werk en skryf, Netflix en tuin natspuit. My boeke is steeds volgens kleur gerangskik. (Ek kan steeds nie onthou watse kleur is Carruthers se The Magaliesberg nie, en kry hom nie opgespoor nie.)
Ek het vir my lewe sit en kyk, my glas leeggedrink en vir die kinders roomys ingeskep. Hulle het buite in die helder sonlig gaan sit; behaaglik geëet. Om vir behaaglikheid te kan kyk bring jou tog in kontak daarmee – al is die ervaring sekondêr.
Ek besef die ekonomie ly op allerhande maniere onder hierdie inperking, maar ek kan nie help om dit te sien as iets met groot betekenis nie. Iets wat aan ons as ‘n generasie geskenk is en ons weet nog nie presies wat om daarmee te maak nie.
Op baie maniere voel ek hierdie is ‘n tipe vernuwing. Ons moet dit nie opmors nie. Maar ek weet een ding verseker: ek was nie vandag reg om môre die wêreld in te gaan nie. Miskien sal ek nooit weer heeltemal reg wees daarvoor nie.
Ons gaan gewis hunker na hierdie dae – dae toe mense mekaar uitgedaag het om rou eier te sluk, kunstenaars gratis konserte gehou het en mense hul gawes vrygewig gedeel het – ‘n tyd toe jy uitgevind het dat jy net mooi niks van die wêreld nodig het nie.