Die storie van jy en ek gaan eindig.
Dit maak nie saak wat ons storie is nie – of jy my vriend is, my kind, my facebook-vriendin, my peetpa, my man, my kollega of kliënt.
Hoe dit gaan gebeur weet ons nie nou nie. Jy unfriend my dalk, miskien begin jy glo my vriendskap is nie meer vir jou kosbaar nie, dalk het een van ons se tydjie hier op aarde uitgeloop. Huwelike se stories eindig, alle huwelike – hetsy deur dood, hetsy deur egskeiding. In welke verhouding jy ookal teenoor iemand staan – daar is ‘n dag en ‘n datum vir die einde. Indien nie vooraf deur die meedoënlose sleur van leef en verlies nie, dan deur die Groot Einde wat genadiglik maar net ‘n oorbegin iewers anders is. Aardse dood is ‘n onafwendbare belofte.
Die wànneer weet ons ook nie. Maar dat elke liewe twee mense se storie op aarde eindig, is ‘n gedwonge feit.
Dit was vandag ‘n helder dag vol lig deur blare en warm sonskyn. Selfs hierdie vreemde seisoen se vreemde wolke het hul afstand gehou en soos verlore skape oor ‘n blou vlakte gestip.
Vandag wou ek my kosbare mense in my hande toekelk – ek sien nie kans dat iets hulle ooit wegruk nie. Die son wat Kiana se peinsende oë deurpriem, Lamont se lawa-koppie wat glim soos helder geheime, Vian se ondeunde dimpelkennetjie wat jy wil bottel, Helgaard se stille gang deur die huis, Lize en Louis en die kinders, Ma en Pa die fondament onder alles, skoonma en Helgaard se mense in Roodepoort en omtes, Yolande en Pikkie in die Kaap, Skeba of Salomo se hondeken op my been en ‘n diep hondestaar in die oë in, jy wat dalk hier lees se WhatsApp met ‘n video of ‘n grappie, ‘n briefie in die kommentaarblokkies, of ‘n wat ookal. ‘n Uitreik. Want enige van hierdie is ‘n tipe incheck: is jy oukei?
Natuurlik hang die tipe boodskappie af van die intimiteit van jou vriendskap, maar die waardering vir elke persoon wat in hierdie tyd gesels op welke wyse ookal is groot. ‘n Mens merk die aanwesiges op. Ook die afwesiges. Almal van ons het dae waarin ons nie oukei is nie, al lyk dit vir ander asof ons dalk altyd is.
In hierdie tydgleuf waar ons gemeenskap moet funksioneer op essensiële dienste, begin jyself ook agterkom wie is die essensiële mense wat op die spreekwoordelike eiland saam met jou uitgespoel het.
Ek het vandag net gestaak, alles gestaak. Ek het eers draaie om die laptop geloop, en toe die ding toegeklap. Ek het die verslag wat ek moes stuur net voor middernag gestuur, maar in die dagligure het ek gestaak. Ek moes al vanoggend geweet het toe ek die DUNE van Dior aan my nek spuit, die dag gaan sò wees. Die bui kies mos maar die parfuum. Somtyds moet DUNE my deur dale van die gemoed help sleep. En my ‘Promiscuous’-lipstiffie of ‘SO…?’ van Yardley (die oorspronklike een!) wat Dischem ophou aanhou het, maar dis ‘n trauma vir ‘n ander dag. Smeer my bek toe maar net met die lipstiffie wat hier onder in die bak lê vir vogtigheid en begin kyk na die ‘mense’ en ‘plekke’ om my – regtig kyk.
Die diamond frost in die tuin kom uit Ma se wit tuin, wat Pa aanhou beplant met pers knoffelblomme en wandelende Jood en Afrikanertjies. Ek en Ma pluk nou nog skelm die Afrikanertjies uit wat verdomp aanhou opskiet lank nadat Pa hulle brommend geskuif het na ‘n ander deel van die tuin.
By my voordeur is ‘n krismisroos van ‘n steggie wat my vriendin, Liesl Lombard een Sondagmiddag vir my gesny het. Op haar en Sinisha se stoep in Houghton blom hulle wyd en groot in ‘n koraalpienk. Hier by my in die koeltetjie by die voordeur blom hulle ‘n plein ligpienk. Maar elke slag is Liesl in my hart as ek na die welige plant kyk.
Die boomtamatie laat my na Pikkie in die Kaap verlang, en na Yolande met hulle haarlose Egiptiese honde, broeikas met ‘n klomp hoendereiers wat een kuiken-bondeltjie per dag uitbroei in die garage, hokke met kalkoene en love birds, pappegaaie wat soos Ottery Road se sirenes skree en twee stout Kapushkin apies wat elke aand in die wasbak gebad is en ge-blow wave is, totdat daardie apie se oë omdop van die lekker. Pikkie se boomtamatie-pitte het nie opgekom nie, maar toe kry my buurvrou, Annelize van oorkant die fontein met die groen vingers, ‘n klomp ander aan die groei en nou staan hy daar; boomtamatie wat met elke storm omfoeter omdat ek lankal vir hom ‘n groter pot moes kry.
Die roosmalvas en devil’s backbone sal my seker altyd aan Annelize van oorkant die fontein herinner met haar tussie-mussies en spekboom-smoothies wat sy smôrens afsluk – halwe koppie spekboom op een heel suurlemoen, water, gemmer en gemaalde papajapit.
Die viooltjies en varkore, die twee beblaarde goed in die mooi potte, die ficus aan die voordeur se linkerkant, die twee pers heide-rige goed in potte op die stoep, my jasmyn, my geelhoutboom in die groot pot en ‘n klomp ander kom uit ons Schoemansville-huis se dae.
Abel kom eendag hier aan met ‘n klomp Barberton daisies.
“As jy hierdie vat, ek vat die avokadoboom.”
Dit was ‘n regverdige ruiltransaksie. Ek het reeds drie geil avokado’s in potte en dis te danke aan Abel wat gevraag en ongevraag oral pitte in die grond indruk. Pa moes al vele kere ongenooide papajabome uit blombeddings uithaal en vir Abel gee Mojakaneng toe. Avokadopit in water op die kombuisvensterbank vrot meeste kere. Alhoewel Pa eendag ‘n groot lament gehad het oor Ma sy pitte weggedoen het mee, want hulle sou geil groei, maar jou Ma gooi mos net weg! Ma wat net haar kop skud en sê die goed was reeds vrot. Abel het my kom leer jy druk die pit net in die grond in, waar hy hoort. Hy groei maklik.
Die Barberton-daisies staan ook in ‘n pot en in hierdie dae dink ek baie aan Abel en Rosinah en die keer toe sy siek was.
Die twee is weens hul onsobere naweek-gewoontes nie groot vriende van ‘n Maandagwerkery nie. Ek dink niks van die vroegoggend-oproep van Abel wat sê Rosinah is siek, hulle kom nie in nie. Daar was al baie sulke Maandag-oproepe. Hulle is ook as ‘n reël in tandem afwesig, nooit een-een nie.
Teen die Dinsdag is daar steeds geen teken nie, wat vreemd is. Ek bel.
“Sy is baie siek. Sy gooi nog altyd.”
“Gooi sy op, Abel? Sedert wanneer?”
“Dis nou drie dae.”
“Jy moet haar onmiddellik by die kliniek kry of by my kom pille haal. Sy sal dehidreer, Abel. En dan is die einde naby.”
Die Donderdag kom die twee hier aan.
“Herder, Rosinah. Hoekom antwoord julle nie julle fone nie? Is jy nou oukei?”
“Praat Abel,” beduie sy in haar gebrekkige Afrikaans. Sy sê darem al heelwat meer woorde as ‘taxi’ en ‘fokkol’ waarmee sy by my begin het. En ‘taxi’ en ‘fokkol’ is steeds die enigste twee Tswana-woorde wat ek kan sê, so sy wen my.
“Het jy haar hospitaal toe gevat, Abel?”
“Nee! Sy was te siek! Dit was ernstig. Ek het haar gevat by die dominee by Rustenburg.”
“Wat?! En toe?”
“Toe gee die predikant haar die gebed en hy gee haar die baptise-water om te drink,” eindig hy ernstig en amper gewyd.
“Nou kyk!” gooi Rosinah stralend haar hande oop, “Fokkol uitgooi!”
Elke slag as ek verby die pot Barberton Daisies stap, met of sonder ‘n sweempie DUNE, herinner dit my aan die mooiste geloofstorie denkbaar.
In drie nuwe potte loop die spriete na 22 dae sterk uit – blomkool en broccoli, maar die spinasie is traag. Dis nou as my stadsjapie-man korrek onthou.
“Dis ook net ‘n stadsjapie wat die heel eerste keer groente wil plant wat flippin wit naamkaartjies bykoop,” sê ek hom die dag voor die lockdown in Dreiers, “dis embarrassing.”
“Hoekom?! Dis georganiseerd,” met sy lawyer-stem, en die drie nuwe potte en saad en die naamkaartjies onder die arm.
“Ek plant sommer in ou potte. Dis GROENTE, Engel, nie ‘n balkon in Pretoria nie.”
Maar ons het die sade kom plant en hy het vergeet om die naamkaartjies in te vul. Nou dink hy die middelste goed is dalk die blomkool. Ons sal seker weldra uitvind. Die wit kaartjies help darem dat ‘n mens nie snags oor die potte val, sou jy snags om die swembad wou loop nie.
Daar is die pers irisse in die dooie kol waar niks ooit wou groei nie – Lamont het hulle eendag langs sy vorige laerskool se personeelkamer gegaps en daar gaan plant met my tuingrafie. Net een plant. Maar hulle gedy en as die purper flappe aan hul stele pryk dink ek aan Ina en Allen, Broedies se afgetrede skoolhoof wat ook my vriendin is; eintlik aan baie wat deur die jare goed was vir my kinders. Hulle is altyd in my hart, of hulle dit weet of nie.
Die rye sterjasmyne teen die heining af geplant, die grondbedekker wat ons langs die gastehuise gekry het, sommige malvas, en soveel ander is Anel en Maarten, eienaars van die hele Nehema met gastehuise en al.
Onder in die hoek van die tuin het Vian eendag ‘n patat wat uitgeloop het ingedruk. Die flippin ding rank die wêreld vol. Ons weet nie presies hoe werk die patat-besigheid nie, maar die lang lote wat eers los gelê het begin na die reën in die grond anker. Ons sal maar sien. Lamont se soetrissies lyk soos Salvador Dali’s aan takke, maar ons sal op hulle kan oorleef. Die drie pynappelkrone wat ek in potte gedruk het, nadat ek die pynappelvrug daarvan losgesny het, het wonder bo wonder gevat. Die gemmer groei geil. My Jakob regoppe is my onthou-blomme. Die water fuschias in die koelte kom van my dierbare vriendin, Carien Avenant, my vriendin wat my blog geskep het, wat so ‘n waterval van water fuschia by haar voordeur het: “Ek het glad nie groen vingers nie, maar hierdie ding is so dankbaar, hy vrek nooit. Breek sommer net ‘n stingel af en sit hom in ‘n glas water. Hy groei self wortels.”
Ons jaar in Simonstad groei teen een van die grensdrade – groot pers malva wat uitsluitlik op die Skiereiland groei. Steggies al die pad saamgesleep vir onthou. As ek sy frilletjiesblare sag onder my vingers frommel dan onthou ek baie mense van daardie tyd.
Doer onder die ver-karee is die bedding beplant met Pa se clivias, boslelies, wat ek presies volgens oom Billy Swanepoel se instruksies van die pitte af gegroei het. Selfs ek was verbaas toe die twee groen puntjies van elke liewe pit grond breek.
Oral in my tuin en huis is julle – die mense van my lewe; die dinge van die plekke in my lewe. Sommige van julle is in die huisdinge en dis ‘n ander storie en julle name sal daarin wees. Sommige net diep in die hart en julle weet wie julle is. Ek hoop so. Want eendag gaan dit klaar wees en dan moet jy weet dat jy betekenis aan my dae gegee het.
Op hierdie dag vol son en herfs wil ek nie weet van ‘some enter your life for a season, a reason or a lifetime’ nie. Vir vandag wil ek net weet dat die wat hier is, gaan bly.
Dis genoeg.