Daar waar my oer-suspisies nog huiwer, daar begin ek deesdae glo dat wolke alomteenwoordig is wanneer die mensdom swaarkry; wolke wat swaardra aan die mensdom se verdampte trane.
Die lug was vanoggend grys en betrokke – dit het na reën gelyk en die huis was koud. Ek het nie eintlik meer ñ naam vir hierdie seisoen nie. Herfs is dit beslis nie die herfs soos hy altyd hier in die Moot af lyk nie.
Ek weet daar is mense wat finansiëel swaartrek. Die hel alleen weet, my hart, en dit wat ek enigsins kan afstaan, gaan uit na hulle.
Maar daar is mense wat op allerhande ander maniere buite in die wêreld swaartrek en nou wil binne bly.
In die stilligheid wonder ek of ek nie aan ñ nuwe, onopgetekende vorm van Stockholm-sindroom begin ly nie. Stockholm-sindroom tref ons aan by mense wat ontvoer word en dan lank aangehou word, of selfs mense wat lank aan mishandeling blootgestel word. Vreemd, en bykans onverklaarbaar, ontwikkel diesulkes ñ psigologiese band, ñ tipe alliansie, met hul ontvoerders. Die slagoffer sal die ander se gedrag selfs probeer verdedig en vir hulle probeer opkom.
Ek dink hierdie is die naaste aan Stockholm-sindroom wat ek sal kom, sonder om ontvoer te word. Ek en Korona het ñ tipe alliansie: Jy hou aan dreig daar buite sonder om mense seer te maak, en ek leef so lank as moontlik in die beskutting van die vier mure van my huis waar almal onder my vlerk skuil en veilig is.
Wat kan ek sê? Ek het vrede gemaak. Ek hou van die nuwe ritme van dinge.
Lamont wat op die stoep uitstap, vir die dag kyk en sê: “Dit voel eintlik soos Sondag. Mamma weet – so louerig en blouerig en stillerig,” en dan lag hy lekker vir sy eie rympie en verdwyn die huis in.
Die kinders het weer tyd om te doen wat vir hulle natuurlik kom: Kiana doen na haar skoolwerk karate-katas en teken en oefen aan die een of ander push up-uitdaging wat sy aan haarself gestel het. Lamont pomp fietswiele en ry draaie op die plot met my 1984- Raleigh Challenger dikwielfiets. Vian probeer sy Minecraft-verslawing teëwerk met stokgevegte met sy boetie.
Die kinders het ñ tipe vrede oor hulle wat lanklaas daar was, hulle glimlag meer, hulle kibbel heelwat minder onder mekaar, hulle gesels.
Ek drink deesdae my koffie op die stoep. Ek teug daaraan terwyl dit nog warm is, terwyl ek sit en kyk hoe die bottergatjies bad of die hadedas krieke uit die grond haal. Die meeste koppies word nou warm gedrink en nie gou yskoud afgesluk uit pure dors, waar dit vergete iewers gestaan het nie. Soms sal
Helgaard ook op die stoep kom sit en dan sal ons sommer gesels oor koeitjies en kalfies.
Die lewe is stadiger, meer doelbewus, asof iets iewers ontwaak het, al is dit nie op die oppervlak opmerklik nie.
Jy merk op hoe groen en blou die metaal op die hadeda se vlerk skyn, hoe behendig hy sy snawel reg op ñ kriek of erdwurm afstuur onder die donker grond in. Jy merk klein dingetjies op soos miere wat drie meter ver trek, eiertjies en al. Jy vòèl meer intens, jy het tyd om te bid, tyd om dinge te plant of saai, om dit water te gee, te sien opkom. Tyd om weer musiek te luister, te lees en in ander mense se woorde salf te vind. Jou hartklop voel stadiger.
Ons is nie bevestigde gevalle van Covid-19 nie, maar ons lei almal aan ñ akute geval van Stockholm-sindroom.
Laatmiddag het die wolke haelwit gebondel op die horison, asof hulle te swaar was om te hang. En die lug was blou genoeg om my te herinner aan herfs.
(c) sureta von holtzhausen