Die smeersel wolke oor die lug het die dag half uitgewas laat lyk. Dit was asof dit wou reën, maar het die herfsoggend soos ñ aandagafleibare kind daarvan vergeet en toe net alles effe toegewasem.
Die kinders gaan slaap al hoe later oor naweke en begin ook derhalwe al hoe later opstaan. Om 9:30 is ek en Helgaard maar na die boeties se kamer en het ons op hul beddens sit en kerk kyk op YouTube, Helgaard se selfoon staangemaak op Lamont se bedkassie. Met elke Psalm of Skrifberyming leun ek en Kiana vorentoe om die woorde op die skermpie te kan sien en saam te sing, dan probeer Vian ongemerk sy ore toedruk soos hy as klein seuntjie gemaak het die eerste halfuur van ñ fliek in Brooklyn Mall, as die klank en beeld te oorweldigend is. Van ware huisgodsdiens met ons vyf wat saamsing weet ons kinders nie.
Daar is vir my iets vredigs aan die wete dat hierdie inperking se grootste geskenk tyd is, en die keuse om met daardie tyd al die noodsaaklike dienste aan jou hart en gees te lewer wat in ons gejaagde lewens jammerlik in die slag gebly het.
Vier pilare vir vrede – leer ek die kinders: jou lyf, jou brein, jou siel en jou Skepper. As jy een van daardie vier afskeep, wankel jy soos ñ tafel op drie pote. En as jy wankel moet jy uitvind hoekom, want elke poot aan ñ mensetafel kort sy eie unieke spreekwoordelike houtlym. Jy kan net die pilaar weer vasgom aan jouself as jy uitvind waar jy wankel en wat jy moet doen om die gom te kry om jouself weer te heel.
Ek leer hulle dit, maar hoe faal ek nie om dit elke dag geprioritiseer te kry nie.
Stuur my vriend, Herman Clark, vir my nou die dag ñ YouTube-video van twee manne wat in ñ ligte vliegtuig sonder aanloopbaan ènige plek in Afrika, spesifiek in die Namib-woestyn, neerstryk, kamp en weer opstyg. ñ Droom van ñ lewe. Die loodsprogram wat hy aanstuur is 1 uur en 10 minute lank: ‘Kyk hierna. Jy het die tyd,’ skryf hy in die WhatsApp.
Nie in my wildste drome het ek kon dink dat iets of iemand in my leeftyd daardie swaar boeie van ons tydgleuf kon kom oopsluit en ons, die hele wêreld, bevry van daardie peslike woorde nie: Ek kan nie nou nie, te besig, gou doenig met ñ ding, dalk anderdag, het nie tyd nie, het nie tyd nie, het nie tyd nie. . . en nou het ons. Die meeste van ons.
Na kerk het ek oudergewoonte van blombedding na blombedding gestap. Gehoor hoe die blou-ape onder in die droë berglopie in die takke rondspring. Hulle is deesdae knaend hier. Ek probeer ñ mooi foto van die blou-ape neem. Sien in die proses die pers geelbekbosduif raak waar hy met sy heldergeel pote en – snawel tjoepstil sit. Hoog-hoog in die witstinkhout, soos hulle gewoonte is. Lank staan ek en kyk op na die skugter duif en lank sit hy en afkyk na my. Elke slag as die ape na ander takke spring onder by die lopie, vlieg daar drie of vier geelbekbosduiwe uit die kroon van die ruigtes en verdwyn in ñ ander boom se groen kroon in. Donkerpersbruin, noem die voëlboek hulle kleur. Vlieg met golwende sirkelvlug. Twee goed wat ek oor ñ duif onthou, omdat dit ongewone woorde vir ñ doodgewone voël is: ‘donkerpersbruin’ en ‘golwende sirkelvlug’. Te mooi.
As jy lank genoeg stilstaan, begin ander dinge naby jou beweeg. Mooi dinge.
Die ape se gewoel jaag die patryse op en met die afstap groentetuin toe merk ek die een lawwe boslelie op; juigend-blommend in April. ñ Hele ses maande voor clivias se eintlike blomtyd. Ek neem hom nie sy deurmekaargeit kwalik nie. Hierdie April het amper nooit gelyk soos April in Hartbeespoort lyk nie.
Vroegmiddag gaan sit ons sommer in die loute van die herfsson op die stoep. Die dag het ñ helder skildery in akriel geword.
My selfoon se video’s skuif soms outomaties aan na die volgende video as jy die een klaargekyk het. ‘James Blunt, MONSTERS’, staan daar. Ek wil eers verby blaai en gaan kyk of die melkkos wat ek eindelik spesiaal vir Lamont op die stoof het, nie aanbrand nie.
Maar ek bly sit, lui en loom gebak deur die son. En James begin vir my MONSTERS sing. Ek snik naderhand so hard dat Helgaard verskrik opvlieg en gaan tee maak. Hy het gedink daar was slegte tyding. Ek huil nie voor hom nie. Ek huil nie sommer voor enigiemand nie, tensy ek onverwags deur my hart se dinge oorval word.
My siel loop vol en elke liewe kleindogtertjie-herinnering aan my eie pa, wat nog gesond en vol ondeundheid net 1.7km van ons af woon, flits op my hart se filmrol by my verby. Ek tjank. James tjank. En Helgaard sit tee neer.
Lamont het twee bakke melkkos geëet. Sondagmiddag-trooskos. Vian moes eers aan myne proe voordat hy oortuig is hy eet wel melkkos, en Kiana het eerder vir haarself piesang-en-hawermoutplaatkoekies gemaak.
Laatmiddag het ons oudergewoonte gaan stap en ñ geselsie oor ñ blombedding en heining heen met Maarten en Anèl aangeknoop. Hulle het kwarantyn in Kosmos opgegee en verder hul grendelstatus in hul eie gastehuise kom voortsit. Die plot loop vol en is besig om oor veilige, sosiale afstande heen ñ gesellige plek te word.
Dit was knap voor skemer toe Lamont kom sê hy het ñ skoot gehoor en hy dink iemand het ñ lig of iets raakgeskiet. Kiana het dit ook gehoor. Net ñ klap.
Ons soek. Kyk. Kry niks.
Bedtoegaantyd kom Kiana en Vian op die stukkende venster in die oop balkondeur af.
Ons begin ñ bykans forensiese ondersoek na trajeksie en ñ patroon en ek begin bang raak en kwaad raak tegelyk vir die moontlike indringer of die onderste bure, of wie ookal.
“Oukei, Mamma, dit was ek!” beken Lamont ñ tydjie later. “Ek het na die minahs met my windbuks geskiet wat alweer ñ hoep-hoepie aangeval het. Toe mis ek. Toe is ek bang om te sê ek het ñ lig of iets uitgeskiet.”
Ek bly dankbaar vir baie dinge wat nie gebeur nie.
Somtyds bestaan ñ Sondag uit die Vier Pilare vir Binne-Vrede, ñ goeie skeut kattekwaad en ñ gekonfiskeerde windbuks.
(c) sureta von holtzhausen

*** Klik op die skakel as jy na jou pa verlang. James Blunt se MONSTERS:
https://youtu.be/DTFbGcnl0po